|
||||
clinton v. du plessis Deur clinton v. du plessis, digter en skrywer Ek skryf uit die hart uit, maar begin my aanloop so met ‘n ompad. Aanvanklik het ek die grootste Afrikaanse Sondagkoerant ter wêreld gelees oor dié se puik artikels rondom skrywers en kulturele (met ‘n kleinletter) aangeleenthede - die glorieryke dae van Brink se ongebreidelde boekbewind, Coenie Slabber se brokkighede, ‘n foto van Dan Roodt met tandeborsels in sy mond en die soms skurwe agterbladstories oor Glenda Kemp wat stuitlik haar slang aan haar boesem koester, iewers in die glorieryke goudvelddorpies. Rugby, braaivleis, sunny skies, Chevrolet en… Julle sal leer om gehoorsaam te wees, Gehoorsaam en onderdanig En julle sal die Taal leer gebruik, Onderdanig sal julle dit gebruik Want in ons lê die monde Met die gif in die klop en die spoel van die hart. [Uit: (taalstryd) deur breyten breytenbach] Maar ek het ook die koerant gelees oor die Ekstra, wat later die Metro geword het en uiteindelik - in die lingua franca aan die ander kant van die land – ook nou sat is. Vir diegene wat nie weet nie, die Ekstra was net wat sy naam gesê het - so ’n stukkie ekstra ingegooi saam met die lywige res van die koerant vir sy bruin en blykbaar ook baie wit lesers (Danie Botha het iewers op ‘n skrywerssimposium dit aan die groot klok gehang dat ook hy gereeld Suster Wagner se raad gelees het)! Small comfort vir die coloureds… Casspirs, cape flats, contented coloureds en… Ons is oud Ons taal is ‘n grys reserwis van meer dan honderd jaar Met die vingers styf om die snellers - En wie sal soos ons kan sing Wanneer ons nie meer daar is nie? [Uit: (taalstryd) deur breyten breytenbach] Twee wêrelde – een taal. `n Aanhangsel vir die Bleek-Broeders-in-Beheer Ons was maar altyd vir die Bleek-Broeders-in-Beheer ‘n aanhangsel gewees, die deel wat hulle – as dit hulle pas, kon ontbeer – nooit sou ons kon hoort, sou ons deel kon wees van die groter geheel nie. [Een van die destydse joernaliste van die Baster-blad was Melvin Whitebooi (bykans elke tiener het ‘n plakboek gehad met knipsels lirieke van die jongste pop-treffer, alles danksy “Pop met Melly”). Whitebooi het ook baie gedoen om aan townshipskrywers se werk ruimte te gee, terwyl die res van die media hulle net eenvoudig geïgnoreer het. Ongelukkig doen hy deesdae vir die Kaapse Son opsienbarend verslag oor die bestaan van, onder meer, ‘n sogenaamde “Doosbende” (kyk of u iewers so twee weke gelede se Son kan kry en lees self.)] Dit is met dié beelde in my onderbewussyn dat ek standpunt probeer inneem oor of daar wel nog enigsins gehunker moet word na iets soos ‘n Bruin Media. Die gemaklikste argument sou wees om net doodeenvoudig te sê dat enige poging om aan so iets gestalte te wil gee, net weer ‘n teruggryp sou wees na ‘n era wat verby is, maar is dit werklik so eenvoudig? Ek dink die kern van die probleem lê by iets wat Steve Biko in sy boekie, I write what I like, aanraak : Now then comes the analysis. Can we in fact crack this cocoon, you know, to get whites away from the concept of racism, away from the concept of monopolising the privileges and the wealth onto themselves (my kursivering) without necessary being together? Can you preach to them in other words as individuals? Now our belief is that white society will not in fact listen to preaching. They will not listen to their Liberals. [p149,150] Tussen Biko se kortstondige lewe en die hede het daar natuurlik baie water (en bloed) in die see gevloei, maar is dit waarop hy toe sy vinger geplaas het, nie maar nog steeds die probleem nie? As ek so om my kyk na die media – en dan veral die Afrikaanse media – kan ek nie anders nie as om tot die slotsom te raak dat daar nog steeds ‘n monopolisering van voorregte en welvaart is. Om egter te probeer om ‘n Bruin Media (hoofstroom) op die been te bring, skyn om twee belangrike redes nie haalbaar te wees nie. Eerstens is dit in die huidige opset nie polities korrek (vir die nuwe, gedienstige broers) nie, en tweedens glo ek nie die idee is ekonomies haalbaar nie. In plaas daarvan om te dink aan ‘n Bruin Media (alhoewel ek sommige mense se frustrasies in die verband kan verstaan), waarom nie net eenvoudig die legitieme aspirasies van die bruin Afrikaanssprekendes met groter ywer binne die bestaande strukture laat geld nie? Binne die bestaande mediastrukture Ek sou graag wou sien dat die niebleek gedeelte van die Afrikaanse taalgemeenskap tot hul volle reg binne die bestaande mediastrukture kom. Maar daar is ‘n belangrike voorbehoud, en ek is weer terug by Biko: Now has come the time when we as blacks must articulate what we want, and put across to the white man, and from a position of strength begin to say – “Gentleman, this is what we want.” “This is where you are, this is where we are. This is what we want.”[150] Met ander woorde, die bruines met die kundigheid (en waar nodig moet kundigheid oorgedra word) moet in posisies geplaas word waar hulle ‘n noemenswaardige en betekenisvolle rol kan speel - nie as ondergeskiktes wat altyd net moet voel “ek het saam met die baas gekom nie” maar vir ‘n verandering “hier is ek baas.” Die meeste Afrikaanse koerante het ‘n beduidende bruin leserskorps (ongelukkig het hulle nie die ekonomiese spierkrag om die advertensieruimtes te vul nie) maar dit is nodig dat ‘n hele paar ongemaklike vrae gevra moet word: • Waarom het dit bykans tien jaar geneem voordat Die Burger (Oos-Kaap) ‘n niebleek redakteur kon kry? • Hoe lank nog moet Henry Jeffreys adjunk- of assistentredakteur van Beeld bly? • Hoe lank nog moet ek op die “Wie-is-ons”-skakel op Litnet klik en sien hoe bleek is Ons Taal? • Hoe lank nog gaan dieselfde televisieregisseurs dieselfde patetiese Blonde Ambisies in ons keelgatte afdruk? • Hoe lank nog, voordat daar meer bruin rubriekskrywers in Huisgenoot opgeneem word? • Hoe lank nog moet bleek die grootste gemene deler wees as dit by Afrikaans kom? • Hoe lank moes Kirby van der Merwe assistentboekeredateur by Insig bly? En ja, daar is ook ‘n anner Afrikaans vannie Kaap - een wat heel cooler sound as die van al die bleek wannabee-pop-stars met hulle boring nasal songs en amazing venues? [en Eben Jansen kan nog baie leer, maar hy klink darem beter as Kim Cloete!] Hoekom bestaan daar nog nie ‘n volledige roman in Kaapse Afrikaans nie? Die tyd het aangebreek dat bruines daadwerklik deel moet word van ook die ekonomiese voordele wat binne die Afrikaanse media bestaan. Daar bestaan ‘n geïnstitusioneerde waardestelsel wat steeds die ruimte skep vir selektiewe bevoordeling. Afrikaans sal lewensvatbaar moet wees, want op die filantropie van die here van Naspers, wat vet en ryk geword het van die eksploitasie van die Afrikanerdom, hoef niemand te hoop nie. Met vriende soos Naspers het Afrikaans geen vyande nodig nie. [Gerrit Komrij, soos aangehaal op p. 16 van die Lente 2004 uitgawe van De Kat] Moet op prinse en direkteure met aandeelopsies nie vertrou nie! Tot nou toe word so een of twee nieblekes nader geroep, voelend dat hulle net “geakkommodeer” word, om hoed-in-die-hand en skugter hul voete onder die tafel te kom insteek, maar iemand moet hard en duidelik aan die gasheer sê: hierdie tafel behoort ook aan ons, ons het ‘n reg om hier te wees – te deel, want dit was nooit net joune nie: hulle kom, hulle sal kom en julle sal kaal uitgetrek word, blootgestel aan die uiteinde van te veel vergrype en die vetjaar dekades se wegsteek-lewe agter gerookte oë om nou van aangesig tot aangesig die mens te aanskou -skelet, plooi, flikkering van liefde – soos in ‘n helder spieël. [Uit : hulle sal kom, breyten breytenbach] Maar dit is ook hoog tyd dat bruines ophou om fatalisties rondom braaivleisvure te bitch en alle pogings om deel te word, met skeptisisme te bejeën. Kom ons eis ons regmatige pond vleis op. Hierdie mag dalk net die laaste geslag wees wat nog ‘n flenter omgee vir die Taal – ek sê my bra, Afrikaans is sat, of hoe? |