blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesmaand se hoofartikel in Le Monde Diplomatique: Sjina teen Sjina 2005-04-15
Ignacio Ramonet



Deur Ignacio Ramonet, redakteur
Vertaal deur Ernst Wolff
2005/4/15

Skielik wentel internasionale kommer om die Straat van Formosa. Spanning het daar hewig opgelaai sedert 14 Maart, toe die Sjinese parlement `n “anti-afskeidingswet” ingestem het, wat vir die eerste keer aan Beijing die mag gee om “van nie-vreedsame middele gebruik te maak” teen Taiwan, indien die eiland se owerhede “op watter manier ook al” sou kies vir onafhanklikheid.

Die vorige dag het president Hu Jintao, wat die sekretaris-generaal van die Kommunistiese Party is (geklee in `n militêre baadjie en nadat hy as hoof van die Sentrale Militêre Kommissie verkies is), `n appel tot die offisiere gerig om hulle “voor te berei vir `n militêre konflik”. (1) Hierdie verklaring is des te ernstiger opgeneem, aangesien die militêre begroting met 12,6% vergroot is…

Die Taiwannese president, mnr. Chen Shui-bian, wie se party tot die onafhanklikheidstroming behoort en wat enkele dae vantvore gedreig het om `n anti-anneksasie wet uit te vaardig, het die ingestemde Sjinese wet bestempel as “`n wet wat magtiging vir oorlog verleen”. Die Verenigde State het ook besorgdheid uitgespreek; mnr. Scott McClellan, woordvoerder van die Withuis het gesê: “Hierdie anti-afskeidingswet is ongelukkig, dit dien nie vrede of veiligheid in die Straat van Formosa nie (...) Ons is gekant teen enige eensydige verandering van die status quo.”(2) Mev. Condoleezza Rice, die Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, het ook hierdie standpunt teenoor president Hu Jintao herhaal tydens haar besoek aan Beijing op 21 Maart.

Sedert 1972 erken Washington net een Sjina waarvan Taiwan `n integrale deel uitmaak. Maar die Amerikaanse kongres het in 1979 `n resolusie eenparig ingestem wat die Verenigde State daartoe verbind om die veiligheid van die eiland te waarborg... En die onlangse nominasie van mnr. John Bolton (geswore ondersteuner van Taiwan se onafhanklikheid en voormalige betaalde raadgewer van die Taipeise regering) as ambassadeur van die Verenigde State by die VN, sou nie die owerhede in Beijing gerusstel nie.

Japan het ook besorgdheid uitgespreek vanweë “die negatiewe uitwerking van hierdie wet op die vrede en stabiliteit van die streek”. Spanning tussen die twee groot streeksmoondhede het die laaste paar maande toegeneem. Tokio het in Februarie aangekondig dat sy magte beheer geneem het van `n vuurtoring wat op die onbewoonde argipel Senkaku geleë is en waarop Beijing (wat dié Diaoyu noem) aanspraak maak. Die argipel is in `n visryke sone waar belangrike neerslae van koolwaterstowwe geleë is. Sjina het hierdie besluit bestempel as `n ernstige en volkome onaanvaarbare provokasie. (3)

Ten einde `n teenwig vir Sjina op die internasionale toneel te wees, steun die Verenigde State nou die belangrikste politieke eis van Japan: om `n permanente setel in die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad te bekom. In Februarie 2005 het Tokio en Washington, in wat as `n belangrike historiese gebeurtenis beskryf kan word, `n gesamentlike amptelike verklaring onderteken, waarin die twee lande as “gemeenskaplike strategiese doelwit” stel om te werk na “die vreedsame oplossing van die kwessies rakende die straat van Formosa”.(4) Dit is die eerste keer sedert 1945 dat Japan sy neutraliteit met betrekking tot Taiwan prysgee.

Beijing bly daarvan oortuig dat die Bush-administrasie beperkings aan Sjina oplê, met Japan in die rol van “skoothond-vennoot” of “Groot-Brittanje van Asië”. Die Sjinese owerhede reken dat Washington die Japanese herbewapening aanmoedig en terselfdertyd sy militêre basisse rondom Sjina (in Kirgistan, Tadjikistan, Afganistan, Oesbekistan) vermeerder en sy militêre bande met Indië, Sri-Lanka, Maleisië, Singapoer en Thailand versterk.

Maar die spel is nie eenvoudig nie. Op die vlak van die ekonomie het Washington Sjina te nodig, aangesien laasgenoemde `n goeie deel van die Amerikaanse geldeenheid se surplus hersirkuleer deur effekte van die Amerikaanse Tesourie te koop en sodoende indirek die Amerikaanse begrotingstekort finansier. (5) Verder het Washington `n dringende behoefte aan Beijing as onmisbare tussenganger in sy samesprekings met Noord-Korea om die regering van Pyongyang te lei om van sy kernwapens afstand te doen.

Beijing ken sy troefkaarte. En ook sy nuwe status as toenemend gevreesde internasionale moondheid. Dit is waarom die Sjinese Eerste Minister Wen Jiabao gewaarsku het: “Die oplossing van die Taiwan-kwessie is `n suiwer interne aangeleentheid en ons hoop dat daar geen buitelandse inmenging sal wees nie”. En hy het stadig bygevoeg: “Maar buitelandse inmenging maak ons nie bang nie.”(6)

Spanning in die streek het reeds reperkussies tot gevolg tot sover as in Europa. Die aanvaarding van die “anti-afskeidingwet” teen Taiwan het reeds tot gevolg gehad dat die opheffing van die Europese verbod op die verkoop van wapens aan Beijing vertraag is. En hierdie opheffing is in die besonder deur Frankryk en Duitsland geëis.

Sjina, wat baie besorgd is oor die internasionale stabiliteit wat hom toelaat om sy onweerstaanbare magsgroei na te jaag en `n rustige organisering van die Olimpiese Spele van 2008 waarborg, weet tot hoe ver om nie te gaan nie. Maar in `n binnelandse konteks waarin maatskaplike verset al hoe intenser word, sou die owerhede die wêreld herinner dat die eenheid van die nasie voor alles kom, en dat die afskeiding van Taiwan, in die ware sin van die woord, `n casus belli is.
----------
1. Le Monde, 15 Maart 2005.
2. Reuters, 14 Maart 2005. www.taiwandc.org/reuters-2005-03.htm
3. El País, Madrid, 18 Maart 2005.
4. Vgl. Yong Xue, “Is the empire striking back?”, International Herald Tribune, 17 Maart 2005.
5. Lees Ibrahim Warde, Le Monde diplomatique, Maart 2005, “Dollar swak, Amerika Sterk”, Die Vrye Afrikaan, Maart 2005.
6. International Herald Tribune, 15 Maart 2005.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=186
Artikel nagegaan:
    -