blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die aasvoëls van betekenis draai bo ons – ‘n Uitdaging aan die kerk 2005-04-21

“Ons beweeg na `n diktatuur van relatiwisme wat niks erken as definitief nie en die mens se eie ego en begeertes as sy belangrikste waardes ag.” Aldus Pous Benedictus XVI kort voor sy verkiesing vroeër vandeesweek tot die 265ste pous.

 

                Met hierdie uitspraak plaas Benedictus hom nie net binne die lyn wat deur sy voorganger, Johannes Paulus II, gevolg is nie, maar sluit hy ook aan by filosowe soos Dany-Robert Dufour en Bernard Stiegler wat die krisis veroorsaak deur die globale neo-liberale vorm van kapitalisme onderskeidelik beskryf as “ontsimbolisering” en “simboliese ellende”.

 

                Kritici van die neo-liberale kapitalisme wat aanvanklik prominensie geniet het, het verwys na die materiële ellende en ekologiese skade wat dit veroorsaak – materieel deur die groeiende gaping tussen arm en ryk, en ekologies deur die skade aan die ekostelsels waarsonder lewe op die planeet nie kan voortbestaan nie.

 

                Die laaste jare het `n nuwe groep kritici van neo-liberale kapitalisme na vore getree wat dié verskynsel veral aan die hand van die simboliese ellende wat dit veroorsaak, kritiseer. Die wese van die kritiek wentel daarom dat globale neo-liberale kapitalisme die simboliese stelsels waar rondom sowel die groep as die individu tot stand kom, en wat `n perk aan impulse van geweld stel - soos die religie, die kultuur en die taal - toenemend onderwerp word aan kragte wat alle waardestelsels wil vernietig tot net die enkele een van geldwaarde oorbly.

 

                Van groot belang in hierdie kritiek, is dat dit ons help om te verstaan dat die stryd om `n nuwe wêreld - om `n gemeenskapsgerigte vorm van globalisering – nie net `n materiële stryd is nie, maar ook `n simboliese stryd. In Die Vrye Afrikaan vertrek ons byvoorbeeld vanuit die standpunt dat die stryd om inheemse taalerkenning ook die stryd om inheemse ekonomiese vryheid is.

 

                Die geveg teen neo-liberale kapitalisme op die simboliese vlak is een wat miskien nie so sigbaar en regstreeks begeesterend as die een op materiële en ekologiese vlak is nie, maar wel een wat met volle oorgawe gestry moet word. Wat hier ter sprake is, is lewenskragtige instellings wat rondom begeesterende simbole ontplooi, en wat die voorwaarde vir `n ander wêreld is as die een waarmee ons in winkelsentrums en op ons TV-skerms gebombardeer word.

 

                Benedictus XVI is iemand wat hom met groot insig in hierdie probleem uitgelaat het in sy werk The Spirit of the Liturgy (onder sy sekulêre naam Joseph Ratzinger uitgegee by Ignatius Press: San Francisco, 2000). In hierdie werk voer hy aan dat die transendente en die immanente, die kosmiese en hierdie wêreld, mekaar by uitstek ontmoet via die liturgie. Anders gestel, die teater van aanbidding is grondliggend tot die religie self.

 

                Hierdie selfde logika kan deurgetrek word na die politiek, die kultuur en talle ander terreine, waar bepaalde maniere van doen wat binne `n tradisie sekere simboliese waardes dra, dit vir ons moontlik maak om sinvol op die werklikheid in te speel.

 

                Die Afrikaanse wêreld ontkom ook nie aan hierdie waarhede nie. In die geval van die bruinmense het hulle `n lang geskiedenis van brose instellings wat voortdurend weer deur ondemokratiese kragte weggekalwe is, en vandag nog `n moeisame stryd om eie simbole te vind. In die geval van die Afrikaners het die aanvanklike verstaatliking na 1948 en latere ontstating na 1994 hulle gelaat in `n posisie van `n uiterste simboliese krisis waar bykans al die simbole waar rondom hulle vir amper `n eeu sin gemaak het, van betekenis gestroop is.

 

                Hierdie dinge maak die deur oop vir die proses waar alle simboliese waardes met slegs die geldwaarde vervang word, en waar die fynere en die betekenisvolle eenvoudig met die grootste gebrek aan respek hanteer word. So was dit byvoorbeeld die afgelope weke gesteld met die pynlike verhaal van `n sielkundige en sy predikantvriend. Die verhaal van hoe hul verhouding skeefgeloop het, die sielkundige selfmoord gepleeg het en die predikant se bediening nou hangende `n ondersoek in die weegskaal is, is in besonderhede deur sekere Afrikaanse hoofstroomkoerante vertel, waarin slegs die grade van platvloersheid hulle onderskei het.

 

                Die enigste aantoonbare wenner in dié sage, is die winsgrense van die koerante. Moralistiese pogings tot regverdiging van waarom hulle dit geplaas het, grens aan die belaglike, want in feite dien die openbaarmaking van hierdie verhaal niemand nie. Om die waarheid te sê, ly onder meer een van die enigste twee histories bruin gemeentes in die NG Kerk, die armoedige St. Stephen’s, aan wie hul predikant hom oor jare volledig gewy het - ofskoon hulle hom nie eens `n volle salaris kon betaal nie - nou onder die feit dat hulle tydelik herderloos is.

 

                In `n brief aan Die Burger van 19 April neem die moderatuur van die NG Kerk Wes- en Suid-Kaapland standpunt teenoor hierdie “beriggewing” in, en skryf hulle: “Ons wil hiermee ons teleurstelling uitspreek teenoor die instansies en mense wie se beslissings die inhoud van sodanige publikasies bepaal. Ons betreur hierdie ondermyning van moraliteit in die naam van vryheid van spraak en menseregte. Daarmee word die reg tot `n gesonde moraliteit in die samelewing ondermyn.”

 

                Dit is knap gedaan dat dié kerkleiers `n standpunt inneem, maar wat nog kort, is die simboliese basis waarvan af hulle werk. As moraliteit nie aan `n groter simboliese orde verbind word nie – wat menseregte gewis nie is nie, hoe belangrik dit ook al is – word dit self algou `n steriele moralisme.

 

                `n Tree in hierdie rigting vanuit die NG Kerk word elders in vandag se Die Vrye Afrikaan-Intussen gegee deur ds. Stefan Louw, wat met skerpsinnige erbarming aantoon hoe die verrotting in die Afrikaanse joernalistiek juis – altans in die geval van gays – aangehelp word deur die moralisme wat die kerk self vir baie lank teenoor gays beoefen het. Louw eien ook `n vergete figuur van die Christelike tradisie, Armenius, toe om hierdie moralisme aan die kaak te stel.

 

                Dít is die rigting wat ingeslaan moet word as die Afrikaanse wêreld `n geslaagde stryd teen die aasvoëls van betekenis wat in die grou neo-liberale hemel draai, wil aanknoop. En dit sluit ook aan by die rigting wat Benedictus XVI klaarblyklik ook gaan inslaan. Op `n globale skaal is die Katolieke kerk die oudste en belangrikste instelling waar rondom die stryd teen globale neo-liberale kapitalisme gewen of verloor sal word, net soos die Afrikaanse kerke dit ook in ons eie wêreld is.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=192
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -