blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die politieke toekoms van die Afrikaners: Identiteite: verby uitsluiting en onverskilligheid 2005-05-05
Danie Goosen

Deur Danie Goosen
* Hierdie lesing is deur is op Woensdag 6 April 2005 te Grondwetkoppie, Johannesburg deur Goosen gelewer in gesprek met Jakes Gerwel as deel van die Harold Wolpe-gedenklesingreeks georganiseer deur die Sociology of Work Unit van die Universiteit van die Witwatersrand en die EDGE-instituut.
Vrydag 6 Mei 2005

    In die eerste deel van hierdie lesing wil ek melding maak van drie verwante verskynsels wat beskryf kan word as tekens van krisis, naamlik die Afrikaners se huidige ervaring van vervreemding, die nasiestaat gesien en beleef as `n uitdaging (veral gesien teen die agtergrond van die koloniale verlede), en derdens die invloed van globalisering. In die tweede deel van die toespraak gaan ek op `n meer positiewe wyse spekuleer oor die pad vorentoe vir Afrikaners. In dié opsig gaan ek nie voorgee om as neutrale waarnemer te praat nie; eerder praat ek as toegewyde Afrikaner, Suid-Afrikaner en Afrikaan. En dus vir die rekord: Ek verstaan nie begrippe soos Afrikaner, Suid-Afrikaner en Afrikaan as uitsluitend nie, maar eerder as komplementêre begrippe. Trouens, dit is onmoontlik om die begrip “Afrikaner” te isoleer van die omringende kulturele, politieke en ekonomiese konteks. Die holistiese filosofie van Jan Smuts geld steeds in hierdie verband. Volgens die wyse raad van Smuts is partikuliere gemeenskappe afhanklik van en word hulle verryk deur die geheel, net soos die geheel verryk word deur die veelheid van selfagtende gemeenskappe binne sy verenigende omarming. Die wisselwerking tussen interafhanklikheid (d.w.s. eenheid) en verskil (d.w.s. veelheid) is voorvereistes om die geheel `n menslike en lewende geheel te maak.


Deel 1: Vervreemding, die nasiestaat en globalisering
a. Vervreemding onder Afrikaners

    Ten einde te verstaan wat met Afrikaners aan die gebeur is, is dit belangrik om te fokus op die ervaring van vervreemding. Ek wil nie spekuleer oor die oorsake van hierdie wyd voorkomende verskynsel nie, maar navorsing daaroor identifiseer die oorweldigende gevoel van gestrand te wees sonder enige betekenisvolle seggenskap in hulle eie sake as gewis `n belangrike oorsaak. Maar watter oorsake ook al geïdentifiseer word, vervreemding onder Afrikaners manifesteer hom in die eerste plek in die radikale gebrek aan `n betekenisvolle kultureel-politieke visie wat `n minimum van samehorigheid kan bied. (Ek ontken die mening wat dikwels uitgespreek word dat die Afrikaner nog altyd `n gebrek gehad het aan `n samehangende simboliese universum. Soos enige ander gemeenskap is die Afrikanergemeenskap altyd gekenmerk deur verskillende praktyke, verskillende ideologiese perspektiewe, en `n wydstrekkende kontinuum van persoonlikhede wat aan hierdie verskille gestalte gegee het. Miskien verteenwoordig Paul Kruger en Breyten Breytenbach die teenoorgestelde pole van hierdie kontinuum. Wanneer slegs die verskille beklemtoon word, is `n mens egter geneig om die simboliese eenheid wat deur die verskille veronderstel word, mis te kyk.)
 
    Die vervreemding wat Afrikaners ondervind, word ook daarin gemanifesteer dat hulle hulle in `n private bestaan terugtrek. Die gevoel van gestrandheid sonder `n betekenisvolle seggenskap in hulle eie sake word omgesit in `n kollektiewe skepsis oor die openbare lewe. Die direkte oorsaak van hierdie toedrag van sake word dikwels voorgestel as verwant aan verskynsels soos geweld en hoë misdaadsyfers. Hoewel laasgenoemde `n belangrike rol speel, val hierdie verduideliking `n te subjektiewe denkstyl ten prooi. Die ware oorsaak van Afrikaner-privatisering en -emigrasie is die kollektiewe gevoel van vervreemding van sosiopolitieke werklikhede: Afrikaners is besig om te privatiseer en te emigreer omdat hulle nie vir hulleself `n toekoms as  kulturele en historiese gemeenskap in ons land sien nie.

    Hierdie omskakeling van hulle eie selfbeeld van nasionalisties na neoliberaal gaan dikwels gepaard met `n bevestiging van rassestereotipes. Hoe meer Afrikaners geïndividualiseer en magteloos gelaat word wat hulle etniese voorkeure betref, hoe meer is hulle geneig om hulle in wit enklaves terug te trek. Kortom, die vervreemding onder Afrikaners word ook gemanifesteer in die onheilige huwelik tussen neoliberale lewenstyle en rassisme.

b. Die nasiestaat en kolonialisme

    Teoreties en histories gesproke is dit eenvoudig onmoontlik om moderne kolonialisme en die verskynsel van die nasiestaat te isoleer. Laasgenoemde was instrumenteel in die koloniale projek. In navolging van Ngugu wa Thiong’o se Decolonising the Mind kan `n mens aanvoer dat die nasiestaat steeds volledig deel uitmaak van `n logika wat Westerse lewenstyle, Westerse idees en Westerse praktyke dien. Hoewel Afrikaners weerstand teen kolonialisering gebied het, het hulle die grondliggende impulse daarvan herhaal teenoor die swart meerderheid in Suid-Afrika. Hoe? Deur die kragtigste instrument daarvan, naamlik die nasiestaat en dié se “natuurlike” geneigdheid om mag in die hande van die elites te sentraliseer, na te boots en uiteindelik te gebruik. Afrikaners het hierdeur onwetend hernieude stukrag aan die kolonialistiese logika gegee.

    Afrikaners is vandag egter `n lydende party wat die nasiestaat se sentraliserende neigings betref. Ondanks die beloftes wat in die Grondwet ingebou is, het Afrikaners nie `n betekenisvolle sê in die aangeleenthede wat `n voorvereiste vir kultuurtransmissie is nie. So byvoorbeeld maak die beginsel van verteenwoordigendheid, soos eensydig deur die nasiestaat toegepas, dit byna onmoontlik vir Afrikaans om ongehinderd te gedy. Afrikaners verskil onder mekaar oor die onmiddellike politieke oorsake van hierdie toedrag van sake. Party Afrikanerkommentators voer aan dat `n doeltreffende beroep op die huidige Grondwet genoeg is om kultuurtransmissie te beveilig, hoewel hulle die eerste sal wees wat erken dat daar `n steeds groeiende gaping tussen die Grondwet en huidige praktyke is. Ander voer weer aan dat die probleme wat tans ondervind word, daaraan te wyte is dat die Grondwet onvoldoende voorsiening maak vir kultuurtransmissie.

    Afrikaners het hulle teen die kolonialistiese nasiestaat verset, dit gedurende die apartheidsjare tot hulle voordeel aangewend, en ervaar deesdae weer die negatiewe uitwerking daarvan. Hoewel hulle self nasionalisties is, dra hulle nou die gevolge van `n nuwe nasionalistiese agenda, naamlik die sogenaamde Afro-nasionalistiese projek. Soos die Afrikaneragenda van die verlede word die huidige Afro-nasionalistiese agenda gekenmerk deur sy geloof in die goedmakende vermoëns van die nasiestaat. En soos die Afrikaners gedurende die apartheidsjare kan hulle onwetend vasgevang word in presies dieselfde logika waarteen hulle hulle so moedig verset het, naamlik kolonialisme. Die fundamentele vraag is of ons, dit wil sê Afrikaners en swart Afrikane, kollektief by die nalatenskap van die nasiestaat kan verbybeweeg. Indien nie, sal sowel Afrikaners as Afrikane se eeue oue retoriek van antikolonialisme ontmasker word as niks meer as blote retoriek nie.

    Ek beweer nie dat Afrikanernasionalisme en die nuwe Afro-nasionalisme identies is nie. Maar laat ons ook nie die verskille so oorbeklemtoon dat ons nie `n duidelike perspektief het op die talle dinge wat hulle gemeen het nie. Hoewel die een eksklusief was en die ander inklusief is, deel albei `n patologiese onvermoë om die diversiteit van gemeenskappe te erken. Hoewel Afrikanernasionalisme diversiteit uit sy eie geledere uitgesluit het, is die huidige nasionalisme geneig om diversiteit geheel en al te absorbeer binne `n inklusiewe eenheid. Kortom, ondanks verskille deel albei strategieë `n weerstand teen betekenisvolle beleide wat die verskeidenheid van stemme, gemeenskappe en so meer erken. Die ware uitdaging vir die toekoms is om albei manifestasies van vyandigheid teenoor diversiteit weg te doen – en die kolonialistiese nalatenskap deursuur nog steeds albei onverdraagsame praktyke.


c. Globalisering

    Volgens William Cavanaugh word die opkoms van die moderne nasiestaat gekenmerk deur die oorwinning van die universele oor die plaaslike. Dit word geïllustreer deur die soewereine staat se usurpering van die mag van die kerk, die adel, die gilde, die clan, die dorp, en so meer. Die vraag is of globalisering iets nuuts verteenwoordig. Die antwoord is nee. Globalisering weerspreek nie die moderne strewe om met die plaaslike weg te doen nie; inteendeel, globalisering “enacts a universal mapping of space typified by detachment from any particular localities ... Globalization does not signal the demise of the nation-state but is in fact a hyperextension of the nation-state’s project of subsuming the local under the universal”.

    Die universele kartering van ruimte en die wêreldwye losmaking van bepaalde plekke het wel `n regstreekse uitwerking op kleiner gemeenskappe oor die hele wêreld. Dit het ook regstreeks betrekking op hedendaagse Afrikaners. Vanweë die universele kartering van ruimte deur middel van abstrakte en suiwer diensbare koördinate het dit vir (geprivatiseerde of geïndividualiseerde) Afrikaners moontlik geword om gerieflik te trek na waar hulle ook al wil wees. Die vermoë om hulle los te maak van hulle partikuliere geskiedenisse, en hulle gewilligheid om ten volle geïndividualiseerde verbruikers binne `n neoliberale simboliese stelsel te word, het reeds gelei tot `n Afrikanerdiaspora oor die wêreld heen.

    Dit is `n groot uitdaging vir Afrikaners. Nuwe denke is nodig om betekenisvol hierop te kan reageer. Daar is nog nie `n duidelike antwoord gegee nie. Trouens, die probleme wat die nasiestaat ondervind, vererger bloot die krisis. Selfs dié wat nie groot mobiliteit geniet nie, word in `n sosiopsigologiese ruimte ingesuig wat aanvaar dat “daar wees” verkieslik is bo “hier wees”. Die mees legitieme reaksie op globalisering kom van die Afrikaners wat ten gunste van `n alternatiewe globaliseringsproses redeneer, dit wil sê Afrikaners wat globalisering as onvermydelik aanvaar, maar terselfdertyd die neoliberale magstrukture wat die proses rig, aanveg. Alternatiewe globalisering erken die plaaslike, regionale en partikuliere gemeenskappe, maar beklemtoon terselfdertyd hulle radikale interafhanklikheid.


Deel 2: Enkele opmerkings oor `n moontlike toekoms

    In hierdie deel wil ek `n klompie spekulatiewe opmerkings oor die pad vorentoe maak. Daar is duidelike tekens dat Afrikaners hulle met die demokratiese Suid-Afrika versoen en dat hulle hulle gereedmaak om `n nuwe en meer bevestigende/affirmatiewe rol te speel, `n rol wat demokratiese deelname beklemtoon eerder as geprivatiseerde individualisme, die verskeidenheid van stemme eerder as blote napratery/bloot die heerser se stem, en wat die dinamiese wisselwerking tussen geheel en dele beklemtoon.

    In ooreenstemming met Benedict Anderson se idee van moderne historiese gemeenskappe as “produkte” van ons verbeelding (Anderson se sogenaamde “verbeelde gemeenskappe”) kan `n mens redeneer dat die Afrikaners te staan kom voor die uitdaging dat hulle hulle moet verbeel `n gemeenskap te wees wat verby nasionalisme, verby neoliberalisme en verby `n fundamentalistiese idee van identiteit beweeg het. Of positief gestel: Die uitdaging waarvoor Afrikaners staan, is dat hulle hulle moet voorstel (of opnuut moet voorstel) `n deelnemende gemeenskap op `n radikale demokratiese grondslag te wees.


a. Nasionalisme

    In die verlede was Afrikaners, as `n “verbeelde gemeenskap”, volledig verbind tot nasionalisme en die belangrikste instelling daarvan, die nasiestaat. Wat ons vandag beleef, is die einde van Afrikanernasionalisme. Beteken dit ook die einde van die Afrikaner as `n historiese gemeenskap?

    Ek dink nie so nie. Daar is egter myns insiens slegs een pad vorentoe, en dit is dat Afrikaners hulle hulle moet voorstel, of opnuut moet voorstel, `n postnasionalistiese gemeenskap te wees wat volledig verbind is tot radikale demokrasie, dit wil sê, verbind tot die ideale van demokratiese deelname en gemeenskapsoewereiniteit, wat die nalatenskap van radikale demokrasie sedert die ontstaan daarvan in Klassieke tye gevorm het.

    `n Mens kan hierdie droom oor ons wat radikale demokrate word, anders verwoord deur te redeneer dat Afrikaners hulle (opnuut) moet verbind tot die sogenaamde tussenliggende ruimtes tussen die staat en die individu. Hoekom? Omdat die ware gees van demokrasie en die onvoorspelbare gebeurtenisvolheid van die politiek slegs in die tussenruimtes tussen staat en individu uitdrukking kan vind. (Is dit nie waaroor die politieke eintlik gaan nie, naamlik dat dit die kollektiewe sorg vir die onvoorspelbare gebeurtenis is nie?) Ek argumenteer ten gunste van `n nuwe topos of nuwe ruimte vir gemeenskappe, naamlik die ruimte onder die staat se abstrakte kartering en bokant die ruimtes wat deur vryswewende verbruikers gebruik word om hul medeverbruikers na te boots. Hoekom? Omdat die ruimtes tussenin in staat kan wees om betekenisvolle politieke gebeurtenisse te medieer. Terwyl die staat, deur middel van sy strewe na universele kartering, die politieke tot die administratiewe reduseer, en terwyl die individu volledig gedompel is in `n mimetiese stryd om steeds meer kommoditeite te verbruik, kan die ruimtes tussenin gemeenskaplike ruimtes wees, dit wil sê ruimtes wat gemeenskappe toelaat om polities betekenisvol te wees.

    Volgens John Milbank is nasiestate geneig om sogenaamde komplekse ruimte (dit wil sê die institusionele ruimtes tussen die individu en die staat) te reduseer tot eenvoudige ruimte (dit wil sê ruimte sonder tussenliggende en gemeenskapsinstansies). Omdat die historiese gemeenskappe die maatskaplike kragte is wat tradisioneel in komplekse ruimtes aangetref word, beleef nasiestate hulle amper instinktief as vyande. Dit is om dié rede dat Ernst Renan, die neëntiende-eeuse woordvoerder vir nasionalisme, die nasiestaat so welsprekend aangeprys het. Volgens Renan het die nasiestaat sy lof verdien omdat dit oorlog verklaar het teen die talle gemeenskappe wat in sy komplekse ruimte woon.

    Kortom, deur hulleself te hervertolk op `n postnasionalistiese grondslag kan Afrikaners `n radikale demokratiese gemeenskap word wat die baie rasionele vir `n betekenisvolle bestaan nastreef in sy verbintenis tot dié topoi of plekke waar ware politieke gebeurtenisse steeds moontlik kan wees.


b. Neoliberalisme

    Die mees intense metapolitieke skeidslyn vandag is die een tussen neoliberalisme en demokrasie, dit wil sê, tussen die vertroue op prosedurele prosesse wat die regte van individue beskerm, en die demokratiese oortuiging dat die politieke slegs lewend is wanneer gemeenskappe regstreeks aan openbare sake deelneem. Die soeke na `n balans tussen liberalisme en demokrasie is `n voortgaande proses wat historiese en politieke gebeure sedert minstens die Franse Revolusie kenmerk.

    Die invloed van die nasiestaat en globalisering onderstreep die feit dat dit nodig is dat Afrikaners die demokratiese erfenis met sy klem op gemeenskapsdeelname aanvaar. Waarmee ek nie die belangrikheid van die neoliberale kultuur van regte ontken nie. Die soeke na ewewig tussen regte en gemeenskapsdeelname is `n voortgaande proses. Afrikaners moet egter die feit onder die oë sien dat die kultuur van regte die antisosiale kragte kan verskans wat die invloed van gemeenskappe ondermyn en ware politieke ruimtes neutraliseer. Die kultuur van regte is nie noodwendig die teenstander van nasiestate en globalisering nie, maar dikwels juis die instrument wat hulle gebruik om hul universele kartering van ruimtes te legitimeer.

    Met ander woorde: hoewel lojaliteit teenoor die kultuur van regte in die toekoms `n belangrike instrument vir Afrikaners kan wees, is dit selfs belangriker dat hulle die demokratiese ideale omarm. Hoewel die aanspraak op regte geneig is om ons binne `n administratiewe logika te plaas, kan die radikale demokratiese impuls die voorwaarde vir Afrikaners stel dat hulle betekenisvolle mediators van politieke gebeure moet wees.


c. Identiteite

    Pogings om jou voor te stel wat dit beteken om `n Afrikaner te wees – soos met enige ander historiese gemeenskap – is altyd gekarteer volgens sekere idees oor die betekenis van die woord identiteit. Watter siening van identiteit sal `n mens in staat stel om jouself `n demokratiese en deelnemende Afrikaner te noem? Dié vraag lê juis aan die kern van die Afrikanerkwessie vandag.

    Ek wil probeer om minstens twee voorwaardes te identifiseer waaraan die konsep van identiteit moet voldoen voordat dit as `n demokratiese begrip beleef kan word. Ek formuleer in negatiewe terme:

1.    Dit is van die allergrootste belang dat Afrikaners `n monologiese idee van identiteit moet verwerp. Monologiese denke lê ten grondslag aan `n fundamentalistiese konsep van identiteit en is juis die voorvereiste vir eksklusiewe, gewelddadige en ondemokratiese praktyke. Rassisme is een van die lelikste aangesigte daarvan, maar daar is ook xenofobiese mentaliteite oor die hele wêreld, nasiestate wat hul universele wil afdwing, globalisering wat die plaaslike kragte vernietig wat deur die nasiestate ongeskonde gelaat is, en so meer. Die een ware identiteit word as die norm gesien, terwyl die ander gesien word as iets wat uitgesluit moet word van of op dialektiese wyse versink moet word in die voue van die self. Die korrekte reaksie is nie om die politiek van identiteit te ontken nie, maar eerder om jou `n alternatiewe politiek van identiteit voor te stel.

2. Terselfdertyd moet die selfverloëning onder Afrikaners getransendeer word. Hierdie verloëning gaan dikwels gepaard met die (postmoderne) aanspraak dat die konsep “Afrikaner” onstabiel is, niks aandui nie en dus sonder enige ware politieke belang is. Kortom, die konsep “Afrikaners”, en trouens enige stabiele betekenis hoegenaamd, word met die uiterste skepsis en uiteindelik met volslae onverskilligheid benader. Hierdie sogenaamde postmoderne skepsis teenoor stabiele betekenisse is bloot die teenoorgestelde van die monologiese benadering en dus vasgevang in die mimetiese spel – die een is bloot die skadu van die ander. Ernstiger nog as die logiese punt wat pas gestel is, is die punt dat die postmoderne uitkalwering van stabiele betekenisse en die gebrek aan simboliese koördinate die voorwaardes kan skep vir die praktyke wat dit na bewering bestry, naamlik monologiese uitsluiting of insluiting. In die jongste tyd kan voorbeelde van xenofobiese praktyke oor die wêreld heen gesien word as `n regstreekse gevolg van die identiteitverloënende logika wat binne kapitalisme en die proses van globalisering werksaam is. Kortom, die verloëning van identiteite deur middel van `n beroep op die onstabiliteit van ons konsepte kan tot die teendeel daarvan lei, naamlik monologiese praktyke.

    Dit bring my by my slot. Die ware uitdaging vir die politiek van identiteit is om verby die mono-logiese benadering en die skeptiese ontkenning van enige stabiele betekenis hoegenaamd te dink. My voorstel is om aan die konsep “identiteit” in analogiese terme te dink. Hoekom? Omdat die analogie ons in staat stel om verby albei bogenoemde moontlikhede te beweeg deur eenheid én verskil te dink, koherensie én pluraliteit, die een én die baie.

    Die konsep “Afrikaner” is `n analogiese konsep wat sowel die kontinuum as die veelheid van idiome in ag neem. Hoewel Afrikaners hulle nooit analogies voorgestel het nie, was die Afrikanergemeenskap nog altyd juis `n analogiese gemeenskap. In die verlede het Afrikaners bewustelik óf monologiese eksklusivisme, óf skeptiese onverskilligheid aangeneem, en die analogie vergeet wat nog altyd reeds in hulle selfsamestelling gegrif was.

    Die analogiese balans tussen die een en die vele is myns insiens juis die voorvereiste vir `n demokratiese idee van identiteit. Dit ontkom aan sowel die onverdraagsaamheid van monologiese totalitarisme as die onverskilligheid van postmoderne skeptisisme. Positief gestel, neem die analogie die wisselwerking tussen die geheel en die dele daarvan, die oorsteek van grense tussen die universele en die partikuliere, in ag.

    As die analogie gebruik word om nie net die Afrikaneridentiteit te begryp nie, maar ook ons Suid-Afrikaanse en Afrika-identiteit, kan dit die ruimtes oopmaak waarin ware demokrasie kan geskied.

Vrydag 6 Mei 2005
 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=200
Artikel nagegaan:
    -