|
||||
Régis Debray en Jean-François Colosimo Is dit nie in die aangesig van ideologiese, identiteits- en religieuse sekularismes dringend nodig om weer vars en nuut oor “die religieuse feit” te dink nie? Dit is hierdie waaghalsige benadering wat Régis Debray volg in sy jongste verfrissende werk, Les Communions humains. Pour en finir avec << la religion >> (Die menslike kommunies. Om met “die religie” klaar te maak) (Parys: Fayard, 2005) (1). Om daaroor met hom te debatteer, die ortodokse teoloog Jean-François Colosimo, skrywer van Silence des anges (Stilte van die engele) (Parys: Desclée de Brouwer, 2001), en tans besig met `n boek oor die Amerikaanse burgerlike religie. Onderhoud gevoer deur Frédéric Fritscher en Alexis Lacroix Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw *Hierdie bydrae is oorspronklik geplaas in Le Figaro van 4 Maart 2005. Die Vrye Afrikaan spreek sy dank teenoor Le Figaro uit vir die toestemming om hierdie vertaling te publiseer. Die kopiereg berus by Le Figaro/ F. Fritscher en A. Lacroix Vrydag 6 Mei 2005 Le Figaro: Sien ons sowat die laaste twee dekades die wraak van God wat Malraux se gevierde voorspelling (2) vervul? Régis Debray: Nadat ons hulle vir lank as folkloristies beskou het, ontdek ons veral in watter mate kollektiewe identiteite strukturerend en handelend is. Die individuele onderbewuste is reeds verhelder. Die kulturele of kommunitêre onderbewuste bly nog in die skaduwee: dit is die verleentheidskeppende onbedinkte van ons liberale wêreld. Die kollektiewe ywers neem dikwels patologiese gestaltes aan. Die libido ook. Beteken dit ons moet die gelaat in die aangesig van die identiteitspatos bedek? Alle duursame groeperings plaas `n kommunie in die spel. As ek vir `n oomblik kan terugkeer na die rewolusionêre jare in Suid-Amerika: deur my kontak met Che Guevara en tientalle ander makkers van verskillende nasionaliteite het ek ontdek dat dit nie voldoende is om `n ateïs te wees om uit die religieuse te tree nie. In `n sekere sin is dit die mees direkte pad om daarheen terug te keer. Daar is per slot van rekening nie priesterliker of sakraliserender samelewings as dié waarin die ateïsme verpligtend was nie. By kollektiewe gedrag bied individuele materialisme ook nie skuiling teen `n kompulsiewe soeke na transendensie nie, of dit nou die proletariaat, die mensdom of die geskiedenis genoem word. Dit is banaal, maar dit is tyd om te weet waarom dit so is. Le Figaro: In Les Communions humains gee u aan hierdie behoefte aan transendensie die naam “kommunies”. R.D.: Myns insiens dwaal ons as ons van dit wat bekendstaan as religie - `n woord wat ek bevraagteken - `n randeienskap maak, nes `n vervalle vleuel van die kasteel van die menslike bestaan waarin ons van tyd tot tyd graag uitrus… Die term kommunie het die verdienste dat dit die konvensionele grens tussen die gelowiges en die ongelowiges uitwis of relativeer. Die eintlike grens is die een wat die eensame subjek - die denker in sy koninkryk wat goed sonder kommunie kan klaarkom – skei van die durendheid van `n gekonstitueerde menslike geheel. Dit is altyd toelaatbaar om areligieus te wees as `n mens in die geselskap van boeke leef. Maar vanaf die oomblik dat `n mens `n groep vorm – en `n aparte groep – is dit nodig dat die beginsel van “kommunie” intree. Of dit nou op die bonatuurlike betrekking het of nie, lyk nie vir my wesenlik nie. Jean-François Colosimo: Dank moet allereers gaan aan Régis Debray vir die afsluiting van `n siklus wat 25 jaar gelede begin is met Critique de la raison politique (Kritiek van die politieke rede) (3) deur `n terminologiese staatsgreep wat tegelyk metafisies is. En dit doen hy sonder om in beginsel enigiets prys te gee van `n ateïsme waarvan die intelligensie nie anders kan as om verwoestend te wees nie, vir byvoorbeeld die warboel van onakkuraathede en benaderings wat `n Michel Onfray salig bly herhaal. Die verskynsel wat voorgestel word as `n “wraak” of eerder `n “terugkeer” van die religieuse kom voor aan die einde van `n honderd jaar of wat waartydens Europa haar laat mislei het deur die wrede illusie waarvolgens die dood van God die mens sou verlewendig. Vanaf die Eerste Internasionaal tot die Val van die Berlynse Muur het ons beskawing geglo – en dit het inderdaad om `n oortuiging gegaan – dat sy klaar is met die duister, met bygeloof, maar ook met die wonderwerk en die geloof… Verskraal tot `n skaduwee deur die Vooruitgangsutopie, het dit gelyk asof die religie tot `n onweerstaanbare ondergang gedoem was. Inderwaarheid het ons egter blind gebly vir wat in die mees ateïstiese ideologieë steeds en altyd op die religieuse konstruksie betrekking het. Le Figaro: Nog steeds? J.-F. C.: Hierdie groot episode, wat ek tussen 1880 en 1980 plaas, vind sy wortels in die Verligting. Want wat tydens hierdie honderd jaar getriomfeer het, is `n ewolusionêre opvatting van die wêreldgeskiedenis, gerig op `n veronderstelde onvermydelike uiteinde. Van anderkant die Koue Oorlog het ons geweier om te sien dat die “sakrale vuur” – om nou na `n ander titel van Debray te verwys (4) – nooit ophou smeul het in die kole van die Rewolusie of die Mark nie. Simbolies het die laaste jare van hierdie intellektuele episode die verskyning gesien van die Désenchantement du monde (Ontnugtering van die wêreld) (5). Maar in hierdie belangrike, selfs kritieke werk wat aan die begin van die 1980’s verskyn het, dissekteer Marcel Gauchet op meesterlike wyse die steun van die Christendom vir die sekularisasie van ons samelewings, wat gevolglik post-histories wil wees. Maar die Islam kom nie daarin voor nie… R.D.: Islam is byvoorbeeld heeltemal afwesig in Malraux se besinning! In die Ecrits sur l’art (Geskrifte oor kuns) (6), wat die geheel van ons beskawings dek, verskyn die woord “Islam” byna nooit nie. Dit is die swart vasteland. Slegs Persië tree na vore, omdat dit die verfkwas hanteer het. Maar by Malraux is die religie van die kuns `n plaasvervanger van die laaste oomblik, andersins bewonderenswaardig. Minstens het hy geweet dat die beginsel van die kommunie afgryse voor die leegte ervaar: hy het die erzats in die Museum gesoek. Le Figaro: Waarom sê u die kommunie het afgryse voor die leegte? R.D.: Wanneer `n lidmaatskap – byvoorbeeld nasionaal of van `n party – uitgewis word, neem `n ander – etnies of konfessioneel – sy plek in. Elke keer wat `n geboorteplek verdwyn of `n distrik uitgevee word, bestaan die bedreiging van die dood, want om te weet waarheen jy gaan, moet jy weet waar jy vandaan kom. Die buitengewone uitwissing van lidmaatskappe en erfenisse wat ons meegemaak het, het die heruitvinding van tradisies in die oortreffende trap versnel. Maak ons die wraak van religieë mee? Wanneer het ons dan uit hulle getree? Bowenal wraak van die oorspronklike weergawes op die weergawes soos in sekulêre taal oorgeklank (dit is die sekulêre ideologieë – vertaler). Kortom, die gerekonstrueerde tradisionalismes neem oor by die vervaagde historiese tradisies. J.-F. C.: Die fundamentalismes wel nie maar net van nêrens af op nie. Hulle is die koue kerne van Vooruitgang, die swart gesig van die Verligting. So sien ons era hoe een van die stigtingsgeheime van die 18de eeu ten einde loop, `n 18de eeu wat heelwat komplekser is as wat ons bereid is om aan die universiteit te dink… Vanaf die eerste jare van die Eeu van Verligting het die Religie van Vooruitgang `n Anti-religie van Vooruitgang as mededinger gehad wat net so modernisties was as die geloof wat dit teengestaan het. Want dít is wat bedink moet word: die religieuse fundamentalismes, wat almal dieselfde formele struktuur het, is radikaal modern. Probeer hulle vanaf die Middeleeue bedink. Wat sou Maimonides dink van die Haredim, die “manne in swart” van Mea Shearim? En Thomas van Aquinas van die Pinkstersektes van Kalifornië of van Mel Gibson se rolprent? En Avicenna van die skeltaal van Sayyid Qotb of webwerwe soos djihad.com? Dit is bowendien een van my punte van wesenlike verskil met u. Ek is geneig om te dink dat die Verligting ons begrip van die goddelike baie ernstig ondermyn het deur dit te verskraal tot die sfeer van die emosie of te verhef tot suiwere totaliteit. Ons het vreemdelinge geword van die idee van die kommunie as gegewe. So kap ons dan die hakke in om dit kunsmatig te rekonstrueer. Ek is bang vir die wêreld wat ons betree en waarin alle kommunies neig om rekonstruksies te wees. Uit hierdie hoek beskou, loop Frankryk, wat Katoliek was, in die komende jare die gevaar om `n “Katoliserende” land te word waarvan die identiteitsgevoel in die aangesig van opkomende gevare met `n dun lagie Christelike vernis versag sal word. `n Soort nadoodse oorwinning van die Moerassisme, van die “Kerk van die orde”, van die gees van die kerktoring. En dit met die grootste minagting van die Evangelie, van naasteliefde. Maar nie sonder enige “nut” nie… R.D.: Jean-François Colosimo suggereer dat ons euwels hul uiterste bron in die Verligting vind. Hier verskil ons grondig van mekaar. Ek vra myself eerder af of ons verwarring voor die toenemende mag van die kommuniale aan die rand van Europa nie eerder die effek is van die Verligting wat te vroeg onderbreek is nie – en wat nie die religieuse verskynsel tot sy uiterste implikasies kon bedink nie. Le Figaro: U weier dat die Verligting stelselmatig aangekla word… R.D.: Ja, drie maal ja. Aanklag vir aanklag – die “fout” is nie te soeke in die Verligting nie, maar in sy skugterheid. Ons moet waag om die gevaarlik romantiese verskynsels – die meevoering van die skares, oorloë, mitologieë, paranoias, misleidende identifiserings – met die intellektuele werktuie van die klassisisme te bedink. Ek omskryf myself sonder enige kompleks as `n man van die Verligting terwyl ek erken dat dit sy “donker helfte” – die kollektiewe passies – in die skadu gelaat het. Die resultaat is dat die filosowe wat die Franse Rewolusie bevrug het, nie die twee vektore wat dit moontlik gemaak het om hul eie beginsels te beliggaam bedenkenswaardig geag het nie: oorlog en die nasie. `n Aansienlike verswyging met swaar nagevolge… J.-F. C.: Wat my verbaas, is dat u nie veel maak van die basiese verskil in aard tussen die geïnstitusionaliseerde religieë en hul sekulêre nabootsings nie. Die vraag wat ek myself by die lees van die Communions humaines afgevra het, is of die analogie tussen die twee inderdaad so gegrond is as wat u suggereer. Bestaan daar nie tog `n wesenlike verskil tussen die twee nie? Val hierdie verskil nie plat by `n eenvoudige vergelyking van die historiese rekords nie? En is dit alles in ag genome nie beter om `n gevestigde religie te hê as `n geplateerde religie nie? Is ons nie einde ten laaste te geneig om vooruitgang en sekularisasie met mekaar te verwar nie? Wanneer vooruitgang in 1792 na vore tree as die opperste vorm van die menslike toekoms, verskyn dit in die vorm van `n ersatz (nabootsing) van oortuiging, geloof, geestelikes; selfs van `n geestelikheid van vervanging. Om dit anders te stel: terwyl ons kontra-religie maak, verdoem ons ons om vierkantige religie te beoefen. Erger, die kommunie stort elke keer in duie wanneer ons dit probeer dwing… R.D.: Dit probeer fabriseer! Hier is ek dit met u eens. In weerwil van myself het ek steeds `n sagte plekkie vir die sekulêre religieë, waar ek nie anders kan nie as om `n ylhoofdige antwoord op `n heel wyse vraag te sien nie. Wanneer het ons nou al ooit in die menslike geskiedenis gesien dat `n samelewing slegs op die Reg gevestig word? Die reg self moet op `n metavlak gevestig word. Niemand sterf vir `n prosedurale reël nie. En vroeër of later kom die dag vir `n toets van die waarheid waarin jy jouself òf moet verraai, òf moet veg. Hierdie toets verstrik ons heeltemal, op die vlak van sowel die verbeelding as die simboliese. Ek sê nie dis goed nie. Dis aaklig. Maar dit is. J.-F. C.: Presies! Deur die mens nie bloot as `n abstraksie te bedink, het die Verligting `n ruimte gelaat vir die herlewing van die barbaarse, van die dierlike. Neem kennis van die chronologiese ooreenkomste… Kant word vergesel van Swedenborg, kritisisme van die illuminisme, die kategoriese imperatief van die roos geweek in Sade se riool. Ongetwyfeld moes die Verligting aangetas word deur `n grondliggende irrasionaliteit vir sodanige geloof in die rasionaliteit… R.D.: Nóg Voltaire, nóg Montesquieu of Condorcet het dìt bedink wat hul eie denke sou affekteer nie. Hartstogtelik in hul jag van die skaduwees het hulle nie die opkoms van die kragte van die nag, wat die twee komende eeue sou skud, gewaar nie. Nietemin het ek geen nostalgie nie en nog minder aptyt vir die “organiese solidariteite”, die saamsmeltende nasionalismes, die kommunitêre meevoerings en ander ontploffings van imbesiliteit. Le Figaro: Régis Debray, dit lyk of u betrokkenheid ten gunste van `n republikeinse opvatting van die nasie in die verlenging staan van u besinning oor die “menslike kommunies”… R.D.: Dit is die hele probleem wat gestel word deur die uitsterwing van die nasionale. Die republiek het natuurlik `n liggaam gehad, naamlik die nasie, wat nie etnies was nie, maar elektief (élective). Die knaende vraag is of die republiek sy siel kan behou terwyl hy sy liggaam verander? Oorgetap word in `n Europa van vyf-en-twintig lande? Ek twyfel baie sterk. `n Republiek is `n nasie wat in staat is om vreemdelinge wat `n vrywillige keuse daartoe maak, te verwelkom en bowenal aan te neem. In hierdie sin is die Verenigde State `n imperiale republiek – maar hulle is `n republiek. Meer veelseggend as die burgerlike doop van die naturalisasieseremonie kan dit nie. Hierdie gewydheid, hierdie patos sal ons eie liberale laat lag. Le Figaro: Is dit omdat die VSA haarself lief het dat sy weet hoe om haarself beminlik te maak en “republiek te maak”? R.D.: Dis in elk geval jammer dat die band van taal en legende, van deelname en wil in so `n hoë mate in ons regstaat opgelos is dat selfs die idee van die seremoniële en van die lekeritueel uitgewis is. Dit is die beste manier om mense tot kommunitarismes aan te hits! Daarenteen bewonder ek die trots wat die Amerikaanse republiek weet te kommunikeer aan sy “nuwe aankomelinge”. Buiten die diktatuur van geld is die probleem die Verenigde State se neiging om enige ander aanspraak op waardigheid as soewereinisties of skandalig argaïes te beskou. Hulle wil die wêreldmonopolie van die ons hê. Enige ander ons as hulle s’n sal as stamgebonde afgemaak word. J.-F. C.: Ons misgis ons as ons hierdie “kommunitêre versoeking” uitsluitlik as `n Amerikanisering van Frankryk vertolk. Dit dui veel eerder – minstens in sy konseptuele aspek – op die triomf van die kategorieë van die Duitse filosofie in die Franse gees met hierdie alte Duitse wanbalans tussen rede en onrede wat nóg by ons gees, nóg by ons geskiedenis pas. Anders as wat dikwels herhaal word, word Frankryk geensins opgeroep om `n klein VSA te word nie. Sy word genooi om te word soos Duitsland nà die val van Nazisme, dit wil sê om te lyk soos `n groot koplose, ahistoriese, atomistiese federasie wat die “konstitusionele patriotisme” wat vir Jürgen Habermas so dierbaar is, as enigste bestaansbron te omhels. R. D.: Die Europa waarna ons streef om onsself in te dompel, soos die volstruis met sy kop onder die sand, lyk of dit aangedryf word deur `n onbeheerste juridisme waarvan ons met reg kan vrees dat dit deur sy abstraksie self die terugkeer voorberei van dit waarop dit aanspraak maak om `n einde aan te bring… J-.F. C: In die Verenigde State bring die eenheid van die burgerlike “religie” die uiterste verskeidenheid van gelowe en denominasies byeen. R.D.: U is reg! Die Amerikaanse model is die alliansie tussen `n konfederale deïsme en `n duisternis sektes. Ons s’n kan maklik eendag `n duisternis mikro-kommunies wees sonder `n punt van konvergensie om hulle te federeer. J.-F. C: Wat in Frankryk oorheers, is `n volslae ineenstorting van die leke- en republikeinse kommunie – en die gebrek aan hoop op `n hervatting van `n eenheidsdinamika verdoem ons tot `n oewerlose nihilisme. Hierdie gaping is bowendien `n kragtige aanmoediging om uit die geskiedenis te tree. Ons het `n voorgevoel dat ons onmagtig geword het om die geskiedenis te konfronteer en dat die beste weg nog steeds is om dit te ontvlug… R.D.: U roer `n beslissende vraag aan: tree `n mens nie uit die geskiedenis in dieselfde beweging as wat jy uit die geloof tree nie? En kan daar geloof in `n abstrakte universele wees? Is dit nie noodsaaklik om sig `n grens te gee nie, en juis hierdeur – omdat geen geheel homself bloot met behulp van die elemente van dié geheel kan sluit nie - `n verdwynpunt? `n Transendensie? `n Skuld? `n Verpligting? Le Figaro: Die noodsaak om sig `n grens te gee… Wat bedoel u? R.D.: Die begrip van die grens – of eerder van die limiet, want die fisiese grens is `n besondere en baie onlangse geval – het die obseniteit van die oomblik geword. Die onderdrukking daarvan stel dit wat die Grieke die apeiron, die slegte oneindige, genoem het, aan die orde. Vandaar die risiko om die bestaande afgrensings te verruil vir heelwat slegter mikro-sluitings, van `n regionale, feodale, konfessionele of rasseaard. Om weer die belang van die kommunies te bedink, mag `n manier wees om hierdie risiko die hoof te bied. Die Noord-Amerikaanse kommunie lyk vir my steeds ook kontraproduktief en onaangenaam op die uiterlike vlak. Die feit bly egter dat hulle daar te lande `n sekere bedrewenheid met die loop van risiko’s behou het en – indien nodig die verlies van `n dertigtal mans per week in `n buitelandse operasieteater. Is `n agnostiese Europa wat haarself in geld en prosedures verdrink nog in staat om geskiedenis te maak – dit wil terloops sê, ook om oordeelsfoute te maak? Die gaping tussen Frankryk, Wes-Europa en die res van die wêreld vergroot omdat die verbruikersmelancholie wat aan ons knaag nie lyk asof dit gepaard gaan met `n soortgelyke naeltjiekykery in die res van die wêreld nie… J.-F. C: Hierdie begrip van die grens wat in die hart van Régis Debray se denke lê, is in wese kritiek belangrik. En des te meer wanneer hy dit verbind, soos in sy jongste boek, met die begrip van die kommunie. Ons het hier te make met `n skaars werk van fundamentele antropologie wat sy skatpligtigheid aan Auguste Comte verklaar, maar wat ook – so lyk dit my – na die Griekse Vaders en die Drie-Enige God waarvan die lewe self kommunie is, moet kyk. Om na die hede terug te kom: Europa kort nie allereers fisiese grense nie, maar kulturele grense. Sy kan nie langer haar eenheidsdinamika op die een of ander oorsprongsikon laat rus nie, met die mees betekenislose beeld van haar verlede wat vir haar op `n manier sleg en gevolglik agterlaatbaar lyk. So lê sy alle aansprake op sakraliteit af, blyk sy deur die politieke gegewe geamputeer te wees, nie by vermoë om haarself tot wording te projekteer nie, maar terselfdertyd besig om die wese van die utopiese droom te verwesenlik, naamlik om die geskiedenis af te sweer. Oorgegee aan die gedagte dat oorlog verby is – selfs al beteken dit dat oorlog `n nog meer gewelddadige terugkeer gaan maak. R.D.: Om die geskiedenis af te sweer, sê u, maar ook die begeerte na geskiedenis. Per slot van rekening is die gevoel van die geskiedenis heel onlangs. Miskien was dit `n 19de-eeuse waansin wat begin het by Chateaubriand en eindig by Malraux. Hoe ook al, niks of niemand stel sigself sonder om sig teenoor te stel nie. Die Europese Unie stel hom nie teenoor enigiets nie, behalwe die bose, wat niemand kompromiteer nie. By nabetragting sal dit eendag lyk na `n poging tot interessante hersiening – maar helaas gedoem tot `n selfoplossing deur uitbreiding, eufories en praatjiesmakend. Die sakrale vrees voor sy geskiedenis hou vir hom die plek van die religie. J.-F. C.: Boetvaardige Europa rig die skaamte vir sy eie erfenis as toets van opperste moraliteit op soos – toppunt van belaglikheid – bewys deur die weiering om `n aanhaling van Perikles in die aanhef van sy Grondwetprojek op te neem. Ons uitdaging is om nou toe te sien dat die oproep “nooit weer dit nie” nie `n “nooit weer ons nie” voed… R.D.: Of, noukeuriger: “nooit meer van ons nie”. Die idee waarvolgens die “ons” intrinsiek misdadig is, dien as geheime onderbou vir die idee van konstitusionele patriotisme, wat ondoeltreffend bly. Ten einde te bestaan as mag en nie as mark nie, moes of moet Europa eendag minstens as moontlikheid `n situasie van konfrontasie met die twee “andere” opneem, imperiale Amerika en Middeleeuse Islam… Le Figaro: Kan Europa `n greep op die geskiedenis herwin as sy toegee dat `n religieuse onbewuste ateïstiese politiek aandryf? R.D.: So `n greep kos altyd baie. Ons het ooglopend die lus vir die koste verloor. Vir die derde weg tussen die demokrasie van die Dow Jones en die teokrasie van die kamikaze is die speling vir maneuvrering baie klein. Histories is ons in `n hoek vasgekeer. Om van nêrens af te kom, is `n militêre begroting en `n geestelike kapasiteit nodig. Ons het nóg die een, nóg die ander, met bowendien `n skoolstelsel wat in duie stort. Waarskynlike resultaat: die weeskinders van die Europese mite loop die risiko om in 2050 nog meer sinister as die weeskinders van die sosialistiese geluk aan die einde van die vorige eeu te wees. Laat ons ons vreugdes elders probeer vind. __________ (1) Régis Debray het onlangs `n nuwe mediologietydskrif gestig: Médium, transmettre pour innover. Dit verskyn kwartaalliks teen 40€ per jaar by Editions Babylone, 4, rue de Commaille, Parys, 75007, FRANKRYK. (2) “Die 21ste eeu sal religieus wees, of dit sal nie wees nie” (3) In Engels uitgegee as Critique of Political Reason, Londen: Verso, 1983 (4) Le Feu Sacré. Fonctions du religieux (Die sakrale vuur. Funksies van die religieuse), Parys: Fayard, 2003. (5) In Engels uitgegee as The Disenchantment of the World, Princeton: Princeton University Press, 1999. (6) Ecrits sur l’art, Parys: Gallimard, 2004. Vrydag 6 Mei 2005 |