blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


“Ek het opnuut die mistieke tradisie in die Westerse Christendom waardeer”: Die Vrye Afrikaan in gesprek met Roof Bezuidenhout oor die Brixton Moord en Roof Orkes se briljante nuwe album Terug in Skubbe 2005-05-05
Vrydag 6 Mei 2005

Die Vrye Afrikaan: Baie geluk met julle briljante nuwe album, wat die Afrikaner-ondergrond beter beskryf as wat dit in `n lang ruk gedoen is. Laat ons dan ook sommer begin by die begrip ondergrond: dis `n begrip wat in die 1980’s baie modieus onder Afrikanerkunstenaars was, natuurlik as metafoor van daardie skaars plekke waar – om Kundera oor skoonheid in The Unbearable Lightness of Being te parafraseer – skeppendheid se staatsvervolgers dit nog misgekyk het. `n Mens kan verstaan dat die ondergrond voorkom in situasies waar magsvergrype hoogty vier, wat tegelyk ook impliseer dat die ondergrond in vandag se Suid-Afrika - waarin deursigtigheid en demokrasie nominaal voorop staan - `n bra saai plek moet wees. En tog is dit te oordeel aan jul album springlewendig en gesond: hoekom dink julle is dit so? En waar is die ondergrond vandag?

Roof Bezuidenhout: Dankie vir die geleentheid om te gesels oor `n projek wat my na aan die hart lê. Dit help om stil te staan en vir `n oomblik ernstig te dink oor dinge waaroor `n mens dalk nie genoeg besin terwyl jy daarmee besig is nie. Alhoewel al vier van ons – Brixton Barnard, Moord Greeff, Kapelaan Pat Plank en ek – bygedra het met lirieke en musiek vir Terug in Skubbe, het die plaat tog `n aantal deurlopende temas. Aan die ander kant het die lede van die band verskillende opinies en benaderings tot die lewe, dus praat ek hier namens myself en hoe ek hulle songs verstaan.

Oor julle eerste vraag wil ek eers `n kort opmerking maak. Ek dink “ondergrond” kan verwys na protes teen `n politieke bestel, of dit kan `n verwysing wees na `n aantal musikale style – soos byvoorbeeld sekere vorme van techno aan die begin van die rave-beweging. Soms val die twee saam, soos met die vroeë punk-beweging in Engeland.

In Suid-Afrika, in die 1980’s, het woorde soos “ondergrond” en “alternatief” kodewoorde geword vir `n aantal dinge. `n Beter beskrywing vir wat die sogenaamde alternatiewes gedoen het, is dalk eerder “protesmusiek”. Ek verwys nou hier na mense soos Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis, Bernoldus Niemand en Randy Rambo. Soms raak mense nostalgies oor daardie dae toe alles so duidelik swart of wit was – daar was min grys. Dus stem ek saam. Die ondergrond is deur protes teen apartheid gedefinieer. Tóg het mense wat oor die algemeen as hoofstroom beskou word van die beste protesmusiek geskryf. Dink maar aan Anton Goosen en David Kramer. Hulle het pragtige songs geskryf soos Atlantis en Skipskop, wat albei oor gedwonge verskuiwings praat. En Kerkorrel se eie musiek het toenemend hoofstroom geword, al het dit `n politieke inhoud behou. Selfs tóé het die onderskeid tussen “alternatief” en “hoofstroom” dus nie altyd sin gemaak nie. Die probleem vir die Bothas het juis gekom toe Voëlvry uit die ondergrond klim en `n populêre beweging word.

Uit die aard van die saak het ons nou meer grys as swart en wit, wat wonderlik is. Die doel van ons plaat was nie om die Afrikaner-ondergrond te beskryf nie. Ek weet nie of daar soiets kan wees nie. “Paul van der Zandt”, wat op `n ware persoon se lewe gebaseer is, praat meer oor die wit club scene in Johannesburg in die vroeë 1990’s – toe alles besig was om te verander. Dit praat oor The Doors, Alcatraz en Thunderdome, oor white trash wat vir hul sondes by die werk moes loop betaal, en oor Luther Lugosi – `n Goth wie se regte naam Albertus Jan Theron was. In Luther/Albertus se geval gaan dit oor die ontkenning van `n Afrikaanse identiteit. Baie van daardie “underground” was juis nie polities nie. Dit was oblivious oor wat in die land aangegaan het. Van hierdie mense is waarskynlik meer deur die dood van Kurt Cobain geraak as die moord op Chris Hani. “Paul van der Zandt” stuur daardie wêreld op, maar ek dink dit word met deernis gedoen. Op `n manier kyk Brixton Barnard, wat dit geskryf het, na sy eie lewe terug – amper met `n wrang nostalgie.

Ek dink `n mens moet versigtig wees om nie die idee van die “underground” te idealiseer nie. Dit gaan nou dalk minder oor die staat en meer oor die mark. Dit gaan oor daardie plekke waar mense iets doen om `n ander rede as om geld te maak. Die Abelarde Sanction in Brixton, die klub waar ons begin optree het, was vir `n tyd lank so. Maar dis baie keer nie `n aangename bestaan nie, soos Brixton Barnard in een van sy ander songs sê: “Hier’s net leë borde in die ondergrond...” Dalk is jy dus reg – dis bra saai. Ek sidder by die gedagte aan `n Afrikaner-ondergrond. Dit sal dalk iets wees soos die gemeenskap in Karel Schoeman se Na die Geliefde Land.

Die Vrye Afrikaan: Bernard Stiegler herlei in sy jongste werk, 2004 se Oor simboliese ellende, die opkoms van die populistiese regses in Frankryk, asook die toename in “redelose” individuele geweld na die verwoestende effekte wat die globale mark in gestandaardiseerde bewussynsinhoude (rolprente, musiek, TV-uitsendings, ens.) op gemeenskappe se eie simboliese tradisies het. Hy praat byvoorbeeld van die Franse massamoordenaar, Richard Durn, wat in November 2002 helderoordag agt stadsraadslede van Nanterre uitgewis het, en later geskryf het “Ek wou vir een keer in my lewe iemand wees”. Dis moeilik om te luister na Stil ou (“Jy wil lostrek, trek, koppe moer toe blaas”) sonder om hieraan te dink. `n Mens dink ook aan die verskynsel van bendes jong Afrikaners uit gegoede skole wat blykbaar in Hatfield, Pretoria afgebakende gebiede het, en voorvalle van “redelose” geweld waarvan jong Afrikanermans die afgelope jare beskuldig en aangekla, of waaraan hulle skuldig bevind is, net soos wat jong swart en bruin seuns nà 1976 al hoe meer gewelddadig begin handel het. Kan dit wees dat ons in beide gevalle te make het met `n koloniale staat wat ouers (en veral vaders) simbolies so kastreer en verneder dat die seuns by gebrek aan gesag rebelleer teen die gesagsvakuum self? En hoe dink julle kan hierdie uitbrake van jeuggeweld anders stopgesit word as deur net die gebruiklike staatsmasjinerie van polisie, regbank en tronk (waar die geweld verder geïnstitusionaliseer word) in te span?

Roof Bezuidenhout: Op skool het ek self `n kafeevenster of wat uitgeslaan en is al hardhandig deur die polisie reggesien. Ek verstaan nou nog nie heeltemal hoekom `n mens sulke dinge doen nie. Nietemin, jy praat van die “globale mark se gestandaardiseerde bewussynsinhoude” wat bots met “gemeenskappe se eie simboliese tradisies”. Dit gaan oor die spesifieke – of dit wat uniek is – in mense se identiteite en hoe dit bots met die algemene – of die generiese – in die wêreld soos weergegee in die massamedia.

Op `n manier praat ons daaroor in Fortuinverteller. Die persoon wat aan die woord is, besoek `n fortuinverteller se karavaan. Sy palm word gelees en daar word in `n kristalbal gekyk. Sy probleem is egter dat hy nie veel in sy toekoms belangstel nie. Dis juis sy verlede wat vir hom duister is. Die refrein klink so:

Jy sê jy ken die toekoms, jy kan dit duidelik lees,
kaarte en kristalle sê wat die uitkoms kan wees.
Ek gee jou my palm, jy lees my lewenslyn,
maar weet jy, my verlede het lank reeds verdwyn.
Hierdie woorde en sinne het ek iewers geërf,
maar die taal wat ek praat het lank terug gesterf.
Ek het eendag vergeet waar kom ek vandaan,
waar my huis is, my land is, of die klank van my naam.

Dit gaan hier nie oor Afrikaans as sulks nie. Dit gaan oor `n algemene verlies aan identiteit. Ek dink baie mense worstel hiermee. My probleem is egter dat `n mens nie sonder meer tradisie as goed en die globale as boos kan beskou nie. Soms moet `n mens ook ontsnap van beklemmende plaaslikheid, as daar so `n woord is. Dalk gaan dit terug na Kundera se gesprek oor Parmenides en binêre opposisies in The Unbearable Lightness of Being. Ek dink nie die plaaslike en die globale hoef noodwendig teenoor mekaar opgestel te word nie. Maar ongelukkig word rassisme, seksisme en homofobie baie keer as deel van “gemeenskappe se eie simboliese tradisies” verdedig en geregverdig. Fortuinverteller is met ander woorde nie net `n klaaglied nie, dit vind betekenis in die oomblik wanneer identiteit in die hede opgehef word:

Kan die rinkel van juwele my vir `n oomblik laat rus,
die swaai van jou heupe my stadig, stadig sus?

En later:

Die son kom op, dis môre, alles is verklaar;
my lewenslyn gebroke, my kaarte deurmekaar.
Ek vat die pad soos altyd, soek kos en `n dop –
vir `n oomblik nog bedwelm teen die duiwels in my kop.

Ek weet dit klink nou vreeslik aanstellerig, maar dalk kan `n mens praat van die erotiek van identiteitloosheid. Dit is vir my die teenoorgestelde van geweld. Die fortuinverteller het self nie `n land of `n taal nie. Sy is deel van mense wat `n swerwersbestaan voer. Orals waar hulle kom, is hulle onwelkom. Dis juis hier waar die persoon wat aan die woord is betekenis vind – vir `n oomblik – in die swaai van haar heupe en die aanraking van haar vingers. Hulle vind `n stukkie menslikheid in die hede, waar die toekoms of die verlede onbelangrik word. Noem dit escapism as jy wil, of selfs dalk nihilisme, maar sulke oomblikke is juis belangrik om `n mens sy menslikheid te laat behou.

Ek dink baie van die karakters in Terug in Skubbe – Sussie met haar sekslose man en haar fantasiewêreld, Salomé wat in die kroeg werk, die biker wat nie die landskappe om hom sien nie, die diaken wat vir pornografie op die web surf – is buitestanders op hul eie manier. Elkeen het `n duiwel wat hom of haar jaag. Maar hulle het tóg maniere om met daardie duiwels te worstel en om antwoorde te vind, al is dit dan net om hulle stories vir mense op `n plaat te kom vertel.

Stil ou is `n meer desperate saak. Dit pas in by die algemene tema van die plaat – omgekeerde evolusie, of involusie, as jy wil. Dalk pas dit die profiel van Richard Durn. Dis baie keer die stil outjies wat die enkele groot, groteske daad pleeg. `n Ander voorbeeld is die Boomtown Rats se Tell me why I don’t like Mondays… Toe hulle die skoolmeisie vra hoekom sy die mense doodgeskiet het, was dit haar antwoord: “Ek hou nie van Maandae nie.” Al klink dit totaal irrasioneel, kan `n mens nie help om `n bietjie daarmee te identifiseer nie.

Of die seuns van Hatfield en Waterkloof rebelleer teen `n koloniale staat wat hulle vaders simbolies kastreer en verneder, weet ek nie. Ek ken hulle nie en ek kan net spekuleer. Ek weet nie of ek ons huidige staat as koloniaal sou beskryf nie. Maar dit ter syde, mag daar waarheid in jou stelling steek. My probleem is egter dat die onderliggende aanname is dat die vaders geen “agency” het nie – dat hulle bloot slagoffers is. Baie Afrikanermans voel nie gekastreer nie, juis omdat hulle met kwessies soos skuld en verantwoording worstel en dit verwerk. Waar die probleem inkom, is by die verlies aan mag en individue wat sukkel om dit te verwerk.

Oor hoe `n mens sulke geweld kan bekamp met ander kanale as die staatsmasjinerie is ek ewe onseker. Dit sou arrogant wees om te dink dat musiek `n rol kan speel. Maar dalk is dit soms goeie terapie. Ons sing juis oor dinge wat ons nie verstaan nie. Stil ou is `n goeie voorbeeld hiervan. As iets “redeloos” is kan `n mens dit mos per definisie nie verstaan nie.


Die Vrye Afrikaan: Spoed vang iets vas van die sug onder middeljarige en miskien veral jong Afrikaners om die tyd (verlede) en ruimte (landskappe) van hul wêreld te vergeet, om `n soort sussende bedwelming in die onophoudelike beweging te kry. Tog is daar weer ander snitte op die album (Goud in my Brandy en Coke of Trane van `n Terroris) wat `n ander manier van onthou voorstel. Kan hierdie ander manier van onthou terapie vir die hede wees, eerder as die hoogs winsgewende terapiebedryf wat julle so skitterend opstuur in Terapie?


Roof Bezuidenhout:
Ai tog, nou is ons terug by Milan Kundera. Hy het iewers geskryf dat `n mens vinnig op `n motorfiets ry as jy wil vergeet. As jy wil onthou, loop jy onwillekeurig stadiger. Ek dink dit was in Slowness – `n wonderlike boek! The Book of Laughter and Forgetting handel ook oor onthou en vergeet. Dis waaroor Spoed gaan. Ons steel ook natuurlik by Andries, Ingenieur Jacobs se robot in Ek het jou gemaak, daardie kortverhaal van Jan Rabie. Spoed en Terapie praat met mekaar en met die ander songs op die plaat – spesifiek Vis, die titelsnit.

Voor ek jou vraag beantwoord, moet ek dalk eers iets oor die idee van “Terug in skubbe” sê – dis immers die oorhoofse tema op die plaat. Moord Greeff, ons tromspeler, het die liriek geskryf. Dit praat weer met DJ Opperman – in besonder met Komas uit `n bamboesstok. Opperman het die bundel mos geskryf na hy van voor af moes leer praat, lees en skryf na `n beroerteaanval. Die beroerte was waarskynlik ook deels `n gevolg van sy gebruik van alkohol. Ons haal die volgende reëls op die omslag aan:

trap versigtig
o altyd so versigtig
vir die gly,
vir die terugglip tot vis

In Vis draai Moord die tema `n bietjie om. Hy sê: “Sit my terug in skubbe, ek wil `n vis wees.” Die terugglip tot vis is nie `n waarskuwing nie, maar `n versugting. Dis `n smagting na ontmensliking. Om te suip soos `n vis, word deel daarvan. Die mens word weer `n dier – `n vis wat o a o a o a met sy lippe maak, `n hond, of `n voël wat aan sy eie sere pik: “Vat nou dadelik terug my gees...” Julle woorde “sussende bedwelming” som dit nogal goed op!

Spoed gaan ook hieroor. Dis iemand wat op sy motorfiets probeer wegjaag vir die voorstedelike lewe. Aan die einde van die song vra die biker die volgende vraag:

Wat is die lewe, wat is die liefde?
Alles kom tot niks as jy stil gaan staan.
Met jou vuis om die throttle en jou voet op die rat
kan die langpad jou vat waar hy jou heen moet vat.
En as jy stilhou kom die duiwel jou haal
vir jou huisie in die suburbs met `n halsband aan...

In Terapie sit die ou by die kroeg en praat met sy sielkundige wie se naam en van Jack Daniels is. Hy kyk neer op die middelklas wat oor naweke hulle karre was, bid dat die rentekoers stabiel sal bly en sielkundiges gaan spreek oor hulle onsekerhede. Hy drink homself in `n koma in. Aan die einde kom `n mens agter dat dit `n midlife crisis en `n mislukte affair is wat hom sy posisie in die middelklas laat prysgee.

Vis, Spoed en Terapie deel `n harde rock-inslag. Dis vol bravade, maar diep ironies en onseker. Juis daarom dink ek nie `n mens hoef hulle noodwendig anders te lees as Goud in my Brandy en Coke en Trane van `n Terroris nie. Elkeen worstel met persoonlike verval op `n eie manier. In Salomé se lot ontmoet hulle die meisie aan die ander kant van die toonbank wat die drank inskink. Ek skrik nou self vir die sentrale tema van “suip soos `n vis”. Miskien moet ons hulp kry!

Die Vrye Afrikaan: Julle werk stoei baie met die uitwasse wat eers verstaatliking en later ontstating (na 1994) onder Afrikaners as gemeenskap veroorsaak het. In die proses kry julle dit reg om dié gemeenskap as’t ware van onder af op `n esteties aantreklike en moreel legitieme wyse te herbesoek. Hoe moontlik is so iets vandag? En hoe doen jy dit veral sonder om weer die gevelle draak van ekslusiewe nasionalisme en sy rassistiese ondermaag te laat herleef?


Roof Bezuidenhout:
Op hierdie moeilike vrae het ek nie raad nie. Ek weet nie of die draak van eksklusiewe nasionalisme dood is nie. Ek weet nie of ons dit regkry om Afrikaners as `n gemeenskap op `n esteties aantreklik en moreel legitieme wyse te herbesoek nie. Daar is baie Afrikaanse gemeenskappe. Hulle is gefragmenteer en woon reg oor die wêreld. Spergebied, ons eerste plaat, het dalk meer direk hieroor gepraat. Die lede van die band het verskillende opinies hieroor. Ons baklei soms daaroor. Ek dink met Voëlvry het Afrikaanse musiek `n ironiese fase betree. Dis dalk die beste manier om met kwessies soos skuld te worstel sonder om respek vir jouself te verloor. Maar gewoonlik volg daar `n ander fase hierop. Ironie raak vinnig leeg. Op `n stadium moet jy terugkeer na iets anders. Dus, alhoewel ek dink dis waar ek die beste inpas, is die ironiese fase se stoom op.

Daar is reeds twee strominge in Afrikaanse musiek wat spook om dominansie. Beide hierdie strome is deel van wat `n mens dalk die nostalgiese fase kan noem.

Die een probeer om alles wat om ons aangaan, te ontken. Dit hunker na `n onskuldige wêreld wat nooit bestaan het nie. Dis `n voortsetting van die ou hoofstroom, maar op `n manier word dit soos baie Engelse Suid-Afrikaanse musiek. Die verwysingspunt is elders of slegs in die ruimte van die persoonlike. Dit sing oor liefde en die natuur, liefde en paartie, en liefde en vriende. Baie van die musikante in hierdie stroom doen dit vir die geld, maar ander glo werklik in die liefde. In populêre kultuur verkoop die liefde beter as ander temas.

Maar daar is ook `n ander nostalgiese stroom wat sê: “Wel, fok jou dan óók!” Dit het `n politieke inhoud, alhoewel baie van die mense wat deel daarvan is, so clueless is dat hulle dit nie kan insien nie. Dis `n nuwe geslag wat nie in die weermag was nie en wat te jonk was om die bomme in winkelsentrums te onthou. Hulle was ook te jonk om die ironiese fase te kon waardeer. Hulle verstaan doodeenvoudig nie wat Koos Kombuis in Swart September sê nie, want hulle is lank na 1984 gebore. Dis hulle wat volksliedjies en Die Stem in die kroeg sing. Hulle hunker na `n land sonder misdaad en regstellende aksie – verkieslik een sonder enigiemand wat nie wit en Afrikaans is nie. Die woord “trots” word baie gebruik. Hierdie stroom is baie sterker as wat mense dink.

Ek weet nie heeltemal hoe om op enige van hierdie strome te reageer nie. Ek weet nie waar ons inpas nie. Ek is baie bang dat mense my eie klaagliedere as strydkrete sal sien. Dalk voer ek self daardie draak waarvan jy praat? As dit die geval is, sal ek ophou om Afrikaanse musiek te maak.

Die Vrye Afrikaan: Julle gee nie jul CD’s by `n korporatiewe maatskappy uit nie, en vermoedelik is lugtyd in die musikale hoofstroom - soos vir alle goeie musikante vandag – vir julle die uitsondering eerder as die reël (wat seker ook impliseer die ondergrond is vandag daar waar die mark nog nie sy tentakels ingeslaan het nie)! So `n posisie is sekerlik die voorwaarde om met integriteit musiek te maak, maar hoe doeltreffend is jy dan? En dink julle dat musikante van integriteit sal kan standhou teen die globale bewussynsmark wat ons almal dieselfde wil laat voel, glo en dink?

Roof Bezuidenhout: Julle stel “julle verkoop minder CD’s as ander mense” op so `n mooi wyse!

Ons is nou al `n tydjie lank by Rhythm Records. Dis Albert du Plessis se maatskappy en hulle is ook verantwoordelik vir Valiant Swart, Koos Kombuis, Laurinda Hofmeyr, Die Naaimasjiene, Fokofpolisiekar en `n hele paar ander musikante. Dis mense in wie se geselskap ek gemaklik voel.

Ek probeer nie aspris om nié hoofstroom te wees nie. Ek wens ons musiek was. Maar ek kan nie gaan sit en dink “dis nou wat mense wil hoor” en dan iets skryf waarvan hulle sal hou nie. Ek het baie respek vir mense wat dit wel regkry. Dit sit nie in enigiemand se broek nie en dit het nie noodwendig minder integriteit nie. Ek beskou myself nie as `n kunstenaar wat verhewe is bo sulke dinge nie. Op die ou end vermaak ons almal mense. En Afrikaanse mense het nie swakker smaak as ander mense nie. Die punt is net dat daar baie min Afrikaanse mense is. As jy in Engels `n nismark bedien – as ek nou die terminologie van markte moet gebruik – is dit baie groot. Enigiets soortgelyks in Afrikaans het noodwendig `n kleiner mark. Rockers moet ophou wroeg daaroor. In ons konteks is dit implisiet deel van die keuse wat jy maak as musikant. Dis die vloek van klein tale en die feit dat die helfte van die sprekers van die taal vervreem is. Ronelda S Kamfer skryf in Nuwe Stemme 3:

ek het `n geheime lewe
`n geheime obsession
ek like, wel... ek like Afrikaanse musiek
okay, sue my!

Die Vrye Afrikaan: Die charismatiese beweging onder Afrikaners het groot munt geslaan (toespeling bedoel) uit die heengaan van Afrikanernasionalisme en apartheid. Tog is julle kritiek op die misbruik van die religie eintlik maar net bepaal tot die bekende onderdrukkende kragte in die Calvinisme, wat lankal nie meer is wat dit was nie. Om die waarheid te sê, lyk die oorblyfsels van Calvinisme teenoor die patologie van die charismate vandag soos `n skadelose ou oom met valstande. Waarom gee julle so min aandag aan die charismate? Anders gestel: is julle kritiek op die Calvinisme nie vandag so `n bietjie soos om `n hond wat reeds lê nog `n skop in die ribbes te gee nie (sonder om te sê die hond het nie ook op sy dag sy ponde vleis verorber nie!)?

Roof Bezuidenhout: Ek dink nie ons skop bewustelik na `n Calvinistiese hond nie. As dit so is, is dit per ongeluk. Ek het draaie deur Calvinistiese en charismatiese kerke gemaak. Elkeen het maar sy eie patologieë. As ek nou `n keuse tussen die rede, emosie en ritueel in religie moet maak, sal ek ritueel kies.

Ek het op pad na OppiKoppi se Dust on My Meerkat Festival oor die Paasnaweek na Classic FM geluister. Hulle het wonderlike stukke gespeel oor die kruisiging en opstanding van Christus – ek dink JS Bach se St Mattheüs-passie kon een daarvan gewees het. Dit het gemaak dat ek opnuut die mistieke tradisie in die Westelike Christendom waardeer het. Later het die ontvangs swak geraak en ek moes na Radiohead oorskakel.

Leonard Cohen het juis op `n slag vir John Lennon gekritiseer omdat hy `n mistieke tradisie in die Ooste gaan soek het. Cohen meen daar is reeds `n diep tradisie in die Joods-Christelike wêreld. Miskien is hy reg. Ek weet: soos John Lennon kyk jy (Johann Rossouw) oos. Vanwaar ons is, is dit tegnies gesproke seker noord-oos. Mense soos jy, Breyten Breytenbach en Karel Schoeman wys in hierdie opsig dat tradisie nie staties of beklemmend hoef te wees nie. Daardie “eie simboliese tradisies” kan tog deur die wêreld reis.

Maar veel meer as dit het ek nie te sê nie. Die ander lede van die band het sterker opinies oor religie – ek dink meestal redelik negatief.

Die Vrye Afrikaan: In `n sekere sin het `n totaal nuwe verdelingslyn vandag wêreldwyd in gemeenskappe ontstaan tussen diegene wat geesdriftige (en dikwels onkundige) aanhangers van die globale bewussynsmark vanaf winkelsentrums tot charismatiese kerkgeboue is, en diegene wat die ou dinge op nuwe maniere in `n nuwe wêreld wil ontgin. Wat dink julle van dié verdeling, en hoe speel julle daarop in?


Roof Bezuidenhout:
Kleurvolle tradisie praat oor Brixton Barnard se wrewel teenoor winkelsentrums. Hy is nou nog meer ontsteld omdat `n mens nie daar mag rook nie.

Ek het hier `n probleem met die wyse waarop jy die globale as die bose en die plaaslike as die goeie teenoor mekaar stel. Dis meer kompleks. Ek hou van die grys gebiede tussenin. Die homogeniserende effek van globalisering is nie `n noodwendigheid nie. As die wêreldekonomie `n fase van groter krisis binnegaan, is kapitalisme heeltemal in staat om etniese nasionalisme te mobiliseer om sulke tye van krisis te weerstaan – die fascistiese state van Europa is goeie voorbeelde hiervan. Die VSA loop ook die gevaar om `n volskaalse fascistiese moondheid te word.

So, `n mens moet onthou dat markte heeltemal in staat is om die plaaslike uit te buit. Kyk maar hoe melk van die Suid-Afrikaanse mediamaatskappye sentimente rondom Afrikaans om hulle uitbreidings in ander lande te befonds. Al die borgskappe dra by tot `n oorbeheptheid met die toekoms van Afrikaans en tot die huidige vlaag van etnosentrisme. In sulke gevalle is die kosmopolitiese baie keer `n vars briesie deur die stank wat deur parogiale plaaslike vestings gekweek word.

Die Vrye Afrikaan: Wat moet kunstenaars vandag doen om seker te maak hulle werk vir die gemeenskap en nie vir die mark nie? Of is dit `n kwessie van `n voortdurende balanseringstoertjie, waar alles nie so swart of wit is nie?

Roof Bezuidenhout: Sjoe. Ek is nou uitgeput. Ek dink julle beantwoord self die vraag en ek stem met die antwoord saam.

Ons sal lieg as ons beweer ons doen nie bemarking nie. Op die oomblik is die mark die dominante instelling wat `n mens gebruik om jou plate by die gemeenskap uit te kry. Ons is maar te bly as mense ons plate koop.

Ek het vroeër teen nostalgie uitgevaar. Maar ek is ook bly as mense plate koop wat hulle net vermaak, wat nie so ernstig is nie, wat maak dat hulle kan ontspan na `n dag se moeilikheid met die baas by die werk. `n Mens wil nie altyd gekonfronteer word met iemand se wroeging oor die lewe nie. Musiek is ook daar om te ontsnap – soos die ou op die motorfiets in Spoed. Ek hoop mense vind dit ook in Terug in Skubbe. Ek hoop hulle kan soms rof dans, suip, of half bedwelm in die stof rondrol terwyl hulle na ons musiek luister. Dis óók belangrik en dis deel van menswees. Altans, ek dink so.

* Bestel Terug in Skubbe by www.oneworld.co.za

Vrydag 6 Mei 2005


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=206
Artikel nagegaan:
    -