blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde Diplomatique: Die inheemse gemeenskappe van Ecuador kom voor `n evangeliese uitdaging te staan: Strategieë van geestelike oorlewing 2005-04-15
Laurent Tranier


In Latyns-Amerika, waar die Katolieke Kerk sy oorheersende rol verloor, vind `n grondige beweging plaas: die opkoms van fundamentalistiese evangeliese gemeenskappe en gewilde Pinksterkerke. Dikwels oorspronklik verwant aan kragtige sektes in die suide van die VSA, kan hierdie beweging weens sy politieke en maatskaplike konserwatisme kommer wek. Dit is egter nie, soos die geval van Ecuador getuig, `n eenduidige projek nie.

Deur ons spesiale gesant Laurent Tranier, joernalis, Quito, Ecuador
Vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois
2005/4/15


“Die oorlewing van die Konfederasie van inheemse Bevolkingsgroepe in Ecuador [Conaie] word bedreig. Die doel van my voorsitterskap is om `n terugtrekking te organiseer om die beweging se basis te konsolideer.” Met `n ernstige stem en afgemete gebare maak mnr. Luis Macas dit duidelik dat hy geen illusies koester nie. Hierdie historiese figuur in die maatskaplike beweging wat in 1986 gestig is teen enige vorm van uitbuiting en geweld waaraan die Indiane onderworpe is, en waarvan hy van 1990 tot 1996 voorsitter was, is in Desember 2004 verkies om vir die volgende drie jaar `n ware reddingsaksie te lei.

Reg deur die 1990’s het die Indiane-beweging, in hoofsaak verteenwordig deur Conaie, van die een oorwinning tot die volgende die oorhand geblyk te hê. Die opstande van 1990, 1992, 1994, 1997 en 1998 het hulle in staat gestel om nuwe grondgebied en ontwikkelingsmiddele te bekom, maar ook om energieprysverhogings en verskeie strukturele aanpassingsmaatreëls wat deur die Internasional Monetêre Fonds (IMF) vereis is, af te weer.
 
Gou het hierdie “oorwinnings” egter van `n beperkte aard geblyk te wees. Weliswaar het die 5 miljoen afstammeling van pre-Colombiaanse volke sigbaarheid, politieke krag en waardigheid verkry in hierdie klein landjie met sy 13 miljoen inwoners. Die Grondwet wat in 5 Junie 1998 aanvaar is, en wat een van die modernste ter wêrelde in terme van gemeenskaplike regte is, erken hul aanspraak op `n hele reeks voorregte wat noodsaaklik is vir hul kulturele voortbestaan. Menings is dit eens dat rassisme afgeneem het en dat inboorlinge weer die kop kan optel. Desnieteenstaande bly hul ekonomiese en maatskaplike toestand haglik. Waar die Nasionale Statistiek- en Sensusdiens die land se persentasie armoediges (wat oor minder as 2,64 dollar per dag beskik) in 2004 op 44% geraam het, is hierdie syfer onder hulle bevolkingsgroep tussen 80% en 90%.
 
In Januarie 2000 betoog die Indiane weer eens in die strate van Quito. In hulle honderde duisende protesteer hulle teen president Jamil Mahuad se plan om die nasionale geldeenheid, die suiker, met die Amerikaanse dollar te vervang. Die weermag gryp in, maar klaarblyklik aan die volk se kant. Op 21 Januarie beset die betogers die parlement en mnr. Mahuad doen afstand van sy presidentskap. Hy word vervang deur visepresident Gustavor Noboa... wat in ieder geval met die dollarisering voortgaan.

By dié geleentheid tree `n offisier van gemengde herkoms, tot op daardie tydstip onbekend, na die voorgrond: kolonel Lucio Guturriez. As teenstaander van die oligargie en mondstuk van die nederiges en die inboorlinge – hy word gesien as `n Ecuadoriaanse Hugo Chávez – word hy twee jaar later tot president van die Republiek verkies. Reg van die eerste rondte af word hy deur Conaie ondersteun, en met die hulp van die linkse en middellinkse partye verslaan hy mnr. Alvaro Noboa, die rykste persoon in die land, in die tweede rondte.

Conaie asook sy politieke vleuel, die Pachakutik-beweging (PK), maak hul toetrede tot die regering. Maar president Guturriez het `n groter alliansie nodig om die land te regeer. Vir `n ruk lank kry hy dit by die Sosiaal-Christelike party – `n konserwatiewe groepering uit die ekonomiese milieu van Guayaquil – in weerwil van die programooreenkoms wat hy met die PK gesluit het, en sluit spoedig `n verdrag met sy Amerikaanse eweknie George W. Bush, die IMF en markkragte. Ministers uit die inheemse beweging skreeu verraad en storm uit. Die aantal PK-lede in die parlement is aanvanklik beduidend: daar is elf van hulle. In Januarie 2005, as gevolg van uitsluitings en wegloopaksies, bly daar net ses oor en het hulle al hul invloed verloor.

In `n oomblik van selfondersoek erken mnr. Luis Macas, kortstondig Minister van Landbou, onomwonde: “Ons eerste fout was om met Gutiérrez `n vennootskap aan te gaan”. Vandag deel van die opposisie, het die PK en Conaie hul geloofwaardigheid op hul voetsoolvlak sowel as in die openbare mening verloor. Wanneer die nuwe voorsitter van Conaie `n sober dokument van om en by vyftig bladsye, getiteld “Politieke plan van die Ecuadoriaanse bevolkingsgroepe”, ontvang, glimlag hy verleë. Dis `n dokument wat hy maar te goed ken, aangesien dit onder sy leiding opgestel is in 1994. In meer as tien jaar het dié plan met nie soveel as `n komma gevorder nie.

Conaie se voorstelle wentel steeds om identiteitseise wat in teorie bevredig is met die aanvaarding van die Grondwet in 1998: `n eis om tweetalige onderwys (Spaans en `n inheemse taal), wat niemand teëstaan nie; `n klassieke stryd om grondgebied en `n geesdriftige maar onduidelike eis om “ontwikkeling”. Voeg daarby staatshervorming wat al `n gemeenplaas geword het. In ieder geval, soos die res van die Latyns-Amerikaanse volksbeweging, is Conaie sterk betrokke in die stryd teen die daarstel van `n Amerikaanse vryhandelsgebied, wat Washington vir 2005 beoog.

Tydens die oproerdae in 2000 het `n organisasie na vore getree wat tot op daardie tydstip uitsluitlik as godsdiensverteenwoordiger opgetree het: die Federasie van Evangeliese Inheemse Bevolkingsgroepe van Equador (Feine). In `n proses van volgehoue ontwikkeling sedert die 1960’s, en bevry van die voogskap van Amerikaanse sendelinge in 1981, verteenwoordig die evangeliese Indiane ongeveer 2 miljoen mense in die land. Vir lank het hulle hul om geloofsredes van alle maatskaplike of politieke aktivisme weerhou. Aangesien die “protestantse etiek” politieke mag as afkomstig van goddelike wil beskou, het die gedagte nie eens ontstaan om dit in twyfel te trek nie. Hierdie passiewe houding het lank daartoe bygedra dat die evangeliese organisasies deur ander inheemse liggame verwerp is.

Nietemin, aangevuur deur die ywer van mnr. Marco Murillo, wat in 1998 op 28-jarige leeftyd tot voorsitter verkies is van `n organisasie sonder enige invloed, word Feine die inheemse gemeenskappe se belangrikste spreekbuis. Teenwoordig in sowel die stede as op die platteland, waar Conaie hoofsaaklik landelik bly, vorm die organisasie `n verenigde front agter hul president, en verkondig hulle gematigde beginsels met helderheid. Hoewel hulle hul as pragmaties voorhou, word Feine nie om die bos gelei deur `n regering waarvan die inboorlingbeleid neerkom op die verspreiding van voedsel op grondvlak en administratiewe poste op leiersvlak nie – hierdie byna amptelike na-stemme-vryery word deur die Minister van Maatskaplike Welsyn georkestreer. “Ons steun nie die regering nie,” benadruk mnr. Murillo. “Ons keur die positiewe aspekte van sy aksies goed en ons gaan voort om te veg vir ons onbevredigde eise. Maar ons doen nie mee aan sy omverwerping nie. Ons het reeds gesien: dit verander niks nie...”

Feine se regstreekse deelname aan maatskaplike en politieke optrede skep egter ook probleme binne die organisasie. “Maar,” vervolg mnr. Murillo, “daar moes `n einde gemaak word aan die pastore se gesplete persoonlikheid, waar hulle soggens preek van orde en onderwerping aan die owerhede daargestel deur God, en saans, as gemeenskapsleiers, verklaar dat armoede, ongeletterdheid en die afwesigheid van vooruitsigte mobilisasie onvermydelik maak...” Dit is moontlik gemaak deur die teorie van “omvattende ontwikkeling”, `n uitstekende voorbeeld van die evangeliese godsdiensgroepe se dogmatiese buigsaamheid. `n Dogma wat sy oorsprong het in die inboorlinge se wêreldbeskouing, wat nie onderskeid maak tussen die goddelike en die ondermaanse nie, en wat die mens se liggaamlike en geestelike behoeftes met mekaar vereenselwig. Uiteindelik lei dit tot wat die etnoloog Susana Andrade beskryf as `n “nuwe protestantse inheemse identiteit”, wat terselfdertyd `n sedelike opheffingsplan en `n konkrete voorstel vir ekonomiese en maatskaplike vooruitgang is.

Is hierdie “nuwe identiteit” versoenbaar met Conaie se agenda? By monde van sy president blyk Feine skepties te wees, en beskuldig hy Conaie van `n “etnosentriese” en “terugkykende” houding jeens ontwikkeling. Feine is byvoorbeeld ten gunse van tweetalige, interkulturele onderwys omdat “taal `n noodsaaklike deel van identiteit” is. Maar hulle eis ook die onderrig van Engels en dat die onderwys moet verbreed na universele kennis. En hoewel hulle hul ook beywer vir die versterking van die gemeenskapsekonomie, vra hulle dat markgerigte aktiwiteite terselfdertyd ontwikkel word, op die basis van mikro-sakeondernemings befonds deur `n ontwikkelingsbank wat nog geskep moet word.

Op `n byna natuurlike wyse, net soos Conaie, het Feine gelei tot die ontstaan van `n politieke party. Amauta Jatari (“die wyse staan op” in Quechua) tree in 1998 na vore en stel in 2002 die eerste  inheemse kandidaat beskikbaar vir `n presidentsverkiesing in Ecuador. Mnr. Antonio Vargas behaal minder as 40 000 stemme, oftewel 0,8% van die uitgebragte stemme: die laagste telling van al elf kandidate wat in die eerste rondte meeding.

Uit hierdie bitter neerlaag lei Feine en Amauta Jatari af dat die beweging se roeping nie nasionaal kan wees nie: ten spyte van `n sterk plaaslike teenwoordigheid, dra die evangeliërs nie landswyd genoeg gewig om hulle alleen tot `n oorwinning in staat te stel nie. Gevolglik sal hulle vir politieke bestaansreg moet steun op alliansies “met nie-godsdienstige en progressiwistiese middel- en middellinkse bewegings”, aldus mnr. Murillo.

Hierdie voornemens word tydens die plaaslike verkiesing in die herfs van 2004 in werking gestel, en die evangeliërs bekom verskeie munisipale kiesafdelings en talryke verteenwoordiging in munisipale en provinsiale rade in die sierra. Meestal danksy die steun van mnr. Gutiérrez se Partido Sociedad Patriótica (Party vir `n Patriotiese Samelewing, oftewel PSP) en die Sosialiste Party. Tydens die volgende algemene verkiesings in herfs 2005 hoop Amauta Jatari om `n groot middel- en middellinkse aliansie tot stand te bring en afgevaardigdes na die landswye parlement te kan stuur.

Beide in Conaie en in Feine word beaam dat die inheemse beweging krag put uit sy diversiteit en word daar klem gelê op sy begeerte om `n gesprek te voer. Maar terselfdertyd erken beide dat `n verkiesingskonfrontasie onvermydelik is. Om ideologies redes volgens Feine; as gevolg van `n manipulerende regering wat tweespalt saai, aldus Conaie.

Op 16 Februarie weergalm die strate van Quito met die voetstappe van `n massabetoging – tussen 70 000 en 200 000 mense – aangevuur deur die slagkreet “Lucio, fuera!” (“Uit met Lucio [Gutiérrez]”), in `n samekoms van vakbonde en nie-regeringsorganisasies, buurtorganisasies, die uiters konserwatiewe Sosiaal-Christelike Party en die Pachakutik beweging. Die politieke krisis is ontketen nadat die wetgewende meerderheid wat ten gunste van die regering is, die Hooggeregshof, die Verkiesingstribunaal en die Grondwetlike Hof “op sy manier” herrangskik het.

Conaie, wat die beweging gesteun het sonder om regstreeks deel te neem, beplan voortegesette teenstand op grond van teenvoorstelle wat los staan van die politieke partye s`n om `n stokkie te steek voor die ondertekening van `n vryhandelsooreenkoms met die Verenigde State, die Colombië-plan (wat Ecuador raak deur die militarisering van grense en die Amerikaanse militêre basis in Manta), en die privatisering van nasionale bates.

Afwesig by die 16 Februarie-betogings, beywer Feine hom nóg vir die regering, nóg vir die opposisie. Maar met beloftes van vervoer en vergoeding en/of dreigemente van boetes kry die Minister van Maatskaplike Welsyn dieselfde dag die evangeliese gemeenskappe byeen vir `n saamtrek van ongeveer tienduisend siele wat… ten gunste van president Gutiérrez betoog.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=187
Artikel nagegaan:
    -