blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Ekonomierubriek: Tussen die tye: Nuwe politiek, nuwe aktivismes 2005-05-05
Margaret Legum

Deur Margaret Legum
*Hierdie lesing is op 1 April 2005 tydens die KKNK se Oopgesprekkereeks te Oudtshoorn gehou
Vrydag 6 Mei 2005

    Dit is verbasend dat diegene van ons vir wie die woord “aktivisme” die stryd teen apartheid beteken het, `n minderheid begin word. Enigiemand wat jonger as 15 is, was ten tyde van ons bevryding nog nie gebore nie, wat nog te sê `n deelnemer daaraan. Dáárvoor moet jy minstens 30 tot 35 wees. My eie kinders se betrokkenheid by die struggle was slegs middellik.

    Daardie politiek, daardie stryd het gegaan om politieke demokrasie, en daar is aanvaar dat die res vinniger of stadiger sou volg. “Maar soek die politieke koninkryk,” het Kwame Nkrumah gesê, “en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Dit was sy reaksie op die neerbuigende raad aan Afrikane dat hulle geduldig moet wees oor onafhanklikheid omdat hulle lande nog onderontwikkeld was – `n kwalik verbloemde rassistiese aanname dat Afrikane nie `n land kon bestuur en `n ekonomie kon ontwikkel nie.

    In daardie argument was albei kante verkeerd, maar Nkrumah het die naaste aan die waarheid gekom. Die feit dat die vasteland steeds onderontwikkeld is, is nie die gevolg van velkleur of inherente onvermoë nie, maar van groot en veral moderne wêreldekonomiese kragte. Ekonomiese demokrasie volg nie outomaties op politieke demokrasie nie, hoewel laasgenoemde die verkose leiers die mag – en soms die aansporing van die kiesers – gee om ekonomiese demokrasie tot stand te bring.

    Die meeste mense vergeet dat daar in die eerste 10 tot 15 jaar van onafhanklikheid in Afrika merkwaardige sukses was wat die meeste aanwysers betref – ekonomiese groei en diversifikasie, onderwys, gesondheid, vervoerstelsels – hoewel die daling in wêreldwye kommoditeitspryse dikwels betalingsbalansprobleme veroorsaak het. Eers nadat die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) met sy struktuuraanpassingsbeleide, soos die prys van lenings, op die toneel gekom het, het Afrika se ekonomieë begin tuimel.

    As gevolg van die oorlikiditeit van Westerse banke vanweë die enorme olieprysstyging in 1972 is Afrikaregerings oorreed om op groot skaal te leen teen `n rentekoers wat destyds laag was. Toe die rentekoerse begin styg, het die Afrikaregerings met `n groot klomp skuld gesit, waarop die IMF met aanbiedinge van onvoorwaardelike lenings voor die dag gekom het. Vir omtrent twee dekades daarna is die meeste Afrika-ekonomieë effektief deur die Wêreldbank, die IMF en hulle verspreidingskanale bestuur. Tog is dit nie hulle wat vir die toestand van dié ekonomieë geblameer word nie, maar die Afrikaregerings. En dit pas natuurlik netjies in by die wêreldwye rassistiese verwagtinge.

    Suid-Afrika se bevryding het op `n besonder ongunstige tyd in die geskiedenis van wêreldekonomiese kragte en ideologie plaasgevind. In 1990 was die ideologie van die wêreldwye mededingende mark die onbetwiste model vir ontwikkeling, ekonomiese gesondheid en welvarendheid. Die 1980’s en 1990’s was die grootste triomftydperk van die siening dat die enigste manier waarop `n regering sy mense se ekonomiese belange kon dien, was om so gou moontlik –
•    Sy valutabeurse oop te maak sodat sy kapitaal uitgeneem kan word om hoër winste elders te probeer kry, want dit sal weer andere se kapitaal laat invloei;
•    sy binnelandse markte vir mededinging van oraloor oop te stel, waardeur sy eie ondernemerswese doeltreffend, soepel en mededingend gemaak sal word;
•    die openbare sektor te verklein en te beperk, want dit is ondoeltreffend in sy mededinging om hulpbronne met die private sektor;
•    sy openbare ondernemings, nutsmaatskappye en selfs owerheidsdiens te privatiseer op grond daarvan dat die private sektor doeltreffender en minder korrup as die openbare sektor is;
•    so veel moontlik te kommodifieer sodat alles vir kommersiële doeleindes in die mark beskikbaar gestel kan word, insluitende onderwys, gesondheid, vervoer, sekuriteit en gevangenisse, wat tradisioneel openbare dienste was;
•    staatslenings te beperk tot 3% van die nasionale begroting, waardeur staatsbesteding en inflasie beperk word; en
•    die rentekoers te gebruik as die belangrikste – selfs enigste – meganisme om die geldvoorraad, inflasie en die hulpbronne wat vir ontwikkeling beskikbaar is, te bepaal.

    Destyds was daar skynbaar geen ander alternatief as om hierdie model te aanvaar vir die bestuur van die ekonomie en die ontwikkeling daarvan nie. Daar was geen ander werkende modelle van enige ander aard nie. Kommunisme het in duie gestort, en sosiale demokrasie – met die welsynstaat, sterk intervensionistiese regering, hoë belastings en `n groot burgery – was oral in Europa aan die kwyn as gevolg van die aanslag van radikale Thatcheristiese konserwatisme.

    Al die internasionale finansiële instellings, met inbegrip van die Wêreldbank en die IMF, asook die internasionale instellings wat regerings verteenwoordig en reëls maak, soos die Wêreldhandelsorganisasie, die Wêreld- Ekonomiese Forum en die G8, het almal uit een mond gepraat. Daar was geen sterk teenstemme nie. Almal het wat bekend geword het as die Washington-konsensus nagepraat, want die voorloper was die wêreld se enigste supermoondheid, wat dit reggekry het om universele konsensus te bewerkstellig.

    Hierteen het ons eerste regering te staan gekom. Vanselfsprekend moes sy beleide binne `n wêreldkonteks geformuleer word, en advies, tesame met opleiding en ondersteuning, moes van magtige bronne verkry word. Prof. Sampie Terreblanche se merkwaardige boek A History of Inequality in South Africa gee die besonderhede van die onderhandelinge oor ekonomiese beleid wat agter geslote deure plaasgevind het terwyl die politieke onderhandelinge in die kalklig van publisiteit gevoer is. Dit kan só geparafraseer word: In die politieke onderhandelinge het die ANC die NP uitoorlê, maar in die ekonomiese onderhandelinge het die korporatiewe sektor met sy internasionale bondgenote die ANC uitoorlê.

    Die ANC is met ander woorde oortuig dat daar inderdaad geen ander alternatief was as om deel van die wêreldwye mededingende mark te word nie – en dus op kort termyn die prys te betaal ten einde op lang termyn sterk en mededingend te word. Dit sou vir die korporatiewe sektor maklik gewees het om `n rooskleurige prentjie voor te hou van `n vry Suid-Afrika wat vir die wêreldekonomie oop is en die vrugte te pluk van universele welvaart na gelang hy uit die tydperk van sanksies verrys.

    Dit wil my dus voorkom of ons regering weinig ander keuse gehad het as om die meganismes van die Washington-konsensus te aanvaar. Vandaar die ondergang van die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP), wat as sy hoofdoel gehad het ekonomiese demokrasie – die herverdeling van hulpbronne, bates, toegang en inkomste – en die ontwikkeling van die ekonomie tot voordeel van almal, insluitende die uitgeslotenes. Die HOP is vervang deur GEAR (Strategie vir Groei, Werkverskaffing en Herverdeling), wat berus op die beginsels van die Washington-konsensus wat hierbo genoem is, waarby herverdeling as `n formaliteit aangelap is.

    Herverdeling in die huidige wêreldbestel is `n oksimoron, en dus ook ekonomiese demokrasie. Wêreldwyd word die Gini-koëffisiënt al hoe groter. Die rykes word noodwendig met rasse skrede al hoe ryker, en die res van ons het al hoe minder om uit te deel. Selfs die middelklas raak swakker daaraan toe wat bates en inkomste betref. Oral, selfs in die VSA, verloor die werkersklas sowel absoluut as relatief. In elke land word die laer stand al hoe groter; in elke land is daar al hoe meer mense wat in volslae armoede leef – haweloos, siek, geknou wat geestesgesondheid betref, hulpeloos. In elke land is daar `n groeiende klas van “werkende armes”, wat vir minder geld werk as wat hulle nodig het om aan die gang te bly.

    Hoekom gebeur dit? Kom ons kyk wat gebeur as gevolg van die beleide wat die Washington-konsensus aanbeveel:

•    As kapitaal kan rondbeweeg, is dit vry van demokratiese beheer. Dit kan self die voorwaardes bepaal waarop dit aanbly. Dit kan die belastingvry wins wat hulle verwag tussen lande opjaag, soos ook die gebrek aan vakbondmag en die deregulering van arbeid en omgewingsbeskerming. Sedert ons beurse oopgemaak is, moes ons na die pype van ongebonde kapitaal dans, wat selfs ons duur verworwe arbeidswette bedreig. En ons is nie beloon met `n toestroming van beleggers nie; ons het inteendeel miljarde verloor. Wat wel ingevloei het, is warmgeld – wat hoë rente najaag – wat weer vertrek die oomblik dat daar elders iets beters aangebied word. Dit skep nie werk nie.
•    Die oopstel van ons ekonomie vir goedere van elders het ons minstens `n miljoen werksgeleenthede gekos. Geen sterk land het goedere van buite ingelaat voordat hulle heeltemal gereed was om mee te ding nie. Ons – en elke ander Afrikaland – is soos Basoetoponies wat gedwing word om aan die Durban July te gaan deelneem. Die wêreldwye uitwerking van die misplaaste idee dat handel ontwikkeling aandryf, is `n wedren ondertoe wat lone en diensvoorwaardes betref.
•    Die staatsdiens wat ons oorgeneem het, was grotendeels ondoeltreffend en korrup. Dit was allesbehalwe `n goeie model vir `n regering wat `n nuwe, nasionaal verteenwoordigende staatsdiens wou skep. Boonop het die uitfaseringsklousules beteken dat `n groot pakket aan almal aangebied moes word, wat daartoe gelei het dat die beste mense weg is. Voeg hierby dat die meeste nuwe staatsamptenare noodwendig uit die “Bantoe-onderwys” kom, en jy het regtig `n resep vir groot probleme wanneer `n nuwe staatsdiens uit die beendere van die oue opgebou moet word. Terwyl ons probeer het om `n ordentlike, verteenwoordigende staatsdiens te bou, het ons te staan gekom voor die ideologie dat staatsamptenare die uitskot is – ten beste `n noodsaaklike euwel. Gelukkig het pres. Mbeki se staatsrede dié jaar die gebondenheid aan `n klein staatsmasjien die nek ingeslaan toe hy dit duidelik gemaak het dat ontwikkeling afhanklik is van doeltreffende en doelmatige beplanning en regulering, waarvoor `n goed opgeleide en toereikende staatsdiens nodig is. In die tussentyd het ons tyd verloor.
•    Privatisering en kommodifiëring gaan wesenlik daaroor dat die ontwikkelde lande van Noord-Amerika en Europa besef dat hulle, vanweë hulle loonkostestruktuur, nooit weer internasionaal sal meeding wat die produksie van goedere betref nie en dat die enigste terrein waarop hulle steeds `n wêreldwye mededingingsvoordeel het, die bestuur van grootskaalse dienslewering is. Privatisering in die ontwikkelde wêreld was grotendeels `n mislukking, en soms vir verbruikers `n ramp, wat prys, diens en veiligheid betref. Dit het ook werksgeleenthede gekos, want alles hang van wins af. Hier is darem `n paar lesse geleer. Suid-Afrika is glad nie meer so vreeslik geesdriftig daaroor as wat hy was nie.
•    Die beperkings op staatslenings, tesame met die gebruik van die wisselkoers, het die geldvoorraad in die ekonomie beperk. Ons het werklose werkers met die regte vaardighede of die mannekrag om die infrastruktuur – soos behuising en skole en paaie – te skep waaraan daar so `n dringende behoefte is. Ons het gekwalifiseerde professionele lui wat werkloos is, maar ons het nie die geld om hulle in diens te neem nie. Die rede is dat die geldvoorraad beperk word ten einde die waarde van geld te behou ter wille van diegene wat in geld handel dryf.

    Die nuwe aktivisme gaan dus om ekonomiese demokrasie, en selfs meer nog as die struggle, is dié stryd wêreldwyd. Terselfdertyd is dit egter, soos die struggle, ook wesenlik plaaslik. Ons nuwe maatskaplike bewegings het hulle wortels in oorlewingsvraagstukke. En as dit dalk lyk asof hulle eenkwessiebewegings is – dit kan hulle krag wees, mits hulle saamwerk. Hulle wissel van die Soweto Electricity Crisis Committee tot die Anti-Eviction Campaign in die Kaap, van die Landless People’s Movement tot die Treatment Action Campaign en die Anti-Privatisation Forum.

    Anders as in die struggle is daar in dié stryd geen geskil oor die feit dat dit wesenlik `n klasse- eerder as `n rassestryd is nie, hoewel dit natuurlik oorvleuel.

    Talle van die leiers en lede van hierdie bewegings is te jonk om aktief aan die struggle deel te geneem het, en hoewel hulle bewus is daarvan dat hulle veel aan die struggle verskuldig is, boesem dit nie vrees by hulle in om met die ANC-leierskap swaarde te kruis nie. Hulle trou aan die ANC is nie outomaties nie. Trouens, ek meen dat as daar `n politieke party was wat uitdruklik ekonomiese demokrasie voorstaan, die ANC teen dié tyd al heelwat populêre steun sou afgestaan het. Die Kommunisteparty en Cosatu het tot dusver lojaal gebly tydens verkiesings, maar albei weet dat hulle eie steun daardeur uitgekalwe word.

    Die parlementêre opposisie het niks om aan te bied sover dit nuwe beleidsrigtings vir ekonomiese demokrasie aangaan nie – hoewel dit klaarblyklik is waar stemme gewen kan word. Hoekom is dit so? Omdat politieke party nie sukses kan behaal – of glo dat hulle nie sukses kan behaal – sonder groot bronne van geld nie. En die groot bronne van geld gaan nie beleidsrigtings befonds wat daarop gemik is om ons uit die greep van die Washington-konsensus te bevry nie. `n Mens hoef bloot te onthou met watter vreugde Tony Blair se oorwinning oor die Thatcheristiese Konserwatiewe Party begroet is – en die bittere ontnugtering sedertdien – om te besef dat politieke partye bitter min speelruimte het. Waar kapitaal homself kan verwyder, kan hy in alle lande baas speel.

    Die goeie nuus is dat die ANC-regering duidelik verstaan dat politieke demokrasie nie kan bly voortbestaan sonder ekonomiese demokrasie nie. Hulle verkry ook toenemend selfvertroue in `n wêreld waarin die volslae sekerheid van die wêreldmeesters aan die taan is. Die vraag is of daar navorsing gedoen gaan word oor nuwe beleide en of dit ingestel gaan word voordat die Alliansie self nog ernstiger bedreig word. Cosatu is reeds besig om noue bande met die maatskaplike bewegings aan te knoop. Die ANC is glad nie eendragtig nie – en dit is hoe dit in `n demokrasie behoort te wees. Ons staan op die rand van nuwe vooruitsigte.

    Waaraan daar `n dringende behoefte is, is nuwe ekonomiese teorie en praktyk. Die Nuwe Ekonomie-beweging doen juis daaroor navorsing. Die huidige idees is te sien by www.neweconomics.org in die VK, en die Suid-Afrikaanse weergawe by www.sane.org. Om gereeld op die hoogte gebring te word, sluit aan by SANE by [email protected].

Vrydag 6 Mei 2005


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=201
Artikel nagegaan:
    -