|
||||
Twee gedigte uit In die geheim van die dag deur Charl-Pierre Naudé Vrydag 6 Mei 2005 Die grond van die voorvaders ’n Paar jaar gelede beland ek een naweek op ’n versaakte plasie, in noordoos-Mpumalanga. In hierdie streek, word gesê, kom die hoogste frekwensie loodregte weerlig in die wêreld voor. Die hemelruim verdonker, silwer en karmosyn – en die pletterklanke begin. Soms slaan ’n hoë boom in vlamme uit. My vriendin van Berlyn was saam, ons was verliefdes in dié tyd, en ver van die huisie toe die storm opsteek. Sy het verlang na haar eie stad, met sy kleed van droewe as ... In die wandeling kon ons voel hoe die lading in ons hare en in ons klere oplaai, hoe die granietblokke opstapel in ’n onsigbare wêreld. Die grondpaadjie het gekronkel na ’n oop plato, ’n hoë grond waar die woedende hemele als doodslaan wat beweeg. Die gerug, van ’n ou luiperd wat daar rondsluip ... “Jy weet daar’s ’n vloek hier,” sê ek ontsenu, in ’n grap. En net daar vries sy: “Ons moet terug!”, steek haar arm uit, die fyn haartjies regop, die wortels wat trek; pluk aan my en slaan voet in die wind, daardie langbeenmeisie, ’n eksotiese volstruis oor die voorvadergrond van ’n uitgedelgde Afrikastam, die swart verskroeide stoppelland bloedgrond haar rok wat opwaaier soos ’n waansinnige blomkroon, die kelkie onder wat flits. Ek agterna. Sopnat. By die huisie aangekom. Ons kerse het nog gebrand. Maar die plek was ’n gemors: tafeldoek gesleep, glase omgestamp, borde op die vloer. ’n Wilde veldreuk in die vertrek. ’n Wind, dieper huisin. “Maak alles toe!” skreeu ek. “Gou!” beaam sy. Haastig sit ons die klinke op en haak die luike toe. Die reën het swaar uitgesak. Hael en wind. Blitsende donder. Veilig nou ... Of nie? Daar het ons staan en drup, met glimlagte breed soos seilbote wat te water gelaat word. Toordery ... in die wegvlug loop jy daarin vas ... En dink ek terug, het die onderdak ons nie gespaar nie. Ons was steeds op voorvadergrond, met al sy grille. Enige twee minnaars naak saam, is op voorvadergrond. Die aasdier? … dit was ons, die mens, wat bedel om versorging. En die weerlig? Die laatmiddag se bliksemskigte – wat tussen ons gebeur het met ons tuiskoms op die oopte van die hart, waar geen mens kan wegskuil nie? Dit was net genade. Bloot genade. Twee diewe Alles wat aan my behoort, het ek dié dag verloor. Besteel, rot en kaal, totaal onverwags. Deur twee vreemdelinge, ’n jong vrou en ’n dogtertjie. Die buurt is gewaarsku oor hierdie nuwe taktiek. Hulle gebruik onskuldiges, en oorval jou dan van agter. Ek het die sagte geklop aan my voordeur gehoor. Soos ’n besoeking van oorkant die groot skeidslyn. ’n Toets natuurlik, of iemand tuis is of nie. Ek het geluister vir die breekysters, ’n broodmes in my hand. Tot die kristalsakrament, die gelag, verdwyn het. In ’n fladdering, soos twee duiwe wat uit ’n sysak ontsnap. Maar ek het op my hoede gebly. Dis wat ek nie verstaan nie. Ek’t die waarskuwing ernstig opgeneem. Ek het geweet hulle sal terugkom. Maar dit alles het my nie gevrywaar teen die bedrog nie. Ek het die deur oopgemaak, mes agter die rug. Hulle het amper moed opgegee, het die vrou gesê. Haar dogter wil graag ’n blaar van my boom hê, omdat dit silwer is. Ek het verby hulle gespeur, vir die gevaar wat agter skuil, die rede vir die lokval. Hulle was brandarm, maar ryklik gekroon met hul glimlagte. Vra God vir ’n blaar, dis sy boom, sê ek nors. ’n Ander man wou ons skiet, het die kind trots gesê, salig onbewus dat sy dan dood sou wees. Ek het gekyk hoe hulle wegstap, geklee in hul klanke. Moeder en dogter. Met hul blaar, hulle wonderwerkie. Niemand het my aangeval nie. Niks meer het gebeur nie. Daardie twee diewe het my kaal gestroop. Vrydag 6 Mei 2005 |