blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Charl-Pierre Naudé se poëtiese kragtoer: `n Resensie van: Charl-Pierre Naudé, In die geheim van die dag (Pretoria: Protea Uitgewers, 2004) 2005-05-05
Pieter Duvenage

Deur Pieter Duvenage
Vrydag 6 Mei 2005

Ongeveer tien jaar na sy eerste bundel (Die nomadiese oomblik, 1995) verras Charl-Pierre Naudé (gebore 1958) die Afrikaanse leserspubliek met `n kragtige nuwe bundel – In die geheim van die dag (die bundel het in 1994 verskyn, hoewel dit eers in Maart 2005 by die Woordfees op Stellenbosch bekend gestel is). Naudé is duidelik geen veelschrijver, soos Luc Renders dit in `n onlangse Poëziekrant stel nie. Na die verskyning van sy eerste bundel (wat in 1997 met die Ingrid Jonker-prys bekroon is), het hy slegs enkele gedigte in plaaslike en oorsese tydskrifte gepubliseer. Sy  reputasie is egter so sterk deur sy eerste bundel gevestig dat Charl-Pierre Naudé na verskeie poësiebyeenkomste in Nederland en Vlaandere uitgenooi is – en ruim in die bloemlesings van André P. Brink (Groot Verseboek) en Gerrit Komrij (De Afrikaanse poëzie in een duizend en enige gedichten) opgeneem is.

Charl-Pierre Naudé is in Kokstad gebore en het in Durban en Oos-Londen grootgeword. Na sy studies (in letterkunde en filosofie op Stellenbosch) is hy sedert die vroeg-1990’s as vryskutjoernalis in Johannesburg werksaam. Wie Naudé ken, weet egter dat hy in die eerste en die laaste plek digter is. By hom is daar geen kortpaaie wanneer dit kom by Dichter wees nie. Dit bly `n misterie dat hierdie vakman van die woord reeds meer as `n dekade in `n wesenlik onpoëtiese stad soos Johannesburg kan oorleef – veral in die mistroostige wyke van Johannesburg-Suid, waar hy hom die laaste tyd tuismaak. Daar is darem gereelde reise na sy geliefde Oos-Kaap en die Wes-Kaapse kus.
 
    In baie opsigte is Naudé se tweede bundel `n skerp breuk met sy eerste een. Die nomadiese oomblik was sterk vorm- en klankgerig met `n groot skeut sonette. Die laaste afdeling van die bundel, veral die briljante slotgedig Vlugtelinge, is `n duidelike verwysing na die vrye vers en verhalende poësie wat sy jongste bundel kenmerk. (Vlugtelinge bevat onder meer hierdie meesleurende reëls: “Hier op die ander kant van die aarde, het ek / gesien hoe die rollende bord van my stamgeheue / met die keerkant na bo tot rus kom , die verhaal / van die Hugenote daarop geverf.”)
            
Soos gestel, is die oorwegende indruk van Naudé se tweede bundel dié van verhalende poësie (selfs gesprekspoësie). Dit is duidelik dat hy hierdeur van die tradisionele digkuns afstand doen. Hieroor laat hy homself soos volg uit: “Digkuns is nie meer vir my sinoniem met die manipulering van die tekstuur van taal nie. Dit is nie vir my sinoniem met die klank nie. Digkuns is vir my eerder `n manipulering van die moontlikhede van verbeelding” (Poëziekrant, September/Oktober 2004, p. 62). Soos Luc Renders dit in dieselfde artikel stel, is die beeld uiters belangrik in die digkuns van Naudé: “In zijn beste gedichten wordt de surrealistische beeldentaal versmolten tot een organisch geheel en wordt voor een ogenblik de tijd gestold ... Via zijn verbeeldingsvluchten, die vertrekken van een specifieke, subjektiewe ervaring, wil de dichter bij een universele waarheid, namelijk de essentie van wat het betekent mens te zijn, uitkomen. Charl-Pierre Naudé is gedreven op zoek naar een nieuwe poëtische taal waarin hij die oudste schrijversambitie kan waarmaken.”           

Vir diegene wat dalk deur Naudé se “nuwe poëtiese taal”, via die verhalende of narratiewe gedig, onkant betrap word, is daar darem die troostende woord dat hy hiermee by die oudste tradisies in die Afrikaanse letterkunde – byvoorbeeld Leipoldt se Oom Gert vertel – aansluiting vind. In die verhalende struktuur van Naudé se nuutste bundel werk hy ook met `n onderbeklemtoonde rym wat (amper ongesiens) eerder van `n “vroulike” (klinkergedrewe) as `n manlike (medeklinkergedrewe) geaardheid is. In dié opsig lyk dit of daar `n verband tussen Naudé en voorgangers soos Eugėne Marais en W.E.G. Louw bestaan. Dit gaan verder ook oor die oopbreek van  poësie uit `n formele keurslyf. Die klem val nie op klankgedrewenheid nie, en die konvensionele retoriese middele van die poësie word onderspeel. By die lees van dié bundel word `n mens egter voortdurend getref deur `n onderbewuste patroon van metrum – `n tipe toon wat amper bedwelmend op jou inwerk. By die bekendstelling van die bundel op Stellenbosch het Louis Esterhuizen bedrewe gewys op die ingetoë manier waarop dié poësie eintlik vormvas is.  

Aspekte van die poësie van Naudé se bundel kan herinner aan digters soos Czeslaw Milosz, Raymond Carver, Yehuda Amichai, Tomas Tranströmer en selfs Ted Hughes, in die sin dat by al hierdie (met uitsondering van Hughes en Carver) kontinentale digters die liriese en die narratiewe poësie voorop staan. In `n onderhoud met my het Naudé verwys na die verskuiwing van `n klankgedrewe na `n meer beeld- en scenariogedrewe poësie in Hughes se Birthday Letters. Wat Afrikaanse invloede aanbetref, is daar moontlik die onderspeelde teenwoordigheid van Marais se “mistieke realisme” en die invloed van Breytenbach.

Maar daar is `n belangrike verskil van Breytenbach. Waar Breytenbach by `n grillige verbeelding uitkom deur middel van `n spel met klank – waarin verbande opgeskort en ondermyn word – is die fokus van Naudé se poësie minder op die tekstuur van die woord, en meer op die verbeelde wêreld agter die woord – en is die fyn opgeboude  netwerk van verbande integraal vir die betekenis.  

In die geheim van die dag se enigmatiese voorblad, van `n Xhosa-seun wat op pad is na inisiasieskool, afgeneem voor `n reuse veselglaspynappel in die Bathurst-distrik, kan gesien word as simbolies van die spanning tussen die tradisie en die moderne. Die bundel word in 9 afdelings verdeel (Paddas reën, Tasbaar en ontasbaar, Voorvadergrond, Kruispaaie, Die aard van verstaan, Semafore, Tweespraak, Tydvakke, Naglopers). Hoewel die titels van die afdelings as leitmotief vir die gedigte daarbinne dien, is die titel van bundel, In die geheim van die dag, deurslaggewend. In hierdie opsig staan die begrip van geheim sentraal. In die laaste gedig (132-133) word dit soos volg gestel: “Selfs die alledaagse word eers merkbaar / as dit oorgeblaas is met duisternis: / ... Die dag het / self donkerte nodig om lig af te gee: `n binnehoffie / ... Diewe weet dit nie. / En die polisiehelikopter daarbo / sien dit ook nie raak nie; // `n deur na binne: / horisontaal verbloem; / vertikaal versteek. / Oop soos die nag. / In die geheim / van die dag.” Vir my persoonlik staan hierdie sonderlinge titel, in die geheim van die dag, op `n filosofiese vlak naby aan die Griekse woord (aletheia) wat, soos Heidegger aangetoon het, op die onthullende maar tegelyk verbloemende aard van enige waarheidsmoment dui. In `n sekere sin knoop al die ander temas in die bundel by hierdie insig aan. Naudé wys op die spanning tussen woord en wêreld, die politiek van naamgewing (vgl. Hoe ek my naam gekry het); die onthullende en versluierende spel tussen geliefdes (vgl. By die buitelandse persdinee); die misterie van tyd en verganklikheid; en die Janusgesig van kolonisasie en genderverhoudinge. Dit is verfrissend dat al hierdie temas (wat in dié resensie bloot die oortjies van die seekoei aanraak) op `n besonne wyse aan die lig kom sonder om in goedkoop sentimentalisme of politieke korrektheid te verval.           

`n Mens sou die lof van hierdie bundel nog verder kon besing. Aan die ander kant loop Naudé ook die gevaar, soos Renders uitwys, om in vergesogte en obskure beelde vas te val. Hierdie kritiek doen egter nie afbreuk aan `n bundel wat beide op vorm- en ideëvlak die Afrikaanse poësie oneindig verryk nie. Vir my persoonlik is dit een van die allerbeste bundels in Afrikaans en verdien dit `n behoorlike lees en kritiese gesprek in ons openbare lewe.    

Vrydag 6 Mei 2005
 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=207
Artikel nagegaan:
    -