|
||||
Ignacio Ramonet Deur Ignacio Ramonet Vertaal deur Christel Cattin Sestig jaar gelede, op 8 Mei 1945, het die Tweede Wêreldoorlog in Europa ten einde gekom met die ineenstorting van die Derde Duitse Ryk. In Asië sou die oorlog nog voortduur tot 2 September 1945, toe die Japannese verteenwoordigers, oorweldig deur die eerste atoombomme, hul land se oorgawe op die dek van die Amerikaanse oorlogskip, Missouri, geteken het. Is dit nodig om weer eens hierdie konflik op te haal terwyl die groot mediakoor ons daarmee bombardeer tydens die veelvuldige herdenkingseremonies (1) – die inval in Normandië, die bevryding van Parys, die verlossing van Auschwitz en Buchenwald daarna, die val van Berlyn –, `n stroom van beelde en nimmereindigende kommentaar oor die belangrikste episodes? Die antwoord is: ja. Om `n eenvoudige rede: die plegtigheid rondom die herdenkings verberg en versmoor die sin van die gebeurtenis. Die paradoks is die volgende: die media herinner... om beter te laat vergeet. Die historikus Eric Hobsbawn het ons gewaarsku : “Vandag,” bevestig hy, “word die geskiedenis meer as ooit geredigeer, of selfs verdig, deur mense wat nie die ware verlede wil ken nie, maar slegs `n verlede wat ooreenstem met hul eie belange. Ons leef in die era van die groot historiese mitologie (2).” Namate tyd ons van die gebeure verwyder, verdwyn direkte getuies; lesse wat ter plaatse geleer is, stomp af, vervaag. En die media wat nie die streng nougesetheid van historici besit nie, herkonstrueer `n verlede volgens modegiere wat net te gereeld bepaal, gekorrigeer, verbeter word... deur die hede. `n Verlede gesuiwer, gelouter, gewas van alles wat vandag kan hinder. Wat dit betref, – nog `n paradoks –is daar min verskille tussen hierdie nuwe “amptelike geskiedenis” en staatsensuur in nie-demokratiese lande. In beide gevalle is dit `n hersiene verlede wat vandag aan jong generasies oorgedra word. En dit is teen so `n verdraaiing van die geskiedenis wat dit nodig is om te rebelleer. Die Tweede Wêreldoorlog was die sentrale oomblik van die twintigste eeu. Een van die mees gewelddadige en belangwekkende gebeurtenisse in die geskiedenis van die mensdom. Eerstens, as gevolg van die mateloosheid, die ongeëwenaarde omvang daarvan. Met die uitbreiding en verskerping van die konflik het die slagveld regoor die planeet uitgebrei en is al die vastelande, behalwe Antarktika, daardeur geraak. Teen 1945 was amper alle onafhanklike state daarby betrokke. Die groot imperiale magte het hulle kolonies in Afrika en Asië - of dié wou of nie - by die konflik betrek. Al die Suid-Amerikaanse lande het hulself aan die saak van die Geallieerdes verbind (3); Brasilië het sover gegaan om `n ekspedisiemag te vorm wat in Italië gaan veg het. Met die val van die Hitleriaanse Ryk, was slegs nege wêreldstate (Afganistan, Denemarke, Spanje, Ierland, Mongolië, Nepal, Portugal, Swede en Switserland) steeds amptelik neutraal. `n Ongekende aantal troepe is gemobiliseer vergeleke met enige vorige konflik. Terwyl die Japannese `n nimmereindige oorlog in Asië voorgesit het om die oorhand in Sjina te kry, het Duitsland 3 miljoen soldate in die Wehrmacht gemobiliseer om Pole in 1939 te beset. Kort daarna sou 6 miljoen in gelid wees om `n “voorkomende oorlog” in die Sowjet-Unie te onderneem, wat op sy beurt 11,5 miljoen troepe in die opposisiemagte sou gebruik. En toe die Verenigde State tot die oorlog toetree, nadat hulle op hul beurt slagoffer was van die Japannese se “voorkomende aanval” by Pearl Harbour op 7 Desember 1941, sou hulle nie minder nie as 12 miljoen soldate mobiliseer... Hierdie planetêre oorlog was ook `n “algehele oorlog”, wat gekenmerk sou word deur die uitbreiding van die “dodelike sone” ver buite die spreekwoordelike slagveld. Die burgerlike bevolkings regoor Europa, Wes-Rusland en Oos-Asië sou ly onder krygsverrigtinge, die nabyheid van die vele fronte, deursoekings, onderdrukkings of gereelde bombarderings. Sonder om te praat van vervolgings en bloedbaddens vir ideologiese motiewe of om rassistiese beleidsrigtings, waarvan miljoene burgerlikes die slagoffers was (by uitstek Europese Jode, Sigeuners, Sjinese en Koreane) van die Spilmoondhede (Duitsland, Italië, Japan), veral in Oos-Europa en Sjina. Die lewenskoste bereik `n geskiedkundige hoogtepunt. Die aantal sterftes word op ongeveer 50 miljoen beraam. Die raming is hoër in Europa as in Asië, en veel hoër in Oos-Europa as in die Weste. Die Sowjet-Unie se leër – die Rooi Leër – alleen het sowat 14 miljoen troepe verloor: 11 miljoen op die slagveld (waarvan 2 miljoen op die Verre Oosterse fronte) en 3 miljoen in Duitse krygsgevangenekampe. Sommige groot veldslae soos Stalingrad (September 1942-Februarie 1943), die inval in Normandië (Junie 1944) of die oorname van Berlyn (20 April - 8 Mei 1945) sou meer dodelik blyk te wees as die Eerste Wêreldoorlog se ergste konfrontasies. Aan die Geallieerdes se kant het 300 000 Amerikaners, 250 000 Britte en 200 000 Franse in die stryd omgekom. Japan het 1,5 miljoen stryders verloor. Maar een van die hoofoorsake van lewensverlies was die konfrontasie tussen die Wehrmacht en die Rooi Leër in die Ooste van Europa wat geëindig het met `n verlies van ten minste 11 miljoen soldate aan beide kante en meer as 25 miljoen beseerdes... Vir die eerste keer gedurende `n oorlog het die aantal burgerlike slagoffers dié van gesneuwelde soldate by verre oorskry. Meer nog, burgerlikes was dikwels die slagoffers van wandade, gepleeg om die teenstander te terroriseer. Byvoorbeeld, in Asië het Japan die noorde van Sjina reeds in 1937 binnegeval, Peking beset en sy leër na Nanking gestuur waar die Sjinese regering destyds gesetel was en wat besluit het om weerstand te bied. Ná die oorname van Nanking het die Japannese Weermag tot `n ware bloedbad oorgegaan Die meer as 200 000 Sjinese wat hulself steeds in die stad bevind het, is almal tereggestel onder gruwelike omstandighede. Die vroue is wreedaardig verkrag, die mans en kinders is lewendig begrawe of gemartel volgens spesifieke riglyne. Die stad is geplunder en daarna geheel en al afgebrand. Prins Asakasa, die opperbevelvoerder van hierdie bloedbad, is nooit na die oorlog ondervra nie. Selfs vandag nog minimaliseer sommige Japannese skoolhandboeke hierdie misdaad. Dit maak, en met reg, die Sjinese en Koreane woedend, soos `n mens dit Aprilmaand weer eens kon opmerk tydens die groot anti-Japannese demonstrasies in Beijing. In teenstelling met Duitsland, het Japan nog nooit sy afstootlike oorlogsmisdade teenoor Sjinese en Koreaanse burgerlikes op `n oortuigende wyse beken nie. Hongersnood het allerweë besette bevolkings afgemaai. In Leningrad (vandag Sint-Petrusburg) het meer as 500 000 burgerlikes van ontbering gesterf tussen November 1941 en Januarie 1944. Massiewe bombarderings van stede het ook plaasgevind. Al die oorlogvoerendes het gewetenloos opgetree teenoor weerlose groot agglomerasies. Die Hitleriaanse magte het daarmee begin met herhaalde lugaanvalle tussen 10 September 1940 en 15 Mei 1941 op Engelse stede (waaronder Coventry), met meer as 50 000 burgerlike slagoffers tot gevolg. Soos verskeie ander stede is Warskou tot op die grond vernietig tussen November en Desember 1944 deur terugvallende Duitse troepe. Die Geallieerdes het op 13 Februarie 1945 teruggekap met die vernietiging van Dresden, met tienduisende burgerlike slagoffers tot gevolg, waaronder vele vlugtelinge. En op 8 en 11 Augustus 1945 is die Japannese stede van Hiroshima en Nagasaki totaal uitgewis deur die eerste atoomaanvalle in die geskiedenis. Daar was ook uittogte of geforseerde marse wat ontelbare slagoffers onder krygsgevangenes of verplaaste bevolkings geëis het ; byvoorbeeld, net in 1945, het meer as twee miljoen Duitsers gesterf terwyl hulle te voet weswaarts gevlug het voor die Sowjetmag in aantog. En daar was ook die misdaad bo alle misdade, die Nazis se stelselmatige uitwissing van ses van die twaalf miljoen Europese Jode omrede hul anti-Semitiese haat. Die Tweede Wêreldoorlog, weens die apokaliptiese afmetings daarvan, en die orkane van geweldpleging, wreedaardigheid en dood wat dit oor die wêreld laat woed het, het nie net die internasionale geopolitiek drasties verander nie, maar ook denkwyses. Vir die geslagte wat hierdie oorlog deurgemaak het en die geweld daarvan oorleef het, kon niks weer soos voorheen wees nie. Met die verloop van hierdie konflik het die mensdom in `n tipe afgrond van boosheid neergestort en tot `n mate sover gekom om homself te ontmens. Veral in Auschwitz. Nà die oorlog was dit nodig om met `n vernuwing, `n heropbou van die menslike gees te werk te gaan. `n Her-mensliking van die mensdom. Die wêreld soos ons dit vandag ken, is steeds tot `n groot mate gevorm deur die trauma van hierdie oorlog. Lesse is daaruit geleer, vernaamlik twee: - eerstens, dat `n soortgelyke konflik ten alle koste vermy moet word. Dit het die internasionale gemeenskap laat voortgaan om reeds in 1945 met `n nuwe instrument vorendag te kom : die Verenigde Nasies-Organisasie (VN), waarvan die hoofdoel steeds is om oorloë te vermy; - tweedens, dat die Fascistiese en Nasionaal-Sosialistiese teoriëe, tesame met die Japannese Militêre Imperialisme, skuldig bly aan die feit hulle dat die wêreld in die afgrond van so `n gruwelike oorlog gedompel het. Regeringstelsels wat op anti-Semitisme, op rassehaat of op diskriminasie gebaseer is, is gevaarlik, nie net vir hul eie bevolking nie, maar vir die mensdom in sy geheel. Dit is eweneens hoekom die Tweede Wêreldoorlog natuurlik opgevolg is deur die geboorte van Israel en deur die groot herontwaking van die gekoloniseerde nasies in Afrika en Asië. Maar dit wil voorkom asof selfs die oorwinnaars die lesse van hierdie oorlog vergeet het. Byvoorbeeld, Rusland, onder president Vladimir Poetin, doen homself oneer aan deur die blinde onderdrukking en magsmisbruik in Tsjetsjnië. En in die Verenigde State gebruik president George W. Bush se administrasie die afskuwelike terreuraanvalle van 11 September as dekmantel om die regstaat te bevraagteken. Washington het die beginsel van “voorkomende oorlog” herstel om Irak binne te val, “detensiekampe” gestig waar gevangenes van hul regte ontneem word en gedoog martelingspraktyke. Hierdie uiters ernstige vergrypings sal mnre. Poetin en Bush geensins verhinder om op 8 Mei die sentrale ereplek in te neem by seremonies wat die nederlaag van die Derde Ryk herdenk nie. Die media sal sy waagkans om hulle daaraan te herinner dat hulle hul posisie wederregtelik toe-eien, omdat hulle die groot ideale van 1945 se oorwinning verraai het, grootliks vermy. __________ (1) Lees Dominique Vidal, “Commémorations... ”, Le Monde diplomatique, Maart 2005. (2) Eric Hobsbawm, Interesting Times. A Twentieth-Century Life, Londen: Pantheon Books, 2003. (3) Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die “Geallieerdes”, dit wil sê die demokratiese state wat verenig was rondom die Verenigde State en die Verenigde Koninkryk, asook die Sowjet-Unie, stelling geneem teenoor die Spilmoondhede (Duitsland, Italië, Japan). |