|
||||
Stefan Louw Deur Stefan Louw, predikant, NG gemeente Melville, Johannesburg
Die onlangse smeerartikels in Son en Rapport, waarin ’n gay predikant van Kaapstad deur sy vriend verneder is in reaksie op die verbreking van hulle verhouding en agterna selfmoord gepleeg het, gooi die soeklig op die mag van instellinge soos die media en die kerk om straffeloos geweld te pleeg teenoor gemarginaliseerdes in die samelewing.
Subjektiewe verslaggewing in die media
Die eerste saak wat in dié verband in skerp reliëf kom, is die vraag na die rol en doel van verslaggewing in die media. Dit is so dat daar die afgelope jare sedert onafhanklikheidswording by die Suid-Afrikaanse dagbladmedia ’n onrusbarende tendens ontstaan het om weg te beweeg van die strewe na objektiewe verslaggewing, gepaard met toenemende omhelsing van subjektiewe verslaggewing. Natuurlik is dit ook so dat geen artikel of berig ooit volkome objektief of belangeloos geskryf word nie. Met objektiewe verslaggewing word hier dan eerder verwys na die verbintenis tot ’n strewe na verslaggewing wat informerend en ewewigtig met sy onderwerp omgaan. Dit word veral gekenmerk deur die volgende: Respek vir die kompleksiteit van enige saak of aangeleentheid waaroor daar verslag gegee word: die aanvaarding dat geen saak ooit volledig afgehandel of omvat kan word in verslaggewing nie, dat elke saak kontekstueel verwikkel is in komplekse historiese, kulturele, politieke, ekonomiese, maatskaplike en ander verbande. Dit bied weerstand teen enige vorm van reduksionisme of simplistiese konstruksies oor die saak onder bespreking. ’n Verbintenis tot voortgesette debat. Objektiewe verslaggewing is verbind tot die inisiëring en instandhouding van voortgesette gesprekvoering rondom sake van openbare belang. Objektiewe verslaggewing stimuleer juis kritiese gesprekvoering deur die bybring van alternatiewe betekenismoontlikhede rondom die saak. In dié sin ondermyn dit gestolde betekeniskonstruksies en beveg dit vooroordeel. ’n Verbintenis tot billikheid en ewewigtigheid. Objektiewe verslaggewing gaan sensitief om met die kontekstuele aard van menings en streef voortdurend na veelkantige benadering van ’n saak deur die oë van verskeie meningdraers. Dit staan uit die staanspoor krities jeens enige vorm van eensydige oorbeklemtoning. Dit verstaan veral die politiese dimensie van openbare opinie en het fyn voelers uit vir verskuilde belange en agendas. Begrip van sy opvoedkundige taak teenoor die publiek. Objektiewe verslaggewing is daarop ingestel om die kwaliteit en genuanseerdheid van gesprekvoering te bevorder deur lesers se bevoegdheid met betrekking tot hul deelname aan die gesprek te verhoog. Die standaard van verslaggewing moet altyd die leser uitdaag en stimuleer om weer na te dink en doeltreffender te dink. Dit is verbind tot die stimulering van ’n kritiese, ondersoekende bewussyn.
Subjektiewe verslaggewing sweer die bostaande ideale af en spits hom toe op die manipulering van die sentiment van sy lesersmark. Meningsvorming is nie meer ingestel op die soeke na begrip en insig rondom gebeure nie, maar manipuleer daarenteen menings om bestaande sentimente en gevoelens oor die saak op te wek en na die een of ander kant te speel. Om hierdie rede kan mens dit ook gemoedsverslaggewing noem, aangesien dit juis die opsweping van gemoedere na die een of ander kant ten doel het. Ek verwys na ’n paar kenmerke: Hierdie soort verslaggewing is tipies populisties. Die inslag en sentiment wat dit ontlok, speel altyd in op populêre opinie en probeer nie meer toelig, opvoed, balanseer of verstaan nie. Inhoudelik is dit uiters vlietend en tendensieus van aard. Dit word niks meer as ’n vertoonvenster en generator van die sentiment en emosie van die mark wat dit verteenwoordig nie. Kenmerkend van hierdie tipe verslaggewing is die sensasionalisering van ’n aktuele saak of gebeure. ’n Gebeurtenis of saak word so uitgebeeld dat dit skok, ontstel, affronteer, uitlok, weersin wek en fassineer. In dié sin is dit voyeuristiese joernalistiek. Die leser word genooi om te kom kyk. Visuele beelde speel ’n deurslaggewende rol. Pertinente aandag word aan detail gewy. Sonder om die leser ware insig in konteks, oorsaak en gevolg en motiewe te gee, word hierdie detail dan binne ’n simplistiese, moralistiese raamwerk geplaas van ’n slagoffer / protagonis en ’n gedemoniseerde antagonis. Laasgenoemde word nooit direk benoem nie, maar altyd geïmpliseer. [Die suggestie is gewoonlik iets in die lyn van “Sien julle nou wat doen hulle alweer?” of “Is dit nie verskiklik wat hy gedoen / hulle nagelaat het nie?” ens.] Hier het die leser altyd die morele hoëgrond deurdat hy gevra word om die morele oordeel van die artikel met passiewe sentimentaliteit bejeën. Die meganisme wat aan moralistiese konstruksies hul emotiewe energie gee, is die meganisme van die skandaal. ’n Skandaal kan slegs bestaan by die grasie van simplistiese moralistiese oordeel. ’n Genuanseerde of gekompliseerde perspektief op ’n situasie ondermyn die skandaalkarakter van gebeure. Let wel: dat iets ’n skande is, maak dit nog nie tot skandaal nie. Dit word eers ’n skandaal wanneer dit die populêre sedes van die oomblik affronteer. En dit is presies wat subjektiewe verslaggewing beoog – om publisiteit te gee aan dit wat die populêre sedelikheid aantas. Populêre sedelikheid het per definisie ’n moralistiese karakter, omdat dit binne simplistiese insluitings- en uitsluitingskategorieë funksioneer.
Subjektiewe verslaggewing het veral drie gevolge. Ten eerste is dit ’n doeltreffende metode/manier om heersende vooroordele en sentimente van die leserspubliek verder te verstewig. [“Ek het julle mos gesê!”] In dié sin dien dit die politieke agendas van die spesifieke koerant en fortifiseer dit die koerant se meningsinvloed oor die leser. Ten tweede, uit die aard van die moralistiese omgang met die onderwerp trek dit altyd die leser terug in ’n tipe slagoffersindroom. [“Kyk wat doen hulle al weer!”] Lesers voel uitgelewer aan magte waaroor hulle nie beheer het nie, en word geen greep gegee om vernuwend of konstruktief na die situasie te kyk nie. Ten derde, uit die populistiese aard van hierdie tipe verslaggewing verseker dit ’n hoë omset en dien dit as basis vir die finansiële sekuriteit van die blad.
Subjektiewe verslaggewing is lank reeds ’n aanvaarde praktyk in die sogenaamde Sondagkoerantverskynsel. Deesdae bemerk ’n mens egter dat toonaangewende dagblaaie al hoe meer aan hierdie tipe verslaggewing begin meedoen. Die mediagroep Media 24 het hulle onlangs tot die styl van die sogenaamde poniekoerant gewend, wat die mees blatante vorm van subjektiewe verslaggewing beoefen.
Die reduksionistiese aard van subjektiewe verslaggewing doen bykans altyd geweld aan die gebeure onder bespreking en aan die persone wat daarby betrek word. Die sentiment en emosie wat die verslaggewing opwek, gepaard met die simplistiese, moralistiese oordeel wat gevel word, het tot gevolg dat daar landwyd persepsies vasgelê word wat vir jare in die populêre geheue van die leserspubliek kan vassteek en die gebeure en persone daarin kan stigmatiseer.
Die problematiek van gay Christene in die NG Kerk
Die gay-kwessie in die NG kerk is op die oomblik ’n uiters sensitiewe en kontensieuse saak wat landwyd sterk sentiment ontlok. Binne die NG kerk is daar hedendaags twee strominge wat sterk gepolariseer staan omtrent die kwessie.
Aan die een kant is daar die histories ondersteunde “verwerp-en-verwyder”-inslag wat die populêre mening in die kerk verteenwoordig. Hierdie standpunt put sy rugsteun uit die sogenaamde vyf “gay” tekste in die Bybel waarin homoseksualiteit by die eerste lees skerp veroordeel word. Vanuit hierdie tekste word die oordeel dan gevel dat homoseksualiteit ’n sonde is wat op geen wyse regverdigbaar is nie, en dat homoseksuele by implikasie onder die oordeel van God en die tug van die kerk staan.
Aan die ander kant het daar die afgelope tien jaar ’n beweging binne die NG kerk aan die gang gekom wat wortel in die pastorale omgang met die problematiek van homoseksuele in die kerk en die breër samelewing. Hierdie beweging gaan van die standpunt uit dat homoseksualiteit ’n baie meer komplekse probleem is as wat aanvanklik deur die kerk gemeen is. Sonder om op die detail van hierdie argumente in te gaan, noem ek vlugtig die hoofpunte. 1) ’n Pastorale omgang met die probleem het aan die lig gebring dat homoseksuele oriëntasie ’n probleem is wat geensins verband hou met moedswillige seksuele gedragskeuses nie, maar die resultaat is van ’n komplekse interaksie van sosiale omstandighede en fisiologiese faktore, wat lank voor puberteit reeds hierdie oriëntasie vaslê en wat na puberteit, wanneer die oriëntasie aan die lig kom, nie meer kan verander nie. 2) Verder het dit aan die lig gekom dat die kerk ’n bepaalde aandeel het aan die instandhouding van ’n permissiewe “gay” subkultuur, vir sover die verwerp-en-verwyder-styl effektief daartoe lei dat gays omrede die antagonisme wat hulle in die kerk ervaar, in ’n gay subkultuur teruggedompel word. Aangesien daar geen alternatiewe ruimte geskep word waarin gays in die kerk welkom kan voel nie, vind baie Christen-gays dat, al onderskryf hulle nie die permissiewe waardes van die betrokke subkultuur nie, dit die enigste plek is waar hul behoeftes aan aanvaarding, erkenning en eiewaarde vervul kan word. 3) Verder het dit duidelik begin word dat die selektiewe omgang met die “gay” tekste in die Bybel nie reg laat geskied aan die breër teologiese temas in die Bybel nie. Ter insae noem ek net ’n paar: a) Die wet-genade-tema in die Bybel. Vanuit die wet gesien, staan almal onder die oordeel van God, maar deur die soenverdienste van Christus aan die kruis word aan die eise van die wet voldoen, en staan die mens nie meer onder die oordeel van die wet nie, maar onder die genade. Deur Christus verloor die wet sy oordeels- en strafkarakter en word dit eerder ’n reël van dankbaarheid. Die interessante verskynsel is egter dat die kerk met die gay-kwessie altyd weer die wettiese en moralistiese botone aan die wet teruggee. Genadelose, uitsluitende uitsprake oor homoseksuele doen vryelik die rondte en Bybeltekste word as redes vir uitsluiting en marginalisering gebruik. Jesus se opsomming van die wet, naamlik dat dit in wese die karakter van liefde behoort te vergestalt, word heeltemal uit die oog verloor. b) Die skeppings-herskeppings-tema in die Bybel. In Christus word die natuurlike onderskeidinge in die skepping gerelativeer en ondergeskik gestel aan ’n nuwe mensheid wat verenig word in Christus. Hiermee word enige vorm van skeppingsteologie finaal afgewys. Die natuurlike grense van ras, taal, velkleur, sosiale status, kultuur, geslag ens. kan nie meer as redes dien vir verdeling en afgrensing nie. Apartheidsteologie was ’n tipiese voorbeeld van dié tipe skeppingsteologie wat suksesvol deur latere teoloë gedekonstrueer is vanuit die perspektief van die herskeppingswerk van Christus. Met die homoseksuele debat word skeppingsteologie egter weer afgestof en word daar geredeneer dat God ons nie so gemaak het nie, terwyl die regte vraag oor hoe God ons bedoel het om te wees eintlik eers in Christus beantwoord is en nie in die skepping nie. Vanuit die herskeppingsdaad van Christus is die homo- of hetero-onderskeiding ook nie meer absoluut nie, maar wel die nuwe lewe in Christus waarin beide homo- en heteroseksueles aan ’n nuwe etos onderdanig gemaak word. c) Die gereformeerde tema van die totale verdorwenheid van die mens. Met die sinode van Dordrecht (1618) is daar beslissend geoordeel dat die mens grondliggend sondig is en op geen wyse ’n aandeel kan hê aan sy eie verlossing nie. Dat dit God se suiwer uitverkiesende genade is wat mense red. Die lering van Armenius, naamlik dat die mens van sy kant iets ekstra kan of behoort by te dra, is afgewys en hierdie oortuiging het neerslag gevind in die Dordtse Leerreëls wat deur die NG kerk onderskryf word. Die implikasie agter hierdie leerskrif is dat daar nie tussen gelowiges onderskeid getref mag word op grond van enige karaktertrek of eienskap of handeling op sterkte waarvan een gelowige ’n beter Christen as ’n ander gelowige geag kan word nie. Alle mense kan alleenlik op God se genade aanspraak maak. Die kerklike hantering van die gay-kwessie is egter in wese ’n debat oor die status van gay Christene en dus in wese Armeniaans. Tot op hede mag gays nie amptelik predikantstatus hê nie, word gays as tweederangse of skadu-Christene behandel. Om enigsins van ’n gay as ’n volwaardige mede-Christen te praat wat die sakramente saam met my kan gebruik, wat in my kerkraad kan dien, wat as bedienaar van die Woord kan optree, is uiters kontensieus. Met gays is die implisiete houding dat God se genade minstens gedeeltelik gediskwalifiseer word deur ’n homoseksuele oriëntasie. Van hulle word iets bykomend verwag wat op ander nie van toepassing is nie (bv. geheelonthouding). d) Bybelse tekste oor homoseksualiteit. Wat die Bybelse tekste oor homoseksualiteit betref, word dit by nadere studie duidelik dat die selektiewe omgang met hierdie tekste aan flagrante eksegetiese opportunisme grens. Net wat die twee bekendste “gay” tekste betref: Levitikus en Romeine. i) Tekste in Levitikus wat homoseksualiteit veroordeel (Lev 18:22) word selektief uitgelees tussen tekste wat koskookstyle (Lev 17:10-14) boerderymetodes en modestyle (Lev 19:19) op dieselfde trant veroordeel. Die konteks van hierdie tekste suggereer dat dit nie reglynig toegepas kan word op die gay-problematiek van die moderne Christen nie. ii) Paulus se argument wat hy in Rom 1:18-32 aanvoer waar hy die skeppingsmatige as norm vir kennis van God gebruik (en homoseksualiteit as opstand daarteen), relativeer hy heeltemal later in 8:18-25 waar die skepping in verydeling lê en smag na die vernuwing van God se Gees, en waar niks in die skepping (by implikasie ook nie homoseksuele oriëntasie) ’n mens kan skei van die liefde van Christus nie (8:38,39). e) ’n Bybelse seksuele etiek. Verantwoordelike lees van die breër Bybelse ingesteldheid oor seksualiteit bring aan die lig dat die homo- of heteroseksuele onderskeiding nie ’n morele onderskeiding as sodanig is nie, maar dat die punt van morele differensiasie lê op die vlak van gedrag. Dis nie wie jy is nie, maar hoe jy lééf wat saak maak. Norme wat vir seksuele gedrag daargestel word, veroordeel aan die een kant promiskuïteit in beide homo- en hetroseksuele gedrag, en skryf aan die ander kant gedragskodes voor wat in beginsel in beide homo- en heteroseksuele verhoudings gestalte kan kry. Die vraag is nie in die eerste plek watter seksuele oriëntasie binne ’n verhouding heers nie, maar of hierdie verhouding uitdrukking gee aan die waardes wat in die Christelike liefdesgebod veronderstel word. Anders gestel: ‘n Bybelse seksuele etiek neem nie sy vertrekpunt in die skepping (seksuele oriëntasie) nie, maar in die herskepping (die nuwe mens in Christus) - ’n basiese gereformeerde beginsel.
Bogenoemde insigte het sommige van die verwerp-en-verwyder teoloë genoop om onderskeid te tref tussen homoseksuele oriëntasie en ’n praktiserende homoseksuele leefstyl, waar eersgenoemde aanvaarbaar is, maar laasgenoemde as promisku verwerp word. Promiskuïteit word dan kerkregtelik gedefinieer as verwysend na enige seksuele praktyk buite die huweliksverbintenis tussen een man en een vrou. Homoseksuele word daarenteen aanvaar op voorwaarde dat hulle die keuse uitoefen om selibaat te leef.
Met hierdie definisie van promiskuïteit is daar egter ook ernstige probleme: Kan daar in alle eerlikheid van iemand verwag word om die seksuele sy van sy menswees lewenslank op te offer om as volwaardige Christen binne die kerk beskou te word? Sou diegene wat bereid is om dit vir gays voor te skryf, ook bereid wees om hul eie lewe tot lewenslange seksuele frustrasie te vonnis? Of, in Jesus se woorde, is hulle bereid om aan ander te doen soos hulle wil hê daar aan hulle gedoen moet word? Verder, waar begin die seksuele? By kyk? By hande vashou? By soen? Wat van vorme van emosionele intimiteit tussen twee mans of twee vrouens waar respek, vertroue, wedersydse toewyding, deernis en versorging in hul verhouding ook onder meer uitdrukking vind in fisieke intimiteit? Kan die seksuele enigsins so uit die totaliteit van lewe gedissekteer word as sou dit êrens begin en êrens eindig? Is dit nie eerder ’n dampkring wat ons totale menswees insluit nie?
Wat ten diepste in die NG kerk en die kerk in die breë nodig is, is die ontwikkeling van ’n inklusiewe Christelike seksuele etiek waarbinne homoseksuele hulself ook kan tuisvind sonder om enersyds te voel dat hulle hoef terug te val in ’n seksueel permissiewe gay subkultuur, en sonder om andersyds te voel dat hulle bloot op grond van hul oriëntasie ’n verwronge en skandelike produk van sonde, of minstens ’n soort tweederangse Christen is. ‘n Tipe seksuele etiek is nodig waar dit nie in die eerste plek geslagsdifferensiasie nie, maar gedragsdifferensiasie is wat as norm dien vir seksuele verhoudings binne die Christelike gemeenskap. En dan ’n gedragskode waar fisieke intimiteit nie opgehef word nie, maar ondergeskik gestel word aan die spelreëls van die liefde.
Daar bestaan egter sterk weerstand binne die NG kerk en die kerk in die breë om enigsins op gesofistikeerde wyse te besin oor hierdie problematiek. Hierdie weerstand het sy wortels op twee plekke: Eerstens die hoogs ambivalente plek wat die liggaam en die lyflike binne die Christelike tradisie het, en voorvloeiend daaruit die idee dat die seksuele gevaarlik is en beheer moet word, en tweedens omdat homoseksualiteit ’n bepaalde patriargale idee van manlikheid ondermyn, wat onder andere verklaar waarom die oorgrote meerderheid vroue minder probleme daarmee het om homoseksuele in die kerk te aanvaar as mans.
Waar die kerk dus met groot gesofistikeerdheid en insig kan praat oor byvoorbeeld ’n kwessie soos genadedood, vind jy wanneer dit by homoseksualiteit kom altyd die neiging tot simplistiese moralistiese konstruksies wat afsper en veroordeel.
Slot Ons ondersoek het aan die lig gebring hoe die media en die kerk geweld kan institusionaliseer jeens gemarginaliseerdes en by name gays. Die media se aandeel lê in die moralistiese konstruksies van subjektiewe verslaggewing wat onlangs geïllustreer is in die kontroversie rondom gay Christene in die kerk. Die kontroversie is aangewend om ‘n gay predikant in die openbaar te verneder, sy loopbaan te vernietig en hom effektief uit te lewer aan die NG kerk se kerkregtelike gesag as “bewaarders van die sede”.
Die kerk se aandeel in die geweld bestaan daarin dat daar voordurend geswig word voor die moralistiese konstruksies van die verwerp-en-verwyder teoloë, ook al druis dit regstreeks in teen die diepste bedoelinge van die evangelie wat hulle onderskryf.
Tegelykertyd is dit juis die instellinge van die kerk en die media wat die mag en invloed het om die gemarginaliseerde te beskerm en te help. Deur verbintenis tot objektiewe verslaggewing kan die media insig bevorder oor die gay-dilemma in die kerk en in die breër samelewing en sodoende vooroordeel afbreek. Deur verbintenis tot die basiese waardes van die evangelie kan die NG kerk die gay Christen help om ’n eiesoortige en volwaardige plek binne die kerk te vind waar hy deel kan wees van die groter geloofsgemeenskap sonder vrees vir verwerping of marginalisering.
Maar tot op hede bevind gay Christene hul nog tussen die duiwel en die diep blou see.
|