|
||||
Johann Rossouw Deur die vraag van “`n groeiende gaping tussen die swart elite en die swart massa?” op te neem, het sowel Ntombikanina Malinga as Sipho Seepe met skerpsinnige ontledings vorendag gekom, wat heelwat doen om klaar te speel met sommige van die gevestigde aannames wat alte maklik deel geword het van die openbare woordeskat wanneer hierdie onderwerp bespreek word. Voor `n antwoord aan hulle gewaag word, eers `n kwalifikasie oor waarom Die Vrye Afrikaan hierdie onderwerp opgeneem het. Hierdie kwalifikasie is aan die orde omdat Malinga in die besonder in haar openingsparagrawe haar ongemak uitspreek oor die “aannames” wat klaarblyklik met die vraag gemaak word. Malinga het volkome gelyk wanneer sy die aannames onderliggend aan die opvatting van `n groeiende gaping tussen die swart elite en die swart massa dekonstrueer en op `n aantal probleme wys, byvoorbeeld die simplistiese wyse waarop die term ‘swart’ gebruik word, of wat bedoel kan word met die opvatting van die gaping of die aard van die groei in die gaping. Om egter die vraag te vra of daar so `n groeiende gaping is, is nie dieselfde as om aan te neem dat daar so `n gaping is nie, soos wat Malinga oënskynlik impliseer. Die feit van die saak is dat juis in die huidige Suid-Afrikaanse openbare debat die opvatting van so `n (groeiende) gaping maklik rondgegooi word in sowel linkse geledere (Cosatu en die SAKP se woede jeens die “elitistiese” aard van swart ekonomiese bemagtiging [SEB]) as regse geledere (die siniese regse Afrikanerminderheid wat alte gereed is om SEB gelyk te stel aan die korrupsie en knoeiery elders in postkoloniale Afrika). In `n polities brose Suid-Afrika met sy lang geskiedenis van elite-uitbuiting van die massas (wat gewis nie net altyd swart was nie, soos Malinga impliseer wanneer sy vergeet van Imperiale Brittanje se uitbuiting van Afrikaners nà die Anglo-Boereoorlog), is om nie die elite in sy jongste vorm te bevraagteken nie, nog ontverantwoordeliker as om hierdie opvatting onkrities in te span. Sover ons weet, is Die Vrye Afrikaan die eerste publikasie wat `n ernstige ontleding van hierdie opvatting probeer daarstel, juis om ons verby die slordige en onverantwoordelike gebruik daarvan te voer, en ons is van voorneme om die debat oor die volgende maande voort te sit. Afro-nasionalisties eerder as swart Dit bring my by Seepe en Malinga se artikels. Die hoofdeug van Malinga se ontleding is dat sy `n klassieke Marxistiese benadering gebruik om die valsheid van `n aanvaarde groeiende gaping tussen die swart massa en die swart elite klinies bloot te lê. Ek stem volmondig saam met haar kwalifikasies van die term ‘swart’, maar ek stel voor dat ons die term ‘swart’ vervang met ‘Afro-nasionalis’, en wel om twee redes. Die eerste rede is dat die ideologiese hoofbasis van die Suid-Afrikaanse regering onder president Thabo Mbeki `n inklusiewe Afro-nasionalisme geword het. In sy onlangse boek Thabo Mbeki and the Struggle for the Soul of the ANC (Kaapstad: Zebra Press, 2005) betoog William Mervin Gumede dat Mbeki opreg glo in `n inklusiewe nasionalisme waarvan die ANC die bewaker moet wees, en waarbinne alle Suid-Afrikaanse gemeenskappe `n tuiste behoort te kan vind. Eweneens het die ANC in `n onlangs gepubliseerde werksdokument oor die “nasionale vraagstuk” gevra vir `n inklusiewe nasionalisme waarvan die bevryding van “swart Afrikane” die belangrikste motief is. Met ander woorde, `n mens word gekonfronteer met `n inklusiewe Afro-nasionalisme wat op sekondêre vlak daarop gemik is om ruimte vir alle Suid-Afrikaners te skep, maar op primêre vlak daarop ingestel is om “swart Afrikane” te bevry. Die tweede rede waarom ek die term Afro-nasionalisties eerder as swart voorstel, is omdat verskeie regeringsfigure oor die afgelope jaar of wat gevra het vir die bemagtiginig van “swart Afrikane” in die besonder. `n ANC-LP het byvoorbeeld onlangs spesifiek verklaar dat die transformasie van die Springbokrugbyspan bowenal gaan oor die insluiting van “swart Afrikane” in die span. Met ander woorde, ofskoon ons intellektuele goeie rede het om te waarsku teen die simplistiese opvattings van die term swart, het die politici genoegsame rede om minder versigtig te wees. Miskien spruit die rede vir die onderliggende swartheid van Afro-nasionalisme gedeeltelik uit wat Adam Habib soos aangehaal deur Sipho Seepe uitwys, naamlik dat waar daar `n “ontrassing van die piek van die klassestruktuur is… [word] die ander vlakke grootliks ongetransformeerd gelaat.” Soos Seepe dit stel, sal die “retoriek van die struggle steeds `n appèl op die massa hê” solank as wat hierdie vlakke nie ontras word nie. Malinga se ontleding Maar nou terug na Malinga se ontleding. Die kern van haar Marxistiese toepassing op die probleem kom neer op die volgende argument: ekonomiese mag is die belangrikste vorm van mag in die samelewing. Ekonomiese mag word op sy beurt beheer deur die kapitaliste, dit wil sê “niks meer nie as enigiemand wat die produksiemiddele [grond], die verspreiding van rykdom en die instellings wat help om sodanige mag oor ander in `n spesifieke stelsel te handhaaf, beheer.” Sy gaan voort om uit te lig dat in die klassieke sin van wat `n kapitalis beteken, ons inderdaad baie min “swart” kapitaliste in Suid-Afrika het, met selfs die nuwe swart helde van kapitalisme soos Ramaphosa, Sexwale en `n paar ander wat waarskynlik minder as 1% van die produksiemiddele van die Suid-Afrikaanse ekonomie beheer. (Hierdie syfer word gesteun deur die feit dat “swartes” minder as 1,6% van die Johannesburgse Aandelebeurs beheer, soos Seepe uitwys.) Of ons nou van 1% of 2% praat, bly die feit dat daar geen sprake van `n nuwe “swart” elite kan wees nie. Ons moet eerder, verklaar sy, kyk na ou patrone van elitevorming, en of hierdie nie sedert 1994 vererger het nie, met `n skeutjie swart bygeroer. (Hier ondersteun sy Seepe se netjiese politieke punt dat byna almal die illusie van `n “swart elite” polities benodig: die ANC, ten einde te bewys dat hy die lot van sy belangegroep verbeter; die groot nyweraars, ten einde te bewys dat hulle ernstig is oor SEB; en die massa, ten einde te glo dat daar ook vir hulle hoop is.) Laastens wys Malinga op die feit van `n groeiende swart verbruikersklas, wie se sigbaarheid waarskynlik een van die hoofredes is waarom opvattings van `n nuwe swart elite so maklik in die openbare Suid-Afrikaanse debat aanvaar word. Nietemin, herinner sy ons, was swartmense se deelname aan die Suid-Afrikaanse ekonomie nog altyd van `n verbruikende eerder as `n produktiewe aard en, indien enigiets, is hierdie patroon verder gevestig sedert 1994. Die diaboliese prag hiervan is dat dit die illusie van `n nuwe swart elite verder aanhelp sonder om enige betekenisvolle opofferings van óf die nuwe politieke, óf die ou korporatiewe meesters van Suid-Afrika te vra. Vir `n klassieke Marxistiese ontleding van die opvatting van `n groeiende gaping tussen die swart elite en die swart massa sal `n mens inderdaad ver soek vir `n beter poging as dié van Malinga, en sy lê inderdaad bloot hoe min ekonomies dinge vir swart Suid-Afrikaners (swart omskryf in die inklusiewe sin wat sy in ooreenstemming met die SEB-Wet doen) verander het. Natuurlik is hierdie situasie nie volhoubaar nie, en soos Seepe ons herinner is dit “vir nou veilig om te aanvaar dat as die gaping bestaan, dit nog nie groot genoeg geword het om tot `n opstand deur of die vervreemding van die massa teenoor die swart elite te lei nie.” Maar hoe lank kan hierdie situasie voortduur, veral as ’n mens kennis neem van die groeiende burgerlike onrus onder armes op plaaslike regeringsvlak dwarsoor Suid-Afrika (wat die Nasionale Intelligensieagentskap nou, met ietwat lagwekkende en allermins inspirerende refleksie op ons politieke leierskap) moet ondersoek? Die gapings in Malinga en Seepe se ontledings Om hierdie vraag te kan beantwoord, moet `n mens verder as Malinga se Marxistiese benadering gaan, aangesien sy al die bekende tekortkominge van `n Marxistiese ontleding dupliseer: die oorskatting van ekonomiese mag ten koste van simboliese mag; die faling om `n greep te verkry op die aard van `n moderne hiperindustriële eerder as klassieke industriële ekonomie; en die onderspeling van die veranderende aard van die Suid-Afrikaanse staatskorporatiewe bestel. Laat ek aan die hand van drie opmerkings probeer illustreer wat ek bedoel: 1) Die oorskatting van ekonomiese mag ten koste van simboliese mag: In haar ontleding van wat die elite is, verwys sy na rykdom as “die vermoë om bevoordeling te geniet en om huidige en opperste mag uit te oefen” (my klem). Nou is die feit van die saak dat as ekonomiese mag so bepalend was in samelewings, `n land soos Indië, wat ekonomiese ongelykheid waarskynlik vir langer as enige ander land ter wêreld gehandhaaf het, lank gelede sou ontplof het. Die belangrikste rede waarom Indië betreklik stabiel gebly het, is die rol wat religie gespeel het om mense te help om hul lyding en armoede te verduur. Dit is nie om dowe neute nie dat twee van die wêrelde se grootste religieë, Boeddhisme en Hindoeïsme, beide gebore is in die Indiese stad Benares, met Boeddhisme wat byvoorbeeld lyding as sy vertrekpunt neem. Laat ons nie vergeet nie dat Suid-Afrika een van die mees religieuse lande ter wêreld is, en dat dit ongetwyfeld help om te verduidelik waarom soveel Suid-Afrikaners nie lank gelede teen hulle materiële ontbering in opstand gekom het nie. In `n sin lei religie `n mens selfs dikwels daartoe om betekenis in lyding te vind (wat Lenin natuurlik daartoe gevoer het om dit as die opium van die volk te sien, en in die proses religie ietwat te verskraal). Religie is natuurlik slegs een vorm van simboliese mag, soos ons by die oorweging van my tweede opmerking kan sien: 2) Die faling om `n greep te verkry op die aard van `n hiperindustriële teenoor `n klassieke industriële ekonomie: Ofskoon kommentators soos Moeletsi Mbeki uitgewys het dat Suid-Afrika se industriële kapasiteit oor die laaste dekade of twee gekrimp het, moet `n mens hierdie krimping kwalifiseer. In die klassieke (Marxistiese) sin het Suid-Afrika twee groot vlae van industrialisering ondergaan. Die eerste een is gelei deur die Britte vanaf die 1870’s nà die ontdekking van diamante en later goud. Die tweede een was deur die Afrikaners vanaf die 1930’s nà die herstel van mineraalpryse nà die Groot Depressie. Beide hierdie vlae van industrialisering het ook `n simboliese politiek vergesel, naamlik eerstens, om die grootsheid van die Britse Ryk teenoor die plaaslike “agterlike inheemse inwoners” te bevestig en tweedens, om die stand van Afrikaners teenoor die Britse Ryk asook die ander “agterlike” inheemse groepe te bevestig. Ofskoon Suid-Afrika se industriële basis vanaf die 1980’s gekrimp het, het die land egter `n derde vlaag van industrialisering betree, alsy dit `n vlaag van hiperindustrialisering (om die term te gebruik wat Bernard Stiegler inspan in sy boek De la misère symbolique: 1. L’époque hyperindustrielle [Oor simboliese ellende: Die hiperindustriële epog], Parys: Gallimard, 2004). Stiegler se betoog is dat, waar verskeie kommentators vanaf die 1960’s verwys het na `n postindustriële ekonomie met meer ontspanningstyd vir die outonome individu, het ons in feite die opkoms meegemaak van `n simboliese ekonomie waarin die aandag van die individu die belangrikste kommoditeit word in die globale mark van bewussynsinhoude soos rolprente, televisieprogramme, sport, musiek ens. Die opkoms van hierdie simboliese ekonomie geskied op die rug van `n massiewe groei in hiperindustriële kapasiteit, vernaamlik in die kommunikasiebedryf. Sedert die eerste vlaag van Suid-Afrikaanse industrialisering het Suid-Afrika nog altyd `n merkwaardige vermoë vir die invoer en plaaslike toe-eiening van tegniese stelsels vertoon. Die derde vlaag van (hiper)industrialisering wat Suid-Afrika vanaf die laat 1980’s ervaar het en wat eers werklik onder die huidige Afro-nasionaliste op dreef gekom het, was geen uitsondering op hierdie reël nie. Die hart van die Afro-nasionalistiese projek is van `n simboliese aard, naamlik die herbevestiging van die waardigheid van Afrika en “swart Afrikane”, alombekend as die Afrika-Renaissance. In die uitvoering van hierdie projek het die Afro-nasionaliste geen taak te veeleisend geag nie, met swaar beleggings in vervoer, kommunikasie en elektrisiteit, oftewel presies daardie sektore wat van lewensbelang vir die hiperindustriële ekonomie is. Dit is ook waarom Telkom, die SAUK en Transnet so strategies belangrik vir die huidige staat is. Natuurlik is hierdie sektore ook handig vir die veelgeroemde openbare-private vennootskappe, oftewel die staat- en korporatiewe sektore wat hande vat vir die groei van die Suid-Afrikaanse simboliese ekonomie, soos versinnebeeld deur die klem op toerisme as nywerheid van globale ekshibisionisme en toeskouerskap. Marx het nooit voorsien dat die staat in `n stadium die belangrikste agent in die industriële ekonomie sou word nie, en `n mens kan maar net raai wat hy sou sê ten aanskoue van die huidige Suid-Afrikaanse staat synde die voorste simboliese produsent (met al die implikasies vir die aanwending van swart verbruikende deelname aan die ekonomie as platform), eerder as om te probeer om dít te verander! Ter versagting moet `n mens minstens Marx en Engels dit ter ere nagee dat hulle moontlik iets hiervan voorsien het toe hulle in die Kommunistiese Manifes geskryf het: “Alles wat heilig was, word ontheilig”.) Die hoofproduk van hierdie simboliese ekonomie, afgesien van `n bra elitistiese opvatting van Afrika (gesentreer rondom die staatskorporatiewe sektor eerder as om gemeenskappe), is natuurlik die fiksie van `n gesentraliseerde Suid-Afrikaanse nasie (eerder as `n nasie van gemeenskappe). “Simunye, we are one”. Inderdaad. En hier bestaan `n baie reële gaping tussen die Afro-nasionalistiese simboliese produsente en die verbruikende massa, wie se bewussyne vrugbare grond is vir die betekenislose programme wat in hulle gestort word, vanaf globale handelsmerke tot betekenislose “musiek”, vanaf eensydige nuusuitsendings tot selfoonmitologie. Praat van opium vir die volk. 3) Die onderspeling van die veranderende aard van die staatskorporatiewe bestel: Beide Malinga en Seepe wend byna geen poging aan om te teoretiseer oor die aard van die Suid-Afrikaanse staat nie, `n magtige koloniale uitvinding as daar ooit een was. Gedagtig aan die feit dat hierdie staat by verre die belangrikste politieke instrument in Suid-Afrika is, kan `n mens dit nie buite die vergelyking laat wanneer jy eliteformasies probeer verstaan nie, veral as jy in gedagte hou dat die einste Afrikanernasionaliste wat die morele hoëgrond en die staat in 1948 tot hulle beskikking had, teen die vroeë 1960’s reeds die slagoffers was van `n nuwe eliteformasie (oftewel die Super-Afrikaners wat by die bestaande elite aansluit, om nou `n blaadjie uit Malinga se boekie te neem). Die veranderende aard van die Suid-Afrikaanse staat Die sleutel vir die verstaan van die veranderende aard van die Suid-Afrikaanse staat lê eerstens daarin om onsself te herinner dat hierdie staat `n koloniale skepping is en, tweedens, dat die koloniale patroon van `n elite versus die massa nie verdwyn het nie – inteendeel. Die basiese oogmerk van die Suid-Afrikaanse koloniale staat was om `n klein elite te begunstig te koste van die ander gemeenskappe in die land. Hierdie elite was nog altyd verbind met `n politiek van identiteit: Britse Imperialisme, Afrikaner-nasionalisme, en nou Afro-nasionalisme (laasgenoemde synde inklusief en voorgenoemde eksklusief, maar nie noodwendig op die lange duur verdraagsamer of meer demokraties nie). As demokrasie gaan om die stem van die mense, dan is die huidige staat net so koloniaal as sy voorgangers, indien nie erger nie. Die rede hiervoor is dat, in `n land so uitgestrek soos Suid-Afrika, demokrasie die oorwinning van afstand beteken. Slegs wanneer `n mens nie meer die slagoffer van afstand is nie, wanneer jy mobiel en hoorbaar is, kan jy volledig deelneem aan die ekonomie, materieel en simbolies. In die geskiedenis van Suid-Afrika sedert 1652 het diegene wat vervoer en kommunikasie beheer het, nog altyd die land beheer. Die Britte het byvoorbeeld `n nasionale vervoernetwerk in die sentrum van hul industrialiseringspogings geplaas, net soos die Afrikaners nasionale padnetwerk in die sentrum van hulle s’n geplaas het, en die ANC lugvervoer en televisie in die sentrum van hulle s’n plaas. Die netto-effek in die huidige Suid-Afrika is dat die staat in samewerking met die korporatiewe sektor massief belê in vervoer en kommunikasie, maar dat die massas in die landelike areas so immobiel en stemloos as altyd is, terwyl in die stedelike areas geselsradio en televisie nie juis bydra tot deelnemende in plaas van verteenwoordigende demokrasie nie. Die koloniale gaping van mobiliteit en kommunikatiwiteit word gehandhaaf, en sodoende word die gaping tussen `n hoorbare, mobiele elite en die stemlose, immobiele massa groter. Afro-nasionalisme speel `n sentrale rol in hierdie politiek van mobiliteit en kommunikatiwiteit, en as “swart Afrikane” sou eindig as die finale verwysingspunt van transformasie, sal die ou rassemotief in Suid-Afrika gereproduseer word ten koste van wat die eintlike oogmerk van demokratisering en ekonomiese bevryding in Suid-Afrika moet wees: om die gaping tussen die ingevoerde tegniese stelsel en die inheemse gemeenskappe te sluit. Maar hiervoor moet `n mens jou wend na die kragtigste (en mees verwaarloosde) werktuig vir tegnologiese toe-eiening en, inderdaad, politieke transformasie: ons inheemse tale. |