blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die politiek van visie nou: Die wraak van die globale finansiewese: Star Wars III 2005-05-18
Slavoj Zizek


In wedywering met die Christendom is die New Age-Boeddhisme vandag `n gier – as `n poging om die opkoms van die finansierskapitalisme en die stres verwant aan tegnologiese vooruitgang aanvaarbaar te maak. Selfs die regisseur George Lucas ontsnap nie aan hierdie invloed nie. Hiervan getuig The Revenge of the Sith, die laaste aflewering van die Star Wars-sage, wat vandag, die 20ste Mei, in Suid-Afrika open.


Deur Slavoj Zizek, filosoof en navorser aan die Universiteit van Ljoebljana, Slowenië. Uit sy pen het onlangs verskyn Que veut l’Europe? (Parys: Climats, 2004) en Lacrimae Rerum (Parys: Editions Amsterdam, 2005)

Vertaal deur Johann Rossouw

Deur uiteindelik in The Revenge of the Sith (episode 3 van die “eerste trilogie”) die kritieke oomblik van die hele Star Wars-sage (1) af te lewer, naamlik die verandering van die “goedaardige” Anakin in die “boosaardige” Darth Vader, trek die regisseur, George Lucas, `n parallel tussen die individu en die politiek. Op die vlak van die individu gee die verduideliking blyke van `n soort pop-Boeddhisme: “Hy verander in Darth Vader omdat hy hom aan dinge verknog,” verduidelik Lucas. “Hy kry dit nie reg om van sy ma afskeid te neem nie. Hy kry dit nie reg om van sy nooi afskeid te neem nie. Hy kry dit nie reg om dinge af te sweer nie. Hierdie verknogtheid maak hom gierig. En as jy gierig is, is jy op die weg van die donker kant omdat jy bang is jy verloor wat jy besit” (2). Die Orde van die Jedi (3) verskyn daarenteen as `n geslote manlike genootskap wat sy lede enige verknogtheid verbied, soos `n nuwe weergawe van die Genootskap van die Heilige Graal gevier deur die komponis Richard Wagner in Parsifal.

Die politieke verduideliking is nog meer veelseggend: “Hoe het die republiek in die ryk verander? (Parallelle vraag: hoe het Anakin Darth Vader geword?) Hoe verander `n demokrasie in `n diktatuur? Dit is nie omdat die ryk die republiek verower het nie; dit is omdat die ryk die republiek is” (4). Die ryk word uit die inherente korrupsie van die republiek gebore: “Op `n mooi dag,” vertel Lucas, “het Prinses Leia en haar vriende wakkergeskrik en gesê: ‘Dis nie meer die republiek nie, dis nou die ryk. Ons is die booswigte” (5).

Ons sal `n fout maak as ons die hedendaagse konnotasies van die verwysing na Antieke Rome in hierdie verandering van die nasiestate in `n globale ryk ignoreer. Die problematiek van Star Wars (die oorgang van die republiek na die ryk) moet dus juis geplaas word binne die konteks beskryf deur Antonio Negri en Michael Hardt in hulle boek Empire (6), en die oorgang van die nasiestaat na `n wêreldryk.

Die politieke sinspelings in Star Wars is veelvuldig en teenstrydig. Hulle verleen aan die reeks sy “mitiese” mag: vrye wêreld teen die Bose Ryk; debat oor die nasiestaat wat die teses van mnr. Pat Buchanan (7) of mnr. Jean-Marie Le Pen oproep; die teenstrydigheid van die persone van aristokratiese stand (prinses, lede van die elitistiese Orde van die Jedi) wat daartoe gedryf word om die “demokratiese” republiek teen die Bose Ryk te verdedig; en laastens hierdie wesenlike bewuswording dat “ons die booswigte is”.

Soos hierdie rolprente sê, is die Bose Ryk nie elders nie – sy verskyning hang af van die wyse waarop ons, die “goeies”, hom omverwerp. En hierdie vraag hou verband met die huidige “oorlog teen terreur”: hoe gaan dié ons verander?

`n Politieke mite is nie `n vertelling voorsien van `n bepaalde politieke betekenis nie, maar `n leë verpakking waarin ons `n veelheid teenstrydige betekenisse plaas. The Phantom Menace, episode 1 van Star Wars, verskaf `n kritieke leidraad: die “Christelike” karaktertrekke van die jong Anakin – sy ma beweer dat hy uit `n “onbevlekte ontvangenis” (immaculate conception – vertaler) gebore is; en die resies wat hy wen, is `n duidelike toespeling op die gevierde strydwaresies van Ben Hur, daardie “Christusverhaal”.

Die ideologiese wêreld van Star Wars verwys na die heidense wêreld van die New Age (8). Dit is dus logies dat die sentrale figuur van die Bose dié van Christus eggo. Binne die heidense wêreld is Christus se koms die opperste skandaal. In die mate wat diabolos (om te skei, om te skeur) die teenoorgestelde van simbolos (om te versamel, om te verenig) is, word Christus self `n diaboliese figuur in die sin dat hy “nie vrede bring nie maar die swaard” en die bestaande eenheid versteur. Volgens die evangelieskrywer Lukas sou Jesus gesê het: “As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe” (9).


Christelike liefde, Boeddhistiese erbarming

Dit moet in gedagte gehou word dat die Christelike posisie baie van die heidense posisie verskil. In sy oorspronge beskou die Christendom die daad wat deur die heidense wysheid as bron van euwel verdoem word as die hoogste daad, naamlik die gebaar van afskeiding, van verdeling, van om sig te verbind aan `n element wat die ewewig van alles versteur.

Dit beteken dat die Boeddhistiese (of Taoïstiese [10]) erbarming teenoor die Christelike liefde gestel moet word. Die Boeddhistiese posisie is in die laaste instansie dié van onverskilligheid, `n toestand waarin al die passies onderdruk word, terwyl die Christelike liefde `n passie is wat daarop mik om `n hiërargie in die orde van die verhoudings met mense in te stel. Liefde is geweld – en nie net in die sin van die Balkanspreuk waarvolgens “as hy my nie slaan nie, het hy my nie lief nie” -; die geweld van die liefde lei daartoe om iemand van sy konteks te ontworstel.

In Maart 2005 het kardinaal Tarcisio Bertone op Radio Vatikaan die sterkste moontlike veroordeling uitgespreek oor Dan Brown se Da Vinci Code, wat daarvan beskuldig word dat dit berus op leuens en verkeerde feite propageer (naamlik dat Jesus met Maria Magdalena sou getrou en kinders gehad het…). Die belaglikheid van die benadering moet ons nie laat vergeet nie dat die inhoud van sy verklaring ten diepste korrek is: Da Vinci Code skryf die Christendom onder die rubriek van die balans tussen die manlike en vroulike beginsels in die New Age in…

Om nou terug te keer na The Revenge of the Sith: die rolprent bewys sy trou aan die New Age-temas nie net deur sy ideologiese verwarring nie, maar ook deur sy narratiewe middelmatigheid: die transformasie van Anakin in Darth Vader – die hoofmoment van die ganse sage – bereik nie die gepaste tragiese grootsheid nie. In plaas daarvan om te konsentreer op Anakin se trots as onweerstaanbare drang om in te gryp, om goed te doen, om tot die uiterste te gaan vir hulle wat hy lief het (Amidala) en gevolglik in die donker kant te verval, word Anakin eenvoudig voorgestel as `n besluitlose vegter wat na die bose gly deur toe te gee aan die versoeking van mag en onder die beheer van die bose keiser te kom. Anders gestel, George Lucas is nie in staat om werklik die parallelle van republiek-ryk en Anakin-Darth Vader ten toon te stel nie. Dit is juis Anakin se obsessie met die bose wat hom in `n monster verander…

Watter verband kan hiervan getrek word? Op die moment wat die “Europese” kapitalisme en tegnologie op globale vlak triomfeer, lyk dit of die Joods-Christelike erfenis as”ideologiese superstruktuur” bedreig word deur die aanslag van die “Asiatiese” denke van die New Age.

Die Taoïsme is besig om die heersende ideologie van die wêreldkapitalisme te word. `n Soort “Westerse Boeddhisme” word nou voorgehou as die geneesmiddel teen die stres van die kapitalistiese dinamika. Dit sal ons in staat stel om af te skakel, om innerlike vrede en kalmte te behou en funksioneer in werklikheid as perfekte ideologiese komplement.

Mense is nie meer in staat om aan te pas by die ritme van tegnologiese vooruitgang en die maatskaplike ontwrigting wat daarmee gepaardgaan nie. Dinge gebeur te vinnig. Die toevlug tot die Taoïsme of die Boeddhisme bied `n uitkoms. In plaas daarvan om by die ritme van die veranderinge aan te pas, is dit beter om af te lê en “jouself te laat gaan” terwyl jy `n innerlike afstand bewaar teenoor hierdie versnelling wat nie werklik met die diepste kern van ons wese verband hou nie…

Ons is byna in die versoeking om vir die geleentheid die Marxistiese cliché van religie as “opium vir die volk”, as imaginêre aanvulling tot die aardse ellende, af te stof. So verskyn die “Westerse Boeddhisme” as die mees doeltreffende manier om volledig deel te neem aan die kapitalistiese dinamika terwyl die skyn van geestesgesondheid bewaar word.

As `n teenhanger vir episode 3 van Star Wars gesoek moet word, sal ons in die versoeking wees om Alexander Oey se dokumenter Sandcastles. Buddhism and Global Finance (2005) voor te stel: `n wonderlik dubbelsinnige aanwyser van die moeilikheid van ons ideologiese situasie, wat die kommentaar van die ekonoom Arnoud Boot afwissel met dié van die sosioloog Saskia Sassen en die Tibettaanse Boeddhistiese leermeester Dzonzar Khyentse Rinpoche.

Saskia Sassen en Arnoud Boot bespreek die omvang, mag en uitwerking van die globale finansiewese. Die kapitaalmarkte kan die waarde van maatskappye of van hele ekonomieë binne ure laat styg of dit uitwis. Khyentse Rinpoche stel oorwegings van die aard van menslike waarneming teenoor hulle: “Bevry julle van jul verknogthede aan wat bloot `n persepsie is en nie werklik bestaan nie,” verklaar hy. Op haar beurt sê Saskia Sassen: “Die globale finansiewese is wesenlik `n geheel van deurlopende bewegings. Dit verdwyn en verskyn weer.”

In die Boeddhistiese beskouing is die oorvloedigheid van die rykdom van die globale finansiewese denkbeeldig en afgesny van die objektiewe werklikheid: die menslike lyding voortspruitend uit die transaksies wat plaasvind in die sale van die markte en direksies, wat vir die meeste van ons onsigbaar is. Watter beter bewys kan daar wees vir die niesubstanstiële aard van die werklikheid as `n reusagtige fortuin wat binne `n paar uur tot niks kan verminder? Waarom moet dit betreur word dat die spekulasies op die termynmarkte “afgesny is van die objektiewe werklikheid” as die grondliggende beginsel van die Boeddhistiese ontologie aankondig dat daar nie `n “objektiewe werklikheid” is nie?

Hierdie dokumentêr verleen dan ook die sleutel vir The Revenge of the Sith. Die kritieke insig om te behou, is dat ons ons nie met liggaam en siel in die kapitalistiese spel moet werp nie, maar dat ons dit kan doen… deur `n kritieke innerlike afstand daarvan te bewaar. Want die kapitalisme konfronteer ons met die feit dat die oorsprong van ons onderwerping nie die objektiewe werklikheid (wat nie bestaan nie) as sodanig is nie, maar ons begeerte, ons gierigheid vir materiële dinge en die buitensporige verknogtheid wat ons aan hulle het. Gevolglik is wat vir ons oorbly om ons begeerte op te sê ten einde `n houding van innerlike vrede aan te neem…

Geen wonder nie dat so `n Boeddhisme as ideologiese kompliment van liberale globalisering kan funksioneer nie: dit stel ons in staat om daaraan deel te neem terwyl ons `n innerlike afstand daarvan bewaar… Kapitaliste, ja, maar onverknog, Zen…

_________

(1) Hierdie wetenskapfiksierolprent-epos bestaan uit ses rolprente in twee trilogieë. Eerste trilogie: The Phantom Menace (1999), Attack of the Clones (2002) en The Revenge of the Sith (2005). Tweede trilogie: Star Wars. A New Hope (1977), The Empire Strikes Back (1980) en The Return of the Jedi (1983).
(2) Aangehaal in “Dark Victory”, Time Magazine, 22 April 2002.
(3) In Star Wars is die Orde van die Jedi `n vereniging van individue wat hul geloof in en respek vir die Force gemeen het, `n soort buitesintuiglike mag wat dit moontlik maak om jou omgewing te verstaan en te verander. Die geswore vyande van die Jedi is die Sith.
(4) Kyk Time Magazine, op. cit.
(5) Kyk Time Magazine, op. cit.
(6) Parys: Exil éditeur, 2000.
(7) Patrick J. Buchanan, ultrakonserwatiewe artikelskrywer, presidentskandidaat in die Verenigde State in 2000.
(8) Pseudiofilosofiese snuistery wat in die 1980’s in Kalifornië verskyn het en probeer antwoord op die lewensvrae deur engele, buiteaardse wesens, esoterisme, simbolisme, Oosterse wyshede, vorige lewens, psigiese ervarings, ens. hot en haar in te span.
(9) Lukas 14:26.
(10) As religieuse en filosofiese stelsel vorm die Taoïsme `n sinkretisme wat in die sesde eeu v.C. ontwikkel het en saam met die Boeddhisme een van die twee groot religieë geword het. Die Taoïsme is allereers begaan oor die individu en sy spirituele, oftewel spekulatiewe, lewe.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=218
Artikel nagegaan:
    -