blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Charl-Pierre Naudé plaas `n kritiese voetnoot by die FAK se ope brief oor moedertaalonderrig aan president Mbeki, met reaksie deur ons redakteur 2005-05-18
Na aanleiding van die FAK se ope brief oor moedertaalonderrig aan president Mbeki skryf Charl-Pierre Naudé van Risana, Johannesburg op 14 Mei:

Ek wil as Afrikaanse skrywer die FAK geluk wens met hierdie ope brief. Dis eers onlangs dat ek myself kan vereenselwig met die strewes van die FAK. Ek stem met alles in die brief saam maar moet op die volgende hiatus in die brief wys: Afrikaanse moedertaal-onderwys was nie slegs `n trotse anti-koloniale prestasie nie. Vir baie, soos myself, het Afrikaanse moedertaalonderwys homself aan baie kru neo-koloniale vergrype skuldig gemaak in die apartheidsjare. Dis belangrik om in `n ope brief hierdie feit te erken: ter wille van openheid met Mbeki, asook ter wille van openheid binne die Afrikaanse taalgroep wat per slot van sake bestaan uit "wit" sowel as "bruin" sprekers. Dit is egter ook hoog tyd dat die huidige regering van Suid-Afrika erkenning verleen aan die feit dat die neo-koloniale vergrype van Afrikanerdom nie `n uitsondering was op die Afrika-kontinent onder stamme wat beheer oorgeneem het in die eerste-orde fase van bevryding nie. Niks minder as Zimbabwe is die mees onlangse skreiende voorbeeld hiervan nie.

Ons redakteur antwoord:

Mnr. Naudé is heeltemal reg as hy wys op neo-koloniale vergrype van Afrikaanse moedertaalonderwys in die apartheidsjare. Dit is een van die tragiese kwessies van Afrikaans se geskiedenis, naamlik dat die taal wat voor 1948 `n trotse anti-koloniale tradisie gevestig het, na 1948 in sekere opsigte neo-koloniale skandes gemaak het. Dit neem egter nog niks weg van die sentrale punt van wat die FAK in hierdie opsig aan president Mbeki oorgedra het nie: Afrikaanse kinders pluk al vir meer as 150 jaar die vrugte van moedertaalonderrig, iets wat aanvanklik uit `n anti-koloniale aksie gebore is. Is die beste manier om die neo-koloniale elemente van Afrikaans se geskiedenis te bowe te kom deur juis weer by haar anti-koloniale elemente in `n nuwe era aan te sluit nie?


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=227
Artikel nagegaan:
    -