|
||||
Die tyd is ryp vir die revolusie (Die Plein van Hemelse Vrede, Beijing) - Deur Hans Pienaar Dis tyd, sê Mao. Skuil dieper in jul pette Polisieperde kap vonke uit keistene Verbete vreet die ure aan ons sigarette Dis tyd. Op pleine lê lyke oopgespalk Hul stook hul treine met ons kamerade Oor grafte lê jare gestrooi soos kalk Dis tyd. Weke is dooies getel in honderdes Ons marsjeer zig-zag soos wurms oor blare: ’n Ryskoek word swaar as mens honger is Dis tyd. Die volksrepubliek is verklaar Kalender: ’n Diereriem word Gregoriaans Ons toekoms groei tot ’n duisend jaar Dis tyd. Nou pak ons die diaboliese buiteland Brittanje sal val in tien, Amerika hou vir twintig “Dertig jaar in een dag,” takel ons die agterstand Dis tyd. Oeste kan nie wag vir die lui natuur As ons wetenskaplikes kameraadskaplik is... die formules is daar, vir elke kwaal ’n kuur Dis tyd. Te min ploeë? Gee hul dan bomme Vat ’n graaf by elke deur, ’n wok van elke stoof Die smelters sê ’n geheel is groter as sy somme Dis tyd. Miljoene der miljoene tel die sterftes Honger: In elke tese skuil sy antitese kwaad skep goed; al wat oorbly is die sterkste Dis tyd. Iemand moet sy kos vir giwwe proe: Mao speel keiser in ’n verbode stad In die kommunes is dink en droom taboe Dis tyd. Wit is swart, swart is wit Rooi vlae, rooier die vinger wat jou soek Wie teëpraat moet leer spoeg en spit Dis tyd. Die plein loop oor van studente Petisies is sarkasties, stront lê rond en bont Tenks vertrap hul fietse en hul tente Dis tyd. Die toue skuifel voort, ruikers Stapel op. Mausoleumwagte karwei hul weg Besproei hul weer vir môre se verbruikers Dis tyd. Die Hong Kong-klok stap aan, busse Wag vir hul drywers. Mao se portret aanskou: Hemelse vrede is 'n plein vol verveelde toeriste Dis tyd. Mao gee nie toe. Almal sterf Maar hy leef voort, in ’n koue kas Van glas: Sy lyk het die kleur van stopverf |