|
||||
David Baran en Mathieu Guidère Ofskoon die besetters van Irak daarin geslaag het om dit te geleidelik te voorsien van `n parlement, `n regering en `n presidensie, slaag hulle steeds nie daarin om die versetbewegings te verslaan nie. Maar wie is laasgenoemde? Oud-ondersteuners van die Ba’ath-party? Verstrooide lede van die voormalige weermag? Terroriste van die Al-Zarkawi-groep? `n Ontleding van die tekste en video’s deur die verskillende versetgroepe maak dit moontlik om `n beter beeld van hulle te vorm. Deur David Baran en Mathieu Guidère. Baran is navorser en konsultant en die skrywer van Vivre la tyrannie et lui survivre. L’Irak en transition (Parys: Mille et une nuits , 2004). Guidère het `n graad in Arabies en is `n dosent; hy bestuur die Laboratorium vir die Ontleding van Strategiese Inligting, Saint-Cyr. Vertaal deur Christel Cattin Die Irakse gewapende opposisie heg groot waarde aan kommunikasie, in opsigte wat wyer strek as die enkele begeerte om te terroriseer. Hierdie oogmerk inspireer `n verbasend oorvloedige en uiteenlopende produksie van tekste en beelde, wat `n mens verkeerdelik sou beperk tot die mees brutale eksemplare daarvan. Die bedreigings wat in intimidasietraktaatjies genoem word, verberg `n indrukwekkende massa onbewoë, gedetailleerde, deursigtige ontledings oor die strategie wat gevolg moet word om die teenstander te oorwin (1). Insgelyks, word die mees afgryslike tonele op video vasgelê en oorskadu dit `n menigte van rolprente soms met kinematografiese kwaliteit, wat wissel van “lesings” in klassieke Arabies oor die vervaardiging van ploftoestelle, tot ware bekendstellingspamflette, uitgereik deur groepe wat hul eerste openbare verskyning maak (2). Die mees sigbare groepe in die gewapende opposisie het gespesialiseerde spreekbuise, gewy aan “inligting”, tot hul beskikking. Die verspreiding van hul boodskappe steun op talryke webwerwe, waaronder sommige ware aanlyn “persagentskappe” is, en word verskeie kere per dag opgedateer (3). Op een hiervan het `n stryder onlangs gepleit vir “die verbreking van die mediaïsolasie wat op alle moontlike maniere aan die weerstand opgelê is” (4). Die intensiteit van hierdie pogings laat `n vraagteken oor die sin van hierdie propaganda in die oë van die gewapende opposisie, asook oor die konkrete doeltreffentheid daarvan as konflikswapen. Wat dit betref: kan die lae, indien nie teenproduktiewe, impak hiervan in die Weste gelees word as `n teken van middelmatigheid en ontoereikendheid? Trouens, terwyl die konflik toenemend deur die redevoering van die Amerikaanse en Irakse owerhede oorheers word, is die vyand amper onhoorbaar, afgesien van die geraas van bomontploffings en onstuimige gyselaarsdramas. Hulle boodskap word reeds vanaf die uitsending daarvan belemmer, net soveel deur hulle eie produksiemetodes (mondelinge oordrag, tradisionele traktaatjies, verklarings en video’s wat op kortstondige webwerwe gepubliseer word, byna alles in Arabies), as deur die probleme wat buitelandse waarnemers ondervind om toegang tot hulle te verkry. Die ontvangs van boodskappe gaan gebuk onder sensuurmeganismes wat min of meer willekeurig is: met die uitsending van videos, word argumente uitgelaat en slegs enkele “sleutel”-beelde word tersaaklik geag en behou. Laastens word hulle argumente van meet af aan gediskwalifiseer: omdat dit beskou word as die uitvloeisel van `n “fanatiese” en “bloeddorstige” vyand, sou dit niks anders wees nie as die rasionalisering van `n onbeskryflike gewelddadigheid, onwaardig vir enige belang en ontleding. Aangesien die vyand net die taal van terreur praat, sou dit daarop neerkom om hom te laat triomfeer, bloot deur aan hom gehoor te gee. In weerwil hiervan hou die gewapende verset hom natuurlik wel besig met terreur (irhab). Terwyl sommige elemente die gebruik daarvan afkeur, maak ander openlik aanspraak op die godsdienstige regmatigheid en die praktiese omvang daarvan. Een van die owerhede wat deur die Soennitiese tak van Islam erken word, het só `n duidelike onderskeid gemaak tussen “ongeoorloofde terreur” en “geoorloofde terreur”, en het die Irakse geval in die tweede kategorie geplaas (5). Wat die Irakse hooggeplaaste, Mohammed Al-Aloesi, betref, maak hy selfs nie voorsiening vir die moontlikheid van `n jihad sonder irhab nie (6). Aan die militêre kant plaas uitvoerige ontledings wat op webwerwe gepubliseer en klaarblyklik afkomstig is van ervare vegters, die gebruik van terreur sentraal in `n teoretisering van die sielkundige oorlog. Dit skyn dus veral `n manier te wees om die “samewerkings” owerhede van die res van die bevolking te skei, of, met die inneming van gyselaars, om die konflik te laat oorspoel na ander lande wat andersins ontoeganklik sou wees. Hoe dit ook al sy, ofskoon kommunikasie met die teenstander en sy potensiële bondgenote hoofsaaklik by wyse van terreur plaasvind – bo en behalwe enkele rare uitsonderings (7) –, dien die redevoering van die gewapende opposisie ander belange. Sy produksie van beelde en tekste skyn selfs allereers gemik te wees op die stryders self en op `n gehoor van simpatiseerders wat reeds vir die saak gewen is. Dit vorm deel van iets wat lyk soos `n dinamiese netwerk van groepe wat mekaar dophou, alliansies vorm of met mekaar meeding in `n ekonomie van geweld. Hierdie groepe bou `n beeld van hulself op en kommunikeer aktief met mekaar. In hierdie verband bestaan `n belangrike deel van die vermeende propaganda van een of ander groep uit die bekendmaking en erkenning van sy aksies deur sy eweknieë, ongeag daarvan of hulle medestryders, potensiële rekrute of mededingers is. Verskeie verklarings volstaan met `n verduideliking van hoe die skrywers daarvan hulself plaas te midde van verskuiwings in die gewapende opposisie (deur die Jordaniese gesaghebber, Aboe Moessab Al-Zarqawi te erken, of, aan die anderkant, deur aanvalle op burgerlikes te veroordeel, ens.). Die boodskappe wat in hierdie vloeiende spel uitgereik word, neem die siening van “opinieleiers” nougeset in aanmerking – oelemas (religieuse geleerdes), gerespekteerde intellektuele, ens. Die inhoud, insluitende die mees gewelddadige daarvan, is dus ondergeskik aan die noodsaak van legitimering. Die verfilmde teregstellings van buitelanders is geen uitsondering nie. Dit kom neer op `n ingewikkelde keuringsproses van slagoffers, die ondersoek van hul “misdade” , gevolg deur `n “hofsaak” en die uitspraak van hul “vonnis”. Dit lei tot pogings om strafbare dade te teoretiseer, tot die sirkulasie op die internet van instruksies vir die hantering van sekere tipes gevangenes “volgens die reëls van Arabiese gasvryheid”, tot die omslagtige inkleding vir die uitvoering van “God se vonnis”. Om die vyand se rasionaliteit ernstig op te neem, kom basies daarop neer om erkenning te gee aan die sofistikasie wat `n mens geneig is om hom intuïtief te ontneem. Op dié manier kom `n noukeurigbeplande betoog en geloofwaardigheid na vore in hierdie kommunikasiepogings wat nougeset die mees onbeskaafde vorms van propaganda vermy. Die stryders let daarop om soveel as moontlik aandag te gee aan detail aangaande hul aksies en aan die “werklike verliese” van `n teenstander wat probeer om hulle te minimaliseer. Dit is die rede vir die groot aantal kort video-opnames op die internet wat handel oor een of ander aanval, gewoonlik gesertifiseer met `n logotipe en `n datum, indien nie aangebied met `n ware “demonstrasie” nie. Een stryder wat aan `n gespreksforum deelgeneem het, het al sover gegaan om homself geluk te wens met die “informele model van die weerstandsbeweging” – en aan sy kamerade voorgestel om “korrespondensiespanne, fotograwe en kameramanne” op te lei (8). As daar van `n sekere “sofistikasie” van die gewapende opposisie se redevoering gepraat moet word, is dit ook omrede die rykdom van hulpbronne waaruit dit put, en met `n bedrewe hantering daarvan. Deur op enkele verse uit die Koran te steun, mobiliseer dit `n wye repertorium, ontleen aan Islamitiese geskiedenis en Arabiese nasionalisme, maar ook `n lang poëtiese tradisie en stamgebaseerde volksoorleweringe. Die oorlog wat gevoer moet word, word met die slag van Badr geassimileer, waar Mohammed en die eerste Moslems as oorwinnaars uit die stryd getree het, in weerwil van die vyand se oorweldigende getalsoorwig. “Kollegas” word as kinders van Ibn Al-‘Alqamî onderskei, die naam van die vizir (visier) wat Bagdad in die dertiende eeu van Mongoolse invallers verlos het. Sekere versetstryders, soos Hamza Ibn ‘Abd Al-Moettalib of Omar Al-Moekhtâr word opgeroep (9). Nuwe patriotiese liedere word gekomponeer. Al hierdie verwysings vloei saam in `n doeltreffende en verfynde retoriek wat die teenvoeter is vir Amerikaanse argumente van “vryheid” en “vooruitgang”, en wat die huidige stryd vestig in `n verlede van worsteling en opoffering (10). Die gewapende opposisie delf ook in sy eie geskiedenis, al is dit hoe onlangs, deur simboliese voorstellings aan te gryp (veral tonele van jubeling) en sleutelgebeurtenisse wat die siening van sy eie aksies koester. Dit vind inspirasie in beelde van ander konflikte in Palestina, Afganistan en elders (sekere toneelskikkings word byvoorbeeld aan Hamas ontleen). Die beelde word onder Irakiërs benut: die groot aantal gerugte van die teenstander se pogings om sy oorledenes te laat verdwyn, het geboorte gegee aan verskeie lang “dokumentêre” oor Amerikaanse massagrafte (11)... Oplaas verskaf die internasionale media en die koalisie self `n oneindige aantal middele aan propagandiste wat beelde en slagspreuke verdraai, hul teenstrydighede aan die lig bring en hul skynheiligheid veroordeel (12). Op hierdie manier, in weerwil van spanning in die gewapende versetbeweging en die diversiteit van sy herkoms, kom verbasend samehangende en gelykvormige denkbeelde in die argumente wat hy produseer, na vore. Die woordeskat en verwysings wat gebruik word, word deesdae gedeel: die stryders is moejahidin, en die teenstander is `n besettingsmag van ongelowiges wat met kruisvaarders of barbare gelykgestel word; sy doelstelling sou die voortsetting van `n imperiale “Amerikaans-Sionistiese” oorheersing wees deur middel van `n skynregering op die betaalstaat van die Verenigde State en hul eksogene bondgenote (voormalige uitgewekenes, pro-Iranse Sjiïete, afgeskeide Koerde...) Die vyand se slaankrag word nie net erken nie, maar oordryf as `n verydeling van die waardes wat dit teenstaan, en wat alles saam ineenvloei tot die ideaal van die eerste aanhangers van Islam (opregtheid, durf, selfversaking, opoffering, vroomheid...). Daaruit vloei `n siening van “oorwinning” as `n blote voortsetting van die stryd, deur middel van selfopoffering. Hierdie tydlose visie bied `n gedeeltelike verduideliking vir die verskillende groepe in die gewapende versetbeweging met enkele rare uitsonderings (13) se onvermoë om enige tipe oplossing voor te stel as alternatief vir die oorgang onder die voogdyskap van die Verenigde State. In samehang met `n militêre strategie wat daarop uit is om enige normalisering te verhoed, bied hulle program nie veel nie, behalwe vorms van individuele deelname aan die gemeenskap van gelowiges. Buitendien is geen spesifieke poging aangewend om skuilplekke wat in 2004 gebruik is, te administreer nie, behalwe `n redelik lakse koördinasie van strydgroepe. Tot dusver kom `n algemene belangeloosheid in enige organisering wat `n vlak van basiese koördinasie oorskry in gespreksforums na vore, aangesien die doel hiervan tot beter militêre doeltreffendheid beperk is. Hierdie moeisaamheid om vir die toekoms te beplan, kan deur twee verdere faktore verklaar word. Vanuit `n ideologiese oogpunt, is `n ware Amerikaanse onttrekking ondenkbaar – en dus onmoontlik, in die konteks van die oorgangsregering se afhanklikheid van sy beskermheer. Vanuit `n meer praktiese oogpunt, sou die vooruitsig van so `n onttrekking problematies blyk te wees, deurdat die erkenning daarvan die skynbare eenheid van die gewapende opposisie sou verbreek en op dié manier spanning en verdeeldheid meebring. Daarbenewens, ofskoon die krag van hierdie redevoering gesetel is in die uitdruklike uitspraak oor `n federatiewe verbeelding, is die opvallendste swakplekke te vinde in die stilswye daaroor. Onder diesulkes, vind `n mens regverdige stryders wat min aandag gee aan die uitkoms: sodoende heers `n uiters streng dissipline oor winsgewende, maar nietemin deurslaggewende funksies soos die gevangeneming van gyselaars of die ooglopende verband tussen jihad en grootskaalse misdadigheid. In `n ernstiger lig getuig die afwesigheid van volgehoue nadenke oor die gewapende opposisie se swakplekke en die faktore wat moontlik tot die vyand se oorwinnig kan lei van `n kommunikasiemetode wat selfkritiek verbied as gevolg van `n vrees vir die verlies van geloofwaardigheid. En bowenal word die gelatenheid van die oorgrote meerderheid Irakiërs teenoor die geweld skaars in ag geneem in `n analise wat skyn te ignoreer dat die “gravitasiesentrum” van enige oproer-oorlog/teen-oproer-oorlog niks anders as die bevolking is nie. Die gewapende opposisie kom inderdaad ongevoelig of agterlosig voor teenoor die skouspelagtige verandering in sy verhouding met die Irakse bevolking sedert die era van die twee fronte, in Falloedja en in die suide, toe onbetwisbare openbare steun gewen is (lente van 2004). Hoe dit ook al sy, al bly sy vermoë tot aksie effektief, het sy gewildheid sterk gedaal en is dit beperk tot gebiede waar die inwoners skynbaar meer dubbelsinnig en vreesbevange is as wat hulle ten volle samehorig is. In weerwil hiervan, word hierdie verandering nie in gespreksforums ter sprake gebring nie. Die verkiesing van 30 Januarie 2005, wat in `n ernstige lig beskou is deur `n beduidende deel van die bevolking, insluitende sekere woongebiede in Bagdad met `n oorheersende Arabies-Soennitiese karakter, word gediskwalifiseer as `n verkiesing sonder politieke partye, onder buitelandse besetting en sonder enige moontlike debat met die land se besetters. Die getalm met die resultate het die agterdog bevestig van `n bedinging met Washington, nadat daar noodwendig `n knoeiery met die verkiesing was en wat `n “parlement van medewerkers” tot gevolg het. Op dieselfde trant, word bekentenisse van “terroriste” wat deur middel van afpersing verkry en op die Irakse televisie uitgesaai is, as growwe verdigsels afgemaak, sonder inagneming van die groot indruk wat dit op vele Irakiërs gemaak het. Dit is so dat verskillende groepe openlik begaan is oor die negatiewe gevolge van sekere tipe optredes. Enkele pogings om die bevolking se simpatie te verkry, is ook te bespeure. Families van onskuldiges wat in hegtenis geneem is tydens die groot Amerikaanse klopjagte, word versorg tydens die afwesigheid van `n familiehoof. Vele burgerlike inwoners wat verskuif is tydens grootskaalse krygsverrigtinge en sedertdien op hulself aangewese is, vind skynbaar baat by ondersteuningsmaatreëls. Maar dit gaan hier hoofsaaklik oor die behoud van `n teelaarde van ondersteuners en oor die werwing van nuwe stryders. Die mobilisering van die bevolking as sodanig, lei nie tot enige poging tot konseptualisering, en nog minder tot sistematisering nie. In die geheel gesien, moet daar basies bepaal word wie vir en wie teen die besetting is – selfs al verskil die antwoord van een groep tot `n ander. Oortuig van die geldigheid van sy saak, beskou die gewapende opposisie homself as `n voorhoede (avant-garde) en poog dit nie noodwendig om `n passiewe meerderheid om hom saam te trek nie. `n Mens kan die vraag vra of die internet as instrument, wat ewekniëe in `n gefantaseerde nasie (oemma) verenig, hulle nie lei om illusies oor hul oorwinningsmoontlikhede te koester nie... sonder om die Irakiërs te oortuig. _________ (1) Byvoorbeeld http://www.islammemo.cc/taqrer/one_news.asp?Idnew=292 (2) Die video Al-Dhurwa (Die Hoogste Punt) van die “Kompanjies van Islamitiese woede” (3) Kyk www.usmoheet.com (4) Kyk www.la7odood.com (5) Kyk www.balagh.com/thaqafa/0604ggpz.htm (6) Kyk www.albasrah.net (7) Vir `n merkwaardige propagandarolprent in Engels, kyk www.informationclearinghouse.info/article7468.htm (8) Kyk www.la7odood.com (9) Die eerste, `n oom van Mohammed, is een van die beroemdste Islamitiese martelaars en die held van `n gewilde roman; die tweede, `n held van die Libiese weerstandsbeweging, word as “die vader van die martelaars” voorgestel. (10) Kyk die video Ajdâd wa Ihfâd. Muqârana Bain Mâdhî Al-Umma Al-Islâmîya wa Hâdhariha (“Voorvaders en nageslag. Vergelyking tussen die verlede van die Islamitiese gemeenskap en sy hede”). (11) Kyk die video's Râyât Al-Haqq (“Die vlae van waarheid”) deur Jaish Ansâr Al-Sunna en Halâk Al-Salîbiyîn Fawq Ardh Al-Râfidain (“Die verdoeming van die kruisvaarders in die land van die twee riviere”) deur Jaish Al-‘Irâq Al-Islâmi. (12) Onder meer www.albasrah.net (13) Vir `n konsep-Grondwet wat `n deel bevat oor die instelling van `n jihad-minister, kyk www.hizb-ut-tahrir.org |