|
||||
Richard Meissner Deur Richard Meissner, spesialis in internasionale politiek Vrydag 6 Mei 2005 Die uitspraak van Pius Ncube, Aartsbiskop van Bulawayo, dat die bevolking van Zimbabwe president Robert Mugabe deur `n vreedsame rewolusie omver moet werp, het opnuut die rol van die kerk in die politiek beklemtoon. Dis nie net in Zimbabwe dat kerkleiers standpunt inneem teen regeringshoofde wat op ondemokratiese wyse aan mag vasklou juis terwyl daar oor die ontwikkelende wêreld `n golf van demokrasie spoel nie. Mswati die Tweede, Koning van Swaziland, het hom ook al die kritiek van die kerk op die hals gehaal omdat hy nie die Grondwet wil verander om die wil van die bevolking te weerspieël nie. Politeke partye word boonop in die koninkryk verbied. Afgesien hiervan is daar nog die koning se spandabele lewenswyse, terwyl `n VIGS-pandemie krisisafmetings aanneem, en die ekonomie verder stagneer. In Suid-Afrika het kerkleiers in die verlede felle kritiek teen apartheid uitgespreek. Aartsbiskop Desmond Tutu (wat nie terugdeins om Mugabe te kritiseer nie) en wyle Johan Heyns en Beyers Naudé is van die bekendste religieuse figure wat hulle teen apartheid uitgespreek het. Tutu het ook al in die verlede sy kritiek teen die huidige regering se beleid van swart ekonomiese bemagting geopper. Dui die kerk se optrede daarop dat Suider-Afrika besig is om `n nuwe fase in sy politieke geskiedenis te betree? Of is dit maar net nòg `n natuurlike reaksie van nòg `n belangegroep teen regeringsbeleide wat uit pas is met die praktyke van die res van die wêreld? Die uitsprake van godsdiensleiers teen die regerings van Zimbabwe en Swaziland is nie `n kortstondige neiging nie. `n Mens kan verwag dat die regering van Zimbabwe nog steeds teenkanting van die kerk sou kry, al het dit die verkiesing ook gewen. Die tendens dui op `n veranderde klimaat in die streek. Hierdie klimaat word al hoe minder deur ras as grondslag van politieke affiliasie beïnvloed. Dié rasgebaseerde politieke inslag van sommige regerings, soos dié van Zimbabwe en in `n mate ook Suid-Afrika, is juis dìt wat die kerk die harnas indryf. Boonop verarm die streek se bevolking ten bate van leiers, soos Mswati, wat die een luukse motor na die ander aankoop, of Mugabe, wat voedsel as `n ‘verkiesingswapen’ gebruik het. Die kerk, as `n barmhartigheids- en koninkryksinstansie, kan nie agteroorsit en toekyk hoe `n klein politieke elite maak en breek soos dit wil nie. As die kerk dit sou doen, sou dit lynreg teen hierdie identiteite indruis. Die opinies van die kerk teen Swaziland se heerser en dié jeens die Zimbabwiese verkiesing is `n natuurlike reaksie van `n unieke belangegroep teen outokratiese regerings. Dié reaksie word ontlok deur die kerk se norme en waardes soos bepaal deur God se medelye met die magteloses en verdruktes in die samelewing (Psalm 146 en Mattheüs 25: 34-40). Dan is die kerk ook nog ideologies aan die samelewing verbind deur wat Crafford beskryf as die kerk se bereidheid tot getuienis vir maatskaplike geregtigheid in die profetiese verkondiging. In dié opsig bepaal die Bybel dat God `n God is van die armes en verdruktes. Deur die toediening van God se liefde en vergiffenis oefen die kerk `n partydige opsie uit om vir die armes en verdruktes in te tree, omdat die kerk in Christus se voetspore volg. Omdat die kerk God navolg, beteken dit nie dat dit nie teenkanting van regerings sal kry nie. President Robert Mugabe het Ncube uitgekryt as `n dwaas (‘half wit’) en gesê dat die regering geen opstandigheid na die verkiesing sal duld nie. Met ander woorde, indien daar `n opstand sou plaasvind, sou die ZANU-PF-beheerde regering al die mag tot sy beskikking gebruik om so `n opstand te onderdruk. Dit lyk asof Mswati hom ook nie aan die kritiek van die kerk en ander belangegroepe steur nie. Geen noemenswaardige politieke hervormings het nog plaasgevind nie. Indien `n opstand in Zimbabwe `n werklikheid word en die regering word vervang, behoort dit nie die kerk, as `n politieke akteur, se opposisie teen ander regeringsbeleide te beperk nie. Indien nodig, sal die kerk eenvoudig net aanhou om die nuwe regering te kritiseer. Die rede hiervoor is dat die kerk as `n belangegroep optree, en belangegroepe se hoofdoel in die politiek is juis om regerings te beïnvloed en hulle beleide te kritiseer. Die kerk is ook ‘binne’ mense en as gevolg hiervan brei die invloed van die kerk dan ook deur mense na die samelewing toe uit. Die identiteit van die kerk word dus deur sy norme en waardes bepaal, wat op sy beurt weer sy doelwitte in die samelewing identifiseer—die navolging van Christus, die uitbreiding van God se koninkryk en om om te sien na die armes en behoeftiges. As gevolg van hierdie doelwitte tree die kerk as `n politieke balans en teenvoeter op in tye wanneer mense die ‘prooi’ van outokratiese magshebbers word. Weens die veranderende politieke klimaat in die streek, en die geskiedenis van die kerk as `n kritiseerder van onregverdige regeringsoptrede, kan verwag word dat die kerk in die toekoms `n groter en meer sigbare rol in die Suider-Afrikaanse politieke bestel gaan speel. Die betrokkenheid van die kerk by politieke aangeleenthede sal ook `n meer transnasionale (oor grense heen) karakter aanneem namate dit met belangegroepe in ander wêrelddele saamspan in `n poging om beleidsveranderinge te bewerkstellig. Nieteenstaande dié moontlike samewerking het die gebrek aan eenheid in die kerk `n stremmende uitwerking op die kerk se beïnvloeding van regeringsbeleide. Ter afsluiting: Suider-Afrika is besig om `n nuwe fase in sy politieke geskiedenis te betree, waarin die kerk, as `n unieke belangegroep, sal optree. Vrydag 6 Mei 2005 |