|
||||
Johann Rossouw Deur Johann Rossouw, navorsings- en kommunikasiebeampte van die FAK en redakteur van Die Vrye Afrikaan Hierdie voordrag is gelewer tydens ‘n openbare debat oor transformasie tussen die ANC-Jeugliga, die Hellenic-Italian-Portuguese Alliance (HIP Alliance) en die FAK op Saterdag 9 April 2004 in Johannesburg
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is ‘n burgerlike samelewingsforum wat glo in ‘n Afrika van selfrespekterende gemeenskappe. In Suid-Afrika hang die verwesenliking van so ‘n visie onder meer af van die demokratiese alliansie van Afrikaner en Afrikaan.
In die lig van hierdie visie is die vraag na transformasie nie of dit moet plaasvind nie, maar hoe. Ofskoon Suid-Afrika die afgelope tien jaar groot treë onderweg na politieke en ekonomiese vryheid vir al haar burgers gemaak het, lê daar nog baie werk voor, en hierin is die proses van transformasie van die grootste belang.
Terwyl transformasie vandag met groot energie deur veral die regering toegepas word, moet die oogmerk van transformasie nie uit die oog verloor word nie, naamlik om Suid-Afrika te neem anderkant die donker kante van ons koloniale geskiedenis, waarvan apartheid uiteindelik ook ‘n voorbeeld was. In hierdie verband is Suid-Afrika se grootste uitdaging om die staat, wat ‘n koloniale instelling is, tot ‘n waarlik demokratiese instelling te omvorm. Die belangrikste agente hiervoor is Suid-Afrika se gemeenskappe, en dit is waarom die FAK glo dat die burgerlike samelewing sentraal is onderweg na politieke en ekonomiese vryheid vir alle Suid-Afrikaners.
Die grootste fout wat tans met transformasie begaan word, is om ras as maatstaf vir transformasie te gebruik. Dit is verstaanbaar dat ras hiervoor ingespan word, gegewe die rassistiese verdelingspatrone van die vorige bedeling wat nog tot ‘n groot mate in Suid-Afrika voortbestaan. Ongelukkig veroorsaak dit minstens drie negatiewe gevolge. Eerstens word die ou kategorieë van ras in stand gehou en is daar tekens dat ‘n nuwe swartkapitalistiese rasse-elite aan die opkom is, sonder dat die meeste swartmense werklik bevoordeel word. Tweedens word jong swartmense op grond van velkleur in poste aangestel waarvoor hulle veral weens die gebrek aan moedertaalonderrig nie opgewasse is nie, wat dikwels by wit kollegas tot rassisme teenoor hulle aanleiding gee, en hulle ook met hernude minderwaardigheid laat. Derdens word jong Afrikaners wat met hart en niere aan hierdie land en vasteland se herlewing verbind is daarvan weerhou om ‘n bydrae te maak.
Die geskiedenis van die Afrikaners het getoon dat die sukses van ‘n onderdrukte inheemse gemeenskap eerstens begin by moedertaalontwikkeling, waarop eers politieke en dan ekonomiese vryheid volg. In die huidige transformasieproses, waarin die rassistiese beleid van demografiese verteenwoordigendheid sentraal is, speel taal geen rol nie, en is dit veral swartmense wat ware vryheid ontsê word, omdat hulle nie die reg op moedertaalonderrig ontsê word. Omdat die rol van taal nie erken word nie, word die kwessie van bemagtiging verpolitiseer en geëkonomiseer.
Om transformasie uit sy huidige doodloopstraat te lei, moet die regering die daad by al sy mooi woorde oor die inheemse tale voeg en moedertaalonderrig vir alle Suid-Afrikaners instel. Tans vaar daardie Afrikaanse en Engelse moedertaalsprekers wat toegang tot die eerste ekonomie geniet steeds die beste omdat hulle kan bou op die stewige fondament van moedertaalonderrig, en gevolglik ook beter beheer oor hul tweede taal het. Voorts moet veeltaligheid ingespan word by aanstellings in poste, omdat dit ook tegelyk die rassistiese patrone van die verlede sal regstel. Soos Gerrit Brand eens geskryf het, kan jy wel ‘n ander taal as voorvereiste vir ‘n aanstelling aanleer, maar jy kan nie jou velkleur verander nie.
Die tweede belangrike aspek van transformasie is die verhouding tussen die eerste en die tweede ekonomie. Terwyl die regering probeer om meer mense vanaf die tweede na die eerste ekonomie te neem, is die feit van die saak dat die gaping tussen arm en ryk ná tien jaar van demokrasie verlede November die hoogste ter wêreld geword het. Op die koop toe word daar nie genoeg erns gemaak met wat prof. Sampie Terreblanche is sy monumentale A History of Inequality in South Africa blootgelê het nie, naamlik dat die tweede ekonomie oor eeue heen ontstaan het weens die wanpraktyke van die eerste ekonomie. Vandag nog sien ons hoe mense in die eerste ekonomie hulle oorgee aan individuele verbruikerskap, materialisme en ‘n totale gebrek aan respek vir die omgewing of armes. Een van die redes hiervoor is, soos veral in die geval van Afrikaners na 1948 duidelik word, dat toetrede tot die eerste ekonomie dikwels ook beteken dat jy vanaf ‘n lid van ‘n gemeenskap verander in ‘n vryswewende, verbruikende individu, wie se aansien nie van sy gemeenskap afhang nie, maar van sy individuele prestasie en besit.
Toe die Afrikanernasionaliste van die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, was hulle ekonomiese oogmerk om hul belangegroep in die staatskorporatiewe bestel op te neem. Dit is binne 15 jaar gedoen met sulke sukses dat daar nie meer genoeg Afrikaners vir die poste in die eerste ekonomie was nie, en gevolglik is ander “rassegroepe” in diens geneem, wat uiteindelik een van die eerste krake in die apartheidsmure sou wees.
Vandag probeer die Afro-nasionaliste van die ANC ook om hulle belangegroep in die staatskorporatiewe bestel op te neem, maar stuit hulle voor ‘n dilemma, naamlik dat daar net te veel veral mense in hul belangegroep is om almal in dié bestel op te neem. Gevolglik beroep die ANC hom op die mitiese 6% ekonomiese groeikoers en die sogenaamde deursyfering van welvaart na die tweede ekonomie. Inderwaarheid gaan Suid-Afrika moeilik daardie groeikoers haal sonder onder meer hoë ekologiese koste, en het die deursyferingseffek nêrens ter wêreld plaasgevind nie.
Die oplossing hiervoor is om die tweede ekonomie in eie reg te benader, en dit nie as mindere vennoot van die eerste ekonomie te sien nie. Die FAK verwelkom dit dat die regering sy beleid vanaf die neo-liberale GEAR na een van ‘n ontwikkelingstaat verander het, maar die feit bly dat die staat in Suid-Afrika nie sterk genoeg is om almal uit armoede te lig nie. In die tweede ekonomie het mense gewoonlik nog ‘n baie sterk gemeenskapsgevoel, en daarom pleit die FAK dat die regering pasgemaakte ontwikkelingstrategieë vir die tweede ekonomie uitwerk. In hierdie strategieë is die basiese vertrekpunt dat nóg die staat nóg die individu die belangrikste agent van ontwikkeling is, maar inderdaad die gemeenskap self. Onder hierdie gemeenskappe is moedertale ook nog baie sterk, en kan dit waardevolle hulpmiddels van ontwikkeling wees.
Dit is eers wanneer taal en gemeenskappe in Suid-Afrika na volle waarde geskat sal word, wat ware politieke en ekonomiese vryheid vir alle Suid-Afrikaners verwesenlik sal word, en wat Suid-Afrika haar plek in ‘n Afrika bevry van die koloniale nalatenskap met trots sal inneem. |