blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Ope brief deur die FAK oor moedertaalonderrig vir alle Suid-Afrikaners aan president Thabo Mbeki 2005-05-12
10 Mei 2005


President T Mbeki
Die Presidensie
Uniegeboue
PRETORIA


Geagte president Mbeki,

Soos u, is die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) in hart en niere verbind tot die afwerping van Afrika se koloniale kettings – per stuk van sake was Afrikaners een van die eerste inheemse groepe in Afrika om `n anti-koloniale vryheidstryd te voer.

    Een van die sleutels van ware vryheid is moedertaalonderrig binne `n nierassige, demokratiese omgewing. Afrikaners se geskiedenis bewys dit ook, want dit was op die ontwikkeling van ons moedertaal wat eers politieke en later ekonomiese vryheid vir Afrikaners gevolg het. Daarom steun die FAK ook die jongste verslag van die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram wat daarop wys dat met die nodige politieke wil Afrika se 15 grootste tale ontwikkel kan word, wat meer as 85% van Afrika se mense onmiddellik sal bevoordeel. Die FAK stem ook met die verslag saam as dit bevind dat die verwaarlosing van Afrika se inheemse tale die afgelope 50 jaar een van die belangrikste redes is waarom Afrika steeds onder die koloniale erfenis van armoede, geweld en `n gebrek aan selfrespek gebuk gaan.
   
    U self en verskeie woordvoerders van die regering het al by meer as een geleentheid `n mondelinge verbintenis tot die ontwikkeling van ons inheemse tale bewys, maar ongelukkig is daar min hiervan in die praktyk te sien. Die onderwys is `n goeie voorbeeld hiervan. In weerwil van die Nasionale Departement van Onderwys se verbintenis tot moedertaalonderrig vir almal, verskaf die Departement slegs in Afrikaans en Engels leermateriale hoër as graad 3. Op die koop toe neem die Departement geen inisiatief om ouers oor die voordele van moedertaalonderrig in te lig nie. Gevolglik is dit slegs Afrikaanse en Engelse moedertaalsprekers wat werklik – net soos tydens apartheid – die vrugte van moedertaalonderrig kan pluk, terwyl die meerderheid van Suid-Afrika se kinders effektief in hul tweede of derde taal nà graad 3 onderrig word.
   
    Wat Afrikaanse skole betref, het tot soveel as 50% van hierdie skole sedert 1994 verdwyn, veral weens die druk om in die naam van toeganklikheid te verengels. Hier word die grootste fout begaan, naamlik om toegang gelyk te stel met onderrig in Engels. Wat in feite gebeur, is dat die staat besig is om die nasionale onderwysstelsel te verengels, en dít is wat die meerderheid van Suid-Afrika se kinders die reg op toegang tot gehalteonderwys ontneem. Afrikaanse skole wat uit `n trotse anti-koloniale tradisie van meer as 150 jaar se moedertaalonderrig kom, en wat hulle verset teen die druk om te verengels, word dan uitgebeeld as hindernisse in die weg van transformasie en toegang, ofskoon minder as 3% van die staatskole in Suid-Afrika Afrikaans is.

    Twee huidige voorbeelde hiervan is Laerskool Mikro in die Wes-Kaap en Hoërskool Kalahari in Kuruman. Hoewel beide hierdie skole `n beduidende aantal leerders het wat nie wit is nie, is hulle tans in hofsake gewikkel om moedertaalonderrig vir hulle historiese voedingsgemeenskappe te verseker.

    Daar is sterk aanduidings dat die instelling van parallel/dubbelmediumonderrig by hierdie twee skole hulle binne enkele jare sal verengels en sodoende verseker dat nóg die huidige Afrikaanse leerders, nóg hul eweknieë van ander tale, waarvan feitlik niemand Engels as moedertaal het nie, gehalteonderwys sal geniet.

    Die FAK tree tans as koördineerder van `n nasionale onderwysaksie vir Afrikaans op, en meer as 20 organisasies uit die Suid-Afrikaanse burgerlike samelewing is hierby betrokke. As resultaat van uitgebreide oorlegpleging met die Afrikaanse burgerlike samelewing doen die FAK hiermee `n beroep op u om in te gryp sodat onnodige regsaksies soos teen Laerskool Mikro en Hoërskool Kalahari voorkom kan word en die geskil by wyse van onderhandeling met die nasionale onderwysaksie vir Afrikaans opgelos kan word. Die FAK doen verder `n beroep op u om die Nasionale Departement van Onderwys se beleid van moedertaalonderrig vir almal dadelik in die praktyk om te skakel. In die geval van Afrikaanse skole vra die FAK u om te verseker dat `n soepel nasionale beleid ontwikkel word om die voortbestaan van Afrikaanse skole te verseker. Ervaring het geleer dat so `n beleid gewoonlik Afrikaanse enkelmediumonderrig beteken, maar soms kan parallelmediumonderrig ook die oplossing wees.

    Die FAK wil graag sien dat alle Suid-Afrikaanse kinders mag deel in die voorreg van moedertaalonderrig, maar die FAK wys u ook daarop dat ons nie kan toesien dat Afrikaanse kinders deur `n hernude beleid van die verengelsing van die onderwysstelsel nogmaals in hul eie land gekoloniseer word nie. Dit is wat in feite besig is om te gebeur, en dit is reeds besig om groot ontevredenheid met die staat in die Afrikaanse wêreld te laat oplaai. Daarom doen die FAK ook op u `n beroep om te verseker dat die reg op toegang tot gehalteonderwys en die reg op moedertaalonderrig nie langer verkeerdelik teen mekaar afgespeel word nie.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=216
Artikel nagegaan:
    -