| ||||
Johann Rossouw Deur Johann Rossouw, Redakteur: Die Vrye Afrikaan, Navorsings- en kommunikasiebeampte van die FAK Miskien die heel belangrikste aspek van Suid-Afrika tien jaar sedert die koms van grondwetlike demokrasie, is die herbevestiging van ons band met Afrika. Hierdie proses het reeds tydens die bewind van oud-president Mandela begin, maar dit het met mening versnel in die Mbeki-era. Dit is alombekend dat president Mbeki enorme energie bestee aan die herstel van Afrika en haar plek in die wêreld. Hiervan getuig sake soos Suid-Afrika se rol in die Beweging van Onverbonde Lande (BOL); die stigting van die Afrika-Unie; en die Nuwe Vennootskap vir Afrika-ontwikkeling (NEPAD). Na 'n eeu waarin eers kolonisasie en later dekolonisasie enorme eise aan die gemeenskappe van Afrika gestel het, is die tyd ryper as ooit om die herstelproses van Afrika met oorgawe te begin. Maar as ons wil hê dat Afrika herstel en haar plek op die wêreldverhoog inneem, is dit nodig om sowel deeglik te verstaan wat presies die sentrale uitdaging is waarvoor Afrika vandag te staan gekom het, as om in die lig van hierdie uitdaging deeglike insig in Afrika se geskiedenis tydens en na die koloniale era te verkry. Wat is die sentrale uitdaging waarvoor Afrika vandag te staan gekom het? Die antwoord is eenvoudig, maar die implikasies verreikend: Afrika moet die opkomende globale tegniese bestel op so 'n manier toeëien dat sy nie haar gemeenskappe vernietig nie, maar selfstandig maak. Die belangrikste voorwaarde vir die verwesenliking van hierdie ideaal is, soos ons aan die hand van die geskiedenis van die Afrikaners sal sien, om Afrika se 15 groot tale, tale van die gedrukte woord te maak (oftewel deel te maak van wat Régis Debray die grafosfeer noem). Wat leer die geskiedenis van Afrikaners ons van die ideaal van tegniese vooruitgang en gemeenskapsontwikkeling? Sonder om op te veel besonderhede in te gaan, kan ons breedweg sê dat Afrikaners vanaf ongeveer 1652 tot 1875 in die era van die gesproke woord (logosfeer) geleef het; vanaf 1875 (stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners, GRA) tot 1975 in die era van die gedrukte woord (grafosfeer); en vanaf 1975 (koms van TV na Suid-Afrika) in die era van die elektroniese beeld (videosfeer). In die logosfeer was Afrikaners in belangrike opsigte soos enige ander inheemse Afrika-gemeenskap: tyd is as 'n sirkel beleef (omdat kultuuroordrag mondeling van geslag tot geslag plaasvind, en 'n mens wil maak soos jou ma en pa); bestaansboerdery op 'n lappie grond (behalwe dat grondbesit nie so kommunaal soos normaalweg in Afrika was nie, weens die blootstelling wat Afrikaners se voorsate reeds aan Europese individualisme na die koms van die boek in 1450 gehad het); 'n sterk sin van lojaliteit aan jou medemens en individuele waardigheid omdat jy tot 'n bepaalde gemeenskap behoort (wat vandag ubuntu genoem word, en in Afrikaans, eens, “helpmekaar”); slegs 'n klein gaping tussen leiers en volgelinge (net soos 'n tradisionele Afrika-leier met sy stam); en, les bes, 'n betreklike ewewigtigheid tussen mans en vroue (omdat mans veral met kosproduksie en sekuriteit gemoeid was, en vrouens veral met kultuuroordrag). Sonder dat 'n mens kan sê dat alle Afrikaners heilig of onderduims was, is dit dus nie vreemd nie dat die verhouding tussen Afrikaner en Afrikaan gedurende die agtiende en negentiende eeu baie beter was, as wat dit laat in die twintigste eeu was. In sy The Afrikaners: Biography of a People verwys Hermann Giliomee na talle voorbeelde van goeie buurmanskap en samewerking tussen Afrikaner en Afrikaan in die agtiende en negentiende eeu, hoewel daar natuurlik ook voorbeelde van botsing en konflik bestaan. Wat egter belangrik is, is dat ons nie in terme van die erge spanning tussen Afrikaner en Afrikaan in die 20ste eeu na die 18e en 19e eeu moet kyk nie, omdat ons dan die gevaar loop om moralisties en polities naïef na die geskiedenis te kyk – soos dit inderdaad dan ook gebeur met enkele Afrikaner-intellektuele wat weens hul weerstand teen apartheid in sy laat fase 'n heeltemal oordrewe beeld van progressiwiteit na 1994 geniet. Die stigters van die GRA het dit hulle ten doel gestel om van Afrikaans 'n taal van die gedrukte woord te maak, en onder meer die koerant, Di Patriot, gestig, asook 'n nasionalistiese, romantiese geskiedenis van Afrikaners gepubliseer. Dit hoef ons geensins te verbaas nie: die oomblik wat 'n taal die grafosfeer betree, kan sy gebruikers oneindig meer kennis opgaar en onderling versprei (met boeke, koerante, ens.). Omdat so 'n gemeenskap dan baie verder in die verlede kan terugkyk as net wat die vorige geslag mondeling aan hom oorgedra het, word tyd nie langer as 'n sirkel nie, maar as 'n reguit lyn beleef. So het Afrikaners 'n afstand met hul steeds mondelinge mede-Afrikane begin beleef. Bestaansboerdery is algaande verruil vir kommersiële boerdery; die platteland is verruil vir die stad; die gaping tussen leiers en volgelinge het groter geword, veral vanaf die 1960’s (toe die koloniale staat wat Afrikaners geërf het die Nasionale Party van 'n gemeenskapsdienaar in 'n staatsinstrument verander het, en die NP van sy gemeenskap afgesny is); en mans het vroue op die agtergrond begin skuif (omdat mans nou via skole, kerke en universiteite nie net kulturele oordrag beheer het nie, maar ook steeds, via die staat na 1948, beheer gehad het oor sekuriteit en kosproduksie). Dit is veral vanaf na die Anglo-Boereoorlog (ABO) wat die verhouding tussen Afrikaner en Afrikaan algaande begin verswak het. Baie is al geskryf oor hoe die ABO as onverwerkte trauma die Afrikaners met 'n soort morele blindheid en politieke verbetenheid geslaan het, en daarop kan ons nie nou ingaan nie. Van groter belang is egter dat Afrikaners se omarming van die gedrukte woord nie net gelei het tot 'n standaardisasie van hul identiteit nie (“’n Afrikaner is wit, Christelik en Afrikaans”), maar terselfdertyd 'n groter rassebewussyn onder Afrikaners gevestig het (net soos dit dwarsdeur die Westerse wêreld na die koms van die boek in 1450 gebeur het). Presies dieselfde rassisme wat die Britte na 1806, komende uit die grafosfeer, teenoor mondelinge Afrikaner en Afrikaan openbaar het, het Afrikaners nou self teenoor steeds mondelinge Afrikane begin openbaar. In dieselfde jare het nog 'n geweldig belangrike ontwikkeling plaasgevind: Afrikaners het via die mynbedryf vanaf die 1870’s en industrialisering in die 1940’s die soet vrugte van tegniese vooruitgang en ekonomiese opheffing geproe. Die bitterste ironie het egter saam met hierdie soet vrugte gekom: vanweë die wyse waarop tegniek in die Brits-koloniale era gebruik is om slegs blankes te begunstig en swartes te verarbeider, het daar mettertyd 'n pynlike tegniese gaping tussen Afrikaner en Afrikaan ontstaan. Die uiteinde van die saak was dat sowel die betreding van die grafosfeer as tegniese vooruitgang veroorsaak het dat Afrikaners se identiteit nie net uitsluitend geword het nie, maar ook 'n komponent van meerderwaardigheid gekry het. Die tegniese mag wat Afrikaners gesmaak het, is mettertyd deur hulle vertaal as die basis van 'n mite van kulturele en selfs rassemeerderwaardigheid. (Dit is tipies van mense wat met 'n nuwe tegniese bestel te doen kry dat hulle dit eers as buite hulself beskou, en algaande begin toeëien as deel van hul natuurlike identiteit.) Dít was die basis waarop apartheid en Afrikaners se paternalistiese houding teenoor swartes (“Ons taak is om hulle op te hef na ons vlak”) beslag gekry het. Wat het met Afrikaners se kulturele en politieke lewe gebeur nadat hulle die grafosfeer betree het? Terwyl die Britte veral na die ABO 'n absolute magsvoordeel bo Afrikaner en Afrikaan geniet het (vanweë die Britte se beheersing van die grafosfeer en die koloniale tegniese en staatsbestel), het Afrikaners en Afrikane na die ABO hulle gewend tot die enigste alternatiewe magsbasis, naamlik die gemeenskap. In die geval van die Afrikaners is die NP en die Akademie vir Wetenskap en Kuns rondom 1910 gestig; die Afrikaner Broederbond (AB) in 1918; en die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) in 1929. In die geval van Afrikane is die African National Congress in 1912 gestig, gevolg deur etlike ander soortgelyke liggame daarna. As gevolg van die feit dat Afrikaners in hul moedertaal egter tussen 1910 en 1940 via massaskoling die grafosfeer betree het, kon die NP-leiers via koerante soos Die Burger, asook ander publikasies hul boodskap betreklik gou by hul gemeenskap kry en dié mobiliseer vir die stembusoorwinning van 1948. In die geval van Afrikane moes Sol Plaatjie, die briljante Tswana-joernalis en –romansier, en sy strydgenote egter 'n opdraande stryd voer om hulle boodskap by hul mense te kry, veral weens die ongeletterdheid van die massa Afrikane. In 1948 het Afrika se eerste vryheidsvegters van die koloniale era, die Afrikaners, in feite Afrika se geskiedenis van dekolonisasie ingelui deur beheer te kry oor die koloniale staat wat deur die Nederlanders gestig en deur die Britte uitgebrei is. Dit was 'n staat wat nooit ontwerp is om sy gemeenskap te dien nie – soos die staat, byvoorbeeld, tot 'n redelike mate in Europa gedoen het na die Tweede Wêreldoorlog tot die vroeë 1980’s, as sogenaamde welsynstaat – maar om 'n klein uitheemse elite te begunstig, en 'n inheemse massa onderdanig, stom en produktief te hou. Omdat Afrikaners doodeenvoudig die aard van die koloniale staatsbestel onderskat het, het hulle teen die vroeë 1960’s ook Afrika se eerste self-koloniseerders geword. Nie net het die Afrikanerleierskap vanaf laat in Verwoerd se bewind vervreemd geraak van hul denkers en kunstenaars nie, maar hulle het ook hul eie gemeenskap toenemend soos stemvee behandel, terwyl hulle bruin en swart mede-Afrikane se koloniale posisie min verander het. Hoewel die materiële voordele van tegniese vooruitgang veral vanaf die laat 1950’s ook na Afrikane oorgespoel het – beter openbare gesondheidsorg, behuising en onderwys as in die Britse era – is Afrikane se simboliese wêrelde, insluitend tradisies en waardestelsels, verder afgetakel. Kommentators wat verwys na die feit dat Afrikane in Suid-Afrika materieel beter daaraan toe was in koloniale en post-koloniale Afrika, misken die aard van kolonialisme in Suid-Afrika, wat baie erger verwoesting in die simboliese wêrelde en tradisies van Afrikane as elders in koloniale Afrika gesaai het. (Die rede hiervoor is eenvoudig: omdat Suid-Afrika se koloniale geskiedenis 200 jaar voor die res van Afrika begin, in 'n tyd wat Europese tegniek nog nie so magtig soos na die Nywerheidsomwenteling was nie (waarna die res van Afrika gekoloniseer is), was die materiële impak op Afrikane nie so groot as die simboliese impak nie, veral met die koms van die grafosfeer en later die videosfeer, wat Afrikane en hul simboliese wêrelde grootliks en skouspelagtig misken het. By daardie groep waar die materiële verlies amper groter as die simboliese verlies was, naamlik die Xhosa’s, manifesteer die wrewel oor kolonialisme miskien vandag die sterkste, veral in die figuur van president Mbeki. Naïewe opmerkings oor hoe Afrikane materieel beter daaraan toe is as in die res van Afrika, onderskat die omvang van die onverwerkte koloniale ervaring in die huidige Suid-Afrikaanse politiek geheel en al.) Wat kultuur betref, het 'n fassinerende proses hom voltrek: die magtige en gerespekteerde gemeenskapsbeweging wat Afrikaners teen 1948 opgebou het deur organisasies soos die FAK en andere, is ná 1948 toenemend ondergeskik gestel aan die staat en van hul lewenskragtigheid gestroop. Waar Afrikaners se kultuurorganisasies voor 1948 hulle met allerlei gemeenskapsaksies en kultuurpolitieke standpuntstelling besig gehou het, is hulle nou toenemend gebruik om legitimiteit aan 'n ondemokratiese, koloniale staatselite te gee. Dit is uit hierdie era wat die siening dagteken dat kultuurorganisasies hulle nie oor “politiek” moet uitlaat nie (omdat dié die uitsluitlike terrein van die staat en die politieke partye was). Die koms van radio en swart verstedeliking het vanaf die laat 1940’s in die geval van Afrikane dit vir veral die Jeugliga van die ANC (Mandela, Sisulu, en ander), asook die SAKP (veral gedryf deur geletterde Engelse en Indiërintellektuele) moontlik gemaak om Afrikane op groot skaal te begin mobiliseer. Toe hulle teen die einde van die 1950’s na tien jaar se standpuntstelling en massamobilisasie nie 'n verskil aan die staatsorde kon maak nie, is oorgegaan tot die gewapende stryd, later die struggle. In dieselfde era het die res van Afrika se dekolonisasie begin, en het die een na die ander vryheidsvegterselite via die tale van hul vorige koloniale meesters beheer oor die staat oorgeneem. Anders as die Afrikaners het hulle ook nie aandag gegee aan moedertaalonderrig vir hul gemeenskappe nie, wat nie net verseker het dat hulle absolute beheer oor die staat behou het nie (grondwetlike demokrasie, kritiese burgerskap en geletterdheid is onlosmaaklik verbind), maar ook dat hulle die winste van die privaatsektor en die kleinboerklas kon inpalm (soos Moeletsi Mbeki elders in hierdie uitgawe bewys), en hulle gemeenskappe nie die koloniale tegniese bestel vir hulself kon toeëien nie. Toeëiening van 'n tegniese bestel geskied altyd die beste in jou moedertaal, en des te meer in die geval van 'n ingevoerde tegniese bestel, soos Afrikaners in die 20ste eeu bewys het. Tussen 1948 en 1994 is Afrikaners verstaatlik en 'n beduidende elite geskep wat gekorporatiseer is. Die politieke partye het verlengings van die staat geword, en die politieke lewe self is onder Afrikaners vernietig – soveel so dat Afrikaners vandag nog ly aan 'n absolute weersin in die partypolitiek. Dit is onlangs weer gedemonstreer met die openbare uitbarsting na die NNP se ontbinding. Oud-minister Pik Botha se opmerking dat die NNP se doodsklok gelui het toe hy in 1996 die Regering van Nasionale Eenheid verlaat het en sodoende sy invloed in die regering en sy aansien onder kiesers verloor het, bevestig maar net weer dat politieke partye in post-koloniale Afrika eintlik net noemenswaardig is vir soverre hulle die koloniale staatsbestel in stand hou by wyse van gereelde verkiesings wat die illusie van demokrasie skep. Die prosesse van verstaatliking, korporatisering en die inploffing van die gemeenskap en sy strukture is inderdaad na 1994 ook onder Afrikane vaardig. Net soos die Afrikaners in 1948, verkeer die elite van Afrikane wat tans die land regeer kennelik diep onder die indruk van wat hulle alles met die staat sou kon vermag vir die verwesenliking van hulle doelwitte. Die feit dat hulle ook, anders as elders in post-koloniale Afrika, moet rekening hou met 'n korporatiewe sektor in plaaslike hande (nogmaals aangestip deur Moeletsi Mbeki), veroorsaak dat hulle nog met meer verbetenheid en gevolglike sentralistiese instinkte met die staat omgaan. Die heersende vorm van swart bemagtiging het in feite min te doen met die selfstandigmaking van Afrikane se gemeenskappe, maar wel baie met die korporatisering van 'n elitegroep Afrikane. Ons hoef dus ook nie verbaas te wees oor die skreiende toename in armoede onder Afrikane die afgelope tien jaar nie (afgesien van die baie wesenlike invloed van globalisering, wat ongelukkig nie getemper word deur die staat se tot baie onlangse neo-liberale ekonomiese beleid nie). Onder Afrikane is gemeenskapsorganisasies uit die vorige bedeling ook toenemend binne die dampkring van die staat. Die feit dat hierdie proses veel vinniger as onder Afrikaners na 1948 voltrek word, het baie te doen daarmee dat Suid-Afrika nou in die videosfeer is, waar prosesse van kommunikasie, besluitneming, inligtingsverwerking en so meer alles baie vinniger as vyftig jaar gelede verloop. Tewens, 'n mens sou kon aanvoer dat die rampspoedige gevolge van die vorige beleid wat oor meer as dertig jaar algaande duidelik geword het, danksy die videosfeer in die huidige bedeling baie vinniger duidelik word. Die implikasie hiervan is tegelykertyd angswekkend én bemoedigend. Dit is angswekkend in die sin dat dit beklemtoon dat Suid-Afrika inderdaad baie vinnig op 'n hernude fase van onstabiliteit afstuur. Ons hoef ons ook nie te laat flous deur die goeie groei wat daar vanjaar in die eerste ekonomie plaasvind nie – dit help min om die verdieping van die tweede ekonomie, wat ontstaan weens die vergrype van die eerste ekonomie, te stuit, en daar is ook nie juis tekens dat daar planne gemaak word om welvaart beter te versprei of om gemeenskappe werklik selfstandig te maak nie, in plaas van afhanklik van 'n almagtige koloniale staatstruktuur. Dit is bemoedigend in die sin dat dit aan ons meer insig en dringendheid gee as wat Afrikaners, byvoorbeeld, na 1948 gehad het. Suid-Afrika het in ieder geval nie nog vyftig jaar van gemeenskapsontkenning tot haar beskikking nie, en dus is die tyd hier om 'n paar feite onder oë te sien as ons werklik ons plek in Afrika en die res van die wêreld wil inneem: 1) 'n Dringende nasionale debat oor die vorm en werkswyses van die koloniale staatsbestel is nodig. In 'n land waar ongeletterdheid tot so hoog as 60% is, is vyfjaarlikse verkiesings en 'n grondwet goed, maar allermins voldoende om ons demokrasie te waarborg. Ons moet veral soek na maniere om gesag af te wentel na plaaslike vlak, asook om aan plaaslike gemeenskappe inspraak oor hul eie bestemming te gee. 2) 'n Drastiese ekonomiese koersaanpassing is nodig, waar die klem nie meer op “groei” sal val nie, maar op selfstandigheid. Die teenoorgestelde van armoede is nie rykdom nie, maar selfstandigheid, soos Carel (iv) Boshoff dikwels opmerk. Instellings soos die South African New Economic Network (SANE) werk al lank aan alternatiewe ekonomiese modelle wat geskik is vir gemeenskappe, eerder as vir die verryking van individue, en hierna moet nou ernstig gekyk word. 3) Wat eintlik bo aan hierdie lys behoort te staan, is moedertaalonderrig tot op graad 12-vlak vir al ons kinders. Soos sake nou staan, is die feit dat slegs Engelse en Afrikaanse kinders (nes in die apartheidsbedeling) gehalteonderwys kry (en die koloniale patroon dus voortgesit word), terwyl die oorgrote meerderheid van ons kinders derderangse onderwys kry. Sonder moedertaalonderrig sal Suid-Afrika en Afrika nooit 'n aanspreeklike politieke klas of ekonomiese selfstandigheid vir almal hê nie. 4) 'n Nuwe, veeltalige gemeenskapsbeweging van Afrikaner en Afrikaan wat nie daarna streef om mettertyd 'n politieke party te word of die staat oor te neem nie, en wat die politieke, kulturele en ekonomiese aspirasies van Afrikaner en Afrikaan kan dra, is nodig. Uit die boek van die Afrikaanse kultuurorganisies voor 1948 of die UDF in die 1980’s kan ons veel leer, veral dat staatsmag nie die kroon op jou strewe span nie, maar wel volgehoue betrokkenheid. 5) Afrikaners, synde Afrika se enigste inheemse groep wat die ingevoerde koloniale tegniese en staatsbestel met gedeeltelike sukses (danksy hul moedertaalontwikkeling) toegeëien het, moet so gou as moontlik uit hul skuld- en magsverliesgeïnduseerde slaap ontwaak om hul plek in Afrika in te neem. As Afrikaners nie eens daarin kan slaag om as menswaardige gemeenskap met die tegniek om te gaan nie, gaan dit vir Afrikane, wat nou in alle erns daarmee gekonfronteer word, nog moeiliker wees om te slaag. Die alliansies wat daar plek-plek in die agtiende en negentiende eeu tussen Afrikaner en Afrikaan bestaan het, veral op gemeenskapsvlak, moet vandag op groot skaal herleef. Daar is baie om te doen, en die tyd het gekom: die nuwe struggle van Afrikaner en Afrikaan het aangebreek. |