blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


`n Groeiende gaping tussen die swart elite en die swart massa? “Óf die massas word mislei, óf die gaping is `n versinsel van ons verbeelding” 2005-05-05
Sipho Seepe


Deur Sipho Seepe, Rektor, Henley Management College, Johannesburg
Vrydag 6 Mei 2005

    Baie is al gesê en geskryf oor die rol van die swart elite, waarvan baie geensins vleiend was nie. Heelwat word byvoorbeeld gemaak van die vlug van gegoede swartes uit die townships na wit voorstede. Vir sommige weerspieël hierdie verskynsel die effekte van sielkundige skade wat eeue oue kolonisasie swartmense toegedien het. Die draaiboek lees soos volg: Onderdrukking lei tot selfhaat en vervreemding onder die onderdruktes. Die onderdruktes begin hulself identifiseer met die onderdrukker en kan nie wag vir die een of ander vorm van akkommodasie in die geledere van die onderdrukker nie.

    In sy bydrae tot die onderwerp skryf Newsweek International se korrespondent, Tom Masland:
    “They are the black princes and princesses of the new South Africa. They wear Armani to the office, drive late-model Mercedes or BMW sedans and buy vacation villas in Tuscany. The children of Johannesburg’s new business elite attend once-segregated private schools in neighborhoods that look like Beverly Hills… And the nation’s world famous country clubs, where whites once learned enough Zulu to tell a caddy, ‘Move your shadow’ still thrive. The new black elite loves golf.” (Newsweek International, 24 Januarie 2005).

    Die opvatting van die groeiende gaping tussen die swart elite en die massa swartmense val in hierdie kategorie. Hoeseer weerspieël die bogenoemde beskrywing die meerderheidservaring van die swart elite? Hoe groot is hierdie elite om soveel aandag te verdien? Hoe reëel is hierdie gaping en hoeveel daarvan is versinsel - die resultaat van `n rustelose en vrugbare verbeelding? Hoe manifesteer hierdie gaping? Neem dit `n geografiese, ekonomiese, sosiokulturele of politieke vorm aan, of is dit `n kombinasie van al die voorgenoemde?

    Is dit homogeen of gedifferensieer? Is kategorieë soos professionele swart elite, politieke elite en ekonomiese elite nuttig? Rus daar `n historiese verpligting op hulle almal wat voortspruit uit hul ervaring en hul swartheid? In watter mate het die vorm, aard en belange daarvan verander danksy die dramatiese politieke ontwikkelings van die afgelope tien jaar?

    Waarom is hierdie groeiende gaping `n bron van kommer? Waarom word hierdie kommer beperk tot die swart elite? Bestaan daar verwagtings dat die swart elite op grond van sy kleur anders as ander elites sal optree? Hoeseer is hierdie fiksasie `n gevolg van die oorblyfsel en invloed van apartheidsverbeelde voorskrifte? `n Waardebepaling van die uitdagings van die swart elite versus die massa vereis helder ontleding en onbevange beskrywing.

    Die aard en rol van die swart elite sal eweseer as enige ander maatskaplike kategorie of groepering voortdurend deur hul klasbelange as deur wit belange gevorm word. `n Suiwer klas- of rasontleding is ontoereikend. Die samevloei of saamval van belange het nie tot interrasomgang (inter-racial mixing) tussen die hoër klasse in die rasseverdeling gelei nie. Die swart elite word beskou as `n bedreiging vir die belange van die hoër wit klas. Ons het ook nie enige maatskaplike toenadering tussen die arm swarte en sy wit eweknie gesien nie. Om die waarheid te sê, het van die kruuste en mees rassistiese uitbarstings van arm blankes gekom. Arm blankes kan nie langer staatmaak op die beskerming wat die apartheidstaat voorsien het nie. Die swart armes, daarenteen, wat om dieselfde beperkte en krimpende bronne meeding, buit die geskiedenis van onderdrukking uit en eis toeëiening op grond van hul velkleur op. Die swart armes omhels die politieke retoriek van regstelling en bly aan die slaap gesus waar hulle vergeefs op verlossing wag.

    Histories was die mantel ‘swart elite’ geassosieer met die professionele elites. Hierdie groep het bestaan uit manne en vroue van die lettere. Hulle is onderskei deur hul sukses in weerwil van die hindernisse wat rasseonderdrukking in hul pad geplaas het. Hulle was hoofsaaklik die professionele elites: dokters, prokureurs, onderwysers, verpleegsters, maatskaplike werkers, rekenmeesters, ens. Die ander kategorie het bestaan uit die ondernemers en klein- tot mediumsakelui. Dit was `n volhoubare groep wat aan niks buiten hul eie kundigheid en vindingrykheid dank verskuldig was nie. Professionele elites was navolgenswaardige modelle, met die massa wat vir verlossing na hulle opsien.

    Die teorie suggereer dat, gegewe sy klasligging en –belang, die swart professionele elite hom van die massa sou distansieer. Die swart elite moes egter rekening hou met `n regime wat nie eens die sagste hervormings sou oorweeg nie. Hulle het hulself in dieselfde geografiese en politieke ruimte as die massa bevind – en dit was nie uit vrye wil nie. Dit het die elite met geen ander keuse gelaat nie as om geledere te sluit met die swoegende massa en gemene saak te maak. Per slot van rekening het hulle dieselfde rasseonderdrukking en ekonomiese en politieke frustrasie gedeel.

    Net soos daar geen eenvormigheid van politieke en ideologiese oriëntasie onder die massa is nie, bestaan dit ook nie onder die professionele swart elite nie. Terselfdertyd is dit belangrik om daarop te wys dat die eenheid van die massa dikwels oorskat word. In tye van maatskaplike en burgerlike onrus word hierdie eenheid brutaal opgedwing, soms met noodlottige gevolge. Die reaksie van die professionele elite was gevarieerd. Sommige het `n ooreenkoms met die onderdrukker nagestreef, terwyl ander verkies het om hul lot by die massa in te werp. In weerwil van retoriek tot die teendeel word bevrydingsbewegings selde deur gewone werkers gelei. Edward Said vat hierdie waarneming bondig saam. Hy skryf: “There has been no major revolution in modern history without intellectuals; conversely there has been no major counter-revolutionary movement without intellectuals. Intellectuals have been the fathers and mothers of movements, and of course sons and daughters, even nephews and nieces (Edward Said, Representations of the Intellectual, 1994:10).

    In ekonomiese en materiële terme het die gaping tussen onderskeidelik die professionele elite en die massa altyd bestaan. As daar ooit `n verbindtenis tussen die massa en die elites bestaan het, was dit die uitvloeisel van `n deel van laasgenoemde wat gekies het om sy lot by die massa in te werp.

    Die politieke veranderinge het die opkoms van die politieke elite meegebring. Hierdie groep bestaan uit voormalige aktiviste (en hul familieverwante) wat vir hul politieke aktivisme tydens die stryd teen apartheid beloon is. Die kategorie sluit lede van die nasionale en provinsiale wetgewers in. Vermenigvuldig hierdie getal met 20 of 30 om die meelopers te gee, en jy kom by `n syfer ver onder 100 000 uit. In terme van die bevolking is dit `n niksseggende getal. Hierdie kategorie is ook nie volhoubaar nie. Sy oorlewing is `n funksie van sy gewilligheid om guns te soek en te kruip by die magshebbers. Anders gestel, die politieke elite het ’n kort lewensduur en is baie onstabiel in vergelyking met die professionele elite. Weens sy gebrek aan kundigheid en soms minimale blootstelling aan formele onderrig vind dit sigself in `n prekêre posisie. Dit is geen wonder nie dat lede van die nuwe politieke elite so geïnteresseerd is in die vulgêre vergaring van materiële rykdom wat hulle so graag vertoon.

    Die ondersoek van die groeiende gaping moet sig dus beperk tot die ondersoek van die optrede van die politieke elites met betrekking tot die massa. Dit is hierdie selfde groep wat optree as voorhoede van die struggle en voortdurend in voeling met die massa was. In hierdie opsig word die verduideliking van die vlug uit die townships nie uitgeput deur appèl te maak op die begrip van selfhaat of sielkundige skade nie. Vir baie swartes is swart townships onherbergsaam en afgryslik. Hulle is, by gebrek aan `n beter beskrywing, menslike stortingsterreine waar swartes gehou is met die uitsluitlike doel om arbeid vir wit kapitaal te verskaf. Die meerderheid van hierdie townships is vuilputte van misdaad, swart-op-swart geweld, armoedeverwante siektes en gesondheidsgevare voortspruitend uit `n gebrek aan behoorlike sanitasie. Is dit in die lig hiervan nie redelik dat diegene wat dit kan bekostig om aan sulke menslike degradering te ontsnap dit by die geringste geleentheid sal doen nie? Daar is niks heldhaftigs in die viering van rampsalige armoede nie.

    Bogenoemde neem niks weg van die feit dat daar wel sommige is wat die geleenthede danksy die ondergang van apartheid uitgebuit het nie. Hulle het vrugbare vennootskappe en transaksies met die groot nyweraars gesmee. Diegene bly ellendig min. In hierdie verband verklaar Masland:
    “The new black tycoons include Cyril Ramaphosa, a top ANC leader once considered a potential president; Tokyo Sexwale, a formal provincial premier; and mining entrepreneur Patrice Motsepe. Deals involving those three accounted for nearly 80 percent of the value of the top 10 empowerment buy-ins recorded during 2003.” Die syfers is kommerwekkend in soverre misleidend. Die meerderheid sou steeds arm bly, selfs al was die aandele deurgaans gelykop verdeel. Armoede en ongelykheid is sistemies en struktureel en sal baie meer as `n broksgewyse benadering vereis.

    `n Breër prentjie onthul egter `n ontmoedigende verwikkeling waar die meerderheid in nypende armoede verstrik bly. Met verwysing na dikwels aangehaalde statistieke vervolg Tom Masland: “Between 1995 and 2000, for example, that the average black household income shrunk by 19 percent, while that of whites – and of the new black middle class – rose by 15 percent. The country’s Gini coefficient – a measure of inequality – also worsened.” Dit is ondanks die ANC-regering se verbintenis tot die vermindering van armoede en ongelykheid.

    Van besondere relevansie vir Masland se waarneming is die feit dat “ten years on, little capital has changed hands. Individual blacks still own only 1,6 percent of shares traded on the Johannesburg Stock Exchange”. Die African National Congress en sy ondersteuners is gevoelig vir hierdie werklikheid. Het hierdie werklikheid die massa laat wegdraai van die politieke elitegroepe soos deur die regerende party verteenwoordig? As die uitslag van die laaste algemene verkiesing enigsins betekenis het, is die antwoord `n klinkende nee!

    Die 2004-verkiesing het die bevindinge van die 2003 Suid-Afrikaanse Maatskaplike Houdingsopname bevestig. Die studie het Suid-Afrikaners se houdings teenoor armoede en ongelykheid verken. Terwyl `n beduidende meerderheid sterk gevoel het oor die noodsaak van die aanpak van hierdie maatskaplike euwels, het hulle verskil met betrekking tot die oplossings. 80% van gepeilde swartes het saamgestem dat “daar voorkeur aan die indiensname en bevordering van swart Suid-Afrikaners moet wees”, teenoor 15% van wit respondente. 72% van gepeilde swartes het saamgestem dat “die regering voorkeurkontrakte en belastingkorting aan swart besigheid moet gee”, teenoor 13% van wit respondente. Nogmaals het 81% swartes saamgestem dat “die regering grond onder swart Suid-Afrikaners moet versprei”, teenoor 17% wit respondente.

    Die oorhoofse bevindings van hierdie opname toon aan dat Suid-Afrikaners hoë vlakke van polariserings volgens ras- en klaslyne vertoon as dit kom by herverspreidingsmaatreëls om armoede en ongelykheid aan te vat. Is dit enigsins verrassend dat ras oorheersend in die land se politieke vertoog is? Die belangrikste van alles is dat die houdings van die massa volgehoue geloof in die politieke elite weerspieël.

    In `n sin benodig die stelsel van uitbuiting sulke individue vir sy eie oorlewing soos dit op druk reageer. Terselfdertyd benodig die regerende ANC en die massa die elite, want deur hulle blote teenwoordigheid skep hulle `n sin van hoop en vooruitsig.

    Daar kan egter geen misverstand wees oor die sentraliteit van ras in die maatskaplike en ekonomiese lewe nie. Na tien jaar van demokrasie differensieer en verdeel rasse. Hoe moet ons dit versoen met die nierassige oogmerk van die bevrydingsbewegings? Oor dieselfde onderwerpe skryf prof. Adam Habib, uitvoerende direkteur by die RGN:
    “First, racial and ethnic identities are more politicized now because it suits the interests of political and economic elites. Race has been politicized and kept firmly on the national agenda to enable elites to project their class interest as the national interest… Similarly, our political elites (those in government and our public service) use race to compete effectively in the political arena. When senior civil servants are subjected to criticism about delivery and even corruption, race becomes a useful tool to defend themselves.”

    Hoe moet dit gelees word? Beteken dit ons is geflous, of kan daar `n ander verduideliking wees? Ironies genoeg kan die antwoord in Habib se eie ontleding gevind word; hy vervolg:
    “The second element contributing to the politicization of race is our macroeconomic policy. The fundamental compromise of our transition was not in the political sphere, but in the economic…the political elites in our society struck a deal to abide not only by a market economy, but also by neoclassical economic policy prescriptions. The quid pro quo was the acceptance of black economic empowerment. In a lot of ways this was a deal to deracialize the apex of the class structure, while leaving the other levels largely untransformed” (my klem). Solank as wat daar ongetransformeerde vlakke is sal die retoriek van die struggle steeds `n appèl op die massa hê.

    Dit is verstaanbaar dat die politieke lesing tussen al hierdie groepe sal verskil. Vir sommige beteken die koms van die nuwe politieke bedeling die einde van die struggle. En gevolglik het hul rol en verhouding met betrekking tot die massa tot `n einde gekom. Vir ander duur die struggle voort. Interessant en in weerwil van die populêre mening het die einde van apartheid vir die meerderheid van die swart elite `n nuwe stryd gebring – die ekonomiese stryd.

    Hierdie groep moet die plekke deurkruis wat voorheen vir die wit elite bewaar is. Omdat hulle in die hitte van die nuwe struggle staan en alledaagse rassevooroordeel op elke vlak van die ekonomie die hoof bied, bly hulle `n sterk krag vir transformasie. Dit is geen verrassing dat hulle die mees gegriefde en uitgesproke is nie. Dit is op hierdie groep wat die ANC-regering steun in die ontwikkeling en druk vir wat nou bekend staan as omvattende swart ekonomiese bemagtiging.

    Die nuwe struggle vereis nuwe metodes en werktuie – om te veg vir die ontrassing van die ekonomie, van raadsale, en om beheer van die bevelsentra van die ekonomie oor te neem, sal nie massa-aksie betrek nie. Dit is verstaanbaar dat die massa wat nie oor die nuwe werktuie van betrokkenheid beskik nie, die nuwe vorm van betrokkenheid stremmend mag vind. Dit sal onvermydelik persepsies van agtergelatenheid voed. Ongeag hierdie verskuiwings in die vorm van betrokkenheid geniet die regerende party, waaruit die meeste lede van die politieke elite afkomstig is, steeds meerderheidsteun van die einste massa wat hulle kwansuis verraai het. Óf die massa word deurgaans geflous,  óf die persepsie van verraad à la `n groeiende gaping is `n versinsel van ons verbeelding.

    Die opvatting dat daar `n groeiende gaping is, spruit uit die vorm van betrokkenheid. Gedurende die onderdrukkingsjare was betrokkenheid deurlopend en het dit massamobilisasie betrek. Die aanstaande politieke elites was ten nouste verbonde aan die massa. Onderdrukking het almal gemobiliseer. Demokrasie demobiliseer per definisie omdat dit verskillende vorme van betrokkenheid vereis – verkiesings wat periodiek, formulisties en beperk is. Mense word vir `n voorgeskrewe tydperk geaktiveer en dan loop dit ten einde (regeringsgereguleerd); maar as mense onderdruk word, is dit nie formulisties of regeringsgereguleerd nie. Tewens, in hierdie nuwe struggle het die ANC die swart intelligentsia geïdentifiseer as die leidinggewende krag vir transformasie in die struggle vir ekonomiese bevryding. Die 1997 Strategie en Taktiek van die ANC verklaar: “The rising black bourgeoisie and middle strata are objectively important motive forces of transformation whose interests coincide with at least the immediate interests of the majority. They are, in this sense and in this place, part of the motive forces of fundamental change.”

    Terselfdertyd vra die dokument na waaksaamheid. “The occupation of positions of power by individuals from the black majority, and the material possibilities this offers, does create some ‘social distance’ between these individuals and the constituencies they represent. It should not be ruled out that this could render elements in the revolutionary movement progressively lethargic to the conditions of the poor. This is not a distant and theoretical possibility; but a danger always lurking as we pursue fundamental change from the vantage point of political office. Preventing it is not a small appendage to the tasks of the National Democratic Revolution. It is central to the all-round vigilance that we should continue to exercise.” Of sodanige maatskaplike afstand wel bereik is, kan slegs getoets word deur die politieke posisie wat die massas met betrekking tot die swart intelligensia inneem.

    Vir die teenswoordige is dit veilig om te sê dat, as die gaping bestaan, dit nog nie groot genoeg geword het om tot `n rewolusie of vervreemding tussen die swart elite en die swart massa te lei nie. Die retoriek van die Nasionale Demokratiese Rewolusie rig steeds ’n appèl op die mense en sal dit nog ’n geruime tyd bly doen.

Vrydag 6 Mei 2005


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=195
Artikel nagegaan:
    -