blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


`n Nuwe Afrikaans-Nederlandstalige filosofievereniging 2005-06-03
Johann Rossouw

`n Historiese geleentheid het op 26 en 27 Mei by die Radboud-universiteit van Nijmegen (voorheen die Katholieke Universiteit, Nijmegen) plaasgevind toe die Afrikaans-Nederlandstalige Filosofievereniging gestig is deur `n groep filosowe uit Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere. Dit is die eerste sodanige gebeurtenis in die filosofie sedert die kultuurboikot teen Suid-Afrika sowat 35 jaar gelede onder leiding van Nederland ingestel is.

Die stigting van die vereniging volg op bande wat reeds die afgelope tien jaar gesmee is tussen Afrikaanse filosowe en filosowe van die Lae Lande, danksy die uitstekende werk verrig deur prof. Willie van der Merwe (Dept. Filosofie, US), dr. Marinus Schoeman (Dept. Filosofie, UP), prof. Rudi Visker (Fakulteit Wysbegeerte, KU Leuven), prof. Paul van Tongeren (Dept. Filosofie, Radboud) en prof. Philippe Van Haute (Dept. Filosofie, Radboud). Onder leiding van hierdie filosowe is samewerkingsooreenkomste wat die universiteite van Stellenbosch, Pretoria, Leuven en Nijmegen betrek reeds enkele jare gelede gesluit. Dosente van die onderskeie universiteite besoek mekaar gereeld, en verskeie Afrikaanse studente studeer ook tans aan die betrokke universiteite in die Lae Lande.

Die stigterslede van die vereniging was van oordeel dat die bestaande samewerking so vrugbaar is, dat dit so `n vereniging regverdig. Die tema van die stigtingskongres in Nijmegen was "Demokrasie en Identiteit" en `n aantal referate oor die tema is in Afrikaans sowel as Nederlands gelewer. Een van die hoogtepunte van die byeenkoms was `n heftige debat rondom die lesing van prof. Anton van Niekerk van die US oor Afrikaners en `n demokratiese Suid-Afrika, asook `n uitstekende lesing oor multikulturaliteit deur Visker, een van Europa se voorste filosowe.

Johann Rossouw

Gesamentlike publikasies in Afrikaans en Nederlands, asook `n tweejaarlikse byeenkoms deur die vereniging word in die vooruitsig gestel.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=243
Artikel nagegaan:
    -