blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die Sjinese aanslag op die Afrika-mark: Teenstrydighede van Suid-Suid-handel 2005-05-18
Jean-Christophe Servant


Deur Jean-Christophe Servant, joernalis


Vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois

Dit was `n ietwat verleë span Sjinese leiers wat begin Desember 2004 by die Angolese president José Eduardo Dos Santos besoek afgelê het. Enkele dae tevore het die Britse vereniging Global Witness in die openbaar verkondig dat die tweemiljarddollarlening wat die Sjinese staatsbank Eximbank aan Luanda toegestaan het, moontlik wanbestee sou word. Amptelik was hierdie som bestem om die Angolese infrastruktuur wat tydens die dertigjarige burgeroorlog verwoes is (elektrisiteit, spoorweë en administratiewe geboue) van nuuts af op te bou. In ruil sou Sjina 10 000 vate olie per dag ontvang.

`n Gedeelte van dié twee miljard is inderdaad wanbestee aan regeringspropaganda met die oog op die algemene verkiesing in 2006. En onder Sjinese druk is mnr. Antonio Pereira Mendes De Campos Van Dunem, `n bekende bemiddelaar in buitelandse kringe, op 9 Desember 2004 gevra om uit sy amp as sekretaris van die ministersraad te bedank. In `n oomblik van beroering wyk Beijing dus sodoende af van die grondbeginsel van sy lang handelstog na Afrika: om hom nie met die betrokke lande se binnelandse sake te bemoei nie. `n Morele lessie – ongetwyfeld gerugsteun deur internasionale borge se druk op `n land berug vir sy korrupsie – is beswaarlik iets wat `n stokkie voor Sjina en Afrika se winsgewende sakeverhoudinge sou steek.

Dertig jaar na hy sy bande verbreek het met `n Angola wat onafhanklikheid verkry het, maar as te na aan die Sowjet-Unie geag is, het Sjina ruimskoots sy aanvanklike fout reggestel. Die voormalige Portugese kolonie – waarvan hy voortaan 25% van die olieproduksie invoer – het sy tweede grootste handelsvennoot op die vasteland geword. Luanda beoog selfs om direkte vlugte na Beijing in te stel, en daar is sprake daarvan om die bou van `n Sjinese buurt in die hoofstad aan te moedig om Asiatiese bestuurslui te huisves.

Teen `n rentekoers van 1,5% oor `n tydperk van sewentien jaar, sou die omstrede lening op die kort termyn nadelig vir Beijing kon geblyk het. Dit het egter nie Sjinese maatskappye verhoed om die grootste aandeel in die winsgewende mark van nasionale heropbou in te oes nie. Iets wat die volk tot kommer stem. “Volgens die ooreenkomsbepalings moet 30% van die lening vir plaaslike maatskappye aangewend word,” verduidelik die onafhanklike ekonoom Jose Cerqueira. “Maar dit beteken dat 70% elders heen gaan. En die heropbou-sektor is een van die enigstes waar Angolese inwoners werk kan kry.” (1)

Tye verander en in Beijing het pragmatisme die oorhand oor ideologiese retoriek gekry. Buitelandse handel en ekonomiese samewerking word trouens deur een en dieselfde minister behartig. Tot in die middel 1970’s was dit eerder `n saak van solidariteit vestig tussen twee vastelande behorende tot dieselfde wêreld, dié van onderontwikkelde lande. Sjinese teenwoordigheid in Afrika het neergekom op die tegnikus wat sy broederland, pas verlos van sy koloniale tuig, kom bystaan en bydra tot sy opbloei. Vyftienduisend dokters en meer as tienduisend landboukundige ingenieurs is derhalwe na die Derde Wêreld, wat tot agterplaas van die Koue Oorlog omvorm is, gestuur.

Anti-imperialisties en `n teenwig vir die Weste, het Sjina hom ingewerk in gebiede wat deur die VSA en die Sowjet-Unie oorgesien is. Sy mees ambisieuse projekte – soos die bou van die Tanzam-spoorlyn tussen Tanzanië en Zambië – asook militêre samewerkingsooreenkomste hou hy vir sy ideologiese vriende in Oos-Afrika (Ethiopië, Uganda, Tanzanië, Zambië, ens.) en die belangrikste onverbonde lande soos Egipte. Van 1955 tot 1977 verkoop Sjina 142 miljoen dollar se militêre toerusting aan Afrika. Hy stel ook sy universiteite oop: vyftienduisend studente uit Afrika het sedert onafhanklikwording daar onderrig ontvang.

In 1977 bereik die handelsverkeer tussen Sjina en die Afrikavasteland die rekordsom van 817 miljoen dollar. In die 1980’s, terwyl die Noorde en die USSR hul uit Afrika onttrek en die Weste se steun aan ontwikkeling met die helfte daal, behou Beijing sy bande. Maar nou laat Sjina die uitvoer van sy rewolusionêre gereedskapkissie links lê, en spits hom toe op die opbloei van sy buitelandse handel en beleggings. Toe die geopolitiek van na die Koue Oorlog en die onsekere verwikkelinge in die Midde-Ooste die lande van die Noorde na Afrika toe terugbring, onder meer om hul oliebronne te diversifiseer, het dié land reeds die “fabriek van die wêreld” geword en stel hy danig belang in die vasteland se grondstowwe.

As die tweede grootste grondstofverbruiker ter wêreld, kry hy meer as 25% van sy olie-invoere uit die Golf van Guinee en die Soedanse hinterland. Die dors van `n land wat teen 2020 verplig sal wees om 60% van sy energie in te voer, ken geen grense nie, selfs nie dié van lande soos Tsjad wat hul diplomatieke bande met Taiwan behou nie (2). Hoewel Afrika slegs 2% van Sjina se handelsverkeer in 2004 verteenwoordig, trek die vasteland in besonder voordeel uit sy “openheidsbeleid”: tydens die 1990’s het die volume handelsverkeer tussen Beijing en die vasteland met 700% toegeneem (3), en sedert die hou van die eerste Sjina-Afrikaforum (4) in Beijing in 2000 is meer as veertig ooreenkomste onderteken, wat die totale waarde van handelsverkeer in vier jaar verdubbel het (meer as 20 miljard dollar einde 2004). Teen einde 2005 behoort Sjina Afrika se derde grootste handelsvennoot (na die VSA en Frankryk, en voor die Verenigde Koninkryk) te wees. Bobaas in die oprig van projekte met die Wêreldbank, poog hy selfs om in Afrika `n “globaliseringsparadigma tot sy voordeel” (5) daar te stel.

Die 674 Sjinese openbare maatskappye wat op die vasteland gevestig is, belê hul fondse net soveel in winsgewende sektore – van myne tot visserye, die ontginning van edele hout of telefoondienste – as in dié wat deur Westerse ondernemings as minder lonend beskou (en soms verwaarloos) word. So is die ontginning van die Zambiese kopermyne by Chambezi en oliesoektogte in `n Gaboen waar reserwes sogenaamd aan die opdroog is, weer van stapel gestuur. In 2004 het Sjinese beleggings meer as 900 miljoen dollar verteenwoordig uit `n totale 15 miljard dollar se direkte buitelandse beleggings in Afrika. Duisende projekte is aan die gang; 500 van hulle word uitsluitlik deur die Sjinese openbare werke-firma Road And Bridge Corporation behartig, wat daartoe bydra dat 43 Sjinese maatskappye onder die 225 grootste besighede wêreldwyd in die sektor tel. Beijing het die Ethiopiese telekommunikasiemark ingepalm, sekere aktiwiteite in die Kongolese Gécamine (mynbedryf) hervat, die Mombasa-Nairobi-roete (Kenia) opgeknap en die eerste Nigeriese satelliet gelanseer. Agt Afrikalande het amptelike status as toeristebestemming verkry, wat Sjinese burgers aanspoor om soontoe te reis.

Hierdie ekonomiese en handelsoffensief gaan gepaard met intense diplomatieke bedrywigheid. Toe hy in Maart 2003 aan die bewind gekom het, het president Hu Jintao reeds `n opvallende besoek aan Gaboen gebring. Daarbenewens is `n honderdtal amptelike ontmoetings onder beskerming van die ministers van handel en van buitelandse sake gereël, wat vir hulself “Afrika-departemente” toegeëien het. In talle lande waar diplomatieke betrekkinge met die Weste in `n krisis of `n delikate toestand is, pluk Beijing die vrugte van sy nie-inmengingsbeleid met betrekking tot binnelandse sake. Sy verhouding met Soedan – deur die Verenigde Nasies veroordeel onder meer weens die toestand in Darfur – is tekenend van `n strategie wat hom nie deur morele kwellinge van stryk laat bring nie. Vir Sjina, aldus mev. He Wenping, adjunk-direkteur van die Departement Internasionale Betrekkinge aan die Instituut vir Afrikastudies by die Beijing-fakulteit van sosiale wetenskappe, “behoort die beskerming van persoonlike regte nie die uitoefening van nasionale soewereiniteit aan bande te lê nie. Daar bestaan geen twyfel dat Beijing se sukses in Afrika by hierdie visie gebaat het nie, hoewel dit nie al is [wat Sjina met sy] Afrika-handelsvennote gemeen het nie”.

Tien jaar nadat hy hom in die destyds onontginde olievelde van Moeglad (in Suid-Soedan) gevestig het, voer Sjina 50% van die plaaslike ru-olie in. Dertien van die vyftien grootste buitelandse firmas in Soedan – van die Sjinese Nasionale Petroleummaatskappy (CNPC) tot die Zhongyuan Petroleum Corporation – is Sjinees. Beijing se sinisme het duidelik geblyk tydens die stemmery in September 2004 oor die Verenigde Nasies se Veiligheidsraadsresolusie 1564, wat `n verbod op wapenverskaffing aan hierdie land ingestel het. Teen die agtergrond van slagtings in Darfoer, het die Sjinese ambassadeur by die organisasie, mnr. Wang Guangya, gedreig om sy veto te gebruik eerder as net sy stem te weerhou. En die resolusie, wat deur die VSA voorgestel is, was bowendien heelwat afgewater. Hierdie insident het `n aanduiding gegee van hoe stewig die bande tussen Beijing en Khartoem is.

Talle Afrika-outokrate prys die gees van “wedersydse respek” en “aandag aan [kulturele] diversiteit” wat Sjinese handel en samewerking kenmerk – om die woorde van `n ou vriend van Sjina, die Gaboenese president Omar Bongo Ondimba, aan te haal (6). Maar hierdie “safari” in die Afrika “eldorado” (7) bekommer die trans-nasionale maatskappye wat tradisioneel om die “bruikbare” vasteland ronddraai. Ook die VSA se buitelandse diens, wat amptelik op “goeie bestuur” gesteld is, begin geïrriteerd raak met Sjina se ekonomiese praktyke. Mnr. Gal Luft, `n deskundige in energieveiligheid en uitvoerende direkteur van die Instituut vir die Ontleding van Wêreldveiligheid (IAGS) en `n neo-konservatiewe denkreus, meen byvoorbeeld dat “die Sjinese geneig is om hul sake op `n wyse te behartig wat Amerikaners en Europeërs begin om te verwerp: omkopery en soortgelyke onder-die-tafel-heulery. Vandaar die voordeel vir sekere Afrikalande om met Sjinese maatskappye te werk, eerder as met Westerse firmas wie se beweegruimte nouer getrek is deur veldtogte soos Publish what you pay met betrekking tot finansiële deursigtigheid” (8).

Hierdie “ander manier van sake doen” – om die Rwandese minister van finansies, Donald Kaberuka, se woorde te gebruik – is nog meer kommerwekkend vir nie-regeringsorganisasies wat al reeds die siniese Westerse praktyke in Afrika veroordeel het. Waar die voorwaardelike lenings van groot internasionale organisasies veroordeelbaar is omdat hulle sonder enige diskussie die begunstigde land aan die borge se voorskrifte onderwerp, sal Sjinese samewerking met sy onvoorwaardelike lenings en “sleutelklaar” projekte, “wit olifante” (doodgebore projekte) in die hand werk en weg beweeg van die minimumvereistes van finansiële deursigtigheid.

Volgens die uittredende bestuurder van die Angolese program Care, mnr. Douglas Steinberg, “laat die toekenningsvoorwaardes vir Sjinese lenings heelwat moontlikhede aan Angola toe, in vergelyking met die vaste vereistes van ander ooreenkomste, veral dié wat met die Internasionale Monetêre Fonds aangegaan is. Dit laat in werklikheid die regeringsowerhede toe om nie deursigtigheid te beoefen nie” (9). Omgewingsbeskermingsverenigings hou op hulle beurt die handelsvooruitgang dop van die mees besoedelende nasie ter wêreld, wat boonop nie die Kyoto-protokol onderteken het nie; 60% van die 4 miljoen kubieke meter onbewerkte boomstamme wat Afrikalande uitvoer, is vir Asië bestem, en byna uitsluitlik (96%) vir Sjina.

Sjinese wapenverkope is nog `n onderwerp wat tot kommer stem. Nadat hy die moorddadige Eritries-Ethiopiese konflik aan die einde van die 20ste eeu aan die gang gehou het (met kontrakte van oor `n miljard dollar), word Sjina daarvan verdink dat hy Soedan aan die begin van 2000 gebruik het as afsetgebied vir sy militêre tegnologie. Boonop gaan hy voort met militêre steun aan Zimbabwe, nog `n land wat deur die Weste veroordeel is (10). Meer in die algemeen merk `n mens `n indrukwekkende konsentrasie van Sjinese militêre attachés op in lidlande van die Suidelike Afrika Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) (11). Ook hier “lyk dit of finansiële oorwegings swaarder weeg as die ideologiese en geopolitiese ambisies wat tydens die Koue Oorlog voorrang geniet het” (12).

Is die Sjinese “wen-wen”-model – `n nuwe ekonomiese spel waar daar, volgens Beijing, in beginsel geen verloorder is nie – nie uiteindelik dalk `n nuwe vorm van neo-kolonialisme, toegedraai in die illusie van Suid-Suid ontwikkeling nie? Sommige Afrika-waarnemers voel gekwel oor die beperkinge van die Sjinese handelsbeleid en die direkte mededinging wat sekere Asiese produkte – van tekstiel tot yster – op Afrika se ekonomiese weefsel afdwing. Suid-Afrika, wat Sjina se belangrikste handelsvennoot in Afrika is, en in 1997 sy bande met Taiwan verbreek het om nader aan Beijing te beweeg, kom gelyktydig te staan voor “`n aanloklike samewerking en `n angswekkende bedreiging”, aldus mnr. Moeletsi Mbeki, vise-president van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg: “In ruil vir die grondstowwe wat ons aan hulle verkoop, koop ons hulle vervaardigde produkte. En dit kan net tot `n voorspelbare uitslag lei: `n negatiewe handelsbalans. Beleef ons nie die herhaling van ou geskiedenis nie?” (13)

Dit bly `n feit dat, van 24 miljoen dollar in 1992, Pretoria se handelstekort teenoor Beijing die 400 miljoen-dollar-merk verbygesteek het. In September 2004 het een van die grootste lidorganisasies van die vakbondfederasie Cosatu gedreig om verkopers van Sjinese produkte te boikot, aangesien hulle dan sou bydra tot die stygende werkloosheid. Dieselfde onthutsing heers in die avenue Charles-de-Gaulle in Dakar, waar Sjinese produkte teen lae pryse – van skoene tot medisyne – sypaadjies en stalletjies oorneem, terwyl tekstielwerkwinkels in Lesotho bedreig word deur die einde van die MultiFibre ooreenkoms in Januarie 2005 (14).

In antwoord op hierdie beskuldigings oorlaai die Sjinese handelsvennoot die vasteland met beloftes, geskenke, historiese verwysings in die gees van Bandoeng (15) en simboliese maatreëls. Sedert 2000 is bilaterale skuld ter waarde van tien miljard dollar afgeskryf. Tienduisend Afrikane ontvang onderrig in Beijing, binne die raamwerk van die Ontwikkelingsfonds vir Menslike Hulpbronne in Afrika wat deur die Sjinese regering opgerig is (16). Toenemend betrokke in vredeshandhawingoperasies, van Liberië tot die Demokratiese Republiek van die Kongo, stuur Beijing in 2004 meer as 1 500 VN-veiligheidstroepe na die vasteland. Terwyl hy erken dat die finale besluit by die Afrika-Unie berus, steun dié land openlik die drie Afrika-kandidate (Nigerië, Suid-Afrika en Egipte) – maar nie-amptelik veral Nigerië – vir `n permanente setel in die VN se Veiligheidsraad.

`n Nuwe reuse handelsprong vooruit is te wagte teen 2006, wanneer die Nuwe Asië-Afrika Strategiese Vennootskap van stapel gestuur word (17). Dit raak die privaatsektor, en sal ten eerste vir Beijing bevoordeel. Tydens sy reis na Gaboen in 2004 het president Hu Jintao ook “ekonomiese samewerking” beloof “wat veral op infrastruktuur, landbou en die ontwikkeling van menslike hulpbronne gerig sal wees”. `n Vrome voorneme? Een ding bly seker: Beijing “sal voortaan optree soos enige ander moondheid wat gesteld is op die inagneming van sy belange. Hy sal sy samewerking rig op lande met sterk potensiaal, hetsy in terme van grondstowwe, koopkrag of diplomatieke invloed” (18).

Tot waar toe en hoe sal die vasteland se gebruiklike vennote hierdie teenwoordigheid aanvaar? “Dit is te verwagte en natuurlik dat Sjina se groeiende belegging in Afrika sal lei tot `n belangekonflik met voormalige koloniale magte,” verduidelik mev. He Wenping. “Maar ek glo nie ons moet ons te veel daaroor kwel nie. Om Afrikane te help om hul lewenstoestande te verbeter en te baat by globalisering, is `n doelwit wat deur volke en lande wêreldwyd gedeel word. En die Sjinese bevolking en regering wil baie graag hiertoe bydra. Ondervinding wys egter dat dit `n lang en moeilike pad sal wees.”

In 2005, volgens die Internasionale Monetêre Fonds, behoort Afrika sy beste groeikoers in 30 jaar te toon: 5,8%. Dit sal deels te danke wees aan Sjinese belegging. Waar hy gister die agterplaas van die Koue Oorlog was, sal die vasteland môre dalk op die voorfront van `n verskerpte handelsoorlog staan?
__________

(1) Verenigde Nasies Kantoor vir die Koördinering van Humanitêre Aksie, New York, 14 Januarie 2004, http://ochaonline.un.org
(2) Sjina het diplomatieke betrekkinge 47 van die 53 lande van Afrika.
(3) http://www.chinafrique.com/tu-2003-12/12-fm1.htm
(4) Die tweede Sjina-Afrika forum wat in November 2003 in Addis-Abeba plaasgevind het, het `n plan vir samewerking tussen Afrika en Sjina wat tot in 2006 strek, aanvaar.
(5) Lees Drew Thomson, “Economic growth and soft power: China’s Africa strategy”, China Brief, Universiteit van Pensilvanië, 7 Desember 2004 (http://www.jamestown.org)
(6) Met nege amptelike besoeke aan Sjina is die Gaboenese president die staatshoof wat saam met sy Kongolese eweknie, president Denis Sassou Nguesso, die meeste kere na Beijing genooi is.
(7) Lees Howard French, “A resource-hungry China Speeds Trade with Africa”, The New York Times, 9 Augustus 2004.
(8) Lees die verslag “Bottom of the barrel: Africa’s oil boom and the poor” by www.catholicrelief.org
(9) “Oil-backed loan will finance recovery projects”, Integrated Regional Information Networks, 21 Februarie 2005, www.irinnews.org
(10) Zimbabwe is weens sy verkiesingsbedrog en politieke geweld die teiken van ekonomiese sanksies deur die Statebond en die Europese Unie. Lees Colette Braeckman, “Bataille pour la terre au Zimbabwe”, Le Monde diplomatique, Mei 2002.
(11) Angola, Botswana, Lesotho, Malawi, Seychelles, Suid-Afrika, Swaziland, Zambië, Zimbabwe.
(12) Lees Logan Wright, “Seizing an opportunity”, The Armed Forces Journal, Washington, Oktober 2001.
(13) Lees Paul Mooney, “China’s African safari”, YaleGlobal, 3 Januarie 2005, http://yaleglobal.yale.edu/
(14) Onderteken deur 47 lande in 1974 maak die MultiFibre-ooreenkoms dit vir ontwikkelende lande moontlik om `n kwota van hul tekstielproduksie uit te voer na die Verenigde State en Europa en beperk dit hul invoere.
(15) Lees Jean Lacouture, “Bandung ou la fin de l’ère coloniale”, Le Monde diplomatique, Maart 2005.
(16) Die Fonds vir die Menselike Hulpbronontwikkeling van Afrika is gestig na die eerste Sjina-Afrika forum van Beijing in 2000, www.chinafrique.com/tu-2003-12/12-fm1.htm
(17) Ingegee deur die Asië-Afrika spitsberaad wat die vyftigste herdenking van die Bandoeng-Konferensie vier, is die Nuwe Vennootskap geskoei op uitruiling en samewerking op `n hele reeks terreine – polities, ekonomies en kultureel.
(18) Lees Marc Aicardi de Saint-Paul, “La China et l’Afrique, entre engagement et intérêt”, Géopolitique africaine no.14, Parys, printemps 2004.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=223
Artikel nagegaan:
    -