blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Waarom die skares rondom Johannes Paulus II? Onversetlikheid, konserwatisme en mediatisering 2005-05-18
Michel Cool


Die ongehoorde mediadekking van die lyding en sterfte van Johannes Paulus II gee `n gedeeltelike verklaring vir die drif waarmee miljoene mans en vroue sy dood betreur het. Maar sy gewildheid het ooglopend dieper bronne gehad. Sal die Duitse kardinaal Josef Ratzinger, wat deur die konklaaf as sy opvolger aangewys is, daarin slaag om die empatie wat sy voorganger aangewakker het, te handhaaf?


Deur Michel Cool, joernalis en voormalige redakteur van die weeklikse tydskrif, Temoignage chrétien, Parys

Vertaal deur Johann Rossouw

Op 8 April vanjaar het `n miljoen pelgrims spontaan op Rome toegesak om die begrafnis van Johannes Paulus II op die St. Petrusplein of op die reuse skerms wat deur die munisipaliteit in en om die stad aangebring is, te volg. Honderde miljoene TV-kykers het vir drie uur lank sielsgemeenskap gehad rondom `n gebeurtenis waarvan hulle die uitsonderlike simboliese aard vooraf aangevoel het: die teraardebestelling van die eerste pous van globalisering.

Die beelde van die sipreshoutkis waarop `n spottende wind blaaie van die Bybel blaai voor dit deur die bloedrooi kasuife van die kardinale geruis het, sal in die geheue gegrif bly. “Vandag se mense (re)produseer die transendente vandat hulle die verband moet (re)produseer,” merk Régis Debray, fyn waarnemer van die religieuse feit, op (1). Hierdie Katolieke pavane vir `n gestorwe pous het sodoende vir `n oomblik vastelande, kulture, religieë, politieke en nasies wat deur heelwat dinge verdeel is en sal bly, verbind.

Die fenomenale impak van die afsterwe van die eerste Slawiese pous van die geskiedenis, word nie net verklaar deur die vergrootglaseffek wat die media daaraan gegee het met `n aandrang wat ongelowiges van streng oortuiging en sekere Christene kon irriteer nie. “Ons het `n oordrewe pousgodery in die media meegemaak,” kla Marcel Manoël, president van die Gereformeerde Kerk van Frankryk (ERF). Hierdie beweging van kollektiewe simpatie hou ook verband met die aantreklikheid van `n buitengewone persoonlikheid en sy personalisering van die pousdom tydens die 27 jaar van sy pousskap.

Die tragiese bestemming van hierdie Pool wat op 20 wees geword het – “alleen op die wêreld” – en daarna getuie in sy vaderland van die Nazi-barbaarsheid en die kommunistiese totalitarisme, het `n groot indruk gelaat. Bowenal verleen dit aan Karol Wojtyla, wat op 16 Oktober 1978 op 58 in die fleur van sy lewe tot pous verkies is, `n onbetwsbare legitimiteit om sy kerk met menseregte te versoen en om op die internasionale toneel – wat die beeld van menswaardigheid in elk geval vertroebel – klem te lê op die waardigheid van elke mens vanaf sy konsepsie tot sy dood.

Sy liggaamlike afgang nà die sluipmoordaanval op hom op die St. Petrusplein op 13 Mei 1981 gevolg deur sy lang lyding, wat vir sommige te gewilliglik blootgestel is aan die skaamtelose oog van die kamera, het baie mans en vroue geraak. Sonder dat hulle noodwendig van sy kudde was, het hulle die moed en waardigheid van die ou skaapwagter in sy stryd teen die siekte gesalueer. “Om sy broosheid te wys,” skryf Alain Vircondelet (2), een van sy biograwe, “is vir die pous `n manier om aan almal wat genadedood of die opname van hulle bejaardes in tehuise so maklik bepleit, te sê dat bejaardheid dit moontlik maak om die geheimenis van die kruis beter te verstaan…”

Karel Wojtyla is sedert sy jeug `n idealis verorber deur die virus van aksie. Hy het Rilke, Dostojewski en sy landgenote Adam Mickiewicz en Ciprianus Norwid gelees. In die filosofie is sy meesters Max Scheler en Edmund Husserl, maar ook Emmanuel Levinas, die Joodse filosoof van andersheid wat hy, toe hy eers pous geword het, een keer ontvang het in sy somerwoning van Castel Gandolfo. Uit sy lesing word Johannes Paulus II oortuig dat die ander nie die hel beskryf deur Sartre is nie, maar `n kardinale noodsaak van die mens. Hy sou die pous van vergiffenis, boetedoening en versoening wees.

Op 27 Desember 1983 begeef hy hom na die Roomse gevangenis van Rebbibia en vergewe die verregse Turkse aktivis wat twee maal op hom geskiet het op 13 Mei 1981. Hy wat in die tyd toe hy Lolek genoem is sokker met sy Joodse skoolmaats gespeel het, gee die grootste tree ooit deur `n pous: op 13 April 1986 steek hy die Tiber oor en besoek die sinagoge van Rome om so 2 000 jaar se Christelike anti-semitisme te verdoem. “Julle is ons geliefde broers en ons kan selfs in hierdie sin sê ons oudste broers,” verklaar hy teenoor die Jode. Hy herhaal dit in 2000 as hy pleit om vergiffenis vir die aanvalle op die “Volk van die Belofte” by die Groot Brandoffergedenkteken by Jad Vashem en voor die Klaagmuur in Jerusalem.

`n Jaar later rig hy hom op Islam en word hy in Damaskus die eerste opvolger van Petrus om `n moskee te betree. Johannes Paulus II het reeds op 27 Oktober 1986 vir `n verrassing gesorg deur die voorste religieuse leiers van die planeet by Assisi byeen te roep vir `n “wêreldbiddag vir vrede”. In Maart 2000 trotseer hy die voorbehoude van die konserwatiewe vleuel van die kardinale en die verwensings van die tradisionalistiese navolgers van die verdelende biskop Marcel Lefebvre om plegtig vergiffenis te vra vir die sondes wat die Christene deur die geskiedenis heen gepleeg het.

“Die besluit om boete te doen is `n sleutelelement om die impak van Johannes Paulus II se afsterwe te verstaan,” merk die essayis en voormalige lid van die Pastorale Diens van Politieke Studies (SPEP) (3), Isabelle Richebé, op. “Dit skep die geleentheid om religieus na te dink oor die euwel komende uit die misbruik van die religie: die praktyk van minagting en die gebruik van mag.” By die dagbreek van `n eeu wat deur die terugkeer van die valke gekenmerk is, soos gedemonstreer deur die terreuraanvalle van 11 September 2001, bevestig Johannes Paulus II homself as die pous van die duiwe en van die dialoog tussen kulture.


`n Meningsleier

`n Ander bron van sy gewildheid: hy het die beeld van die pousdom vernuwe. “Met hom,” reken die aartsbiskop van Lille, Gérard Defois, “is die pous nie langer die bestuurder van `n instelling soos die priesterlike Pius XII dit voorsien het nie; hy word `n meningsleier.” As rondreisende pous het hy die “Vatikaan uit die Vatikaan geneem” deur sowat 300 miljoen mense op sy honderd of wat reise te ontmoet. As mediapous het die voormalige teaterakteur van Krakowië die betowering van sy taal en die nuwe kommunikasietegnieke meesterlik aangewend. As massapous het hy meer as enige ander orator van sy geslag yslike skares getrek: gedurende 1995 het hy in Manilla, die Filippyne tydens die Wêreldjeugdae meer as 4 miljoen gelowiges getrek!

“Vir my is hy veral `n geestelike verwysing waar rondom ek `n deel van my religieuse identiteit gebou het. Hy het my lewe net soveel beïnvloed as die onderwyser wat my liefgemaak het vir wiskunde…” (4). Só identifiseer Sarah (28), onderwyseres in fisiese wetenskappe in `n skool in Val-d’Oise, haar met die “Johannes Paulus II-geslag”. As lid van die Franse Sendinggemeenskap, die aktiewe vleuel van die Franse Katolieke kerk in sy dialoog met die nie-Christene en die uitgeworpenes van die samelewing, kritiseer Sarah die pous se posisies oor voorbehoeding, seksuele onthouding in die aangesig van Vigs of homoseksualiteit, sonder om `n oog te knip. Maar sy is dankbaar vir sy charisma wat tot ontmoetings en uitruilings tussen jongmense van uiteenlopende agtergronde gelei het. Sonder demagogie of ontwyking het dié Poolse studentekapelaan, ski- en kanoamateur aanvaarding verwerf as omstrede maar geldige gespreksgenoot vir `n massa jongmense – hoewel gewis nie vir alle jongmense nie.

“Ons tydgenote sukkel om te verwys na `n enkele gesagsentrum,” ontleed Patrick Michel (5), navorsingsdirekteur by die Franse Nasionale Wetenskapsnavorsingsentrum (CNRS). “Die genie van Johannes Paulus II was om `n sentrale waarheid te beklemtoon, wat herbevestig is in 1993 se pouslike sendbrief, Splendor veritatis [Die luister van die waarheid], terwyl hy terselfdertyd die veelvoudige werklikheid van die moderne samelewing in ag geneem het. Die veelvoudigheid van menings, ouderdomme, en maatskaplike en kulturele afkoms van die publiek wat aansluiting vind by Johannes Paulus II weerspieël ook sy heterogene, teenstrydige persoonlikheid.”

Die kritici van hierdie pouslike regering – een van die drie langstes in die geskiedenis – bly nie in gebreke om die teenstrydighede en die blinde kolle van `n “baie talentvolle pous” wat “baie slegte besluite geneem het” – in die kernagtige samevatting van die Switserse teoloog Hans Küng (6) wat vir sy ekumeniese ywer verwerp is – te veroordeel nie. Leonardo Boff, die Brasiliaanse bevrydingsteoloog wat in 1985 deur die Vatikaan die swye opgelê is, sien in Johannes Paulus II `n “pous van die Teenhervorming” wat `n Katolieke kerk “getransformeer in `n bastion van religieuse konserwatisme en politieke outoritarisme” nalaat.

Die outoritêre aard van dié pouslike regering is tegelykertyd `n aanduiding van die natuurlike gesag van Karol Wojtyla en van die leerstellige onbuigsaamheid van sy regterhand, Josef Ratzinger, Prefek van die Gemeente vir die Geloofsleer, die voormalige Heilige Offisie, wat op 19 April Benediktus XVI geword het. Reeds in 1980 word `n sinode van die Nederlandse kerk met `n progressiewe reputasie na Rome ingeroep en onder hande geneem. Vyf jaar later word die biskop van Evreux brutaal van sy bisdom onthef omdat hy hom van die morele onderrig en dissipline van die Roomse leergesag distansieer het. Teoloë wat soos Eugen Drewermann krities is, of waaghalsig in die interreligieuse gesprek soos Jacques Dupuis, word op `n swartlys geplaas of die leviete voorgelees.

Johannes Paulus II het die simboliese keuse van Latyns-Amerika, die vasteland met die meeste Katolieke, vir sy eerste reis gemaak. Dit het ook ewe veel armes! Op 28 Januarie 1979 te Puebla, Meksiko, waarsku hy die biskoppe teen die “Marxistiese” dwalings van die Bevrydingsteologie. `n Omvattende suiwering van kerkleiers en teoloë volg. Die mees konserwatiewe strominge van die Katolisisme, met Opus Dei vooraan, maar ook die evangeliese sektes wat mense uit die wanhopige nasies in hul ellende aantrek, trek hieruit voordeel. `n Teken van die pous se onbegrip vir “die voorkeure van die armes” onder die Suid-Amerikaanse Christene: nóg Dom Elder Camara, aartsbiskop van die favelas (krotbuurte - vertaler) van Recife, nóg Oscar Romero, die aartsbiskop van San Salvador wat onder die Mis deur `n moordbende om die lewe gebring is, is deur Johannes Paulus II salig verklaar nie, ofskoon hy meer mense as enige ander pous tot heilige verklaar het!


Teologiese vordering geïgnoreer

“`n Pouslike regering is selde in so `n mate deur die politiek bepaal,” verklaar Patrick Michel. “Sy leidmotief, ‘Moenie vrees nie!’ het dit vir hom moontlik gemaak om die barbaarse aard wat die moderniteit volgens hom voortgebring het, aan die kaak te stel.” Sy wederkerende veroordeling van die liberalisering van die seksuele sedes van sy tydgenote is simptomaties van sy wantroue in `n samelewing wat geregeer word deur vrye keuse en die selfbepaling van die indiwidu. Sy onversetlikheid oor die heilige, onverbreekbare aard van die huwelik en sy weiering om getroude priesters in te wy of die ampte vir vroue oop te stel het die kloof wat sedert 1968 met die pouslike sendbrief Humanae vitae (Menselewens), wat die gebruik van die voorbehoedpil verbied het, tussen baie vroue en die kerk ontstaan het, vergroot.

Anders as die hervormingsgesinde pouse Johannes XXIII en Paulus VI wat hom voorafgegaan het, het Johannes Paulus II sy kerk feitlik gelaat soos hy dit in 1978 aangetref het. Met die uitsondering van die internasionale inslag van die kardinaalskollege en die uitvaardiging van `n nuwe kanoniese regskode en `n klassieke universele kategismus, wat die teologiese vordering aangevoor deur Katolieke universiteite en laboratoriums ignoreer, is die kerk nie gedesentreer of gedesentraliseer volgens die wens van kollegialiteit van die Tweede Vatikaanskonsilie van 1962 tot 1965 nie.

Tot die misnoeë van Protestante, Anglikane en Ortodokse het die pouslike mag selfs so buitensporig toegeneem dat dit die ekumeniese momentum van die Konsilie verbreek het! Ofskoon hy versoenend was wanneer hy interreligieuse dialoog bevorder het, was Johannes Paulus II dit nie meer nie wanneer hy die kerk laat stol in `n kommerwekkende onversetlikheid met betrekking tot die gevare wat sy “nuwe evangelisasie” nie kon hokslaan nie: die durende verskynsel van sekularisasie wat nie langer sekere Katolieke bastions, soos Pole wat so kosbaar vir die pous was, spaar nie; `n historiese krisis van die roepings in Europa en `n diepliggende onrus onder die geestelike stand, onthul deur die skandaal van die pedofielpriesters in die Verenigde State; die meedoënlose wedywering van die Evangeliese kerke in Latyns-Amerika en van Islam in Afrika en Asië.

As sonderlinge pous in `n veelvoudige wêreld het Johannes Paulus II voordeel getrek uit die ineenstorting van kollektiewe projekte, drome en utopieë wat by vergelyking die begeestering van sy vertoog beklemtoon het. Hy laat nietemin `n baie teenstrydige nalatenskap aan Benedictus XVI (7). Wil laasgenoemde opnuut samehang en geloofwaardigheid gee aan die Katolieke kerk wat steeds haaks met die moderniteit lê? “Die toekomstige bestemming van die Christendom sal blyk in die wyse waarop die kerk haar van die nostalgie van die Christendom kan losmaak en haar kan oopstel vir `n ongekende intelligensie met betrekking tot haar rol in die wêreld en die geskiedenis,” voorsien die Dominikaanse teoloog Christian Duquoc (8). Die profiel en die balansstaat van kardinaal Josef Ratzinger aan die hoof van die leerstellige instansie van die Vatikaan in die loop van 24 jaar blyk baie ver van hierdie voorstelling te wees. Kan Benediktus XVI, wat een van Johannes Paulus II se naaste medewerkers was, die Christelike oproep van sy voorganger - “Moenie vrees nie!” - nalaat sonder om homself te ontken?
_________

(1) Les communions humaines. Pour en finir avec “la religion”, Parys: Fayard, 2005.
(2) La Passion de Jean Paul II, Parys: Presses de la Renaissance, 2005.
(3) Témoignage chrétien, Parys, 14 April 2005.
(4) Lettre d’information de la Communauté Mission de France no.275, April 2005.
(5) L’Evêque et le sociologue, Parys: gesamentlik uitgegee deur L’Atelier en Témoignage chrétien, 2004.
(6) Le Monde, 7 April 2005.
(7) Lees François Houtart, Le Monde diplomatique, Junie 2002.
(8) Christianisme, mèmoire pour l’avenir, Parys: Cerf, 2000.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=222
Artikel nagegaan:
    -