blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die politieke toekoms van die Afrikaners: Wie is die Afrikaners en wat is hulle toekoms? 2005-05-05
Jakes Gerwel

Deur Jakes Gerwel, Nelson Mandela Buitengewone Professor in Afrikaans, Universiteit van Wes-Kaapland
*Hierdie lesing is op Woensdag 6 April 2005 te Grondwetkoppie, Johannesburg deur Gerwel gelewer in gesprek met Danie Goosen, as deel van die Harold Wolpe-gedenklesingreeks georganiseer deur die Sociology of Work Unit van die Universiteit van die Witwatersrand en die EDGE-instituut. Die Vrye Afrikaan spreek sy dank teenoor dr. Gerwel uit vir die toestemming om `n Afrikaanse vertaling van sy lesing te plaas.
Vrydag 6 Mei 2005

    Die versoek aan my was om oor `n baie omvattende onderwerp te praat, naamlik wie die Afrikaners is en wat hulle toekoms is. Ek besef dit is enigsins voorbarig van my om hoegenaamd hierdie onderwerpe te probeer aanpak.

    In die eerste plek sal die meeste van die kommentaar wat ná Hermann Giliomee se omvangryke en monumentale werk Die Afrikaners oor die onderwerp gelewer word, maar gemeenplasig wees.

    In die tweede plek neem die gesprek oor “die Afrikaners”, “hulle” identiteit en plek in die samelewing, “hulle” lot en toekoms, die vorm van `n verinnerlikte monoloog aan. Die groep, of vermeende groep, praat maar so saggies by homself – óf benoud, óf in vervoering – oor wese, lotsbestemming en noodlot. Die buitestander oortree op hierdie terrein, dring hierdie *diskoersiewe ruimte binne. Ek het nie die bevoegdhede om daardie indringerrol te speel nie.

    Bowendien is daar `n neiging om in hierdie soort besprekings neerbuigend oor “die Afrikaners” te praat. Die benadering is soos teenoor `n vreemdsoortige spesie wat spesiale behandeling verdien, selfs spesiale begripsmetodes, spesiale epistemologie. Dit is asof die spook van “volkekunde” – daardie ou Afrikaanse dissipline waarvolgens die inheemses bestudeer is – teruggekeer het om hom te besoek aan dié wat hom voorheen bedryf het.

    Hoe dit ook al sy, ek het met Eddie Webster ooreengekom om aan die bespreking deel te neem, en ek doen dit dan met voornoemde voorbehoude en voetnote.

    Elke keer as ek praat van “die Afrikaner” en die besitlike voornaamwoord “hulle”, word dit tussen aanhalingstekens geplaas, want ek is nie daarvan oortuig dat `n mens in sulke simplistiese terme oor `n sosiale groep kan praat as wat dikwels deur talle “Afrikaners” in die binnekringe én deur buitestanders gedoen word nie. Ek vermoed dat baie Suid-Afrikaners van wie aanvaar word dat hulle deel van daardie groep uitmaak, geen erg daaraan het om so geïdentifiseer te word nie en geen erg het aan die identiteitsvraagstukke wat daardie diskoerse en omskrywings ten grondslag lê nie. Vandaar die tentatiwiteit van die aanhalingstekens.

    (Terloops, ek het baie simpatie met dié wat onwillig gekategoriseer word, want ek het eintlik tussen aanhalingstekens grootgeword vanweë my toegewese kategorisering as “kleurling”.)

    `n Interessante vraag vir my is die volgende: Saam met watter ander kategorieë in dié taksonomie van identiteit word “die Afrikaner” in hierdie gesprekke oor sosiale identiteit geplaas? Begrip van daardie taksonomie en die verhouding tussen kategorieë kan ons help om te vorder van bloot met “die Afrikaner” gemoeid te wees tot by `n opvatting van identiteitsvorming in Suid-Afrika oor die algemeen.  

Dink “Afrikaners”, en meer bepaald die teoretici en die artikuleerders van “Afrikanerskap” en die “Afrikaneridentiteit”, op dieselfde skaal en manier aan ander identiteite as aan “Afrikaner”? En wat sou dié wees? Ander taalkundig gedefinieerde kategorieë soos Xhosas, Zoeloes, en so meer?

    Die Afrikaanse taal het natuurlik histories `n sentrale rol gespeel in die ontstaan en vorming van `n “Afrikaneridentiteit” en dit is skynbaar nog steeds so vir diegene wat hulle met hierdie dinge besig hou. Daar is verskillende vertolkings van hierdie geskiedenis van verbande lê tussen die taal en “Afrikanernasionalisme”, waarvolgens sommige die suiwere liefde vir die taal voorstel as die aanleiding tot die nasionalistiese beweging, terwyl ander weer aanvoer dat `n politieke beweging die taal, wat wyd en selfs hoofsaaklik deur mense buite dié politieke beweging gepraat is, geskaak het vir eng nasionalistiese doeleindes. Wat die waarheid ook al is, die Afrikaanse taal het `n sterk saamtrekpunt vir die “Afrikaner-”nasionalistiese beweging geword.

    Die aanwesigheid in Suid-Afrika van soveel swart, en veral “Kleurling-” sprekers van die taal het nog altyd die taalgrondslag van identiteitsaansprake vir “Afrikaners” gekompliseer. En in die nuwe en huidige samelewings- en politieke omstandighede des te meer.

    Daar is min bewyse dat swart sprekers van die taal enige noemenswaardige begeerte het om “Afrikaners” te wees, of, akkurater gestel, om as “Afrikaners” bekend te staan. (Ek maak hierdie regstelling en onderskeid tussen “te wees” en “bekend te staan” omdat ek weer eens onseker is van sodanige identiteite as kategorieë wat `n mens IS, eerder as gekonstrueerde definiëringskategorieë van ‘bekendstaan as’.)

    Daar is ook nog getuienis dat party artikuleerders van die idee van “Afrikaneridentiteit” nie swart sprekers van die taal insluit by hulle begrip van “Afrikaners” nie. Dit lei daartoe dat `n rassedefinisie insluip, naamlik dat Afrikaners wit Afrikaanssprekende mense is. En in `n samelewing wat na nierassigheid streef, kompliseer dit vanselfsprekend sake. Dit kompliseer sake nie net, of selfs nie eers primêr, vir die nierassige samelewing in wording nie, maar veral ook vir die groep wat hom op dié wyse definieer. Hy stel hom bloot aan stigmatisering as rassisties of ten beste rasgebaseer, en daardie persepsie het potensieel gevolge vir die toekoms van die groep in `n samelewing met nierassige oogmerke.

    En as ek vir `n oomblik mag afdwaal: Daardie persepsie kan – trouens, ek vermoed dit het reeds – gevolge hê vir die toekoms van die Afrikaanse taal, wat in die denke van so baie nie-Afrikaanssprekendes onlosmaaklik verbonde is aan die “Afrikaner”. Afrikaans word ongelukkig vanweë daardie verband maar te dikwels geassosieer met reaksionêre en rasgebaseerde standpunte en houdings. Dit word weer weerspieël in die wyse waarop selfs legitieme aansprake van Afrikaans gehanteer word, of in die reaksie daarop.

    Daar is diegene van ons wat nie wit is nie, geen verbintenis met of betrokkenheid by “Afrikaneridentiteit” het nie en Afrikaanssprekend is en `n belang het by die toekoms van Afrikaans in `n nierassige en veeltalige konteks. Trouens, op die oomblik is ons besig om `n vergadering te belê met die ou Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns oor die fundamentele transformasie van daardie liggaam tot een wat heeltemal nierassig en inklusief sal wees, met `n eksplisiet progressiewe standpunt en benadering. Ons hoop dit sal `n liggaam wees wat hom sal beywer vir die voortgesette groei en ontwikkeling van Afrikaans as `n taal van die sogenaamde hoër vorme van uitdrukking, maar wel as `n dinamiese komponent van `n nierassige en veeltalige samelewing.

    Ek het gesê ek gaan vir `n oomblik afdwaal, maar miskien is dit tog nie juis `n afdwaling nie. Dit kan wel wees dat die toekoms, of deel van die toekoms (toekomste is immers kompleks en nie eendimensioneel nie), van talle van diegene wat hulle met die identiteitsetiket “Afrikaner” bevind, geraak kan word deur sulke nierassige projekte van Afrikaanssprekendes, wat daarop gemik is om die taal en die aktiwiteite van die taal te integreer by die hoofstroom van `n samelewing wat hom roem op sy diversiteit.

Die Afrikaanse taal het op talle terreine merkwaardig gepresteer. Die ontwikkeling daarvan was klaarblyklik ten nouste verbonde aan die politieke en maatskaplike posisie van `n deel van sy sprekerskorps, maar dan is die ontwikkeling van enige taal gekoppel aan die politiek van diegene wat hom bevorder. Dit is `n ontwikkelde taal van die wetenskap, filosofie, vakkundigheid en algemene onderwys. As `n spreektaal in die verskillende streeksvariante is dit een van die landstale wat die wydste gebruik word.

Die einde van minderheidsregering en die oorgang na demokrasie het noodwendig die posisie van die taal verander. Dit is in die eerste plek nie meer een van twee begunstigde amptelike tale nie en geniet nie meer die maghebbersbeskerming van die apartheidsjare nie. En dit is nie te betwyfel nie dat die taal as gevolg van daardie veranderinge “veld verloor” het – om nou so `n gelade uitdrukking te gebruik – wat sy sogenaamde hoër funksies betref.

    In die openbare lewe is dit nie meer so belangrik as wat dit was nie. As  akademiese taal word dit voortdurend geërodeer. Afrikaanstalige onderwys wat die groei van die taal gevoed het, is aan die afneem. Dit is van die ontwikkelinge, vermoed `n mens, wat die gevoel van beleëring aanblaas onder diegene wat hulle bekommer en hulle uitspreek oor “die Afrikaners” en “hulle” toekoms.

    Dié kwellinge is ook nie sonder gronde of legitimiteit nie. Trouens, as ons vir `n oomblik kan vergeet van die soms eng chauvinistiese en selfs klaarblyklik rassistiese botone en byklanke van party dele van die Afrikaans-diskoers, sou ek aanvoer dat `n opregte besorgdheid oor die voortgesette en volgehoue ontwikkeling van Afrikaans `n progressiewe moment in die ontwikkeling van ons sogenaamde Nuwe Suid-Afrika verteenwoordig.

    Ons Grondwet verteenwoordig die grondteks, die kanon, van wat ons graag wil wees, hoe ons graag wil lyk as `n samelewing, as `n kollektief van mense wat saam woon. Om ons maatskaplike diversiteit te roem, is een van die grondwaardes wat vervat is en aangemoedig word in daardie nasionale dokument waarin ons onsself droom. En taalverskeidenheid – veeltaligheid – is `n kernkomponent wanneer ons daardie diversiteit bevorder en roem.

    Wanneer `n mens op `n progressiewe, of nie-retrogressiewe, manier daarop aandring dat ruimte geskep word vir die Afrikaanse taal om voort te gaan om te groei en te ontwikkel, om die erosie daarvan teë te werk, het jy `n kragtige instrument vir die bevordering van taalverskeidenheid. Ek is by geleentheid deur die voormalige Minister van Onderwys gevra om hom te adviseer oor die toekomstige rol en plek van Afrikaans in die hoëronderwysstelsel. Ons het aanbeveel dat `n universiteit of `n paar universiteite vir elk van die amptelike tale behalwe Engels aangewys word wat vir die ontwikkeling van die betrokke taal verantwoordelikheid moet aanvaar. In die geval van Afrikaans sal dit volgehoue ontwikkeling beteken.

    Die feit van die saak is dat dit nie illegitiem vir Afrikaanssprekendes is om op hulle taalregte aan te dring nie; inteendeel, dit kan `n kragtige middel wees tot die verwesenliking van een van ons grondbeskouinge van onsself. Daardie aandrang moet egter geskied binne `n progressiewe verstaan van veeltaligheid en die regte van almal.

    Dit lyk miskien of dit ons nou weggelei het van die hoofonderwerp van wie “die Afrikaners” is en wat “hulle” toekoms is. Ek vermoed egter dat die wit Afrikaanssprekende jeug se belangstelling in eksklusiewe en uitsluitende tradisionele sieninge van “Afrikaners” vinnig aan die verflou is. Baie van hulle – en `n mens kan met veiligheid voorspel dat dit by toekomstige geslagte in ‘n groter mate so sal wees – stel waarskynlik primêr belang in die toekomstige welsyn van die taal, eerder as in ander etniese of rasgebaseerde tekens van wat as identiteit gesien word. En ek moet toegee dat ek die gevoel kry dat die belangstelling in die toekoms van die taal self dalk ook aan die verflou is.  

    Ek sluit af deur te sê dat dit op talle terreine en in talle sfere nog merkwaardig goed gaan met Afrikaans ná 1994. Afrikaanse koerante en tydskrifte vaar baie goed. Daar is `n regte oplewing in Afrikaanse musiek. Die Afrikaanse letterkunde groei steeds, en selfs Penguin gaan binnekort `n Afrikaanse roman publiseer. En kunstefeeste met Afrikaans as grondslag spring oral in die land op.

    Daarteenoor staan die tekens van erosie in die openbare sfeer wat ek reeds genoem het.

    Afrikaans, hier gebruik as `n aanduider van die verskillende aspekte van die gemeenskapslewe van die verskeidenheid van die sprekers daarvan, het `n geskiedenis van `n onvermoë of onwilligheid om sy eie verskeidenheid goed te hanteer, om nie eens te praat van inpas by en saamleef met `n breër verskeidenheid nie.

    Die uitdaging vir Afrikaans is om sy afbrekende interne verdeeldheid aan te pak en rasse- en etniese eksklusiwiteit in eie geledere te oorkom terwyl dit terselfdertyd sy eie ryk diversiteit respekteer en roem. En om hom dinamies te situeer as deel van die rykdom van verskeidenheid in Suid-Afrika.

    Dit is binne hierdie raamwerk, meen ek, dat “Afrikaners” `n volhoubare toekoms kan hê.

Vrydag 6 Mei 2005


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=199
Artikel nagegaan:
    -