blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Is Frankryk se “nee” `n “ja” vir die Europa wat moet kom? 2005-06-02
    Frankryk se verwerping van die voorgestelde Europese Grondwetlike Verdrag (EGV) op Sondag 30 Mei verteenwoordig die hoogste persentasie waarmee die Franse ooit in `n referendum “nee” gestem het. Ofskoon dit die laaste jare in Suid-Afrikaanse regeringskringe modieus geword het om Europa aan die hand van uitgediende koloniale stereotipes te verstaan, bly die Europese Unie as Suid-Afrika se grootste handelsvennoot, maar veral as die vasteland wat die meeste erns met identiteit en verskil in sy politiek maak, van die grootste belang vir Afrika en Suid-Afrika. Hoe moet die Franse stem dus verstaan word, en wat is die implikasies hiervan vir Europa?

    Frankryk se verwerping van die EGV kom teen die agtergrond van ‘n sameloop van minstens drie faktore. Die eerste hiervan is dat, ofskoon die Franse media – met die belangrike uitsondering van Die Vrye Afrikaan se vennoot Le Monde Diplomatique – en die politieke klas op uitsonderings na aan die linker- en regterkant van die spektrum vir die “ja”-stem veldtog gevoer het, die EGV klaarblyklik nie met dieselfde geesdrif deur die Franse burgery bejeën is nie.

    Die tweede faktor is die wyd uiteenlopende aantal instansies en figure wat gemene saak vir die “nee” gemaak het: vanaf die ver linkse kommunis Olivier Besançenot tot die ver regse populis Jean-Marie Le Pen. En waar die leierskap van die *Sosialisteparty in Desember 2004 besluit het om “ja” te stem, het 60% van die party se lede die “nee” gestem, met gerekende sosialiste soos die voormalige premier, Laurent Fabius, en die beleidmaker, Henri Emmanuelli, wat openlik “nee” gestem het.

    Hierdie twee faktore – die gaping tussen elite en burgery en die gemene saak oor tradisionele verdelingslyne heen – kan slegs verstaan word in die lig van die derde faktor, naamlik die sogenaamde politieke fraktuur, oftewel depolitisering waaronder veral Wes-Europese lande sedert die tweede helfte van die 1970’s gebuk gaan. In die hedendaagse Europese politieke filosofie is hierdie by verre die tema wat die meeste aandag geniet.

    Een van die maniere waarop hierdie depolitisering verstaan kan word, is as `n gevolg van die feit dat die terreine waarop besluite werklik in Europa geneem word, algaande uit die hande van die burgery en hul tradisionele besluitnemingsinstrument, die algemene verkiesing, geneem is. Minstens die volgende speel mee in die wegskuiwing van besluitnemingsterreine vanaf die burgery en die algemene verkiesing: die ineenstorting van die groot ideologieë (sosialisme, nasionalisme, liberalisme) van die 19de eeu as maniere om sin te maak van die wêreld; die toenemende burokratisering van besluitneming (waarop Max Weber al bykans `n eeu gelede gewys het); die toenemende ekonomisering van alle lewensterreine deur hulle aan die diktate van die mark en wins uit te lewer; en, les bes, die gaping tussen die opkomende tegniese bestel en die ou politieke stelsels en hul instellings.

    Veral laasgenoemde is in `n lesing tydens die onlangse stigtingskongres van die Afrikaans-Nederlandstalige Filosofievereniging te Nijmegen, Nederland deur die tegnopolitieke filosoof, Harry Kunneman, onder die loep geneem. `n Wesenlike aspek van Kunneman se ontleding is dat ons vandag die opkoms van sogenaamde kennisintensiewe organisasies sien, waarin elke organisasie rondom bepaalde kennis ontstaan, maar waarin `n geïntegreerde kennisperspektief tans onmoontlik is. Die politieke ideologieë en instellings van veral Wes-Europa bly grotendeels onmagtig om hierdie situasie te hanteer, sodat die burgery dan grootskaals ontnugter word deur die politiek en gevolglik onttrek, oftewel depolitiseer.

    Maar die mens is nou eenmaal `n politieke dier, en depolitisering self gaan ook die een of ander tyd `n politieke vorm aanneem. En dit is presies wat nou in Frankryk gebeur het – en volgens alle aanduidings – ook in Nederland met die ter perse gaan van vandeesweek se uitgawe sou gebeur, om maar te swyg oor die negatiewe sentiment in Tsjeggië en Denemarke teen die verdrag. Kortom, die Franse burgery het `n politieke stem teen die depolitisering van die samelewing en die gepaardgaande ontdemokratisering-deur-ekonomisering, soos beoefen deur die burokrate van Brussel, die multinasionale maatskappye en hul partypolitieke handperde, uitgebring.

    Uit die aard van die saak kan die Franse “nee” op vele maniere vertolk word, waaronder om dit te sien as die herlewing van `n ou nasionalisme (soos op onooglike manier deur Le Pen beliggaam), of as `n verwerping van groter Europese integrasie as sodanig. Hierdie vertolkings dra almal `n mate van geldigheid, gesien die uiteenlopende vennote wat almal “nee” gestem het, maar die uiteindelike vertolking van hierdie “nee” sal afhang van watter politieke handelinge op hierdie gebeurtenis volg.

    Wat veral van belang is, is dat die Franse burgerlike samelewing in samewerking met dié van ander Europese lande nou sy deelname aan die Europese projek op groot skaal sal moet hervat. `n Nuwe Europa is te belangrik om dit in die hande van burokrate, sakelui of politieke manteldraaiers te laat: alte gou sal dit Europa na die verlede van die generaals en bloedige oorloë kan terugvoer. Daardie politieke denkers en instellings wat alternatiewe op die neoliberale konsensus onderliggend aan die huidige EGV het, sal dit by wyse van doeltreffende burgerlike mobilisering en mediakommunikasie moet laat geld. As dít gebeur, kan die Franse “nee” `n “ja” vir Europa self wees; vir daardie Europa van demokrasie anderkant nasionalisme wat moet kom.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=229
Artikel nagegaan:
    -