|
||||
Gert Louw Deur Gert Louw, student in filosofie en tale, Universiteit van Suid-Afrika “I’ve always had the impression that real activists are like cleaning women, doing a thankless daily but necessary job” (Francois Truffaut, rolprentmaker, 1932 – 1984). In `n artikel in Rapport van 29 Augustus 2004 verwys Pieter Malan onder meer na `n uitlating van Nick King, Direkteur van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe, dat daar nie genoeg in ons land gedoen word om die konstante verlies aan biodiversiteit teen die jaar 2010 stop te sit nie – nieteenstaande die feit dat hierdie een van die eerste doelwitte van die sogenaamde Millennium-ontwikkelingsplan is. Verder merk King op dat te veel nieregeringsorganisasies die leiding moet neem waar die regering veronderstel is om dit te doen. Dit voer ons na die onlangse bekragtiging van die Biodiversiteitsbewaringswet, `n wet wat sy bestaan heel waarskynlik te danke het aan die druk wat op die Suid-Afrikaanse regering toegepas is van die kant van die Wêreldbewaringsbond. Benewens hierdie wet is daar ook Wet 107 van 1998 – die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur – asook Artikel 24 van die Grondwet, om maar `n paar stukke omgewingsverwante wetgewing te noem. Maar hoe doeltreffend word hierdie wette deur die Suid-Afrikaanse regeringsinstansies toegepas? Of is dit maar bloot letters en syfers op papier om die aktivis aan die slaap te sus? As `n mens blaai deur die verslag van die 12de sitting (14-30 April 2004) van die Verenigde Nasies se Kommissie op Volhoubare Ontwikkeling wonder jy of daar nie maar net nogmaals `n rits doelwitte gestel en beloftes gemaak is nie? Of word daar daadwerklik aan hierdie doelwitte gewerk, en word hierdie beloftes gestand gedoen? `n Meer aktivistiese houding Ek staan redelik skepties teenoor hierdie amptelike pogings: meer mense moet `n aktivistiese houding teenoor die beskerming van ons natuurlike hulpbronne inneem. In hierdie verband kom veral die naam van een groot aktivis op hierdie gebied na vore, naamlik Arne Naess wat in 1969 as filosoof sy leerstoel by die Universiteit van Oslo opgesê het met die gesindheid van “ek wil eerder lewe as bloot funksioneer”. Sy Diep Ekologiese aktivisme is welbekend. Hy het nie slegs gepredik nie, maar ook gedoen! Hy is natuurlik nie die enigste nie, want daar is vele ander aktiviste wat ook hulle merk op hierdie terrein gelaat het. Die punt is dat, as die regering inderdaad nie genoeg op hierdie terrein doen nie, ons sal moet besef dat die plig van beskerming en bewaring nie slegs by hulle berus nie, maar by ons begin. Maar wanneer gaan ons eendag opstaan en begin doen? Wanneer gaan ons `n Copernikaanse verskuiwing maak vanaf `n antroposentriese, selfsugtige ekologiese opvatting na een van eerbiedige ekologie gewortel in `n verhoudingsmatige wêreldsiening, dit wil sê, waarin dinge aan die hand van hul verhoudings tot mekaar begryp word? Gaan ons op die regering wag? Hoeveel van ons “funksioneer” bloot in hierdie verband? Die samelewing waarin ons leef, is een van gejaagdheid, maar wat die meerderheid nie besef nie, is dat ons planeet aan die verhit is juis as gevolg van die energie van ons gejaagdheid. Het ons, soos Hercules, ook mal begin word omdat ons deur ons take wil jaag? Ons moet begin om `n rustiger benadering aan te kweek, veral ten opsigte van besluite wat omgewingsbewaring raak. Ons moet ons sintuie begin gebruik. Ons sintuie is nie bloot instrumente nie, maar ook protesteerders. Hulle vertel ons instinkmatig wanneer iets stink, wanneer skoonheid geskend word. Dit was Plotinus wat gesê het: “Ugliness makes the soul shrink back within itself and turn away.” Ons vergeet baie maklik dat ons eintlik maar net skakels in die enorme ketting van die lewe is. Maatskaplike onreg is niks anders nie as ekologiese onreg, aangesien dit die mens en die gemeenskap van lewe (as die natuur in sy geheel) tref. Meer nog: ons kultuur van oormaat, individualiteit en welvaart laat gesamentlik die alarmklokke van selfmoord, depressie, kompulsiewe gedrag en geweld in ons ore weerklink. Ons moet aanleer om meer te wees eerder as om meer te wil hê, om `n voller lewe te leef eerder as om vinniger te leef, en ons moet veral ons waardes eerder as ons besittings uitbou. Maar nee, ons het die Cartesiese spreuk omgeswaai: “Ek koop, daarom is ek.” “Ons weet, maar ons weet nie” Het die mensdom in hierdie hele proses sy geboortereg verloor? Ons weet nie meer wat ons weet nie. Ons hoor, maar ons luister skaars. Ons sien, maar ons kyk nie. Ons weet, maar ons weet (besef) nie eintlik nie. Marvin Minsky het eens gesê dat, net soos wat ons loop sonder om te dink, so dink ons ook sonder om te dink. Is dit wat hier gebeur? Ons het - omdat ons nie juis meer weet nie – gewoond geraak aan die onooglike, die vandalistiese (wat ons aanvaar sonder om te besef dat daar fout is). Het ons die onderskeid tussen skoonheid en onooglikheid, tussen reg en verkeerd, tussen lewe en dood in ons dolle gejaag na wat ook al uit die pad gestoomroller? Maar vergaderings, dié word gehou. Wette, dié word gemaak. Dit alles is seker nodig, maar weens die gebrekkige uitvoerbaarheid, toepasbaarheid en afdwingbaarheid daarvan het `n meer aktivistiese benadering nodig geword. In sy rubriek Glasoog in Beeld van 24 Julie 2004 maak Johann Rossouw melding van mnr. Tony Blair, wat gesê het dat globale klimaatsverandering tans beskou word as die enkele belangrikste kwessie wat ons as “globale gemeenskap” (in sigself `n utopiese gedagte) in die gesig staar. Hierdie stelling is verder deur die Pentagon bevestig toe hulle bevind het dat globale verhitting `n groter bedreiging vir veiligheid inhou as terrorisme! Tog lees ’n mens nog steeds van `n “groot” leier, naamlik George W. Bush, wat sê dat dit nie besoedeling is wat die omgewing skade berokken nie, maar die onsuiwerhede in ons lug en water… Tydens `n meningspeiling op die program “The Big Question”, wat op 22 Augustus 2004 deur die SAUK uitgesaai is, het `n verbasende 73% van die deelnemers aan die meningspeiling “ja” geantwoord op die vraag “Is nuclear energy the answer to our energy crisis?” Het die mensdom so gou vergeet van Tsjernobil op 26 April 1986? Ander energiebronne Daar word beraam dat die VSA in minder as 40 minute meer energie in die vorm van sonlig ontvang as wat dit jaarliks by wyse van die verbranding van fossielbrandstof genereer. Die wêreld se elektrisiteit wat deur wind opgewek word, het vanaf 17 800 megawatt in die jaar 2000 tot ongeveer 23 300 megawatt in 2001 gestyg, wat `n toename van 31% verteenwoordig. Een megawatt windelektrisiteit kan die elektrisiteitsbehoeftes van 350 huishoudings (ongeveer 1 000 mense) bevredig. En wat van hidroëlektrisiteit? Met ander woorde: daar is wèl skoner en veiliger alternatiewe as kernkrag, maar is die meerderheid daarvan bewus? En wil hulle daarvan bewus word? Dit is dalk reeds te laat, maar iets daadwerkliks sal gedoen moet word, beginde by `n meer aktivistiese houding. Dit is immers makliker om omgewingsbeskadiging te voorkom as om dit te herstel. Ons stuur beslis af op `n rewolusie - `n omgewingsrewolusie – maar geen groot leier gaan dit lei nie: dit gaan gelei word deur die blote instink van oorlewing. |