|
||||
Comi M. Tolabour Die krisis wat ontketen is deur die opvolging van president Gnassingbé Eyadéma, wat op 5 Februarie 2005 na agt-en-dertig jaar se regering oorlede is, het die grense van Togo oorskry. Teenoor Frankryk se gebruiklike betrokkenheid (getroue steun aan die regime), staan die traagheid van Afrika organisasies in die verlede. Die presidensiële verkiesing wat vir 24 April in die vooruitsig gestel is, moet nog georganiseer word, in hierdie land wat gewoond is aan bedrog. Nà die Ivoorkus is `n ander bondgenoot van Frankryk verskeur. Watter een is volgende? Deur Comi M. Toulabor, navorser by die Sentrum vir Afrika-studie se Instituut vir Politieke Studies in Bordeaux Vertaal deur Ernst Wolff 2005/4/15 Dit is `n handjie vol hoë offisiere wat op 5 Februarie 2005 vir mnr. Faure Gnassingbé, een van die diktator Etienne Gnassingbé Eyadéma (wat op dieselfde dag oorlede is) se seuns opgewerk het tot Togolese staatshoof. Die Nasionale Vergadering en die Grondwetlike Hof, wat beide deur die presidensiële party oorheers word, asook die Rassemblement du peuple togolais (RPT), het dadelik die staatsgreep bekragtig: as “verkose” president van die parlement, het mnr. Faure Gnassingbé die tussentydse pligte van die staatshoof opgeneem en hom geposisioneer om sy pa op te volg. Gedurende agt-en-dertig jaar het Etienne Gnassingbé Eyadéma, die “persoonlike vriend” van die Franse president Jacques Chirac, homself in die mag gehou danksy twee staatsgrepe, die konsekwente gebruik van verkiesingsbedrog, die getroue steun van `n weermag wat deur sy vriende en sy etniese groep (die Kabyé) geïnfiltreer is, `n stewige netwerk van buitelandse vriende (in die besonder in Frankryk) en `n knap sluiting van toegang tot die land se karige ekonomiese hulpbronne.(1) In Desember 2002 is die Grondwet bykans volkome herskryf om die ou despoot toe te laat om `n derde presidensiële mandaat in Junie 2003 te kan vra. Die nuwe weergawe het ook die hindernisse vir die hoofopponent, mnr. Gilchrist Olympio, vermeerder. Etienne Gnassigbé Eyadéma het sodoende die pad wetlik vir sy seun Faure uitgemerk. Laasgenoemde is opgeskiet van afgevaardigde, na Minister van Mynwese, Toerusting en Telekommunikasie. Hy kon in hierdie strategiese pos (myne en die nywerheid verteenwoordig 20% van die bruto binnelandse produk van Togo) aan die roofinstink van sy stamgroep uiting gee. Daarbenewens was hy ook in beheer van die enorme familiale brandkluis in die sektor van fosfate, telefonie en olie-ontginning, wat deur die voormalige minister Agbéyomé Kodjo op etlike miljarde CFA-frank geraam is. (2) In kontras met met die voordele van hierdie vertrouensbreuk, staan die ekonomiese resultate van Togo wat laer is as dié van ander lande in die streek, die daling in koopkrag (3) en salarisse wat al vir twintig jaar lank bevries is. In die ophef na aanleiding van die opvolgskandaal het drie kampe gevorm. Onder hulle is daar die onversetlikes wat dink dat hierdie staatsgreep `n slegte slag is vir die moeisame demokratisering van Afrika. (4) So het die president van die Afrika-Unie, die Nigeriese staatshoof Olusegun Obassanjo, op 10 Februarie so ver gegaan om Togo met militêre ingrype te dreig. (5) Die president van die Kommissie van die Unie, die Maliaan Alpha Oumar Konaré, was van sy kant af die eerste om sonder omhaal van woorde die “militêre staatsgreep” aan die kaak te stel. Hy is ondersteun deur die Nigeriër Mamadou Tandja, wat die roterende presidensie van die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika State (Cédéao) hou. (6) Die mening van mnr. Konaré som die filosofie van hierdie kamp goed op: “Dit is duidelik dat die Afrika-Unie nie die verkryging van gesag deur mag kan onderskryf nie. Dit is dus belangrik dat daar teruggekeer word na respek vir grondwetlike reëls.” (7) Die Cédéao het op 19 Februarie `n reeks buitengewone sanksies aanvaar wat kontrasteer met dié organisasie se stilswye ten tye van die verkiesingsbedrog van die Eyadéma-diktatuur: uitsluiting van sub-regionale organisering, herroeping van ambassadeurs na Lomé, verbod om in die streek te reis, ens. Die Internasionale Organisasie van Franstaligheid, gelei deur die voormalige Senegalese president Abdou Diouf, het Togo se deelname opgeskort op 9 Februarie. Die Verenigde State, die Verenigde Nasies en die Europese Unie (wat veral deur Duitsland en België gedryf is) het ook die staatsgreep eksplisiet veroordeel. Teenoor hierdie teenstand het mnr. Faure Gnassingbé op 18 Februarie sy voorneme aangekondig om ooreenkomstig die Grondwet verkiesings binne sestig dae te hou. So het hy afstand gedoen van die idee om sy pa se mandaat tot 2008 te voltooi. Maar die Afrika-Unie en die Cédéao het volgehou om niks minder nie as sy summiere bedanking te eis. Hierdie bedanking het op 25 Februarie gekom en mnr. Abass Bonfoh is verkies tot president van die Nasionale Vergadering in die plek van die diktator se seun. Laasgenoemde het sy kandidatuur vir die presidensie onder die vaandel van die RPT aangekondig, en onmiddellik sy veldtog begin deur banknote uit te deel. Gedurende hierdie twintig dae van krisis het die diplomasie van fermheid `n deurslaggewende rol gespeel, wat gesteun is deur die plaaslike bevolking, wat nie gehuiwer het om in weerwil van vrees die weermag te trotseer om hulle opposisie teenoor die gebruik van mag te kenne te gee nie. Parys veroordeel nie Langs hierdie kamp van die onversetlikes is daar ook die kamp van stilte, wat die meeste van die Afrika-staatshoofde insluit, maar met die belangrike uitsluiting van die Senegalees Abdoulaye Wade en die Suid-Afrikaner Thabo Mbeki. Om die waarheid te sê, is dit nie seker nie dat die posisies van die Afrika-Unie en van die Cédéao, wat egter eenparig aanvaar is, die werklike opsies van die lidlande weerspieël. Die onmiddellike bure van Togo – Benin, Burkina-Faso en Ghana (waarvan die ambassadeur die inswering van mnr. Faure Gnassingbé bygewoon het) – het byvoorbeeld `n gemaklike stilswye gehandhaaf, wat beswaarlik enigiemand om die bos lei. Gnassigbé Eyadéma het sy verhoudings met ander staatshoofde met bekwaamheid ontwikkel en gespog met sy senioriteit en sy stewige netwerk van “vriende” op alle terreine. Die ou generaal het selfs die presidensie van die Organisasie vir Afrika-Eenheid (die voorganger van die Afrika-Unie) in 2000-2001 beklee en gesorg vir bemiddeling in die krisis in die Ivoorkus in 2003 in sy hoedanigheid as “wyse” en “oudste” onder die Afrika leiers. Met die dood van Félix Houphouët-Boigny in 1993 het hy die leiding geneem van die vakbond van Franstalige Afrika diktators wat deur Parys gesteun is en waaronder Paul Biya van Kameroen, Omar Bongo van Gaboen en Blaise Compaoré van Burkina Faso. Die laaste kamp is dié van verwarde verklarings: hiervan is Frankryk die enigste verteenwoordiger uit die Weste. Net na die dood van die “Kremetart van Pya” (geboortedorp van Gnassingbé Eyadéma), het president Jacques Chirac hom gehaas om sy “diepgevoelde hartseer” te verwoord en die oorlede staatshoof te beskryf as `n “vriend van Frankryk” en “persoonlike vriend”. Toegegee, op 11 Februarie het die Franse Ministerie van Buitelandse Sake die nuwe owerhede gevra om vrye, demokratiese verkiesings te organiseer. Maar enkele dae tevore het die Minister vir Samewerking, Xavier Darcos, mnr. Faure Gnassinbé soos die werklike president behandel deur sy goeie bedoelings te erken. Hoewel die Franse owerhede hulle op 20 Februarie agter die Cédéao geskaar het, sou hulle op geen tydstip die oordrag van mag deur oorerwing ferm veroordeel nie. Die regime kon sy belange behou as kaste van militêre konkelary waarin Frankryk `n vooraanstaande rol speel. Die meeste van die groot ondernemings, die klein- en mediumondernemings en nywerhede van die Internasionale Beweging van Franse Ondernemings (Medefi) en die Franse Raad van Beleggers in Afrika is sterk teenwoordig, veral in openbare werke, die ontginning van fosfate en bewapening. Togo is nog steeds aan Frankryk verbind deur `n verdedigingsooreenkoms wat op 10 Julie 1963 geteken is, asook deur die ooreenkomste van tegniese en militêre samewerking van 29 Maart 1976. Van mnr. Jean-Christophe Mitterand na mnr. Jacques Chirac is die bande tussen die Franse politieke klas en hierdie milieu van konkelary, of selfs van mafia-agtige aktiwiteite bekend. (8) Die akademici ondersteun die regime – hiervan is die gehuurde regsgeleerde, Charles Debbasch, wat gekom en die staatsgreep bekragtig het, net `n versinnebeelding. Frankryk was die enigste land van die Europese Unie om swaarder sanksies teen die Eyadéma-regering teen te staan. Laasgenoemde is sedert 1993 weens sy skending van demokrasie ontsê van Europese subsidies. Drieduisend Franse woon in Togo. Die “verkiesing” van mnr. Faure Gnassingbé het die kontinuïteit van hierdie stelsel gewaarborg, synde `n geringer kwaad vir binnelandse sake: met ouers wat onderskeidelik uit die noorde en die suide van Togo kom, kan hy aanspraak maak op `n tipe verteenwoordiging in `n land waar die streeketniese argument algemeen gebruik word. Sedert sy bedanking bly die Afrika-Unie en die Cédéao vreemd genoeg stil. Die kardinale vraag aangaande die organisering van `n presidensiële verkiesing op 24 April in `n land wat gewoond is aan bedrog bly des te meer kommerwekkend aangesien die Europese Unie weens gebrek aan tyd nie waarnemers sal kan stuur nie. Is die Franstalige leiers van die Afrika-Unie en veral van die Cédéao onder druk van die Franse presidensie en Buitelandse Sake? Wat seker blyk te wees, is dat Parys met die agteruitgang speel in die hoop dat tyd sal seëvier oor die binnelandse en buitelandse Togolese mobilisasies. Dit gaan daaroor om die Cédéao te verdeel om dit te verswak en om die dossier oor te dra na die buigsame Raad van Verstandhouding. Laasgenoemde is in 1959 in die lewe geroep deur die afgestorwe president van die Ivoorkus, Félix Houphouët-Boigny, op aandrang van Frankryk en die Raad verenig Benin, Burkina-Faso, Niger en die Ivoorkus, en Togo het daarby aangesluit in 1966. Die sade van verdeling is reeds merkbaar. So het mnr. Bongo nie die staatsgreep eksplisiet veroordeel nie en was hy daarmee tevrede om aan te dring op die noodsaak daarvan om die Togolese Grondwet te respekteer. Die president van Gaboen stoot sy eie seun Ali, Minister van Verdediging, in die rigting van sy eie opvolging. Verder beweer die Togolese koerant La Dépêche, wat naby aan die mag van die RPT is, dat mnr. Blaise Compaoré tydens `n amptelike besoek aan Brussel hom teen sanksies van die kant van die Cédéao uitgespreek het. (9) Vreemd genoeg het mnr. Faure Gnassingbé nog skaars sy bedanking aangekondig of die Cédéao lig sy sanksies sonder om te wag op `n besluit van die Raad van Vrede en Veiligheid van die Afrika-Unie wat op dieselfde dag vergader het nie. (10) Hierdie Raad het dus die Cédéao se sanksies, wat toe nie meer bestaan het nie, bekragtig. Verder het die Cédéao sy seën toegesê aan die verkiesing van mnr. Abass Bonfoh tot die presidensie van die Nasionale Vergadering in die plek van mnr. Fambaré Ouatara Natchaba, wat die pos beklee het totdat die aanvoerders van die staatsgreep hom uitgegooi het vir mnr. Faure Gnassingbé. Volgens mnr. Gilchrist Olympio is die Cédéao, wat oorheers word deur Franstalige state wat na bewering onder die invloed van Parys staan, nie in staat om die Togolese krisis alleen te hanteer en deursigtige en geloofwaardige verkiesings te organiseer nie. Die seun van president Sylvanus Olympio wat in 1963 deur generaal Eyadéma laat vermoor is, beskou die steun van die Afrika-Unie (waarvan Nigerië tans die presidensie hou) as onmisbaar. (11) Abuja, wat `n permanente setel in die Veligheidsraad van die Verenigde Nasies begeer, verdedig `n onversetlike posisie teenoor die Togolese regime. Die Verenigde State, wat geen belang in hierdie land weens sy skending van demokrasie nie, het `n soortgelyke posisie ingeneem en so is agterdog oor `n nuwe stryd tussen die Franstaliges teen die Engelstaliges gewek. Die huiwerings van die twee organisasies (wat met hulle geloofwaardigheid in hierdie krisis speel) is des te meer betreurenswaardig aangesien hulle vir die eerste keer sedert hul skepping (die Cédéao in 1975 en die Afrika-Unie in 2001) `n taamlik ferm posisie ingeneem het teenoor een van hulle lede wat die grondwetlike reëls verbreek het. Hierdie is `n kritieke kwessie in state waar die wen en oordrag van mag dikwels van obskure en outoritêre prosedures afhanklik is. Kan die diktator se seun wen? Ter plaatse hanteer Parys nie sy steun aan mnr. Faure Gnassingbé goed nie. In Lomé is luitenant-kolonel Benoît, `n voormalige militêre raadgewer van die oorlede president en Algemene Bestuurder van Eksterne Dienste by die Franse Ambassade, aangestel om vir hom steun te wen. Die Franse offisier wat `n ou kenner is van Togo, maar aan diens was in die 1960’s ten tye van die moord op Sylvanus Olympio, poog om `n ou stafhoof van die weermag, die vaardige luitenant-kolonel Kouma Biténiwé wat in oneer verval het en in ballingskap in Burkina-Faso leef, te oortuig om homself ten diens te stel van die seun van sy voormalige baas. In werklikheid het mnr. Faure Gnassingbé nie die steun van al die Kabyé-offisiere wat deur sy pa benoem is nie. In die afwesigheid van mnr. Olympio, wat van kandidatuur vir die verkiesing uitgesluit is omdat hy nie in Togo woon nie, het ses partye mnr. Emmanuel Bob Akitani as enigste kandidaat van die opposisie aangewys. Hierdie aanwysing geniet egter nie eenstemmigheid nie: op sy hoë ouderdom (74 jaar) sal hierdie gewese ingenieur nie in staat wees om `n opposisie te mobiliseer wat verdeeld is en geen program het nie. Die moontlike oorwinning van die diktator se seun in die presidensiële verkiesing van 24 April sal op die kort termyn die ekonomiese belange van Frankryk beskerm. Maar dit kan ook die risiko van `n ineenstorting tot gevolg hê – veral as die verkiesing in bedrog plaasvind – en die impak van die krisis in die Ivoorkus vererger. ------------- 1. Lees “Le dinosaure et le syndrome ivoirien”, Le Monde diplomatique, Maart 2003. 2. Lees die “Lettre ouverte d’Agbéyomé Kodjo à Faure Gnassingbé”, van 20 Februarie 2005 by www.diastode.org/Nouvelles/nouvelles1717.html. 3. Die groeikoers is 0,5% teenoor 4.1% vir die lande van die Cédéao (waarvan 5,1% van Benin is). 4. Lees Achille Mbembé, “Les chantiers de la démocratie”, in Manière de voir nr.79 “Résistances africaines”, Februarie-Maart 2005. 5. “Nigeria National Assembly Endorses Military Action Against Togo”, 11 Februarie 2005, www.letogolais.com/article.html?nid=1520. 6. Benin, Burkina-Faso, die Kaap-Verdiese Eilande, Ivoorkus, Gambië, Ghana, Guinee, Guinee-Bissau, Liberië, Mali, Niger, Nigerië, Senegal, Sierra-Leone, Togo. 7. Le Canard indépendant, Lomé, 11 Februarie 2005. 8. Kyk die amptelike mededeling van die vereniging Survie (www.survie-france.org) en dié van Attac (www.attac.org). 9. La Dépêche, Lomé, 24 Februarie 2005. 10. Lees Emmanuel Anning, “Critique de la levée des sanctions de la Cédéao contre le Togo”, Angola Press, Luanda, 28 Februarie 2005. 11. Panapress, 4 Maart 2005. |