| ||||
Elias P. Nel Deur Elias P. Nel, skrywer van onder meer Mafoiings op Verneukpan (Kaapstad: Tafelberg, 2001) Daar word al ‘n geruime tyd betoog dat die media meer aandag moet skenk aan die kwessies wat vir bruinmense belangrik is. So ‘n stelling bring onmiddellik ‘n nuwe dimensie aan die problematiek oor presies waar bruinmense binne die Afrikaanse gemeenskap staan. Moet daar weer teruggeval word op die dae van Die Burger Ekstra en Rapport Ekstra, waarin bruinmense se gemeenskapslewe apart, afsonderlik en gesegregeerd aangebied is? Staan bruinmense se belewenisse en kwessies na tien jaar binne die nuwe politieke bestel nog steeds buite die Afrikaanse media se dekkingsveld? Is al wat nuuswaardig is, die gevolge van sosiale en morele verval wat in ieder geval die nagevolge van apartheid is? Die beywering vir die volledige opname van bruinmense binne die Afrikaanse media en uitgewersbedryf moet nie die verwesenliking van Treunicht se “Kleurlingtuislandbeleid” wees nie. Dan boer ons agteruit en sluit ons juis die mense wat ons veronderstel is om te help, van die hoofstroomaktiwiteite binne die Afrikaanse taalgemeenskap uit. Die uitgewersbedryf vandag As ons kyk hoe die uitgewersbedryf vandag daar uitsien, kom dit duidelik na vore dat daar nie veel gepresteer is ten opsigte van die opneem van sogenaamde “bruin skrywers” nie. (Ek verafsku die terminologie en gebruik dit slegs terwille van die betoog.) Sedert 1994 het enkele skrywers, van wie heelparty opsienbarende tekste geskryf het, tot die mark toegetree. Die oorgrote meerderheid aspirantskrywers staan egter nog steeds met hul manuskripte onder die arm en hoop op beter dae. Daar is ook die beskuldiging dat diegene van ons wat wel in die hoofstroom gepubliseer het, bloot ‘n soort kwotaskrywer is. Die beskuldiging kom ironies genoeg van mense wat hulle daarvoor beywer dat hoofstroomuitgewers meer toeganklik vir die totale Afrikaanse skrywerskorps moet wees! Kwela Boeke onder die dinamiese leiding van Annari van der Merwe het veel gedoen om skrywers uit die bruin gemeenskap te laat publiseer. Ons glo dat hierdie tendens sal voortduur noudat Nelleke de Jager die leisels oorgeneem het. Die goeie werk wat Kwela doen, word deur buitestaanders en skrywers wat wel daar gepubliseer het, ongedaan gemaak deur ondeurdagte beskuldigings en uitsprake. ‘n “Wit” skrywer wou op ‘n dag van my weet: “Wat is die naam van julle uitgewery nou weer?” Die vraag het my laat terugdink aan die jare toe ek by deure weggewys is omdat “julle ingang daar agter is.” Sommige Kwela-skrywers voel dat daar ‘n etiket om hul nekke hang, dat hulle naamlik die skrywers is wat nie by ‘n “wit uitgewery” kan of mag publiseer nie. Wat die mense klaarblyklik nie besef nie, is dat dit nie saak maak WAAR jy publiseer nie, maar eerder WAT jy publiseer! En hier het Kwela die toets deurstaan, want na my beskeie mening is die meeste van hul publikasies die moeite werd. Politiek in die publikasiekeuse? Is daar nog politiek betrokke by die keuse van wat gepubliseer kan word, en wat nie? Die uitgewers sweer hoog en laag “nee”. Swart Afrikaanse skrywers sê “ja”, want ons stories is nog nie deur ons self vertel nie. Brink, Joubert en ander kan nie ons storie vertel soos ons dit self kan doen nie. Hans du Plessis het op ‘n dag gesê dat die letterkunde ook ‘n soort Waarheid-en-Versoeningsproses nodig het, waar skrywers oor die hele spektrum hul stories kan vertel. Miskien is dit juis wat nou gedoen moet word, want deur so ‘n proses leer ons mekaar werklik ken. Intussen doen die skrywers wat weggewys word dit wat enige normale mens sou doen. Hulle gee hul boeke self uit. My boekrak kreun behoorlik onder al die selfpublikasies wat skrywers aan my skenk of verkoop, of wat ek terwille van die saak self aankoop. Tussen tagtig en negentig persent van die selfpublikasies is nie die papier werd waarop dit gedruk is nie. En dis waar die probleem lê: om die skrywers wie se werk enigsins moontlikhede toon, aan ‘n ontwikkelingsprogram te onderwerp. Uitgewers was hul hande in onskuld en sê dat hulle doodgewoon net nie die tyd, geld en personeel het om die ontwikkeling te doen nie. Organisasies wat van die dakke verkondig dat Afrikaans hul erns is, is ook maar traag om werklik volhoubare ontwikkeling in die verband te doen. Die ATKV se skryfskool op Potchefstroom doen baie in die verband, maar dis baie duur, veral vir diegene buite die Noordwesprovinsie. Die ander dagkursusse is in wese niks anders as oriënteringskursusse nie. Kreatiewe skryfwerk is ‘n wetenskap, en om te glo dat dit moontlik is om alles in een dag oor te dra, is om die kursusgangers en jouself te bedrieg. Ek pleit al sedert my dae as voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging vir ‘n sentrale fonds wat skryfontwikkeling in die Afrikaanse taalgemeenskap sal bedryf. Tot so ‘n fonds moet alle raasbekke oor Afrikaans dan bydra: uitgewers, die media, Afrikaanse Departemente aan universiteite, taal- en kultuurorganisasies, provinsiale en nasionale regeringsdepartemente van Kuns en Kultuur, en almal wat iets vir die taal voel. So ‘n fonds kan na gelang van die behoefte oral in die land intensiewe werkwinkels aanbied. So kan skrywers ontwikkel word wat hulle nie oor hul skryfwerk hoef te skaam nie. En dis nie net tot voordeel van die bruin Afrikaanse gemeenskap nie, dit dien die hele Afrikaanse taalgemeenskap. En so word skrywers uit die bruin gemeenskap deel van die totale Afrikaanse gemeenskap. Kyk gerus na die publikasies wat onder die naam van die Afrikaanse Skrywersvereniging gepubliseer is terwyl ek nog die voorsitter was. Hier is skrywers van oor die hele literere spektrum saamgetrek, sowel beginners as gevestigde skrywers, maar veral is die kleurgrens ook oorgesteek! Dat daar gewis nog veel te doen is om ‘n leeskultuur in die Afrikaanse gemeenskap en veral in bruin gemeenskappe te vestig, is ‘n onbetwisbare feit. Maar wat staan ons te doen om mense aan die lees te kry as die pryse van boeke buitensporig hoog is en die oorgrote deel van die gemeenskap dit eenvoudig net nie kan bekostig nie? Hierin lê die uitdaging. Om kreatiewe skryfwerk so bekostigbaar moontlik beskikbaar te stel. Soms wens ek dat die tydskrif “Ons leer mekaar” nooit ophou bestaan het nie. Die tydskrif was bekostigbaar en het oor kwessies gehandel wat die bruin gemeenskapslewe in wese raak. Daar was selfs ook ruimte vir kreatiewe skryfwerk. Vandag sal so ‘n tydskrif uiteraard nie net oor die “bruin” kwessies moet handel nie, maar die fokus moet juis die bymekaarbring van die Afrikaanse spraakgemeenskap wees. So kry ons mense aan die lees, kweek ‘n boekehonger, en kort voor lank sal diegene wat dit wel kan bekostig, stelselmatig begin begroot om een of twee boeke per kwartaal te koop. Nou hoor ek al hoe diegene wat elke maand vyf, ses boeke koop van verontwaardiging snork en kla dat dit nou nie juis veel sal help nie. Dit kan en sal help om die kwynende Afrikaanse boekemark weer aan die gang te kry. Die punt is net: iewers moet iemand met innoverende visie en geld opstaan en so ‘n projek van stapel stuur! Maar wat doen ons? Ons gaan sit in hoekies en ween bitterlik oor die afsterwe van ons arme taaltjie en ons arme ou Afrikaanse boekietjie wat nie ‘n kans op oorlewing gegun word nie! My pleidooi is dat die bruin Afrikaanse gemeenskap nie in die hele uitgewersbedryf, boekemark en publikasiewese as ‘n afsonderlike entiteit beskou en behandel moet word nie. Hoe gouer ons dit besef, hoe gouer sal ons taal, ons Afrikaanse gemeenskap en ons land gesond word! |