|
||||
Georges Corm `n “Libanese lente”. Dít is hoe die Amerikaanse administrasie en die Franse regering gesteun deur etlike waarnemers die betogings geprys het wat gevolg het op die sluipmoord op die voormalige Libanese premier, mnr. Rafik Hariri. Nietemin ag hierdie simplistiese siening nie die werklike geskiedenis, hoe swanger die diepgaande geloofsverdelings ie, die gewig van die burgeroorlog of die streekskonteks gemerk deur die onsekerhede in Irak en Palestina nie. Deur Georges Corm, voormalige Libanese Minister van Finansies, skrywer van Orient-Occident, la fracture imaginaire, Parys: La Découverte, 2005. Vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois 2005/4/15 Sedert die moord van 14 Februarie 2005 op Rafik Hariri, Libanese premier van 1992 tot 1998, het dié land eensklaps die onderwerp geword van byna daaglikse verklarings deur president George W. Bush en sy Minister van Buitelandse sake, Condoleezza Rice, maar ook deur Europese leiers – met die Franse aan die voorpunt - wat `n oplewing in internasionale media-aandag teweeggebring het. Waar Resolusie 1559, aanvaar deur die Veiligheidsraad op 3 September 2004, byna ongesiens verbygegaan het (behalwe in Libanon, waar dit groot spanning ontketen het), het die moord op `n Libanese leier met buitengewone prestige op streeks- en internasionale vlak, en die Frans-Amerikaanse beroering, deurspek met Israeliese verklarings, hierdie kwesbare land in `n storm gedompel wat meer as net `n bedreiging vir sy toekoms inhou. Bogenoemde VN-resolusie bevat `n indrukwekkende reeks bepalings wat `n vraagteken plaas agter Libanon se status soos wat dit deur die Taëfooreenkoms in 1989 herskryf is, en daarna onder Siriese beheer geplaas is as vergoeding vir Damaskus se samewerking met die militêre koalisie wat Irak in 1991 uit Koeweit gejaag het. Die teks vra dat die Libanese parlement nie die Grondwet verander om die president van die Republiek, generaal Emile Lahoud, se mandaat van ses tot nege jaar te verleng nie. Sy voorganger, mnr. Elias Hraoui, `n groot bondgenoot van Damaskus en Rafik Hariri, se toeëiening van hierdie voorreg het in 1995 die wenkbroue in Parys en Washington laat lig. Op sigself is dit reeds verbasend dat so `n bepaling gemaak word, aangesien die Verenigde Nasies se handves enige inmenging in `n lidland se binnelandse sake verbied. Maar die resolusie eis ook verder die Siriese leër se onttrekking aan Libanon, die ontplooiing van die Libanese weermag al langs die grens met Israel, en die ontwapening van die Libanese burgermagte van Hezbollah en van die Palestynse bewegings in die vlugtelingkampe. Dit het natuurlik Libanon se stabiliteit beïnvloed, en aan hom die rol gegee van `n bufferstaat, wat hy trouens al dikwels in sy geskiedenis moes speel telkens wanneer sy grondgebied en politici in diens gestel is van magte wat beheer oor die streek wou kry. Van 1975 tot 1990 het Libanon die bloedige funksie vervul van `n mini-skaakbord vir reuse-konflikte wat die streek geskud het (Koue Oorlog, Israelies-Arabiese konflik, inter-Arabiese konflikte, konflik tussen Irak en Iran en die streeks- en wêreldwye gevolge daarvan). Eerder as om grootskaals los te bars, het hierdie konflikte op Libanese grondgebied uitgekristalliseer, met `n aantal politieke leiers wat bereid was om die glorielose rol te speel van agente, gesteun, befonds en bewapen deur die onderskeie streeks- en internasionale magte. Die godsdienstige gemeenskappe vir wie hulle sogenaamd verteenwoordig het, het gedien as voorwendsel en kanonvoer in diens van hierdie magte, maar ook as rookskerms vir die Arabiese en internasionale media, uitgehonger vir stof oor die sogenaamde “eeue-oue haat” wat die gemeenskappe sou verskeur het. In `n onlangse verwikkeling in Libanon se veelfasige oorloë, werp generaal Michel Aoun, opperbevelvoerder van die weermag, hom in `n “vryheidstryd” teen die Siriese troepe. Hy word daartoe gedryf deur die Arabiese Bond se komitee wat `n oplossing vir die krisis moes kry, maar ook deur wapensendings uit Irak en grootskaalse politieke en morele steun uit Frankryk (blykbaar vergesel van sekere militêre hulpmiddels). Hierdie episode het katastrofiese gevolge, veral vir die Christengemeenskappe, wat in `n gyselaarsposisie gehou is deur die generaal en sy invloedryke teenstander, mnr. Samir Geagea, hoof van die Christene se burgermag. Gevegte tussen hierdie bugermag en generaal Aoun se troepe, bo en behalwe gevegte teen die Siriese leër, slaag uiteindelik daarin om die Christengemeenskap tot randstatus te verlaag in die nuwe streeksorde wat tot stand kom. Die pax syriana, wat in Oktober 1990 onder goedkeuring van die VSA en stilte van die Israelse regering gesluit word, word dus alom met `n gevoel van verligting verwelkom. Vir veertien jaar sou Libanon ongekende stabiliteit beleef. Dit word slegs ontwrig deur twee Israeliese massa-aanvalle in die suide van die land (een in 1993, en `n tweede in 1996) - `n poging om Hezbollah, wat sedert 1978 `n uiters suksesvolle guerillastryd teen die Israeliese besetting van die suide gevoer het, tot orde te bring. In Mei 2000 onttrek die Israeliese weermag onder die aanslae van die weerstandsbeweging wat in noue samewerking met die Libanese weermag en veiligheidsdienste, verhoed dat Israel dodelike onmin tussen Christene en Moslems saai, soos wat gebeur het na die 1982-inname, met sy onttrekking uit Chouf in 1983, en tydens sy terugtrekking uit die Saïda-omgewing in 1985. In 1991 en 1992 slaag die opeenvolgende regerings van Salim El-Hoss en Omar Karamé daarin om die strydende burgermagte te ontwapen en hulle in die weermag op te neem, om die land en sy hoofstad te herenig, en om openbare dienste opnuut aan die gang te kry. `n Derde regering onder Rasjid El-Solh organiseer die eerste verkiesing sedert 1972 (wat ongelukkig deur `n groot deel van die bevolking, waaronder hoofsaaklik Christene, geboikot word). Dié regerings sluit verteenwoordigers van al die faksies in (met die uitsondering van ondersteuners van generaal Aoun, wat gedwing is om na Parys uit te wyk), en daar is sprake daarvan om Sirië te vra om opnuut sy troepe in die Bekaa-vallei te ontplooi, in ooreenstemming met die Taëf-akkoord. Rafik Hariri maak sy verskyning op die toneel, met die beeld van `n weldoener wat die land sal kan heropbou, veral Beiroet as historiese en handelskern, wat swaar onder vyftien jaar van gevegte gebuk gegaan het. Sy aanwysing as premier skep `n buitengewone euforie: hy word `n alles-in-een-figuur om wie `n ongekende persoonlikheidskultus ontwikkel, gesterk deur sy legendariese vrygewigheid, die media wat hom aanbid of deur hom beheer word, sy buitengewone vriendskap met die Franse staatshoof, en Saoedi-Arabië se onwrikbare steun. Niemand bekommer hulle meer oor die herontplooing van Siriese troepe, of hul uittog ingevolge die ooreenkoms tussen die Libanese en Siriese regerings nie. Nadat hy einde 1989 uit sy magsposisie ontslaan is, keer Rafik Hariri in Oktober 2000 triomfantelik terug ná `n loshande-oorwinning in die somer se algemene verkiesing. Niks gee op daardie tydstip te kenne dat dit nie `n vrye verkiesing was, of dat Sirië die toon in die verkiesingspel aangegee het nie. Die heropbou van die land, in weerwil van buitensporige koste en taamlik gemengde resultate, ontlok bewondering by baie Libanese asook buitelandse besoekers aan Beiroet. Wie sou twee jaar gelede kon dink dat Beiroet, wat so sy posisie herwin het op die politieke, toeristieke en kulturele skaakbord van die streek danksy die bevryding van die suide van Libanon, sulke dramatiese en gevaarlike gebeure sou beleef? In Junie 2000 en 2001 word daar `n vergadering van buitelandse ministers van die Arabiese Bond gehou, kort daarna gevolg deur `n spitsberaad van die organisasie – wat dekades lank nie meer in Libanon gehou is nie. In 2002 vind die leiersbyeenkoms van Franstalige lande daar plaas. By hierdie geleentheid lewer die Franse staatshoof `n toespraak in die parlement waarin hy implisiet Libanon se status bevestig as dié van `n “Siriese protektoraat” tot met die oplossing van die Israelies-Arabiese konflik: “Vanselfsprekend,” verklaar hy, “sal vrede [in die Nabye Ooste] slegs algemeen, regverdig en blywend wees indien dit Libanon en Sirië insluit, en indien dit `n billike oplossing bied vir die Palestynse vlugtelingkwessie, `n oplossing wat Libanon se belange in ag neem. Dit is Frankryk se volgehoue standpunt. Terselfdertyd sal die ewolusie na hierdie ywerig nagestreefde vrede Libanon en Sirië in staat stel om hul verhoudinge te harmoniseer en die onttrekking van die Siriese magte uit u land deur te voer in ooreenstemming met die Taëfverdrag”. Opnuut premier na `n tweejaaronderbreking (Desember 1998 tot Oktober 2000), onderstreep Rafik Hariri in sy algemene beleidsverklaring die noodsaak om die Siriese troepe in Libanon te laat aanbly. Dit alles vind weliswaar plaas voor die VSA se inname van Irak en sy inisiatief van `n “groot Midde-Ooste” waar orde en demokrasie sal seëvier en waar terreurgeweld iets van die verlede sal wees. Met hierdie visie keer Washington bloot terug na die Amerikaanse diplomatieke onderwerpe en slagspreuke van die vroeë 1990’s. Dit was die era toe mnr. George Bush senior, kort na die eerste Golfoorlog, `n nuwe wêreldorde beloof het. `n Paar maande later publiseer Shimon Peres `n boek wat groot opskudding sou veroorsaak (The New Middle East), en waarin hy `n tydperk van vrede, voorspoed en ekonomiese samewerking tussen al die volke van die streek aankondig, wat slegs deur irrasionele magte soos beliggaam deur gewelddadige ekstremistiese Moslembewegings vertroebel sou kon word. Hierdie uitgangspunt word gesteun deur die geloofwaardigheid wat hy verkry uit die Oslo-verdrae van 1992, gevolg deur verskeie belangrike ekonomiese streekskongresse (Casablanca, Amman, Kaïro, Doha) wat Israelse, Amerikaanse, Europese en Arabiese amptenare en sakelui byeenbring. Maar die vredesproses van Oslo is van sy inhoud ontneem deur die voortgesette Israeliese kolonisasie. Na die mislukking van die Camp David-beraad (Julie 2000), ontsteek mnr. Ariel Sharon se uittartende verskyning op die trappe van die Groot Moskee in Jerusalem, die derde mees heilige plek van Islam, die vonk in die kuitvat. Die ontketening van die tweede Intifada, en sy daaropvolgende militarisering in die aangesig van Israeliese onderdrukking, lyk nie of dit mnr. George W. Bush slapelose nagte besorg nie, en hy gee min blyke van haas om die Palestynse vraagstuk op te los. Die toestand in Irak word opnuut sy hoofkwelpunt. Sedert 1998 het mnr. Bill Clinton se administrasie bowendien besluit dat, aangesien die Verenigde Nasies se inspekteurs nie in hul sending kon slaag nie, Bagdad `n groot gevaar vir wêreldvrede inhou. Na die aanvalle van 11 September besluit president Bush, teen alle bewyse in, dat Saddam Hoessein `n aandeel aan hierdie misdade het, en dat hy boonop besig is om nuwe wapens van massavernietiging te ontwikkel. So word `n kettingbeweging op tou gesit wat sou lei tot die inname van hierdie land, wat so `n belangrike rol in die Midde-Oosterse ewewig speel. Toe die argumente wat aangevoer is om die inname te regverdig, alle geloofwaardigheid verloor, probeer die Amerikaanse regering die wêreld oortuig van sy voorneme om in ieder geval vryheid en demokrasie aan die volke in die streek te bring: sy ingryping om die Irakese volk van mnr. Saddam Hoessein se diktatuur te bevry, sou net `n eerste stap wees op die weg na algemene demokratiese hervorming in die Nabye-Ooste. Met die opkoms van gewapende weerstand in Irak, wys die VSA nou die vinger na Sirië, nog `n Ba’ath-regime wat dagteken uit `n tydperk wat almal graag as iets van die verlede sou wou sien. In weerwil van beloftes van drastiese hervorming deur die jong Siriese president, Bashar El-Assad, wat sy vader, Hafez El-Assad, oorlede in Junie 2000, opvolg, sukkel die Siriese regering om `n tweede asem te kry en `n vinnige oorgang na politieke en ekonomiese liberalisme, na die voorbeeld van die Middel-Europese lande, te bewerkstellig. In Damaskus was die politieke liberalisering taamlik beperk, selfs kortstondig, alhoewel die ekonomiese liberalisering veral gelei het tot die opkoms van `n private banksektor waarin Libanese banke `n leidende rol speel. Dit het ook die Siriese privaatsektor in staat gestel om sy rol in die ekonomie uit te bou, sonder om te lei tot die vernietiging van wisselkoersbeheer en die openbare sektor, soos elders gebeur het. Vir seker is die Siriese regering, hier aan die begin van die 21ste eeu, nie meer die verdrukkingsmasjien wat enige andersdenkendheid bloediglik onderdruk nie. Maar die Amerikaanse inname van Irak en Washington se aantygings plaas die regering op die verdediging, wat nie bevorderlik is vir sy strewe na liberalisering nie. In Desember 2003 stel die VSA (ligte) sanksies in onder die sogenaamde Syrian Accountability Act, wat deur die Amerikaanse kongres aanvaar is. Dit is `n kragtige werktuig om druk op Damaskus, veral op sy Libanese vleuel, te plaas – die wet vra ook dat Sirië Libanon se volkome onafhanklikheid moet herstel. Op 11 Mei 2004, onder toepassing van hierdie wet, versterk Amerikaanse presidensiële opdragte die ekonomiese omsingelingsmaatreëls wat tot op daardie tydstip betreklik buigsaam en onbeklemmend was. Generaal Aoun in Parys, asook `n Libanese drukgroep in Washington (wat die afstigting van die Christene of die omvorming van die land in `n federasie verkondig), klop hulself op die skouer oor die Amerikaanse sanksies en die aanneem van Resolusie 1559; hulle beweer dat hulle bygedra het om die gebluste vlam in die VSA vir die herstel van Libanese soewereiniteit aan te blaas. Op grondvlak, sedert die verkiesingsveldtog in die somer van 2000, het mnr. Walid Joumblatt, tot dan toe die Siriese regering se mees getroue bondgenoot, hulle die stryd aangesê met sy veroordeling van die Siriese oorname. Sommiges sien dit slegs as `n verkiesingset om Christenstemme te werf – te meer toe die Droeseleier, met die verkiesing agter die rug, `n gematigder toon aanslaan. In September van dieselfde jaar reik die Maronitiese gemeenskap se biskoppe, verenig onder die voorsitterskap van hul stigter, `n verklaring uit wat Damaskus verantwoordelik hou vir alles wat verkeerd is in Libanon (algemene korrupsie, geldskuld en maatskaplike krisis, en die marginalisering van sekere politieke magte). Vir die eerste keer in die Christengemeenskap se geskiedenis word `n biskop aangewys om deel te neem aan die vergaderings van `n groep wyduiteenlopende figure (genaamd Kornet Chahouan), wat verteenwoordigers van die Libanese magte se ontbinde bugermag, verteenwoordigers van generaal Aoun, sekere Maronitiese parlementslede en die Falangistiese oud-president van die republiek, mnr. Amine Gemayel, insluit. Dié groep beskryf hulself as `n vasbeslote oposisie, nie van Rafik Hariri se regering nie, maar van die president van die republiek en van Sirië. Hul agenda bepleit die stuur van die weermag na Suid-Libanon om by Hezbollah oor te neem, die vrylating van mnr. Samir Geagea, oud-leier van die Libanese magte se Christen-burgermag, wat in 1993 in hegtenis geneem en vir verskeie aanvalle veroordeel is, en laastens die onttrekking van die Siriese weermag in ooreenstemming met die Taëfverdrag. Na die bevryding van Suid-Libanon in 2000, eis die VSA en die meeste Europese lande in werklikheid dat die Libanese weermag al langs die grens met Israel ontplooi moet word en dat Hezbollah na binne die land toe teruggetrek of selfs ontwapen moet word. Maar van die Weste se beloofde hulp om hierdie streek wat reeds 22 jaar lank onder besetting was, te help opbou, kom daar niks. En die inname van Irak laat daarna hierdie sensitiewe kwessie in die skadu verdwyn. Boonop ontketen Amerikaanse dreigemente teen Sirië en Hezbollah `n vlaag van protes in Libanon waarmee selfs die Maronitiese stigter hom vereenselwig, en wat bydra om die spanning te verlig. Rafik Hariri se tragiese heengaan ontketen `n volskaalse krisis op `n tydstip waar die twee regerings, die Siriese en die Libanese, hul houding begin temper het. Opnuut te midde van die streek se geopolitieke spel, rakel Libanon weer sy ou gewoontes en duiwels op. Slegs enkele maande na die aanval op die parlementslid Marouan Hamadé, `n vertroueling van beide mnr. Joumblatt en Rafik Hariri, krap dié nuwe drama weer ou wonde oop. Vir baie Libanese is `n belangrike simbool van stabiliteit en voorspoed verwoes. Ten spyte van kritiek het die oud-premier onder sy talle bewonderaars die hoop brandend gehou van `n genormaliseerde land, bevry van die Israelies-Arabiese konflik waaronder hy soveel gely het. Dit is waarom die here Bush en Chirac se herhaalde pleidooie vir Siriese onttrekking en die algehele en vinnige toepassing van Resolusie 1559 op vele ontvanklike ore geval het. Laasgenoemdes skaar hulle rondom mnr. Joumblatt, wat die onbetwiste leier van die opposisie geword het, en die familie van die vermoorde premier, parlementslede wat voorstaanders van Rafik Hariri was en op sy lyste verkies is, `n aantal politieke groepe en nieregeringsorganisasies, sowel as `n groot aantal studente wat hoofsaaklik – maar nie uitsluitlik nie – uit die Christen-middelklasse afkomstig is. Die Amerikaanse president en verskeie Europese leiers probeer om van Libanon `n “demokratiserings”-laboratorium te maak: na die Irakese en Palestynse verkiesings, gehou onder besetting, en die munisipale verkiesing in Saoedi-Arabië, en voor die aangekondigde presidentsverkiesing uit verskeie kandidate in Egipte, gee die terugkeer tot die stembusse in Libanon, so meen hulle, onstuitbare stukrag aan die “asem van vryheid” in die Nabye-Ooste. Hierdie siening hou duidelik nie rekening met die land se kompleksiteit nie, en ook nie met dit wat Damaskus nog – ten spyte van die weersin of snydende kritiek wat sy regime mag uitlok – vir die Arabiese mening verteenwoordig nie: een van die laaste skanse teen Amerikaanse oorheersing van die Nabye Ooste en `n “oplossing” van die Israelies-Palestynse konflik wat nadelig vir die Palestyne sal wees – en Sirië waarvan Israel steeds sedert 1967 die Golanhoogland beset, en selfs in 1981 geannekseer het. Hoewel die “opposisie” hulle daarop mag roem dat hulle verteenwoordigend is in Sentraal-Libanon, word daar in die Suide, die Noorde en in die Bekaa-vallei ander politieke gesindhede aangetref, verdeel tussen Maksimaliste wat die wankelrige regering wat na die Taëfverdrag tot stand gebring is, tot `n val wil bring, en meer gematigde figure. Laasgenoemdes blyk in ieder geval opgevang te wees in die “rewolusionêre” denkwyse van die Maksimaliste, waaronder etlike eertydse radikale oud-militante – kommuniste en pro-Palestynse Arabiese nasionaliste – die voortou neem. Teenoor die “opposisie” se permanente sitstaking op die Martelaarsplein, rondom die graf van die vermoorde oud-premier, reël Hezbollah massateenbetogings op 8 Maart in Beiroet, en op 13 Maart in Nabatieh. Met die prestige wat die bevryding van Suid-Libanon hom besorg het in Libanon en in die res van die Arabiese wêreld, verteenwoordig dié party `n simboliese, verenigende element van `n alternatiewe Libanese gesindheid, anti-imperialisties en nasionalisties, wat `n besliste weerklank in die streek vind. Dit is dus `n gevaarlike spel wat gespeel word, in die eerste plek vir die Libanese self, maar ook vir toekomstige verhoudings tussen dié wêrelddeel, die VSA en Europese Unie. Mnre. Bush en Chirac het die mikpunt uiters hoog gestel. `n Mens sal moet hoop dat wysheid sal seëvier en dat die situasie op voetsoolvlak onder beheer bly. Maar hoe lank kan Libanon in so `n krisistoestand gelaat word sonder dat sy wankelrige ekonomie in duie stort of professionele onrusstokers die vonk in die kruitvat aansteek? Sal die Christengemeenskap wat, aangevuur deur die Maronitiese kerk, dit op hierdie mynveld gewaag het, nie die eerste gevolge moet dra van die destabilisasie, soos die geval was tydens die herhaalde krisisse wat Libanon sedert 1840 geruk het nie? Sal die ononderbroke reeks betogings wat deur die Weste ondersteun word, en vyandige protes teen Westerse inmenging, die land in `n toestand van verdeeldheid dompel? `n Derde groep, geskaar rondom die hoogs gesiene oud-premier Selim Hoss, poog om die spelers se gemoedere te kalmeer. Maar, as dinge te ver gevoer word, is dit te betwyfel of die staat staande sal kan bly voor die nuwe geopolitiese toetse wat die streek hom oplê, of die veelsoortige politici wat onder verskeie buitelandse invloede staan. En hoe kan `n mens ooit vergeet dat sekere lede van hierdie “elite” verantwoordelik was vir slagtings en gedwonge bevolkingsonthuisings in die tydperk van 1975 tot 1990, sonder dat hulle ooit voor `n hof gedaag is, soos in Rwanda of eks-Joego-Slawië, of deelgeneem het aan `n kollektiewe, nasionale berou-aksie soos in Suid-Afrika? _________ (1) Skikking bereik deur die Libanese parlementslede byeen in die stad Taëf, Saoedi-Arabië, onder aanmoediging van Saoedi-Arabië, die Verenigde State en ander Arabiese lande. Dit het `n interne herverspreiding van mag tussen die groot godsdiensgemeenskappe in die vooruitsig gestel, asook `n herontplooiing van die Siriese troepe op die Bekaa-vlakte na twee jaar. (2) Kyk Le Liban contemporain. Histoire et société, Parys: La Découverte, 2003. (3) Oor die oorsake van die nie-herontplooiing van die Siriese troepe en die nie-toepassing van die grondwetlike maatreëls van die Taëfverdrag kan verwys word na die boek van die voormalige Minister van Verdediging en later van Inligting van die twee regerings wat die hereniging van die land en die einde van die oorlig oorsien het tussen 1989 en 1992: Albert Mansour, Die staatsgreep teen die Taëfverdrag (in Arabies), Beiroet: Dar el Jadid, 1993. Hierdie boek lê die leeueaandeel van die verantwoordelikheid voor die deur van oud-president Elias Hraoui en sy maneuvers, waaronder die begunstiging van Rafik Hariri se toetrede tot die regering in die herfs van 1992 nà `n kunsmatige golf van spekulasie teen die Libanese pond, wat die regering van Omar Karamé tot `n val gebring het. Hy beklemtoon ook die uitsonderlikheid van `n streekskonteks waar Sirië sonder enige teenwig regeer. (4) L’Orient-Le Jour, Beiroet, 18 Oktober 2002. (5) Aan `n opposisieparlementslid wat teen hierdie verklaring protesteer het, het Rafik Hariri skerp geantwoord dat “om Sirië te blameer vir Libanon se probleme klop nie met die werklikheid nie” en dat hy dít bloot bevestig het “om die waarheid regverdig te hanteer… want sonder [Sirië] sou dit onmoontlik wees om stabiliteit te bereik” (kyk die volledige teks in die dagblad An-Nahar, 3 November 2000). Hierdie is ‘n posisie wat Rafik Hariri konstant ingeneem het vanaf die eerste regering wat hy in 1992 gevorm het tot met die sluipmoord op hom. (6) Lees Ignacio Ramonet, Irak, histoire d’un désastre, Parys: Galilée, 2005. (7) Wet 108-175 aanvaar deur die Amerikaanse Kongres op 12 Desember 2003 staan bekend as die Syria Accountability and Lebanese Sovereignty Restoration Act of 2003. (8) Kyk die ietwat provokatiewe ondersoek gepubliseer deur die koerant An-Nahar, 3 Februarie 2005. (9) `n Gedeelte van die Maronietegemeenskap in die noorde van die land deel nie die politieke posisie van die kerk nie: sy hoof, mnr. Soelieman Frangié, naby aan Sirië, het die patriarg onlangs verwyt omdat hy nie met die uiteenlopende opinies in die gemeenskap rekening hou nie. Bowendien het Maronieteparlementslede wat baie verteenwoordigend van hul gemeenskap is, en onafhanklike persoonlikhede ook nie by die geledere van die opposisie aangesluit nie. |