blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesweek se kommentaar in Die Vrye Afrikaan: Stem ‘nee’ vir die Europese Grondwetlike Verdrag! 2005-05-19
Ofskoon Suid-Afrikaners geen seggenskap oor die voorgestelde Europese Grondwetlike Verdrag (EGV) – in die omgangstaal bekend as die Europese Grondwet – het nie, kan die aanvaarding van hierdie onbekookte neoliberale dokument verreikende gevolge vir ons land en ons vasteland inhou.

In vandeesweek se Afrikaanse mini-uitgawe van Mei se Le Monde diplomatique gee Bernard Cassen, senior joernalis by dié koerant en spesialis van die Europese Unie (EU), `n verwoestende ontleding van die ondemokratiese en neoliberale grondslae van die EGV. (Cassen se ontleding kom op die vooraand van Sondag 29 Mei se Franse referendum oor die EGV.)

Cassen toon aan dat daar veral vyf areas is wat enige regdenkende demokraat sal laat “nee” stem vir die EGV: die onderwerping van openbare dienste aan die allerheilige markwaarde van mededinging; die verwatering van sleutelregte wat na lang demokratiese stryde in Europa gevestig is; die toenemende sentralisering van besluitnemingsbevoegdheid in instellings van die EU soos die Europese Kommissie; `n streng voorkeur vir ekonomiese waardes bo politieke waardes; en die uiteindelike ondergeskikstelling van die EU se verdedigingsbeleid aan dié van die VSA, weliswaar onregstreeks via die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), waarvan nie eens al die huidige 25 lede van die EU ondertekenaars is nie!

Die Franse referendum oor die EGV vind plaas teen die agtergrond van die toename van ondemokratiese, neoliberale, gemeenskapsvyandige praktyke in die EU, minstens sedert die ondertekening van die Maastricht-verdrag van 1992. Hierdie praktyke sluit in `n verwatering van Europa se sosiaal-demokratiese tradisie ten gunste van die naakte mededinging van die Anglo-Saksiese neoliberale model van mededinging bo alles; die opwenteling van Europese besluite na burokrate, eerder as die afwenteling daarvan na burgers en gemeenskappe; en, les bes, die burokratiese verdoeseling hiervan. (Dit wil nie sê dat mededinging as sodanig sleg is nie, maar die uitdaging bly om mededinging só aan te wend dat dit vir gemeenskappe voordelig is – iets waarvan daar nog te min gesien word.)

Cassen wys dan ook tereg daarop dat daar nou vir die eerste maal in die Franse debat oor die EGV die verband tussen die liberale beleidsrigtings van die EU en dié van lidstate getrek word, waarin `n blinde geloof in die mark bo demokratiese betrokkenheid van burgers en gemeenskappe gestel word.

Dat `n sterk Europa nodig is in die aangesig van `n oënskynlik almagtige VSA, val nie te betwyfel nie. Ook Afrika kan net baat vind by `n sterk Europa, veral gegewe die lang historiese verbintenisse tussen dié twee vastelande – al was en is die verbintenisse geensins te alle tye gelukkig nie, lyk dit tog aansienlik beter as die rekord van die VSA met betrekking tot insig in Afrika se vraagstukke.

Wat egter sedert die Val van die Berlynse Muur toenemend gebeur het, is dat die kulturele en politieke aspekte van die Europese projek in die aangesig van Amerikaanse ekonomiese mededinging verwater is, in so `n mate dat feitlik elke lewensterrein vandag aan die hand van die waardes van die mark beoordeel word. Hierdie markfundamentalisme bedreig die demokrasie self in Europa, aangesien `n elite van tegnokrate, burokrate, politici en multinasionale maatskappye toenemend die mag in Europa beheer, en burgers en gemeenskappe toenemend ontmagtig is en word deur die normale magshefbome soos verkiesings. Dit is dus geen wonder dat daar nie net massiewe kiesersapatie in Europa posgevat het nie, maar dat die alterglobalistiese beweging as demokratiese alternatief vir institusionele demokrasie en sy tekorte die afgelope jare so sterk na vore getree het.

Op die vooraand van die Franse referendum oor die EGV het die ondenkbare gebeur: daar is sterk aanduidings dat die Franse, waarsonder geen Europese projek kan standhou nie, “nee” kan stem in 29 Mei se referendum. In Frankryk self word hierdie moontlikheid deur die oorgrote meerderheid van die politieke klas gedemoniseer, en is heelwat van die “inligting” en “debatte” oor die EGV niks anders nie as propaganda vir `n “ja”-stem. Die ideologiese misleiding wat hier gepleeg word, is duidelik: in die naam van Europa word mense opgeroep om te stem vir… `n Europa wat die beste in die politieke, ekonomiese en kulturele tradisies van Europa misken, burgerskap ondermyn, en gemeenskappe nog minder outonoom maak as wat reeds die geval is.

Die Vrye Afrikaan doen `n beroep op die Franse burgery om op Sondag 29 Mei in groot getalle na die stembus op te ruk om hierdie onbekookte verdrag snippermandjie toe te stuur. Suid-Afrika en Afrika kan nie `n markfundamentalistiese, ondemokratiese Europa bekostig nie – en die wêreld ook nie.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=228
Artikel nagegaan:
    -