blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


`n Nuwe Bundel om die Verskyning van Eugène N. Marais se Winternag 100 Jaar Gelede te Vier 2005-05-18
Johann Lodewyk Marais

    Een van die belangrikste gebeurtenisse in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis is die verskyning van Eugène N. Marais (1871–1936) se gedig “’n Winter Nag” (die later beroemde “Winternag”) op 23 Junie 1905 in Land en Volk. Die gedig is in die Afrikaanse taalstryd kort ná die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) ingespan as voorbeeld van dit waartoe Afrikaans in staat is, maar het ook sedertdien een van die bekendste en mees geliefde gedigte in die Afrikaanse poësie geword en gebly. Dit is inderdaad in meer as een opsig ’n gedenkwaardige gedig.

    Om die publikasie van   “Winternag” vanjaar eenhonderd jaar gelede te vier, het ek die uitgewery Praag met die voorstel genader om vanjaar ’n bundel gedigte te publiseer waarin nuwe, ongepubliseerde gedigte van Afrikaanse digters opgeneem sal word, een gedig elk van soveel moontlik Afrikaanse digters. Gedigte wat voorgelê word, kan oor Marais of sy werk handel, maar ’n gedig oor enige ander onderwerp sal ook welkom wees. Om soveel moontlik gedigte te kan opneem, moet ’n gedig egter nie langer as 28 versreëls wees nie.

    Gedigte wat met die oog op publikasie in die beoogde bundel voorgelê word, moet ons nie later nie as 31 Mei 2005 bereik. Gedigte moet verkieslik per e-pos aan Johann Lodewyk Marais by [email protected] of aan Leti Kleyn by [email protected] gestuur word. Gedigte kan ook per pos aan Leti Kleyn by die volgende adres gestuur word: Posbus 12936, HATFIELD 0028.

    Alle gedigte sal beoordeel word en digters sal so gou moontlik in kennis gestel word of hulle gedigte vir publikasie aanvaar is of nie. Die finale besluit oor die inhoud en die aard van die bundel sal by my lê. Elke digter van wie ’n gedig opgeneem word, sal ’n komplimentêre eksemplaar van die bundel ontvang.

    Die bundel sal hierdie winter tydens ’n feestelike geleentheid in Pretoria (waar “Winternag” die eerste keer gepubliseer is), bekend gestel word. My oogmerk met sowel hierdie bundel as die bekendstellingsgeleentheid is om soveel moontlik digters die geleentheid te gee om tot ’n feestelike projek by te dra. Ek onderneem ook om deurgaans daarna te strewe om Eugène N. Marais se nagedagtenis te eer.

Johann Lodewyk Marais


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=225
Artikel nagegaan:
    -