blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde Diplomatique: Magte van die roman: `n Opstel van Milan Kundera 2005-04-15
Guy Scarpetta


Met sy nuwe boek, Le Rideau, wat vandeesmaand in Parys verskyn by Gallimard-uitgewers, brei Milan Kundera sy besinning oor die kuns van die roman uit. Die wêreld, suggereer hy, word vir ons versluier deur ‘n “gordyn” van klaargemaakte vertolkings, valse beelde, verheffende en leuenagtige voorstellings. En die funksie van die roman is sedert die dagbreek van die moderne era om die gordyn te skeur om daardie splinters van waarheid te onthul waartoe slegs die groot romansiers ons toegang kan gee.

Deur Guy Scarpetta, skrywer van onder meer Variations sur l’érotisme, Parys: Descartes et Cie, 2004.
Vertaal deur Johann Rossouw
2005/4/15

    Hier het ons `n hedendaagse romansier, een van die heel grootstes, wat die behoefte voel om die skryf van sy romans vir `n tyd te onderbreek om aan ons `n oordenking van sy kuns te gee. Moet ons ons daaroor verwonder? In `n era van sterilisasie en luiheid van die universiteitsvertoog, en van die verval van literêre kritiek tot promosiebabbelary, kan mens skaars sien wie dit in sy plek kan doen… Milan Kundera bied dus aan ons die derde deel van sy “kuns van die roman”: hy vat die temas van sy voorafgaande opstelle (1) kortliks saam om hulle te verdiep, te voltooi en te open vir nuwe perspektiewe. Die boek word gewis nie anders aangebied nie as die besinning van `n skepper vanuit sy eie praktyk, wat hom in staat stel om die estetika en die sonderlinge stellingnames daarvan te verhelder. Maar by die lees daarvan besef jy dat dit nie daarom `n minder algemene strekking het nie.

Waar is ons vandag effektief betreffende die heersende vertoë oor die roman? In `n soort herhalende, gestolde een-tot-een-debat. Enersyds is daar die “ewolusionistiese” opvatting wat tydens die era van die Nouveau Roman uitgewerk is – nou al hoe meer uitasem – en waarvolgens hierdie kuns teruggevoer na sy suiwer tegniese mutasies slegs sin het as dit `n lyn van voortuitgang of suiwering volg wat dit steeds verder neem vanaf dit wat in die 19e eeu gevorm is (die beroemde “Balzacse kode”). Andersyds, en kenmerkend van die huidige fase van restorasie, is daar `n soort naturalisering van hierdie negentiende eeuse kode wat `n opvatting van die huidige dekadensie van die genre vestig (dit is byvoorbeeld die grondslag van George Steiner se terdeë reaksionêre nadenke) en bowendien onder die vals naam van “romans” die verspreiding goedkeur van `n stortvloed van geromanseerde kronieke, belydenisse en opstelle waarmee ons oorstroom word, en wat funksioneer as die negering van die kuns self wat met Rabelais en Cervantes opgekom het.

Maar die ganse belang van Kundera se proposisies is juis om hom as definitiewe mededader aan die anderkant van hierdie simmetriese teenstelling te plaas. Want vir hom is die roman, soos alle kuns, `n plek van onophoudelike en noodsaaklike formele uitvinding, asook `n plek van ontdekking wat nie minder onophoudelik is nie: hierom is die roman gewy daaraan om sekere velde van die werklikheid (of van die menslike ervaring) te verken wat alle ander vertolking- of voorstellingstelsels – filosofies, religieus, sosiologies, sielkundig, ens. – verwaarloos, en wat nie andersins as deur die spesifieke weë van die roman aangesny kan word nie.

In dit alles is daar dus ‘n byna obsederende meesteridee: meer as net `n literêre genre onder meer, is die roman `n geheel eiesoortige kuns. Anders gestel: daar was sedert die Antieke Tyd “prosavertellings” wat by die tonne gepubliseer word en nog sal word, maar dit het nie veel te make nie met wat gebore word by Rabelais en Cervantes, en wat juis in altyd omvattende togte tot en met ons epog verleng is – minstens by die minderheid vir wie hierdie erfenis nie `n dooie letter is nie (Kundera weet ook hoe om sy portuur te salueer, vanaf Carlos Fuentes tot Philip Roth), en wat bepaal word deur hierdie wesenlik onvervangbare ontdekkingsfunksie.

Om die roman as `n kuns te beskou, beteken gewis dat dit `n geskiedenis gehoorsaam, sy geskiedenis (wat nie te verwar is met die geskiedenis van die historici nie, of met dié van die ander kunste nie), maar dat dit terselfdertyd open op `n wêreld waar Diderot met Sterne in dialoog tree, waar Joyce en Kafka steun op Flaubert, waar Danilo Kis en Salman Rushdie Rabelais opwek, waar Fuentes en Goytisolo Cervantes se les heraktiveer. Dit is dus tot `n mate die ekwivalent van wat André Malraux met betrekking tot die beeldende kunste die “verbeeldingsmuseum” genoem het – minstens die metafisiese klem daarvan.

Om die roman as `n kuns te beskou, impliseer ook dat `n groot roman nie anders nie as binne die wêreldkonteks van hierdie kuns evalueer kan word nie – dus in teenstelling met alle provinsialisme, eweseer dié van die “groot volke” (wat deur selfgenoegsaamheid geneig is om wat buite hul grense gebeur te verwaarloos) as van die “klein volkies” (wat al te dikwels hulle skeppers smoor deur hulle na hul enge plaaslike kultuur te herlei, tot op die punt wat dié wat die vermetelheid het om daaraan te ontsnap as verraaiers geag word). Vanwaar die skitterende bladsye waar Kundera wys dat ons niks van Witold Gombrowicz se waarde begryp as ons hom tot sy Poolse konteks beperk nie, of niks van die waarde van Kafka as ons van hom bloot `n “Praagse skrywer” maak nie. Maar waar hy ook wys hoe `n land soos Frankryk – juis omdat hy oortuig is dat die Franse letterkunde selfgenoegsaam is (`n vooroordeel wat soos ons weet deur die Franse skoolstelsel onderhou word) – in staat  is om die ergste vergissings en flaters met betrekking tot sy eie tradisie te begaan (2). ‘n Openlik “internasionalistiese” soort stellingname waar Goethe se ou wagwoord (die Weltlitteratur) (wêreldletterkunde - vertaler) ‘n nuwe vonkeling verkry…

Om die roman as `n kuns te beskou, impliseer hierbenewens ook dat dit nodig is om deeglik te begryp waarvan hy hom losmaak om sy besondere veld van aksie te vind. Eerstens van die poësie –  as dit so is dat “die romansier gebore word uit die ruïnes van die poësie se liriese wêreld” (dit is wanneer hy breek met die romantiese lirisme van Die versoeking van Sint Antonius wat Flaubert Flaubert word); kortom, die roman is nie die voortsetting van die poësie deur ander middele nie, maar die negering van die poëtiese idealisering. Dit verhoed die roman egter nie om indien nodig sy eie poësie te skep nie, maar dit is `n poësie wat ons in geen gedig vind nie, `n poësie wat die presiese teenoorgestelde van die “poësie van die digters is”. Waarvan die roman hom vervolgens losmaak, is die epos, nie net omdat hy met Rabelais en Cervantes gebore word uit die parodie van die epiese of ridderlike genre, deur hulle te hanteer met `n lag of `n ironie wat geen epiese bewussyn sou verdra nie; maar ook omdat “elke handeling” vir hom “problematies is”, wat dit toevallig moontlik maak om te verstaan waarom hierdie breuk met die epos met elke oomblik in die roman se geskiedenis hernu word (Flaubert teen Hugo, Hemingway of Claude Simon teen Malraux).

Waarvan die roman hom laastens losmaak, is van die filosofie, want selfs terwyl die moderne roman vanaf Marcel Proust tot Robert Musil en Hermann Broch die register van intellektuele besinning geannekseer het, van die opstel (daar waar situasies eweseer bedink as beskryf of vertel word), het hy dit nie gedoen deur `n voorafbepaalde filosofiese stelsel te “illustreer” nie, maar deur `n spesifiek romanmatige besinning uit te vind wat onlosmaaklik is van die fiksie waaruit dit vloei en nie soseer op die takeling van waarhede ingestel is nie as op die instelling van `n netwerk van twyfel, dubbelsinnighede, teenstrydighede en bevraagtekenings in ons sekerhede.

Dit is om in navolging van Kundera op hierdie terrein te sê dat niks hiervan gratis is nie, dat die roman ook ons ervaring van die wêreld en ons blik daarop aangaan. Iemand het hom eendag in die Middel-Europa wat nou `n restorasie beleef waarvan die vertoog van die doxa (opinie – vertaler) ons niks leer nie, die verhaal vertel van `n ou man, hoogwaardigheidsbekleër van die kommunistiese regime, wat deur sy dogters – hoewel hy die grondlegger van hulle fortuin is – met minagting hanteer word: iets, sê hy, wat `n mens onvermydelik aan Vader Goriot laat dink… Vanwaar hierdie onvermydelike vraag: benodig ons epog `n nuwe Balzac? 

Maar vir Kundera word so `n moontlikheid juis verbied deur die opvatting van die roman as kuns (wat dan nie einde ten laaste nie iets anders as `n estetiese vorm van restorasie sal wees nie). “Kuns,” sê hy, “is nie daar om al die swaaie en draaie, al die variasies en oneindige herhalings van die geskiedenis soos `n groot spieël te registreer nie... Dit is daar om sy eie geskiedenis te skep.” Wat nie wil sê dat dit `n suiwer formele of abstrakte spel onverskillig teenoor die wêreld moet word nie, maar eerder dat dit hom toeval om sekere aspekte van die menslike bestaan wat nog nie openbaar is nie, te onthul – juis daardie sones van onsekerheid, besluiteloosheid en teenstrydighede waardeur die vertoog van die historici nie bevatlik is nie (oor hierdie onderwerp `n manjifieke ontleding van `n kortverhaal deur Kenzaburô Oé). Of nog, volgens `n metafoor wat deur die hele opstel geweef is, dat dit die roman toeval om “die gordyn” van klaargemaakte vertolkings verskaf deur die samelewing “te skeur”. In hierdie sin – en dit is nie iets wat Kundera reguit sê nie, maar wat hy moontlik maak om te dink – is dit ongetwyfeld nie toevallig nie dat sommige van die belangrikste romans wat aan die begin van die 21ste eeu gepubliseer is, juis gewy is daaraan “om die gordyn te skeur” en die omgekeerde of die ongesegde van die groot, stigtende verhale deur die heersende wegneemdenke gepropageer, aan die lig te bring: Kreeftegang van Günter Grass; Disgrace van J.M. Coetzee; The Human Stain van Philip Roth; The Feast of the Goat van Mario Vargos Llosa – en ook op `n sekere wyse Kundera se eie Ignorance.

Duisende ander dinge kan opgeroep word oor `n boek wat so ryk is, waar die denke aanhoudend terugbons, dwaal en verander; waar die bondige opeenvolgende dele, wat van uitsonderlike digtheid is, val binne `n fyn geweefde komposisie van kontrapunte, herlewings, eggo’s; waar elke tema `n skare sekondêre motiewe, afgeleide hipoteses, verbandhoudende en vertakkende besinnings oproep. Daar is byvoorbeeld `n oordenking oor alles wat saamspan om die artistieke status van die groot romans te ontken: die begrawing van die groot werke onder `n parasitiese vermenigvuldiging van argiewe en dokumente; die neiging om elke roman na `n belydenis te herlei (Kundera herinner ons tydig daaraan dat “Ek is Madame Bovary” `n apokriewe uiting van twyfelagtige egtheid is – wat nietemin nie `n stortvloed kommentare verhoed nie), of na `n kroniek waarvan die “sleutels” ontsyfer moet word (vanwaar die kostelike passasie waar Kundera dit betreur dat hy Proust nie langer kan lees nie sonder om `n snor te plaas by die beeld wat hy van Albertine gevorm het, sedert hy verneem het dat Albertine op `n man geskoei is). Of nog, losweg: `n besinning oor die wyse waarop die roman, anders as alle dogmatiese vertoë, `n plek is waar verskeie teenstrydige stemme kan versamel (vanaf Dangerous Liaisons tot As I lay dying, en selfs verskeie temporalieë wat normaalweg onpasbaar is (van Alejo Carpentier tot Carlos Fuentes).

`n Ontleding van die belangrikheid van die komposisie van die moderne roman, wat sonder twyfel die register van die interessantste uitvindings is. `n Ironiese waardering van die terroristiese bevelskrif uitgespreek deur die amptelike Surrealisme teen die roman as sodanig – en die prominensie verleen aan die manjifieke transgressie van Gabriel García Márquez, wat `n sekere surrealistiese aar (die bemiddeling tussen die werklikheid en die droom) herinstel in `n genre wat dit verban het. `n Verhelderende passasie oor die paradoks van die groot romansiers van Middel-Europa (weer eens Kafka, Broch, Musil, Gombrowicz), onteenseglik “modern” in die veld van formele uitvinding, en tog radikaal krities teenoor die groot illusies van die moderniteit - `n les wat aktueler as ooit in `n era soos ons eie is, waar die ergste regressies in die naam van “modernisering” plaasvind.

Oorhoofs beskou is dit duidelik dat die roman baie meer as `n suiwere en eenvoudige literêre oefening is; dat dit `n wysheid, `n houding, `n gedemistifiseerde blik op die wêreld impliseer – en ongetwyfeld ook selfs `n leefwyse. Dit is juis daarin dat dit volgens Kundera volledig deelneem aan `n beskawing – die een wat aan die einde van die sestiende eeu in Europa gebore is: die weiering van die ortodokse gees, en wat miskien vandag in gevaar is terwyl `n planetêre subkultuur triomfeer wat nie anders kan nie as om die gees van die roman te marginaliseer en sy ironie, sy ongelowigheid en sy effekte van helderheid te probeer verdryf nie.

Is ons naby aan die tyd wat deur Jorge Luis Borges voorspel is waar goeie romansiers minder skaars as goeie lesers is? Ons voel in elk geval wel hoe die hegemoniese geglobaliseerde mark alle belang daarby het dat die waardes van die roman ontruim en vervang word deur die stomheid eie aan die skouspel (spectacle). Alles in ag genome is een van Kundera se groot verdienstes dat hy ons laat ervaar in watter mate die roman, wanneer hy aan die status van handelsware ontsnap, `n weergalose instrument van subjektiewe weerstand bly – in die aangesig van hierdie wêreld waar, in sy eie woorde, “ideologiese onnoselheid deur kommersiële onnoselheid” vervang is.


(1) The Art of the Novel, Plek onbekend: Perennial Classics (1986 oorspr. In Frans; 2003 Eng. vertaling) en Testaments Betrayed, Londen: Faber & Faber, 1996.
(2) Kundera verwys na `n peiling wat `n Franse koerant onder `n paneel vooraanstaande intellektuele gedoen het oor die voorste boek van die Franse geskiedenis. Die boek wat eerste gekom het, was Victor Hugo se Les Misérables. In die tiende posisie generaal De Gaulle se oorlogsherinneringe (!). Rabelais se Gargantua en Pantagruel slegs in die veertiende posisie. Madame Bovary haal slegs die vyf-en-twintigste posisie en Bouvard et Pécuchet is gerelegeer tot die honderste en laaste posisie. Op hierdie gesiene lys verskyn nóg L’Education sentimentale, nóg Jacques le Fataliste, nóg enige boeke Appoliniaire of Beckett. In die lig van hoe buitelandse skrywers die Franse letterkunde sien, kan hierdie lys nie anders nie as om hulle verwonderd te laat…


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=191
Artikel nagegaan:
    -