|
||||
Richard Meissner Deur Richard Meissner, skrywer van `n proefskrif in internasionale politiek aan die Universiteit van Pretoria getiteld The Transnational Role and Involvement of Interest Groups in Water Politics: A Comparative Analysis of Selected Southern African Case Studies, asook verskeie artikels en hoofstukke in boeke oor belangegroepe, waterpolitiek en streekspolitiek. Earthlife Africa se aankondiging dat hoë vlakke van radioaktiwiteit naby die Pelindaba-kernaanleg ‘n gevaar vir die mense van die omgewing inhou, illustreer die rol van belangegroepe in die samelewing. Belangegroepe het een doelwit voor oë, naamlik om die beleide van openbare en privaatinstansies te beïnvloed. By die uitlewing van hierdie missie speel belangegroepe drie hoofrolle, met ‘n aantal ondersteunende rolle daaraan verbonde. Ten eerste speel belangegroepe ‘n beredenerende rol, wat insluit die vorming van opinies, die skepping van standaarde, norme, reëls en agendas. ‘n Epistemiese rol word ook vervul — belangegroepe ontwikkel ‘n navorsingskapasiteit in samehang met die ontleding van en verslaggewing oor gebeure in hul onderskeie spesialisareas. Tweedens speel belangegroepe ‘n deelnemende rol, waarin hulle as agente in die politieke proses optree. Deur hierdie belangegroepe kom burgers met alle regeringsvlakke in aanraking. Ander ondersteunende rolle wat in die verband vervul word, sluit in dié van verteenwoordiger, transnasionale agent, beleidbepaler, instansieskepper, ‘waghond’, opposisieagent en bemagtiger. Derdens speel belangegroepe nog ‘n aantal filantropiese rolle ook, soos dié van assistent en beveiliger. By die vervulling van hierdie rolle help belangegroepe regerings, nieregeringsorganisasies en individue om sekere doelwitte te bereik. So sal ‘n belangegroep byvoorbeeld die rol van beskermer aanneem wanneer hy sy lede en die breë publiek teen gevare in die omgewing opskerp. Ter illustrasie: Earthlife Africa het verskeie rolle vervul toe dit alarm gemaak het oor die vlakke van radioaktiwiteit by Pelindaba. Hierdeur het die belangegroep die aangeleentheid onder die aandag van die regering, die media en die publiek gebring. Met ander woorde, dit het die saak op die agenda geplaas en sodoende bygedra tot die ontwikkeling van die breë sosiale agenda rakende kernaangeleenthede. Terselfdertyd het Earthlife Africa ‘n epistemiese rol gespeel deur self die vlakke van radioaktiwiteit te bepaal. In dié opsig het die belangegroep ‘wetenskaplike’ bewyse gelewer van ‘n moontlike gevaar in die omgewing van die kernaanleg. Earthlife Africa se Nuclear Energy Costs The Earth veldtog is ‘n verdere illustrasie van die belangegroep se vaardigheid op die gebied van kernsake. Hierdie vaardigheid dui daarop dat lede van belangegroepe oor al hoe meer kennis beskik en kan bekom om regeringsbeleide te beïnvloed, en om nie sommerso die inligting en uitsprake van regeringsinstansies vir soetkoek op te eet nie. Dit is ‘n wêreldwye tendens, en as gevolg van belangegroepe en burgers se kennisuitbreiding word dit vir regerings al hoe moeiliker om beleide op ’n eensydige wyse in werking te stel. Verder speel Earthlife Africa ook die volgende deelnemende rolle, naamlik van beleidbepaler, waghond en opposisieagent. Hierdie rolle is duidelik te bespeur in ‘n kommentaar in die Mail & Guardian (6 tot 12 Mei 2005) van Jacklyn Cock en Richard Worthington van Earthlife Africa: ‘Ons [Earthlife Africa] opposisie teen Suid-Afrika se “kernopsie” is nie net ‘n verwerping van die geheimsinnigheid van die industrie en sy ongeoorloofde aansprake op goedkoper elektrisiteitslewering nie. Dit is tegelyk ’n oproep op die regering om finansiering na kleinskaalse energieontwikkeling te herkanaliseer. Sulke ontwikkelingsinisiatiewe sal van Suid-Afrika se genoegsame herwinbare energiebronne gebruik maak deur die ontwikkeling van plaaslike industrieë, wat bowendien op realistiese wyse sal bydra tot die prioriteite van werkskepping en armoedeverligting.’ In hierdie uitspraak word ‘n alternatiewe beleid vir Suid-Afrika se kernindustrie dus voorgestel wat werksgeleenthede sal skep en tot armoedeverligting sal bydra. Of dit wel die geval sal wees, is debatteerbaar. Die belangegroep tree as ‘waghond’ op deur ‘n wakende oog te hou oor beleidsontwikkelinge in Suid-Afrika se energie-industrie. Saam met hierdie rolle het Earthlife Africa ook nog ‘n filantropiese rol vervul toe dit met die Mekgaleng-gemeenskap geskakel het oor hul moontlike hervestiging in die Pelindaba-omgewing mits die regering alle kernafval uit die omgewing sou verwyder. Die regering se reaksie Die regering se reaksie teenoor Earthlife Africa se optrede werp egter ‘n ander lig op belangegroepe se rolle in die samelewing. President Thabo Mbeki was duidelik ongelukkig oor die belangegroep se uitsprake, en het dit as ‘roekeloos’ en ‘totaal ontoelaatbaar’ bestempel. Die Minister van Mineraal en Energiesake, Phumzile Mlambo-Ngcuka, het voorgestel dat wetgewing ondersoek word wat die verspreiding van valse aantygings ‘n kriminele oortreding sal maak. Die reaksie van regeringsleiers het boonop ‘n ander waghond wakker gemaak — die Freedom of Expression Institute. Jane Duncan van die instituut het op haar beurt weer gesê dat die regering se beleidsvoorstel ‘uiters verontrustend’ is. Indien sulke wetgewing deur die regering aanvaar word, sal dit die rol van belangegroepe as opposisie- agente en hul ‘waghondfunksies’ drasties inkort, met die gevolg dat Suid-Afrikaners in die toekoms in ‘n onveiliger omgewing sal moet leef. Dit is daarom van kardinale belang dat belangegroepe ongehinderd optree en voortbestaan, nie net om ‘n veilige omgewing te waarborg nie, maar ook om vryheid van spraak en opposisiepolitiek aan die lewe te hou — opposisiepolitiek is nie net die domein van politieke opposisiepartye nie; belangegroepe speel hierin ‘n uiters belangrike rol. |