| ||||
Johann Rossouw Deur Johann Rossouw Van die resensies wat reeds oor hierdie belangrike politieke werk gepubliseer is, wil dit hê dat Gumede nie veel sê wat nie reeds gesê is nie, en dat die hoofdeug van die werk die moed van die skrywer is om die toenemend sentralistiese ANC onder president Thabo Mbeki bloot te lê. Beide hierdie opmerkings bevat `n mate van waarheid, maar beide is oorvereenvoudigings en selfs wanvoorstellings van die boek. Die beswaar dat die boek nie veel sê wat nie reeds gesê is nie, is byvoorbeeld volkome ongeldig wanneer `n mens die fassinerende hoofstuk 12 oor die spanninge binne die drieparty-alliansie lees. Baie van die intriges wat hulle hier afgespeel het, is nog nooit in die pers gepubliseer nie, en die woorde van `n Jeremy Cronin hieroor is veelseggend: “Blade [Nzimande] and I have been through several tough years in the ANC NEC. We’ve been marginalized, shouted down, subjected to heavy presidentual attacks on us, beginning with Mandela and so forth” (p.270). Betreffende Gumede se moed in die aangesig van `n sentralistiese ANC onder Mbeki: dit is so dat hoofstuk 14 (“’We Are All Yes-Men and Yes-Woman Now’”, `n aanhaling uit `n Afrikaanse gedig van Matthews Phosa) `n verdoemende prentjie van die gesentraliseerde ANC onder Mbeki skilder. Maar hierdie prentjie moet verstaan word teen die agtergrond van wat myns insiens die grootste waarde van die boek is, naamlik dat Mbeki in `n sekere sin na vore tree as `n tragiese held (waarin Gumede se empatie met sy hoofkarakter ook sigbaar is!). Mbeki as tragiese figuur Waarom `n tragiese figuur? In die Griekse tragedies is die tragiese held die karakter wat opgestel is teen kragte groter as hyself, kragte waarvan hy dikwels aan die begin nie bewus is nie en waarvan hy eers bewus word wanneer dit te laat is. In weerwil van die durf wat die held aan die dag lê, gebeur dit dikwels dat hy deur hierdie kragte oorweldig word, sodat selfs sy durf by nabetragting die aanskyn van hubris kry. Dit is presies die beeld van Mbeki waarmee Gumede `n mens laat. Hier het ons te doen met `n briljante intellektueel met groot diplomatieke en politieke vaardighede – eienskappe wat hom veral in die kritieke 15 jaar in die aanloop van 1994 ten goede gekom het. Dit was die jare waarin hy as Oliver Tambo se regterhand sleutelwerk as diplomaat die wêreld oor verrig het, net soos hy later `n sleutelrol in die veelpartyonderhandelinge aanleidend tot 1994 se skikking sou speel. Maar teen die tyd dat Mbeki die tweede president van Suid-Afrika na 1994 geword het, was hy opgestel teen kragte groter as hyself: vasgevang in die onmenslike spanningsveld tussen Afrika en die Weste, terwyl hy albei vir sy projek nodig gehad het; gekonfronteer met die Vigs-monster op `n tyd wat Suid-Afrika `n gesonde arbeidsmag nodiger as ooit gehad het; oorgelewer aan die oppermag van die Washingtonkonsensus ná die Val van die Berlynse Muur, terwyl Suid-Afrika (soos altyd) broodnodige regstreekse buitelandse beleggings vir ekonomiese groei en werkskepping benodig het. En om dit alles te kroon: die erflating van die koloniale tegniese en staatsbestel waarmee Mbeki die lyding van sy belangegroep moes regstel wat juis deur hierdie einste bestel veroorsaak is. Dit is teen hierdie agtergrond dat Gumede Mbeki se projek om die herwinning van die waardigheid van Afrika en Afrikane (wêreldwyd volgens Mbeki se opvatting van wat `n Afrikaan is) plaas en sy verhaal vertel. Ofskoon Gumede inderdaad feite weergee wat reeds elders gepubliseer is, verkry die feite nuwe betekenis binne die verhaal wat hy teen hierdie agtergrond vertel. Neem byvoorbeeld Gumede se uitleg van Mbeki se hantering van Zimbabwe: geen ander kwessie van sy presidensie het Mbeki só fel in die spanningsveld tussen Afrika en die Weste gewerp nie. Gegewe die feit dat die ANC die mees pro-Westerse van Afrika se bevrydingsbewegings (naas Afrikanernasionalisme!) was, kon Mbeki nie bekostig om in die oë van die Afrikaleiers (wie se steun hy vir die ontsetting van Mugabe benodig het) alte pro-Westers voor te kom nie. Waarskynlik verklaar dít waarom hy, en miskien in `n groter mate regeringsleiers soos Nkosazana Dlamini-Zuma, sulke ooglopend Afrikanistiese uitsprake oor Zimbabwe gemaak het – pogings om geloofwaardigheid in die oë van Afrikaleiers te verwerf deur hulle van die Weste af te grens. Ook hoofstukke soos dié oor die ANC en ekonomiese beleid (hoofstuk 4) en Vigs is ewe verhelderend, ofskoon Gumede vir sy uitleg van hoe die ANC deur die korporatiewe sektor ore aangesit is, sterk steun op wat prof. Sampie Terreblanche reeds onthul het in sy A History of Inequality in South Africa. Bykomend tot die agtergrond waarteen Mbeki president van Suid-Afrika geword het en die kragte waarteen hy opgestel was, is daar egter twee ander faktore wat hom tot tragiese held verdoem – die een waaroor Gumede dit wel waag om hom uit te laat, die ander wat hy verswyg, naamlik Mbeki se hipersensitiewe aard, en die koloniale tegniese en staatsbestel. Persoonlikheid in die politiek Dit is altyd gevaarlik om in politieke kommentaar te fokus op persoonlikheid, aangesien die persoonlikheid behoort tot die innerlike wêreld waartoe ons nie eens self vrye toegang het nie, wat nog te sê `n buitestaander wat ons nie ken nie. Aan die ander kant is dit ook so dat die persoonlike nie van die politieke te skei is nie, en Gumede slaag oortuigend daarin om te wys dat Mbeki se hipersensitiewe aard `n rol in sy oordeelsfoute gespeel het. Deel van Gumede se oortuigingskrag oor hierdie moeilike onderwerp spruit voort uit sy weergawe van hoe Mbeki vroeg al vir hoër dinge in die ANC uitgekies is, en watter invloed die jare van ballingskap op hom gehad het. Geen mens kan na amper 30 jaar van ballingskap in konfrontasie met `n vyandige regering in jou geboorteland ongeskonde daarvan afkom nie, en in Mbeki se geval het dit gelei tot `n gehegtheid aan `n klein binnekring en `n oorsensitiwiteit vir kritiek. Talle mense wat Mbeki voor en na sy presidentskap geken het, spreek soms hul verbasing uit oor hoe die joviale whiskydrinker in die gespanne heerser van vandag kon verander. Ooglopend is hier popsielkunde aan die werk, maar die feit bly dat Mbeki in die openbaar die afgelope jare by tye volkome irrasioneel en oorsensitief op kritiek gereageer het, waarvan die aanval verlede November op emeritus-aartsbiskop Tutu se Nelson Mandela-gedenklesing maar een voorbeeld is. Hoe moet hierdie enigmatiese wending by Mbeki verstaan word? Dit is hier waar Gumede in gebreke bly om `n gesprek oor die aard en werking van die koloniale tegniese en staatsbestel in Suid-Afrika aan te knoop. Hierdie bestel is ontwikkel met die oogmerk om `n elitegroep ten koste van die meerderheid in die land te begunstig, en die mees ooglopende tekortkoming van die nasionale debat sedert 1994 is dat daar so min gesprek gevoer word oor die wysiging van hierdie bestel. Wat eerder gebeur, is dat die ou fout van politieke analise begaan word om naamlik die politiek aan die hand van beleid en persoonlikheid, eerder as aan die hand of minstens met inbegrip van die bestel waarin die beleid uitgevoer word, te beoordeel. Die Suid-Afrikaanse leier wat voor Mbeki die naaste aan `n obsessie met die herstel van die waardigheid van sy mense gekom het, was Hendrik Verwoerd. Natuurlik is daar wêrelde van verskil tussen die twee, maar albei deel `n obsessie met ras, duld nie interne kritiek nie en handhaaf `n voorkeur vir sentralistiese beheer, met die staat as die belangrikste instrument van beleidsverwesenliking. Is dit dan toevallig dat belangrike swart intellektuele hulle in die Mbeki-era van die Afro-nasionalistiese projek begin wegkeer het, net soos die geval was met Afrikaner-intellektuele betreffende Afrikaner-nasionalisme in die Verwoerd-era? Of dat die gedugte gemeenskapsbasis waarop beide bewegings gebou is geleidelik tydens die heerskappy van hierdie twee leiers begin verkrummel het? Romantiese voorkeur Die ander tekortkoming in Gumede se boek is dat hy nog `n ietwat romantiese voorkeur vir die sosiale demokrasie vertoon. Dit kom veral na vore in hoofstuk 5 se “Economics for the Poor”, die enigste hoofstuk waar sy normaalweg sobere ontleding vervang word deur `n prekerige voorskriftelikheid, soos dit nou maar eenmaal die geval is met gefrustreerde sosiale demokrate. Dit ly geen twyfel dat herverdeling en ontwikkeling deur die staat – twee geliefkoosde remedieë van sosiale demokrate – `n rol in Suid-Afrika kan en moet speel nie, maar dit kan, gegewe die koloniale aard van die Suid-Afrikaanse staatsbestel (en sy afhanklikheid van die nog meer koloniale korporatiewe sektor) nie met dieselfde mate van sukses as in, sê, Swede of Duitsland toegepas word nie. Ekonome soos Johan van Zyl en Norman Reynolds het al dikwels aangevoer dat post-koloniale Afrika twee kenmerke deel: nóg besluitnemingsbevoegdheid, nóg kapitaal word na plaaslike gemeenskappe afgewentel, met die gevolg dat die staat en sy beherende elite absolute beheer oor die land en die ekonomie behou. Die belangrikste remedie vir hierdie probleem is die uitbouing van `n sterk burgerlike gemeenskap wat die gemeenskap self as die belangrikste agent van ekonomiese ontwikkeling voorhou. Om gemeenskappe in Suid-Afrika tot op hierdie punt te kan bring, is sowel intergemeenskaplike samewerking as moedertaalonderrig ter wille van groter kognitiewe en politieke begrip van die allergrootste belang. Maar terug na Gumede se boek: in weerwil van die mindere gebreke van die boek is dit `n tydige en noodsaaklike gids tot die moderne Suid-Afrikaanse politiek. Enigiemand wat hierdie komplekse onderwerp beter wil verstaan, sal baat vind by hierdie werk. |