|
||||
Johan van Zyl Deur Johan van Zyl, alternatiewe ekonoom en ere-professor in die Skool van Publieke Bestuur en Administrasie, Universiteit van Pretoria Pres. Mbeki het `n ruk gelede gesê: "globalisering is soos die weer - ons moet eenvoudig almal daarby aanpas". Baie waar. Maar wat hy nie genoem het nie, is die vele maniere waarop mense wel innoverend 'aanpas' om hulself voortdurend teen die weer te beskerm! Ons bou daagliks huise, kantore en ander geboue, rig weernavorsingstasies op, maak `n massa klere (veral vir die winter) en ook verwarmers, verkoelers ensovoorts. Inderdaad, ons is alles behalwe 'uitgelewer' aan die weer! Dieselfde benadering geld vir globalisering. Sosio-ekonomies vertoon wêreldwye globalisering vandag veral twee sterk negatiewe tendense: • die verdere marginalisering van verskeie sosiale groepe, inheemse mense en selfs van hele lande, byvoorbeeld veral in Afrika. • die groeiende gaping tussen ryk en arm, en daarby toenemende wêreldwye armoede (steeds die Achilles-hiel van die ongebreidelde Kapitalisme). Dit is teen hierdie tendens van sterk toenemende ekonomiese nadele dat gewone mense hulself moet beskerm. `n Nuttige rigting om in te slaan, is intensiewer 'lokalisering', as praktiese teenvoeter vir die meedoënlose ideologiese opmars van globalisering onder die doelgerigte aanvoering van die groot politieke en ekonomiese magte van die dag. Maar wat is in die spel? En behalwe hierdie WAT is daar ook nog die HOE om veranderings effektief te probeer bewerkstellig. `n Groot dilemma in ons nasionale ekonomiese beleid vandag `n Kernbelangrike stelling wat in onlangse jare dikwels gemaak word deur internasionaal gerespekteerde ekonome (soos bv. James Robertson van die hoog aangeskrewe New Economics Foundation in Brittanje) is dat "volle indiensneming soos ons dit in die verlede geken het, … nooit weer (sal) terugkeer nie". Dit gooi sekerlik ons ekonomiese beleid oor baie dekades omver! Nogtans word so `n basiese uitspraak grotendeels geïgnoreer deur ons eie politici, vele ortodokse ekonome én die finansiële pers. Vir hulle lê die oplossing van ons ernstige sosio-ekonomiese probleme blykbaar nog steeds in daardie groot universele reddingstaktiek van die verlede, naamlik 'bevorder `n hoër ekonomiese groeikoers (BBP)'. Ongelukkig, in die sterk globaliserende wêreld van vandag, het hierdie eertydse groot kuur veelal `n mite geword! Die hoofrede vir hierdie dramatiese ekonomiese ommekeer lê in die aansienlik groter kapitaalintensiewe produksietegnieke (eerder as die meer arbeidsintensiewe benadering van vroeër) wat vandag afgedwing word op maatskappye, veral om hulle internasionale mededingendheid te kan handhaaf. Inligtings- en rekenaargedrewe hoë tegnologie (hoofsaaklik kapitaalgerig) het in `n groot mate oorgeneem. In die voortdurende soeke na laer produksiekoste word gewone arbeid al hoe meer uitgeskakel in `n aanhoudende herstrukturering van maatskappye - sekerlik `n duidelike 'teken van die tye'! Hierin lê daar egter `n ernstige konflik van nasionale belange opgesluit, naamlik kommersiële voorsprong in die globale wêreld versus binnelandse werkskepping en ekonomiese welvaart vir alle Suid-Afrikaanse burgers. Die werkloosheids- en armoedevraagstuk in ons land word ongelukkig steeds erger. In `n inset tot die onlangse Spitsberaad oor Groei en Ontwikkeling verskaf die Arbeidskomponent van NEDLAC nuttige statistiek. Volgens amptelike (konserwatiewe) syfers het werkloosheid toegeneem van 16% in 1995 tot 30% in 2002. Die swart jeug en landelike inwoners is hierdeur die swaarste getref. Alle jong mense onder die ouderdom van 30 het in 2001 `n werkloosheidskoers van 47% in die gesig gestaar - in daardie stadium byna 70% van alle werkloses in die land. Daarby moet genoem word dat heel geloofwaardige nieamptelike ramings ons werkloosheidsyfers dikwels baie hoër stel. By implikasie is dit dan sekerlik nie moeilik om te verstaan waarom misdaad in ons land sulke ernstige afmetings aanneem nie. Onaanvaarbaar soos dit is, bly misdaad prakties `n `nuttige alternatiewe vorm van werkverskaffing'! Daar is egter sekerlik werkbare oplossings vir hierdie ernstige vraagstukke. Maar daarvoor het ons minstens twee soorte polities bra kontroversiële `nuwe denke' nodig. (a) Amptelike erkenning van ons struktureel erg dualistiese sosio-ekonomie `n Belangrike sleutel lê in die eerlike erkenning van `n basiese waarheid in Suid-Afrika se lang koloniale geskiedenis, naamlik dat ons ekonomie veral op plaaslike vlak nog altyd skerp verdeel was in twee aparte sosio-ekonomiese stelsels. Polities gesproke is swart mense dikwels beskou as 'buitestaanders' in `n hoofsaaklik Europese vestiging. Gevolglik was hulle dikwels (doelbewus) uitgesluit van volle deelname aan die hoofstroomekonomie. Die geskiedenis van die Xhosa in die Oos-Kaap gedurende die 19de eeu is `n sprekende voorbeeld hiervan. Trouens, die beleid van die Nasionale Party teenoor die stedelike swartes na 1948 het hierdie Britse koloniale benadering grootliks oorgeneem en daarna verder verfyn. Die uiteindelike ekonomiese uitkoms van so `n langdurige histories-politieke beleid was eintlik onvermydelik, naamlik `n strukturele dubbellaag-, oftewel dualistiese sosio-ekonomiese stelsel. Aldus het ons vandag enersyds `n goed ontwikkelde moderne handelsektor wat inherent in staat is om in die globale ekonomie mee te ding. Andersyds het ons egter ook `n baie groot gemarginaliseerde 'agtergeblewe sektor', hoofsaaklik in ons menigte swart woongebiede (townships) en in vele arm landelike gemeenskappe gevestig Ekonomies gesproke lê die kernverskil hier in ekonomiese selfstandigheid versus afhanklikheid. Die moderne sektor het die kapasiteit om hoofsaaklik binne eie kring die nodige produkte en dienste te kan lewer wat die groter mark verlang. Maar die gemarginaliseerde sektor bly steeds hoogs afhanklik van die moderne sektor om soiets hoegenaamd te kan doen, dit wil sê, vir sowel basiese werkverskaffing as vir die verskaffing van selfs die basiese goedere en dienste wat daagliks deur plaaslike inwoners verbruik word. Dit is waarom ons 'tweede ekonomie' maar min werklik selfstandige seggenskap oor hulle eie ekonomiese toekoms het. Hoe kan hierdie skerp getekende historiese afhanklikheid oorkom word? Gesonde verstand sou verwag dat daar by enige land waarin prakties twee grootliks aparte sosio-ekonomiese stelsels funksioneer, dan ook verskillende stelle ekonomiese beleidsmaatreëls ingespan moet word? Die groot rede vir hierdie beleidstekortkoming is die ortodokse aanname van en groot vertroue in die sogenaamde 'deursyferingseffek' van die groei in BBP na die agtergeblewe sektor, wat steeds in ons beleidsinstansies heers. Oral oor die ontwikkelingswêreld het hierdie oortuiging egter in die praktyk baie min opgelewer. Aldus kan dit in ons eie land ook nie help nie. Die ekonomiese kloof tussen bogenoemde twee sektore in ons land is eenvoudig te wyd om enige 'sinergie' effektief moontlik te maak. Maar die blywende populariteit van hierdie ortodokse benadering en geloof in die sogenaamde deursyferingseffek bly `n oorwegende politieke faktor. Nogtans geniet so `n skerp histories/strukturele ekonomiese standpunt amptelik nog maar bra lukrake erkenning. Die naaste daaraan was President Mbeki se onlangse openbare verwysings na 'twee ekonomieë' in Suid-Afrika. Hoe dit egter gelees, begryp en toegepas word, is tans heel onduidelik. (b) Groter lokalisering Nuwe denke sal ook `n belangrike nuwe beleidsmikpunt na vore moet bring, naamlik om die verantwoordelikheid vir werk en inkomsteskepping ook by plaaslike gemeenskappe tuis te bring - eerder as die huidige omgekeerde tradisionele benadering van vertroue hoofsaaklik op die oorhoofse makro-ekonomie. Lokalisering is inderdaad `n opwindende uitweg om die negatiewe 'ekonomiese weersomstandighede' wat globalisering tans meebring, die hoof te bied. Aldus moet plaaslike gemeenskappe en regerings (ook kultuurgemeenskappe?) effektief in staat gestel word om 'meer selfstandige werkende ekonomieë' te word. Dit is hoofsaaklik nodig om volhoubare indiensneming en inkomste te kan skep, ook vir die vele Suid-Afrikaanse burgers (swart en wit) wat tans oorwegend uitgesluit word van effektiewe deelname binne die moderne ekonomiese sektor. Enkele implikasies Die regering se onlangse pogings om plaaslike ekonomiese ontwikkeling te stimuleer via die sogenaamde Geïntegreerde Ontwikkelingsplanne (IDP's) beweeg in die regte rigting. Maar daar is nog baie aksies wat dringend en veral doeltreffender geaktiveer moet word. Dit word veral duidelik wanneer die fokus op die praktiese 'HOE'- eerder as op die gebruiklike 'WAT'-vrae val. Basiese projekte/programme om selfstandiger plaaslike ekonomiese ontwikkeling te bevorder (veral met die klem op meer selfstandige besluitneming) kan die volgende kernelemente insluit: • Investeringsprogramme vir geregistreerde plaaslike gemeenskappe (PIP) - gebaseer op finansiële oordragte van die regering, eerder as die voorgestelde 'basic income grant' wat slegs op verbruik afgestem is. Plaaslike inwoners kan dan sulke oordragte aan alle volwasse inwoners saamvoeg en self gesamentlik en meer ingelig besluit oor projekte wat hulle plaaslike behoeftes ten beste kan dien. • Desentralisering na geregistreerde plaaslike gemeenskappe van die kernverantwoorde-likheid om uitvoering te gee aan die verskeie basiese sosio-ekonomiese regte wat in die Konstitusie self sogenaamd gewaarborg word. • Nuwe plaaslike finansiële reëlings, soos byvoorbeeld `n plaaslike geldeenheid asook kleiner plaaslike banke of kredietunies. • Ruim aandag aan plaaslike 'invoervervanging' - deur veral basiese lewensnoodsaaklikhede oorwegend self te produseer. Verdere besonderhede is in `n onlangse artikel in Die Vrye Afrikaan kortliks genoem. Dit is hier egter genoeg om te besef dat `n benadering van 'doelgerigte lokalisering' inderdaad `n belangrike teenvoeter kan wees vir vandag se meedoënlose globalisering. Al wat basies nodig is, is die wil om dit te doen! Vir Die Vrye Afrikaan is dit sekerlik `n belangrike vraag wat moontlik ook groter plaaslike ekonomiese onafhanklikheid vir Afrikaners kan inhou ? Hierdie is `n wesentlike vraag wat sekerlik heelwat verdere bespreking regverdig. Genoeg miskien om in hierdie stadium te sê dat dit sterk aansluit by Prof. Marinus Wiechers se onlangse pragmatiese voorstel om `n 'Afrikaner Provinsie' te probeer beding - maar binne die huidige staatsbestel - om sodoende groter 'interne onafhanklikheid' eerder as volkome 'eksterne onafhanklikheid' vir Afrikaners te verkry. By lokalisering is die territoriale fokus gewoonlik veel kleiner as by `n 'provinsie'. Maar miskien kan juis hierdie minder ambisieuse doelwit dalk spoediger nuttige resultate lewer? `n Belangrike politieke rede vir sulke optimisme lê daarin dat die voordele van 'lokalisering' nie in die eerste instansie op Afrikaners gemik is nie! Inteendeel, die daaglikse lyding van die groot meerderheid swart werkloses en armes in ons land sal hierdeur regstreeks aansienlik verlig kan word - en sodoende die ANC se ernstigste ekonomiese probleem daadwerklik en effektief die hoof bied. As jy nie sterk is nie moet jy dalk liewer slim wees? |