blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die mobilisering van gesprek: Nabetragting by die KKNK 2005 se Oopgesprekkereeks 2005-05-05
Desmond Painter

Deur Desmond Painter
Vrydag 6 Mei 2005

Die Burger se lesingreeks, van hierdie jaar af Oopgesprek genoem, is al `n instelling by die KKNK. Omdat ek nie voorheen by die lesingreeks betrokke was nie, is ek in die gelukkige posisie om nie vergelykings te kan tref met vorige jare nie. Ek kan bloot my mening gee oor wat hierdie jaar bereik is. En dit is heel maklik: wat my betref was Oopgesprek `n groot sukses. Daar was insiggewende lesings deur goeie en onderhoudende sprekers, en vol sale is meermale getrek – selfs al is die lesings redelik vroeg in die oggend aangebied en het sprekers en gehoor soms erg kompetisie gehad van die luide musiek wat van omliggende tente die saal binnegedoef het. As die doelwit is om intellektuele gesprek na die markplein te bring, moet `n mens seker nie verwag die markplein sal sigself soos `n universiteitsgebou gedra nie, maar darem... Ek kan maar net hoop die organiseerders sal volgende jaar `n bietjie meer stilte kan beding tussen en 09h00 en 11h00 in die oggend.

    Hierdie oordaad van vals note het darem nie verhinder dat ek van meer as een persoon gehoor het dat Oopgesprek vir hulle `n hoogtepunt by hierdie jaar se fees was nie. Ek kan aan verskeie redes dink waarom die reeks so suksesvol was. Eerstens help dit natuurlik om “bekende” sprekers te hê. Mense soos André Brink, Hermann Giliomee, David Kramer, Allan Boesak en Franklin Sonn, om maar net `n paar name te noem, sal op grond van hulle openbare profiele vanselfsprekend gehore lok. Maar terwyl dit, veral in ons selebriteitskultuur, moontlik sou wees om sprekers te nooi suiwer omdat hulle bekend is en gehore sal lok, was die balans in Oopgesprek perfek: een en almal van die bekende sprekers het iets substansieel gehad om te sê. Die balans was ook goed in die sin dat ewe uitstekende lesings deur minder bekende name gelewer is, en dat `n nieakademiese gehoor blootgestel kon word aan sprekers soos Bert Olivier, Andrew Foley en Margaret Legum – om weer eens maar net enkele name arbitrêr uit die hoed te trek.

    Tweedens was die sentrale Rembrandt-saal, net agter die CP Nel-museum, `n gelukkige keuse vir `n lokaal – ten spyte van, weer eens, die lawaai. Eerder as `n formele lesinglokaal het dit die gevoel gehad van `n gemeenskapsaal – `n ruimte waar eg openbare vergaderings en debatte plaasvind. Die versiering van die saal met grepe uit gedigte teen die mure en die gemaklike rusbanke (minstens vir die voorste rye) het verder bygedra tot `n klimaat van openbare en deelnemende gesprek.

    Derdens is die gesprekke en vraagsessies uiters professioneel gehanteer deur die gesprekleier, Mariëtta Kruger, en het gehore met goeie vrae en insiggewende opmerkings bygedra tot sinvolle debatte deur onbeskroomd mee te doen aan die gesprek.

    Vierdens moet die bindende en rigtinggewende rol van die oorkoepelende tema nie onderskat word nie. Die tema hierdie jaar was “Mense en Grense”. Gerrit Brand, die Oopgesprek-koördineerder, het dit in die KKNK-program soos volg saamgevat: “Ons wil allerlei grense aftas – tussen identiteite, tale, tradisies van heil en heling, Suid-Afrika en Afrika, arm en ryk, binne- en buitelanders, musiekstyle en tydvakke. Waar lê die grense? Is hulle aan die verskuif? En wat maak mense met dié grense? Verskaf hulle geborgenheid of perk hulle in? Bestendig ons hulle of druk ons teen hulle aan?”

    `n Hoogs relevante onderwerp, en `n reeks dwingende vrae. Dit sou nie moeilik wees om aan te voer dat die fenomeen van grense, fisiek sowel as simbolies, vervagend sowel as ontluikend, inderdaad een van die belangrikste knelpunte in die hedendaagse politiek is nie. Vir baie kommentators draai die wese van die politiek vandag wêreldwyd juis rondom ons bemiddeling van die grense tussen privaat en publiek, ryk en arm, Noord en Suid, om maar enkeles te noem. Die breë tema het dus by uitstek gedien om potensieel uiteenlopende onderwerpe saam te bind in `n reeks koherente vrae, soos: Waar lê die grens tussen Suid-Afrika en Afrika? Tussen tradisionele en moderne geneeskunde en spiritualiteit? Tussen globale en inheemse musiektradisies? Tussen kultuur, gemeenskappe en die mark? Tussen `n nasionale Suid-Afrikaanse identiteit en subnasionale en/of transnasionale vorme van identifikasie? Tussen kapitalistiese winsmotief en die omgewing? In die proses is grense hier nie net afgetas nie, maar grondig bevraagteken.

    Dit behoort geen verrassing te wees dat die status van Afrikaans en ander inheemse tale in meer as een lesing, en nie net in sessies wat spesifiek aan taal gewy is, aan die orde gekom het nie. Aan die een kant is dit natuurlik toe te skryf aan die feit dat die taaldebat tans `n hoë profiel in die Afrikaanse media geniet, en dat hierdie immers `n Afrikaanse kunstefees is. Maar aan die ander kant is dit ook so dat taal inderdaad `n belangrike rol speel in uiteenlopende kwessies soos nasionale identiteit en transformasie, gemeenskapsbelange, ekonomiese bemagtiging, onderwysbeleid, en die demokrasie self. Taal, in meer as een konteks en op vele maniere, speel `n rol in die neerlê, herdefiniëring en opheffing van grense. Anders gestel, tale sluit mense in sowel as uit – by konstruksies van identiteit en kultuur, skole en universiteite, die ekonomie. Dit is dus belangrik om te meld dat die debat oor Afrikaans en ander inheemse tale hier nie beperk was tot besinnings oor etniese en kulturele grense nie, maar dat daar ook aandag gegee is aan die rol van taal in die grense wat opgerig en afgebreek word in prosesse van ekonomiese ontmagtiging en bemagtiging.

    Miskien selfs belangriker as wat oor taal gesê word, is die tale waarin dit gesê word. Dit sou immers ontoepaslik wees om aan te hou agiteer vir veeltaligheid, maar dan nie self daad by die woord te sit nie. Dit was dus verblydend dat Afrikaans en Engels nie die enigste tale is wat by hierdie jaar se Oopgesprek gehoor is nie. Minstens twee sprekers het in Afrikatale gepraat en van tolke gebruik gemaak. Dit is maar die eerste, klein treë in `n proses wat hopelik verder gevoer sal word. Ideaal gesproke sal daar veel meer swart sprekers wees, en veel meer sprekers wat in tale anders as Engels sal praat. Die rede hiervoor is nie net dat dit gehore aan ander opinies en denkbeelde sal blootstel nie, maar dat dit vir die meerderheid (veral wit) Afrikaanssprekendes waarskynlik `n unieke ervaring is om vanaf `n openbare verhoog, in `n ernstige gesprek, waarvoor hulle boonop betaal het om te hoor, in `n Afrikataal aangspreek te word. Ek dink dit is `n baie belangrike ervaring, en een wat hopelik sal bydra tot die erodering van `n verdere grens: die een wat so lank `n beeld van Afrikatale as onvanpas vir die openbare en intellektuele lewe in stand gehou het.

    Hierdie jaar is daar reeds tolkdienste verskaf vir sprekers wat nie Afrikaans magtig was nie, sodat hulle die ander sprekers en vraagstellers kon verstaan. Die volgende stap is om toenemend voorsiening te maak vir lede van die gehoor wat nie Afrikaans magtig is nie – want daar was sulkes, en daar sal hopelik toenemend sulkes wees. Hierdie afbreek van taalgrense, juis deur vele tale teenwoordig te hê en die geleentheid te skep om tussen hulle te beweeg, is `n belangrike groeipunt en kan van Oopgesprek `n unieke openbare forum in die Suid-Afrikaanse kulturele en politieke landskap maak.

    Benewens die Oopgesprek-lesings was daar ook drie ander forums waar gesprek gevoer is. Die eerste was Warm Patat, twee sessies waartydens omstrede onderwerpe bespreek is wat eers ten tye van die fees aangekondig is (die gesprekke het gegaan oor die vorm wat `n Afrikaanse taalpolitiek moet aanneem en oor spraakvryheid en haatspraak). Die tweede was Seepkis, `n poging om iets soos Londen se Speakers’ Corner op dreef te kry, waar die mikrofoon beskikbaar is vir enige lid van die publiek wat iets wil sê. Die derde was Kunskafee, waar verskeie feesproduksies bespreek is. Al hierdie forums was relatief suksesvol, maar het myns insiens tog gely onder swak promosie aan die kant van die feesorganiseerders. Hopelik sal daar volgende jaar hieraan aandag gegee word, en sal hierdie forums verder gebruik kan word vir onbeplande debatte en vir bespreking van kwessies wat oorspoel uit Oopgesprek en ander feesproduksies.

    Ten slotte, om in die mobiele tye waarin ons leef `n openbare gesprek aan die gang te kan hou, moet `n mens waak daarteen om die openbare sfeer suiwer ruimtelik te interpreteer. In hierdie sin was dit goed dat Oopgesprek van meet af aan die Rembrandt-saal oorskry het. Die Burger se Ronel Bester het daagliks deeglik verslag gedoen oor die vorige dag se lesings, RSG se Iris Bester het na afloop van elke lesing met geselekteerde sprekers gesels, en intussen het van die lesings drupsgewys in teksvorm op veral Litnet, maar ook in Die Vrye Afrikaan, begin verskyn. Die taak van Oopgesprek moet wees om idees en perspektiewe letterlik te mobiliseer – tussen mense, media en tale. Die pas afgelope reeks het dit duidelik gestel dat ons reeds op pad is.

Vrydag 6 Mei 2005


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=205
Artikel nagegaan:
    -