| ||||
Seumas Milne Deur Seumas Milne, joernalis en rubriekskrywer van The Guardian (Londen), asook skrywer van The Enemy Within. The Secret War against the Miners (Londen: Verso, Londen, 2004) Beswaarlik een generasie ná die roemlose einde van die Britse Ryk is daar nou `n onopsigtelike maar daadwerklike poging om dit te laat herleef – deur invloedryke Britse koerante en konserwatiewe akademici en op die hoogste regeringsvlakke. Hoe suksesvol dié veldtog reeds was, het in Januarie geblyk toe Gordon Brown, Britse Minister van Finansies en Tony Blair se stellige opvolger, in Oos-Afrika verklaar het “die dae dat Brittanje vir sy koloniale verlede verskoning moet vra, is verby” (1). Sy opmerking, wat opvallend teenoor die Daily Mail – die voorsanger in die herlewingskoor – gemaak is tydens die aanloop tot hierdie lente se algemene verkiesing in Brittanje, was duidelik nie `n blaps wat deur die hitte veroorsaak is nie. Vier maande tevore het Brown in Londen by die Britse Museum, daardie skatkamer van gebuite skatte uit Brittanje se voormalige kolonies, teenoor dieselfde koerant (2) opgemerk: “Ons behoort trots te wees ... op die Empire”. Selfs Blair, wat gedurende sy eerste suksesvolle verkiesingsveldtog in 1997 oorreed is om iets soortgelyks uit `n toespraak te sny, het nog nooit heeltemal so ver gegaan nie (3). Brown se merkwaardige opmerkings het haas sonder kommentaar in die res van die Britse media verbygegaan. Die betekenis van `n minister van finansies uit die Arbeidersparty se steun aan wat tot onlangs beskou sou wees as verregse revisionisme, het ongetwyfeld nie vir sy teikengehoor verlore gegaan nie. Dit is die man wat, ondanks sy neoliberale geesdrif en hegte bondgenootskap met Blair, nog altyd graag `n meer egalitariese, sosiaal-demokratiese beeld as sy Nuwe Arbeider-mededinger geprojekteer het. Sy imperiale neiging sou sekerlik as `n onwelkome skok gekom het vir enigiemand wat gehoop het dat `n Brown-regering sou wegskram van die liberale grootdoenery en intervensionistiese oorloë wat deur Blair se agt jaar van premierskap voorgekom het. Terselfdertyd sou sy vasberade bevordering van sy eie verwagte leierskap, sy veldtog om hom met die Union Jack – of soos die Ierse sosialis James Connolly dit genoem het, die “slagtersvoorskoot” – te klee, sekere dele van die establishment wie se steun hy graag wil hê, beïndruk het. Die Minister van Finansies se aandrang op `n einde aan verskoning vra vir kolonialisme het gekom as deel van `n poging om Britse identiteit modern te definieer op grond van waardes soos billikheid, vryheid en verdraagsaamheid. Presies wat moderniteit en sulke waardes te doen het met die realiteit van die Empire, is miskien nie direk duidelik nie. Selfs nog meer bisar is die implikasie dat Brittanje gedurig aan die verskoning vra is vir sy Empire of die misdade wat daardeur gepleeg is. Soos in die geval van ander voormalige Europese koloniale moondhede kan niks verder van die waarheid wees nie. Daar wás nog geen apologie nie. Amptelik is dekolonisasie vir Brittanje agter die rug en verkeer hy in `n toestand van geluksalige geheueverlies sonder die geringste poging om wat gebeur het, onder die oë te sien. In die jare wat gevolg het op Brittanje se bloedige onttrekking aan Aden in 1967, was daar min openbare debat oor presies hoe Brittanje tot die middel van die 20ste eeu sy greep op `n kwart van die wêreld se bevolking behou het. Dit het in die nasleep van die val van die Sowjetunie begin verander. Die herlewing van die Empire is aanvanklik in die vroeë 1990’s geopper ten tyde van die gedoemde ingryping deur die VSA in Somalië, wat deur los stemme in sowel die VSA as Brittanje gebruik is om die “idealistiese” denkbeeld van nuwe kolonies of VN-voogdygebiede in Afrika in omloop te bring. Die Amerikaanse Wall Street Journal het selfs `n hoofartikel oor die onderwerp geïllustreer met `n foto van die Britse kolonialis lord Kitchener, wat die Mahdi se volgelinge in Soedan `n eeu vantevore uitgemoor het. Vanweë die uitwerking van die Joego-Slawiese oorloë van die 1990’s is die saak van “humanitêre ingryping” toenemend deur die meer liberale stemme oral in die Westerse wêreld ter sprake gebring. En terwyl die liberale imperialisme van die laat 19de eeu geregverdig is op grond van die verbreiding van die Christelike beskawing en die behoefte aan handel, was dit nou menseregte, markte en goeie staatsbestuur. Toe die Kosovo-oorlog op sy hoogtepunt was, het Blair in wese `n oproep gedoen om `n nuwe golf van wêreldwye ingryping op grond van `n “subtiele vermenging” van eiebelang en morele doelgerigtheid. Binne `n jaar het hy sy “leer van internasionale gemeenskap” in werking gestel in die voormalige kolonie Sierra Leone, waarheen Britse troepe ná `n afwesigheid van 39 jaar teruggestuur is om in te gryp in `n uitgerekte en bloedige burgeroorlog. Dit was egter die aanvalle van September 2001 op New York en Washington, asook die daaropvolgende oorname van die voormalige Brits-imperiale houplek Afganistan onder leiding van die VSA, wat uiteindelik die beleid wat tot in daardie stadium nooit in die politieke hoofstroom op die naam genoem mog word nie, “uit die kas laat klim het”. Teen die volgende lente het Blair se raadgewer oor buitelandse beleid en Afgaanse gesant, Robert Cooper (wat nou vir Javier Solana van die Europese Unie se Raad van Ministers werk), `n pamflet gepubliseer wat betoog vir “ `n nuwe soort imperialisme, een wat in `n wêreld van menseregte en kosmopolitiese sieninge aanvaarbaar is” (4), terwyl die Eerste Minister self privaat voorspraak gedoen het vir militêre ingryping in die voormalige Britse kolonies Zimbabwe en Birma. Sulke politieke waagsaamheid moes minstens tydelik in toom gehou word as gevolg van die politieke en menslike ramp van die oorlog in en besetting van Irak. Die gunstiger klimaat vir hierdie reaksionêre retrosjiek wat geskep is deur die vlaag van Westerse militêre ingrypings, is intussen aangegryp deur Brittanje se konserwatiewe kommentators, soos Niall Ferguson en Andrew Roberts, om die saak van die nuwe imperialisme te bevorder en die geskiedenis van die koloniale verlede te herskryf. Ferguson is openlik `n voorstander van `n formele VSA-beheerde wêreldwye ryk, en sy verdediging van Britse kolonialisme – veral in sy boek Empire - How Britain Made the Modern World (5) – as die voorloper van die 21ste-eeuse vryemark-globalisering is duidelik geëggo deur Gordon Brown se lof vir die “handelaars, avonturiers en sendelinge” wat die Empire gebou het. Roberts, nog een van die Thatcheristiese historici en Britse mediaghoeroe, is openlik `n voorstander van die rekolonisering van Afrika wat daarop aandring dat “Afrika nooit beter daaraan toe was as tydens Britse bewind nie”. Toe die Suid-Afrikaanse president onlangs in Kartoem Churchill en die Britse Ryk veroordeel het vir hulle “verskriklike nalatenskap”, het Roberts ewe nonchalant aan die BBC gesê dat die Empire “vrede en geregtigheid” vir `n onkundige wêreld (6) gebring het. Dit sal interessant wees om te verneem hoe Roberts – of trouens Gordon Brown – sulke groteske aansprake laat rym met die jongste navorsing oor die enorme skaal waarop Britse magte wreedhede gepleeg het tydens die Mau Mau-rebellie in die 1950’s en 1960’s in koloniale Kenia: die 320 000 Kikoejoes wat in konsentrasiekampe aangehou is, die 1 090 mense wat opgehang is, die terrorisering van dorpies, elektriese skokke, aanrandings en grootskaalse verkragtings wat aangeteken is in Caroline Elkin se nuwe book Britain’s Gulag (7) – en `n dodetal wat nou gereken word ver oor die 100 000 te wees. Dit was die tyd toe Britse soldate vyf sjielings (ongeveer R56,00 in vandag se geld) betaal is vir elke manlike Kikoejoe wat hulle doodgemaak het, toe hulle die ledemate van swart guerrillas teen padtekens by die kruispaaie vasgespyker het en toe hulle hul laat afneem het met die afgekapte koppe van Maleise kommunistiese “terroriste” in die hand in nog `n oorlog wat 10 000 lewens gekos het. Selfs in die laat 1960’s, volgens die beskrywings wat veterane in `n onlangse dokumentêre program (8) gegee het, het Britse soldate hulle pad deur Aden se Kraterstad geslaan, gemartel en gemoor – waarvan die besonderhede volgens een voormalige troep nie gegee kan word nie uit vrees vir vervolging weens oorlogsmisdade. En dit alles in die naam van beskawing: die gevoel van kontinuïteit in Irak vandag kan nie sterker wees nie. Sulke getuienis is `n tydige korrektief vir die gerieflike Britse mite dat, in teenstelling met Frankryk en ander Europese koloniale moondhede, Brittanje op `n vreedsame en menslike wyse gedekoloniseer het. Dit is egter ook nie asof hierdie einde-van-die-Empire-voorvalle geïsoleerde kladmerke op `n roemryke geskiedenis van vryheid en goeie staatsbestuur was, soos Ferguson en ander hedendaagse imperialistiese fakkeldraers ons graag wil laat glo nie. Die Britse Ryk was inderwaarheid gebou op volksmoord, grootskaalse etniese suiwering, slawerny, streng toegepaste rassehiërargieë en genadelose uitbuiting. Die Cambridge-historikus, Richard Drayton, stel dit so: “We hear a lot about the rule of law, incorruptible government and economic progress — the reality was tyranny, oppression, poverty and the unnecessary deaths of countless millions of human beings” (9). Party apologete van die Empire voer egter aan dat, hoe wreedaardig die eerste fase ook al was, die 19de- en 20ste-eeuse verhaal een van vryheid en ekonomiese vooruitgang was. Dit is egter onsin. In die laat 19de eeu en vroeë 20ste eeu het daar in Indië – die juweel in die Britse imperiale kroon – tot 30 miljoen mense in hongersnode omgekom, aangesien die Britse administrateurs aangedring het op die uitvoer van graan (soos ook in die Ierse hongersnood van die 1840’s) en howe tot 80 000 keer per jaar lyfstraf laat gee het. Vier miljoen mense is in die vermybare Bengaalse hongersnood van 1943 dood. En daar was nog geen sulke hongersnode sedert onafhanklikwording nie. Die hedendaagse Bangladesj was een van die rykste dele van die wêreld voordat die Britte daar aangekom en doelbewus sy katoenbedryf verwoes het. Toe Indië se Andaman-eilande deur verlede Desember se tsoenami’s verwoes is, wie het toe gedink aan die 80 000 politieke gevangenes wat in die vroeë 20ste eeu daar aangehou is en op wie Britse leërdokters gereeld eksperimente gedoen het? (10) Daar was nog geen ernstige poging in Brittanje om hierdie geskiedenis of die langtermynuitwerking van kolonialisme op die samelewings waaroor hy geheers het – van Kasjmir na Palestina en van Zimbabwe na Irak – onder die oë te sien nie en nog minder om bejaarde koloniale administrateurs wat nou hulle dae in aftreeoorde in Surrey slyt, te verhoor. Intussen het die Britse nasionale skoolkurrikulum feitlik die Empire en die misdade daarvan uit die geskiedenis gesny. Die moderne standaardhandboek vir wêreldgeskiedenis bevat hoofstuk op hoofstuk oor die wêreldoorloë, die Koue Oorlog, die Britse en Amerikaanse lewe, Stalin se skrikbewind en die gruwele van Nazisme – maar beswaarlik `n woord oor die Britse en ander Europese ryke wat die grootste deel van die wêreld tussen hulle verdeel het, of die afgryslikhede wat hulle gepleeg het. Wat nodig is, is nie verskonings of skuldbelydenisse nie, maar eerder opvoeding, erkenning, `n mate van boetvergoeding – en die insig dat barbarisme die onvermydelike gevolg is van pogings om buitelandse heerskappy op onderhorige volke af te dwing. Soos die meeste historiese geskilpunte gaan die argument oor ryke in dieselfde mate oor die toekoms as oor die verlede. Diegene wat koloniale wreedheid uit die 20ste-eeuse geskiedenis uitskryf, wil legitimiteit verleen aan die nuwe imperialisme, wat nou vasgevang is in nog `n wrede koloniale oorlog in Irak – net soos diegene wat vroeëre pogings om `n alternatief vir die kapitalistiese samelewing te vind demoniseer, daarop uit is om te bewys dat daar nie so iets is nie. As Gordon Brown regtig Britse billikheid wil bevorder – en `n nuwe verhouding met Afrika tot stand wil bring – sal hy beter vaar as hy diegene eer wat die stryd om vryheid van kolonialisme aangevoer het, eerder as die rassistiese despotisme waarteen hulle geveg het. _________ (1) Daily Mail, 5 Januarie 2005, Londen. (2) 14 September 2004. (3) John Kampfner, Blair’s Wars, Londen: Free Press, 2003. (4) Robert Cooper, Reordering the World, Foreign Policy Centre, 2002. (5) Niall Ferguson, Empire – How Britain Made the Modern World, Londen: Allen Lane, 2003. Daily Mail 2005-01-08. (6) Daily Mail, 8 Januarie 2005 (7) Britain’s Gulag, Londen: Jonathan Cape, 2005. (8) “Empire Warriors”, uitgesaai op BBC2 op 19 November 2004. (9) Toespraak by die Royal Geographical Society, Londen, 1 Junie 2004. (10) Mike Davis, Last Victorian Holocausts, Londen: Verso, 2001. |