blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde Diplomatique: Vanaf kopverskraling na liggaamswysiging: Die mens deur die markekonomie gewysig 2005-04-15
Dany-Robert Dufour


`n Nuwe “nuwe mens”: dit is wat die mark besig is om onder ons neuse te fabriseer. Deur enige wet wat as beperking op die mark kan funksioneer te vernietig, veroorsaak neo-liberale deregulering effekte in alle velde, en nie slegs die ekonomiese veld nie. Die menslike psige self word ontwrig en versteur. Depressie, identiteitsprobleme, selfmoorde en perversies neem toe – in so `n mate dat die mark nie langer die mens soos hy is, wil hê nie. Met behulp van kloning en genetiese ingenieurswese vereis die mark gewoon die biologiese transformasie van die mensdom.

Deur Dany-Robert Dufour, programdirekteur aan die Collège international de philosophie, Parys en skrywer van onder meer On achève bien les hommes, Parys: Denoël, 2005.
Vertaal deur Johann Rossouw
2005/4/15

In L’art de réduire les têtes (1) het ek probeer om die diepgaande rekonfigurasie van die gees soos deur die mark uitgevoer, bloot te lê. Die demonstrasie was betreklik eenvoudig: die mark weier enige oorweging – moreel, tradisioneel, transendent, transendentaal, kultureel, ekologies, of andersins – wat die vrye sirkulasie van handelsware in die wêreld aan bande kan lê. Dit is waarom die nuwe kapitalisme streef na die aftakeling van alle simboliese waardes ten gunste van die enkele neutrale monetêre waarde van handelsware. Aangesien daar nie meer iets anders is nie as `n versameling produkte wat streng volgens handelswaarde verruil word, moet mense ontslae raak van al daardie kulturele en simboliese oorwigte wat voorheen hul uitruiling gewaarborg het.

Ons kan `n goeie voorbeeld van hierdie ontsimbolisering deur die uitbreiding van die heerskappy van handelsware sien in die eurobanknote. Hierdie note bevat nie meer die afbeeldings van die groot kultuurfigure wat vanaf Pasteur tot Pascal en vanaf Descartes tot Délacroix nog gister monetêre uitruilings met die kulturele erfeniswaardes van die nasiestate geskakel het nie. Al wat nog op die euro’s is, is brûe, deure en vensters, wat `n ontkultureerde vloeiendheid verheerlik. Mense word aangepor om aan te pas by die oneindige sirkulasie van handelsware. Ons kan dus sê dat die wet van die mark daaruit bestaan om enige wet wat `n perk op handelsware plaas, te vernietig.

Deur elke gemeenskaplike waarde af te skaf, is die mark besig om `n nuwe “nuwe mens” te fabriseer, gestroop van sy vermoë om te oordeel (buiten volgens die beginsel van maksimale wins); gedu om te geniet sonder om te begeer (die enigste moontlike redding is in handelsware te vinde); gevorm deur alle identitêre wisselings (daar is nie meer `n subjek nie, maar bloot tydelike, prekêre subjektiverings); en oop vir alle handelsverbindings. Hier kom ons te staan voor `n baie besondere aspek van neo-liberale deregulering, wat ongelukkig nog nie goed verstaan word nie, maar wat reeds groot effekte in alle velde uitoefen, en by name op die menslike psige. `n Sekere aantal psigiaters en psigoanaliste is besig met die inventarisering van die simptome voortspruitend uit hierdie deregulering, soos depressie, verskillende vorme van verslawing, narcissiese probleme, die uitbreiding van perversie, ens.

Hierdie nuwe soort deregulering veroorsaak groot verwarring in debatte. Dit word vergesel deur `n libertynse parfuum gegrond op die proklamering van elkeen se outonomie en `n uitbreiding van verdraagsaamheid in alle maatskaplike velde (soos dié van sedes) wat die indruk skep dat ons `n intense bevrydingsperiode beleef. Omdat die ou onderdrukkende patriargie gekasty word, wil ons glo dat `n rewolusie sonder presedent onderweg is… terwyl ons vergeet dat dit die kapitalisme self is wat wat hierdie “rewolusie” gerig op die begunstiging van die penetrasie van handelsware in die velde waar dit nog nie geheers het nie – dié van sedes en kultuur - beveel het.

Karl Marx het hom nie met hierdie “rewolusionêre” kant van die kapitalisme misgis nie: “Die bourgeoisie”, het hy geskryf, “kan nie bestaan nie sonder om konstant die instrumente van produksie, oftewel produksieverhoudinge, oftewel die geheel van maatskaplike toestande, te ontwrig nie. Daarenteen was die eerste bestaansvoorwaarde van alle vorige nywerheidsklasse om die ou produksiemodus onveranderd te hou. Wat die era van die bourgeoisie onderskei van alle voorafgaande eras, is die onophoudelike ontwrigting van produksie, die voortdurende verwering van alle maatskaplike instellings: kortom, die durendheid van onstabiliteit en beweging. Alle maatskaplike verhoudings wat met hulle prosessie van erkende en vereerde idees en opinies in roes geïmmobiliseer is, los op; dié wat hulle vervang, verouder voor hulle eens kan verhard. Alles wat solied en gevestig was, word wisselvallig; alles wat heilig was, word ontheilig; en uiteindelik is mense gedwing om die plek wat hulle in die samelewing beklee het en hul onderlinge verhoudings met `n ontnugterde blik te beskou” (2). Hierdie vermoë om maatskaplike verhoudings te verander is tot sy uiterste gevoer deur hierdie nuwe vorm van kapitalisme wat soms – en tereg ook – “anargokapitalisme” genoem word.

Hierdie ontwrigting het so goed gewerk dat sommiges gepoog het om slegs die “libertynse”, “jong” en “gekonnekteerde” kant daarvan te behou en goedkoop geesdrif te vertoon vir die sederewolusie wat dit ingelei het. Die verwarring is so groot dat diegene wat sorg dat hierdie kulturele en simboliese deregulering gevolg word, hulself as hoogs rewolusionêr beskou – ek dink aan dié deel van die gekonnekteerde linkses wat geesdriftig is oor al die “modieuse kwessies”. Maar dit is presies wat die anargokapitalisme wil hê, wat as dit nie van die “rewolusie” hou nie, dan wel minstens van alle vorme van kulturele en simboliese deregulering. Alle advertensies wys dit.

Dit lyk asof mense nie sonder voorgevoel is oor die aansienlike potensiële gevare wat die beskawing loop ten aansien van so `n simboliese deregulering nie. Maar die mark kan alles na wins omskakel: groepe wat rommelsedes aanprys en smous is reeds op volle vaart. Dit sal egter `n kritieke fout wees om die debat oor waardes aan die konserwatiewes oor te laat, of hulle nou oud of “neo” is. As ons hierdie terrein verwaarloos, sal dit in effek beset word deur mnr. George W. Bush, die televangeliste en hulle puriteinse besetenes, of die fasciserende populismes van Europa. Dit is dus dringend om te begin met `n nuwe besinning oor waardes, oor die sin van die lewe in samelewing, en oor die gemeenskaplike goeie gerig op mense wat verward en bekommerd is weens die morele vergrype voortspruitend uit die onbeperkte uitbreiding van die heerskappy van handelsware. Dit is duidelik dat as daar nie in hierdie terrein nie belê word nie, hierdie mense in die versoeking sal kom om te val aan die kant van diegene wat dit ewe luidrugtig as onregmatig beset.


Wanneer die skepsel in sy skepping inmeng
   
Ons sal egter nog tekortskiet as ons die debat tot hierdie kulturele aspekte beperk, want dit lyk asof hierdie rekonfigurasie van die gees bloot die eerste fase van veel omvangryker meganisme is. Om dit in enkele woorde saam te vat: die kopverskraling en ontsimbolisering is bloot die voorspel tot `n ander diepgaande herdefiniëring van die mens wat nie meer net sy gees sal aangaan nie, maar ook sy liggaam.

Hierdie ontsimbolisering van die wêreld geskied op `n beslissende oomblik van die menslike avontuur: dit is die eerste maal in die geskiedenis van die lewende wat `n skepsel daarin slaag om die skrif waarvan hy die uitdrukking is, te lees. Met hierdie lus (loop) word `n ongelooflike gebeurtenis moontlik: die oomblik wanneer die skepsel gaan inmeng in sy skepping en hom as sy eie skepper sal voorhou. Die ondenkbare oomblik breek dus aan waar `n spesie in sy eie wording sal kan ingryp deur die natuurlike wette van ewolusie met homself te vervang.

Alles gebeur asof buite alle proporsie gehoor gegee is aan die humanistiese opdrag van een van die Renaissance se groot denkers, Pico della Mirandolla, gegee is. Pico wou teenoor die ou vorme van dominasie deur die goddelike `n deel van vrye menslike oordeel instel. So het hy die mens dan opgeroep om “sy eie standbeeld te beeldhou” (3). Aan dié oproep is deur al die latere filosofie gehoor gegee omdat ons dié kan verstaan as `n baie lang uitbreiding op die tema van die vrye menslike oordeel, vanaf die oprigting van die Cartesiese cogito tot Nietzsche se tema van die dood van God, via die kritiese ideaal van die Verligting.

Maar die huidige mens is besig om hierdie ideaal te buite te gaan omdat, as hy effektief besig is om “sy eie standbeeld te beeldhou”, dit wel `n lewende standbeeld kan wees wat opgeroep word om die mens self te vervang. Laat ons in die verbygang opmerk dat dit niks minder nie as die einde van die filosofie is wat geïmpliseer is in sodanige oogmerk van die herdefiniëring van die materiële basis van die mensdom. Sy verwesenliking sal in effek die onomkeerbare transformasie vooronderstel van `n onderneming van die hervorming van die gees (deur askese, deur die strewe na outonomie, deur die herfundering van verstaan), wat sedert die Antieke Tyd onophoudelik herlanseer word, tot `n suiwer tegnisistiese modifikasie van die liggaam. Maar wat sou die sin wees om `n nuwe liggaam te wen as dit was om die gees te verloor?

Dit is des te meer die moeite werd om die vraag te vra omdat daar `n losse program vir die fabrisering van `n “posthumaniteit” bestaan. Hierdie program word verdoesel en kry min publisiteit. Mense moenie bang gemaak word nie, en hulle moet bowenal nie verstaan dat hulle vir die afskaffing van die mensdom werk nie – oftewel vir hul eie verdwyning. Die kapitalisme het soveel in die wêreld van die lewende belê om nuwe ruimtes van handelsware daar te ontwikkel dat sommige van sy moontlike gevolge vir die mensdom wel die muur van stilte deurdring het. Dit is dan hoe die pryssanger van neo-liberalisme, Francis Fukuyama, wat nà die Val van die Berlynse Muur die begin van die “einde van die geskiedenis” met die veralgemeende opkoms van neo-liberale demokrasieë aangekondig het, homself moes korrigeer en erken dat die triomf van die mark nie die laaste episode van die menslike geskiedenis is nie. `n Ander sou volg: die biologiese transformasie van die mensdom (4). Maar dié ontnugtering was bloot `n geleentheid vir hom om hom in `n nuwe oordeelsfout te verstrik.

Francis Fukuyama wil glo dat die neo-liberalisme ons teen hierdie noodlottige spiraal sal beskerm… terwyl dit hy self is wat ons reguit soontoe neem! Vir Fukuyama sou die markdemokrasie in effek `n perfekte staat wees as hy nie deur die ontwikkeling van sekere tegnieke bedreig is nie: “`n Tegniek wat sterk genoeg is om dit wat ons is te hermodelleer, hou inderdaad `n risiko van potensieel slegte gevolge vir die liberale demokrasie in” (5).

Vanselfsprekend moet ons erken dat as daar nie meer mense is nie, die demokrasie die risiko loop om `n bietjie leeg te word. Om so `n gevaar te vermy, sal dit volgens Fukuyama voldoende wees dat “die ontwikkeling en aanwending van die tegniek polities deur lande gereguleer word”. `n Vrome voorneme wat hom in staat stel om die essensiële te verswyg: dit is die mark wat die eindelose ontwikkeling van die tegnowetenskappe, wat sonder regulering ons reguit na die uitgang uit die mensdom sal neem, onderhou.

Hierdie band is egter nietemin duidelik: omdat die mark die einde van enige vorm van simboliese inhibisie impliseer – dit wil sê die einde van die verwysing na enige transendentale of morele waarde tot die wins van die enkele handelswaarde – kan niks, as ons binne hierdie logika bly, verhoed dat die mens ontkoppel word van enige idee wat daarop aanspraak maak om hom in sy plek te hou en dat hy sy voorvaderlike toestand verlaat sodra hy die middele het. Dit is dus nie net - soos dikwels gesê word – die wetenskap nie, maar die wetenskap tesame met die skadelike effek van die mark op die transendentale waardes wat in staat sal wees om die verwesenliking van so `n program te bemoontlik. Ons moet ons dus afvra of daar in ons postmoderne demokrasieë “waar alles gesê kan word” `n instansie bestaan wat kan besluit of ons hierdie mutasie wil hê of nie? Niks is minder seker nie.

Maar die afwesigheid van so `n instansie weeg swaar. Ons sien waarheen die program vir die fabrisering van `n postmensdom kan lei: regstreeks na die betreding van `n era van die produksie van sogenaamde meerdere individue wat aan voortplanting ontkom het. En van mindere individue vir ondergeskikte take. Die gebanaliseerde bestaan van genetiesgewysigde organismes moet ons aan die dink sit: op die korttermyn kan ons deur kloning en genetiese wysiging die fabrisering van nuwe menslike variante onderneem. Dit is selfs waarskynlik dat eksperimente reeds onderweg is of binnekort sal wees.

Wanneer hierdie dag aanbreek, sal ons oorgaan vanaf die postmoderniteit, `n epog gedompel in die verleentheid van die ineenstorting van idole, na die postgeskiedenis. As niemand kan voorsien wat dit sal wees nie, kan ons nietemin sê wat dit nié sal wees nie. Want dit sinjaleer die afsluiting van die vyf groot topoi (plekke – vertaler) van die mensdom: die einde van die menslike kommune; die einde van die gebruiklike fataliteit van die dood; die einde van individuasie; die einde van die (problematiese) reëling tussen die manlike en vroulike geslag; en die ontwrigting van die opvolging tussen generasies.

Die eugenetiese gevaar is nie die enigste wat die menslike spesie bedreig nie. Wat op die kort termyn in gevaar is, is ook gewoon die bewaring en voortsetting van die spesie self. Hierdie bewaring gaan nie vanself voort nie – dit geskied deur `n simboliese en kulturele raamwerk. Dit word verduidelik deur die feit dat, soos `n deel van die paleoantropologiese navorsing aantoon, ons die mens by geboorte as vroeggebore kan beskou, nie by vermoë om die kiem van sy ontwikkeling volledig te verwesenlik nie en tog in staat om sig te reproduseer en die karaktereienskappe van sy jeugdigheid – wat normaalweg by ander diere oorganklik is – oor te lewer. In hierdie opsig word daar van die mens se neotenie gepraat (6). Laasgenoemde impliseer dat hierdie onvoltooide dier anders as ander diere sig elders as in die eerste natuur moet voltooi, dit wil sê in die tweede natuur, algemeen bekend as kultuur.

Baie dinge word in hierdie tweede natuur aangetref: gode, verhale, grammatikas wat met enige voorwerp van die wêreld verband hou (sterre, klippe, mikrobe, musiek, die verhaal, berekening, subjektiwiteit, sosialiteit); intensiewe prostetiese aktiwiteit (al die voorwerpe wat hierdie onvoltooide dier in staat stel om die wêreld te bewoon); wette, beginsels, waardes… Maar as hierdie raamwerk beskadig word, as die wette en die beginsels wat dit regeer vervaag, kan ons nie net skadelike maatskaplike en individuele effekte te wagte wees nie, maar ook bedreigings vir die spesie omdat niks meer legitiem genoeg sal wees om weerstand te bied teen die manipulasies wat die raamwerk wil verander sodra moontlik nie.

Reeds gaan daar selfs tot in die intelligentsia stemme op om die veronderstelde goeie nuus van die volgende mutasie van die mens te verwelkom. Hier verwys ek in die besonder na die Duitse filosoof Peter Sloterdijk wat reeds beroemd geword het vir `n lesing getiteld Reëls vir die mensepark (7) wat hy einde 1999 in Duitsland gelewer het tydens `n kollokwium aan Heidegger gewy. Hierdie lesing het tot groot omstredenheid gelei, by name met Jürgen Habermas. Die uitlatings van hierdie “linkse Nietzscheaan” blyk veelseggend te wees aangaande die wyse waarop die huidige simboliese deregulering die gees kan vertroebel.

In `n ander lesing gehou in Maart 2000 by die George Pompidou-sentrum (8), het Sloterdijk `n tese van Heidegger weer opgeneem, maar om dit om te keer. Dit gaan nie meer daarom om te sê dat die tegniek die “vergeet van die Syn” is nie, maar om te proklameer dat dit meewerk om die “makmaking van die Syn”, synde die hoofeienskap van die neoteniese mens gebring daartoe om sig te produseer. Asof die tegniek die enigste prestasie van die neoteniese mens was en die simboliese raamwerk van voorskrifte en verbiedinge nooit bestaan het nie! Met sodanige vertrekpunte is alle moontlike gevolge van die tegniek by voorbaat geregverdig. Morele oorlegpleging word bowendien so min in aanmerking geneem dat binne hierdie “ongeïnhibeerde” betoog dit slegs die tegniek is wat in staat is om die etiek te bepaal, en dan ook nie sommer enige etiek nie: `n “etiek van die mondige mens”, soos dié een wat oop is vir “biotegnologiese selfmanipulerings”. 

Binne hierdie betoog bestaan die etiek dus daarin om enige vorme van morele ondersoek op `n afstand te plaas. Dit is dan hoe die mens, uit homself gevoer deur die Syn, die taak het om sy biologiese toestand te verander ten einde sig oop te stel vir biologiese veelvoud (9). Vir die mens, synde sowel onvoldoende gebore asook die produk van die tegniek, is al wat oorbly om die tegniek tot sy uiterste gevolge te voer. Dit is dan hoe die ou mens herdoop moet word as “eerste mens” – waar ons `n duidelike eufemisering van die “primitiewe” kan hoor (soos in die Museum van die eerste kunste) – omdat hierdie mens al reeds nie meer nie as primitief is voor die meerdere mense wat moet kom. Ons moenie hallusineer oor die wederkeer van die Syn in die sinistere historiese klug van die Nazisme nie – dit was bloot `n betreurenswaardige fout van my dierbare meester, lyk dit of Sloterdijk sê. Nee, dit is vandag wat die ware ekstase hom aanbied: die ware, meerdere mens breek aan en sy pryssangers sing reeds en handhaaf orde om die roete vir hom voor te berei.

Maar hierdie roete is besaai met “eerste mense” – dít is die probleem. Vir ons profeet is die ou primitiewe mens slinks; hy is in sy basiese samestelling doof – ek haal aan – vir die “vrygewige potensiaal” van die “meerderwaardige” transformasie. Erger nog, deur sy “ou egoïsme” sal hy net goed genoeg wees om “mag oor die eerste stowwe uit te oefen” om “daaroor te beskik” ten einde dit af te trek van die beloofde veranderings – waar mens verstaan dat hierdie “eerste stowwe” maklik die menslike liggaam self kan wees. Hierdie ou mens is natuurlik slegs “die mens van ressentiment” wat gereed is “om byeenkomste te hou” om “oningeligte mense” op te vorder en hulle te lei na “valse debatte oor bedreigings wat nie verstaan word nie onder die yserhand van wellustige kommentators”… Weg dus met die “pryssangers van die mens” wat voorgee dat hulle beweeg deur “`n antitegnologiese histerie” weerstand bied teen hierdie sprong waarheen die Syn ons roep omdat daar - natuurlik – “niks pervers” daarin is om “jouself deur outotegniek” te wil transformeer nie…

Hierdie uitlatings van Sloterdijk is deur hul buitensporigheid self van groot nut: hulle maak dit vir ons moontlik om te verstaan dat die huidige simboliese ontinhibering nie bloot `n kwessie van die bevryding van sedes en `n uittrede uit die mindere of meerdere pyn van die patriargie nie. In feite onthul die opskorting van verbiedinge dat `n waarlike post-nazistiese projek van die opoffering van die menslike steeds voortduur. Dit word gedra deur die post-kapitalisme wat deur alle simboliese regulasies te verbreek, dit vir die tegniek moontlik maak om heeltemal alleen voort te gaan tot dit die mensdom breek. 


`n Samelewing van die alles-verbruikbare

“Die kapitalistiese vertoog,” het dokter Lacan reeds gesê, “is iets wat waansinnig geslepe is (…), dit loop asof op wieletjies, en dit kan nie beter loop nie. Maar dit loop juis te vinnig, dit verbruik sigself. Dit word so goed verbruik dat dit sigself verbruik.” (10) Alles in ag genome is die eintlike probleem van die kapitalisme dat dit te goed funksioneer. So goed dat dit eendag daarby moet eindig om alles te verbruik: hulpbronne, die natuur, alles – tot met en ingesluit die individue wat dit dien.

Binne die kapitalistiese logika, het Lacan gepresiseer, is “die antieke slaaf vervang” met `n mens verskraal tot die staat van “produk”: “produkte… wat net so verbruikbaar as alle ander is” (11). Hierdie opmerking stel ons in staat om te verstaan dat dit juis in hierdie baie dreigende sin is wat ligweg euforiserende uitdrukkings wat dwarsdeur die neo-liberale literatuur voorkom, begryp moet word: “mensemateriaal”, “menslike kapitaal”, die verligte bestuur van “menslike hulpbronne” en die “goeie regering verbonde aan menslike ontwikkeling”.

Die anargokapitalisme het geloofwaardigheid verleen aan die idee dat om aan sig wette te gee wreed is en ons slegs tot `n soort onuitstaanbare masochisme te beperk. En hy stuur diegene wat steun vir die siel benodig op siniese wyse na die duistere puritanisme. Ons moet egter onthou dat die filosowe van die Verligting, soos Jean-Jacques Rousseau en Immanuel Kant gesê het dat vryheid niks anders beteken nie as om die wette wat aan mens gegee is, te gehoorsaam. In feite benodig ons werklik juridiese en morele wette en nie hierdie kunsmatige moraliserings nie ten einde oplaas geregtigheid uit te deel, die wêreld te beveilig voor dit te laat is, en die menslike spesie wat deur `n blinde logika bedreid word, te bewaar. Maar ons is besig om al die wette – behalwe dié van die sterkste – op te skort, en as ons in hierdie noodlottige rigting gaan volhou, sal ons `n wreedheid ontketen wat veel lewender is as dié van om jou aan wette te onderwerp. Ons sal `n onbekende wreedheid ontketen wat die wysiging van hierdie menslike liggaam ouer as honderdduisend jaar beteken. Om `n ander te probeer saamflans.


(1) Dany-Robert Dufour, L’Art de réduire les têtes. Sur la nouvelle servitude de l’homme libéré à l’ére du capitalisme total, Parys: Denoël, 2003.
(2) Karl Marx en Friedrich Engels, Manifeste du Parti communiste, in Frans vertaal deur Laura Lafargue, Parys: Editions sociales, 1976, p.35.
(3) Pico della Mirandola (1463 – 1494), Discours sur la dignité de l’homme, aangehaal deur Jean Carpentier, Histoire de l’Europe, Parys: Points Seuil, 1990, pp.224-225.
(4) In “La fin de l’Histoire dix ans après” (‘Tien jaar nà die Einde van die Geskiedenis’) herhaal Fukuyama sy credo: “Liberale demokrasie en die markekonomie is die enigste lewensvatbare moontlikhede vir ons moderne samelewings.” Maar hy erken `n gebrek wat betref sy opvatting van die einde van die geskiedenis: “Die geskiedenis kan nie aan sy einde kom solank as wat die hedendaagse natuurwetenskappe nie aan hul einde is nie. En ons bevind ons op die vooraand van nuwe wetenskaplike ontdekkings wat deur hul essensie self die mensdom as sodanig gaan afskaf.” Le Monde, 17 Junie 1999.
(5) Kyk Francis Fukuyama, Our Posthuman Future: Consequences of the Biotechnology Revolution, Londen: Picador, 2003.
(6) Kyk die werk van die groot Amerikaanse antropoloog Stephen Jay Gould, Ever since Darwin: Reflections in Natural History, Londen: W.W. Norton & Co, 1992; en The Panda’s Thumb: More Reflections in Natural History, Londen: W.W. Norton & Co, 1992.
(7) Peter Sloterdijk, Regels voor het mensenpark, Amsterdam: Boom, 2000.
(8) Lesing ingesluit in `n versameling getiteld La Domestication de l’Etre, Parys: Mille et une nuits, 2000. Alle volgende aanhalings kom uit hierdie werk.
(9) In feite is hierdie diversifisering reeds onderweg: die Amerikaanse weekblad Science van 27 Julie 2001 vertel hoe `n Amerikaanse span daarin geslaag het om menslike serebrale stamselle in die breine van die fetusse van Macaca radiata-ape in te plant tydens hul twaalfde week in die baarmoeder. Hierdie inplanting kan lei tot die skepping van mensape waarvan die breine sodoende meganiseer “vermenslik” is.
(10) Jacques Lacan, “Conférence à l’université de Milan”, 12 Mei 1972, ongepubliseer.
(11) Jacques Lacan, L’Envers de la psychanalyse, Parys: Seuil, 1991, sessie van 17 Desember 1969, p.35.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=190
Artikel nagegaan:
    -