blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Argitek van die Afrikaanse Taalmonument sterf 2005-06-03
Isabeau Botha

    Die beheerraad en personeel van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument het met leedwese verneem van die dood van Jan van Wijk, die argitek van die Taalmonument. Van Wijk is op Vrydag 20 Mei 2005 op Mosselbaai op 79-jarige ouderdom oorlede.

    Hy het die afgelope 10 jaar in Wildernis gewoon nadat hy in Kaapstad, Pretoria en Johannesburg gewerk het. In 1963 het hy sy eie argiteksvennootskap begin, wat verskeie uiteenlopende projekte hanteer het, waaronder die NG Kerk Universiteitsoord. In 1965 is sy ontwerp gekies vir die Afrikaanse Taalmonument op Paarlberg. Hy het gedurende sy loopbaan verskeie toekennings ontvang, waaronder die Erepenning vir Argitektuur van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (1983) en die Kanseliersmedalje van Tukkies (1994).

 In sy ontwerp van die taalmonument is Van Wijk geïnspireer deur die omgewing met sy granietrotse en deur die werke van twee Afrikaanse skrywers, naamlik CJ Langenhoven, wat die groeipotensiaal van Afrikaans vergelyk het met ‘n snelstygende boog, en NP van Wyk Louw, wat Afrikaans beskryf het as 'n brug tussen die tale van Wes-Europa en Afrika. Hy het in sy ontwerp erkenning gegee aan die belangrike invloede van tale en kulture vanaf Europa, Afrika en die Ooste. Die monument verteenwoordig dus die groei en ontstaan van Afrikaans en gee erkenning aan sy uiteenlopende wortels wat oor drie vastelande versprei lê.

 In sy destydse openingstoespraak het Van Wijk gesê: “Hierdie is nie ‘n monument vir mense nie, hierdie is ‘n lewende simbool vir ‘n lewende taal, Afrikaans”.

  Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument vier vanjaar hul dertigste bestaansjaar. Hulde sal gebring word aan Jan van Wijk op 10 Oktober, die herdenking van die dag waarop die monument in 1975 ingehuldig is.

 
Isabeau Botha
Kurator
Die Afrikaanse Taalmuseum
Tel 021 872 3441
Faks 021 871 1106
[email protected]
www.taalmuseum.co.za

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=239
Artikel nagegaan:
    -