blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


'n Nuwe Akademie? 2005-05-05
Vandeesweek se kommentaar: `n Nuwe Akademie?
Vrydag 6 Mei 2005

Op Saterdag 21 April het `n groep lede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en ander belanghebbendes by die Sakeskool van die Universiteit van Stellenbosch in Bellville vergader om oor `n moontlike nuwe Akademie gesprek te voer.

Alvorens die verdienste van dié poging beoordeel kan word, moet eers vermeld word dat dié vergadering die uitkoms was van `n reeks verkennende gesprekke wat oor die afgelope twee jaar of wat plaasgevind het. Twee groepe het hierdie gesprekke aangevoor. Enersyds is daar onder leiding van die huidige voorsitter van die Akademie, prof. Theuns Erasmus, in die geledere van die Akademie self `n gesprek oor `n moontlike nuwe Akademie aangeknoop. Tweedens het `n groep voorste Afrikaanse intellektuele wat nie tradisioneel lede van die Akademie was nie, waarvan die meeste bruin is (ofskoon talle van hulle hulle teen dié kategorisering sal uitspreek), en waarvan dr. Jakes Gerwel die mees prominente is, ook `n soortgelyke gesprek begin. Dié twee het toe van mekaar se gesprekke te hore gekom, gesamentlike gesprekke aangeknoop, en uiteindelik is die onlangse byeenkoms in Bellville gereël.

In sy inleiding het Gerwel, wat as voorsitter van die Bellvillegesprek opgetree het, dit duidelik gestel dat die mense wat tans aan die gesprek deelneem van niemand `n spesifieke mandaat het nie, maar dat hulle almal die moontlikheid van `n nuwe, nierassige liggaam wat verantwoordelikheid vir Afrikaans se hoërtaalfunksies binne `n veeltalige omgewing ernstig opneem. Die gesprekvoerders moes oor drie vrae debatteer: is so `n liggaam nodig?; watter strategiese funksies moet dit verrig?; en die hoe lyk die pad vorentoe?

Die gesprek het in `n besonder goeie gees plaasgevind en uiteindelik is `n stuurkomitee aangewys wat teen September by `n volgende openbare gesprek in Potchefstroom moet terugrapporteer. Hopelik sal dit by `n volgende gesprek moontlik wees om min of meer `n konsep te kry van `n nuwe Akademie wat dan aan die bestaande Akademie voorgelê sal word vir wat vermoedelik `n proses van amptelike onderhandelinge sal wees.

Anders as by soortgelyke onlangse geleenthede, soos byvoorbeeld die Nasionale Taalberaad vir Afrikaans, het die Bellville-gesprek met betreklik min spanning verloop. Dit is `n goeie ding, maar dit moet geensins die deelnemers en ander belanghebbendes wat nie daar kon wees, oorgerus maak nie. Van hierdie spanning is reeds deur Gerwel self verwoord in `n artikel oor die proses wat hy in Die Burger van Saterdag 30 April 2005 gepubliseer het. Hier het Gerwel hom sterk uitgespreek teen die siening dat die huidige proses bloot gaan oor die vergroting van `n uitsluitlik wit organisasie na een wat ook bruinmense insluit, maar wat in wese nog nie veel van die oue verskil nie. Gerrit Brand, wat ook `n lid van die stuurkomitee is, het in Die Burger van Woensdag 4 Mei 2005 ook daarteen gewaarsku dat `n meer diverse rasseprofiel nog nie `n organisasie vernuwe nie.

Beide hierdie standpunte dra `n mate van geldigheid, en sal nog aan verdere debat onderwerp moet word. Die feit bly egter dat die historiese spanning tussen Afrikaners en bruinmense in Afrikaans ongetwyfeld een van die belangrike agtergrondtemas van hierdie proses is. Dit is op hierdie punt wat die beswaar dikwels deur van die prominente bruin intellektuele geopper word dat hulle nie as bruin gekategoriseer wil word nie, en dat hulle hulle as individue aan die Grondwet en konstitusionele patriotisme verbind.

Soos Heilna du Plooy onlangs in `n briljante artikel in Die Vrye Afrikaan aangetoon het, is alle gemeenskappe in Suid-Afrika in `n mindere of meerdere mate in `n toestand van liminaliteit, dit wil sê beperkte selfdefinisie, met die bruinmense weens historiese faktore die diepste in hierdie toestand gedompel. In hierdie kategorie vind `n mens individue wat na hulself verwys as Suid-Afrikaner, swart, individu, kleurling, Khoi-San, Baster, bruin nasionalis en Afrikaner. Aan die een kant maak dit die poging om van bruinmense een kategorie te maak, problematies, maar aan die ander kant bly daar die feit dat hierdie soort nuanse selde in die nasionale gesprek ingebou word. Hoe vind jy volhoubare samewerking tussen twee gemeenskappe binne een organisasie, as net die een gemeenskap – Afrikaners – met `n duidelike selfdefinisie werk?

Van die bruin intellektuele in die proses het al in die verlede `n mate van ongeduld vertoon met Afrikaners vir wie die feit dat hulle Afrikaners is, belangrik bly. Vir baie van hierdie Afrikaners is die koms van `n demokratiese Suid-Afrika `n verligting en `n vreugde, met sy gebreke en al, en skep dit ook die geleentheid vir `n organisasie soos die Akademie om met nuwe ywer op te tree. Baie van hulle sien ook die Akademie as een van die min instellings wat vir Afrikaners oorgebly het, en wat bowendien van groot belang vir die toekoms van Afrikaans is.

Dit is hier waar een van die sleutelvraagstukke oor `n nuwe Akademie ontstaan, naamlik hoe kom die twee kante bymekaar uit? Bruin intellektuele voel om verstaanbare redes nie lus om gekoöpteer te word nie, maar eweneens voel Afrikanerintellektuele nie lus om gedwing te word om die feit dat hulle Afrikaners is, te verswyg nie (wat geensins beteken dat hulle ongerekonstrueerde nasionaliste is nie, inteendeel).

Dan is daar `n verdere probleem: die huidige Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is vir `n baie lang ruk gedryf deur `n kragtige verbintenis tot `n politiek, en wel die politiek van Afrikanernasionalisme. Deur watter politiek gaan `n nuwe Akademie gedryf word? Want sonder `n politiek gaan die nuwe Akademie net so dood wees soos die oue nadat die Afrikanernasionalisme sy drakrag verloor het.

Die feit van die saak is dat die meeste Afrikaners vandag aan `n soort post-staatsmelancholie ly waarin bykans geen geesdrif vir `n hernude verhouding met die staat is nie. By baie Afrikaanse intellektuele wat nie Afrikaners is nie, is daar weer mindere of meerdere geesdrif oor die staat. Die ou Akademie het sy beste oomblikke beleef voor die verstaatliking van 1948, net soos hy sy donkerste oomblikke daarna beleef het.

Teen hierdie agtergrond is een van die bronne van `n nuwe politiek vir die Akademie een waar die Akademie in diens van die gemeenskap en nie die staat nie staan, maar sien alle moontlike deelnemers aan `n nuwe Akademie dit wel so? Meer bepaald kan `n mens selfs redeneer dat die bruinmense – hoe problematies dié term ook al is – vandag voor `n pynlike keuse is: skaar hulle hulle by die staat of by die gemeenskap? Eersgenoemde keuse sal ongetwyfeld elitevorming aanhelp (en hulle van hulle gemeenskapsbronne afsny), terwyl laasgenoemde keuse ongetwyfeld `n vennootskap met Afrikaners sal impliseer (wat weer spanning met die staat waarvoor talle van hulle so lank geveg het, sal beteken).

Dat dit `n moeilike keuse is, val nie te betwyfel nie, maar dan is dit so dat Afrikaners wat wel nog na 1994 Afrikaners wil wees, en juis omdat hulle anderkant sowel Afrikaner- as Afro-nasionalisme as demokrate wil leef, ook `n baie moeilike keuse moes maak wat groot durf vereis.

Die huidige poging om `n nuwe Akademie tot stand te bring, het die potensiaal om `n nuwe historiese era in te lui, maar op voorwaarde dat dit met durf, ware wedersydse verdraagsaamheid en `n duidelike politieke sin gepaard gaan.




 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=209
Artikel nagegaan:
    -