blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


'n Selfrespekterende Afrika van demokratiese gemeenskappe 2004-09-03
Danie Goosen

Deur Danie Goosen, politieke filosoof, Departement Godsdienswetenskap, UNISA

'n Selfrespekterende Afrika van demokratiese gemeenskappe: só kan die uitdaging saamgevat word waarvoor Afrika vandag ná dekades van koloniale uitbuiting, die vergrype van plaaslike elites en die proses van globalisering te staan gekom het. Dit wil sê 'n Afrika van demokratiese gemeenskappe wat op hul eie bene staan en die wêreld vierkantig in die oë kan kyk.
'n Selfrespekterende Afrika van demokratiese gemeenskappe is ook een van die belangrikste makro-politieke uitdagings waarvoor president Thabo Mbeki binne die konteks van die Afrika-Unie te staan gekom het. Een van die maatstawwe waaraan die era van Mbeki waarskynlik gemeet sal word, is of hy inderdaad meegedoen het aan die skep van so 'n Afrika.
Niemand twyfel daaraan dat dít 'n enorme uitdaging is nie. Buiten die talle ekonomiese, maatskaplike en politieke hinderlae, word dit ook deur 'n historiese dubbelsinnigheid gekenmerk. Of so 'n Afrika inderdaad in die toekoms 'n werklikheid gaan word, sal onder meer daarvan afhang of die Mbeki-era 'n helder en duidelike antwoord op dié dubbelsinnigheid sal gee.
Dit hou verband met die spanning tussen, enersyds, die noodsaak vir 'n selfrespekterende Afrika van gemeenskappe en, andersyds, die feit dat die instrumente waaroor Afrika beskik om daaraan inhoud te gee (die staat, die ekonomie, ens.) sy gemeenskappe tegelyk weer aan nuwe vorme van afhanklikheid onderwerp.
Dié dubbelsinnigheid kenmerk ook die era van president Mbeki. Terwyl die noodsaak van selfstandige gemeenskappe teoreties erken word, word dié erkenning in die praktyk onderploeg deur neigings tot sentralisering.
Enersyds is Mbeki se uitsprake deurspek van verwysings na die noodsaak om die selfrespek van die vasteland en sy gemeenskappe te herstel. Mbeki se kritiese hantering van die koloniale erfenis draai bykans sonder uitsondering rondom dié punt: Deur sy selfrespek te herstel, sê Mbeki, kan Afrika sy afhanklikheidsindroom jeens die Weste en die koloniale erfenis deurbreek.
Wesenlik tot Mbeki se argument is die kwessie van nabootsing. In sy onlangse onthulling van die Albert Luthuli-standbeeld sê Mbeki byvoorbeeld dat Afrika sal moet leer om nie andere se voorbeeld na te boots nie, want nabootsing lei tot patrone van afhanklikheid. Daarmee het Mbeki waarskynlik een van die belangrikste frases in die geskiedenis van verset teen die koloniale erfenis gebruik: Selfrespek kan slegs gebeur wanneer die (prestigeryke) voorbeeld van die oorheersers deurbreek word, en Afrika sy eie staanplek vind.
Mbeki bevind hom daarmee in dieselfde geselskap as Afrikaners van die verlede. Afrikaners se destydse kultuurpolitieke verset teen die Britse ryk en die monolitiese rol van Engels was tipies van anti-koloniale bewegings se weerstand teen nabootsing. Vertolkers van die opkomende taalbewussyn onder Afrikaners het telkens klem gelê op die noodsaak om nie Engels as die enigste taal van prestige te ag nie, maar om Afrikaans as "eiewaardig" te ag. So skryf D.F. Malan in November 1902 uit Nederland: "Om Engels nie te ken nie geld by ons as onopgevoed, maar om ons eie taal nie te kan skryf nie is mode en (dus) nie so erg nie."
Mbeki se oproep tot verset teen die nabootsing van andere herhaal dié impulse uit die geskiedenis van die Afrikaner. Soos Afrikaners van die verlede poog Mbeki nou om die ‘mimetiese logika’ (of nabootsende logika) waarin die koloniale bewinde hul onderdane gedompel het, te deurbreek en Afrika so los te maak van sy afhanklikheid van die voorbeeld van veral die Weste.
Maar daarmee stuit 'n mens op die dubbelsinnigheid waarna vroeër verwys is: dikwels gaan die verset teen die onderdrukker juis gepaard met 'n intense nabootsing van eersgenoemde, met die gevolg dat die stryd om selfrespek van binne-uit verlam word. In plaas daarvan dat die apologie vir selfrespek tot praktyke van onafhanklikheid lei, gee dit eerder tot nuwe vorme van onderwerping aanleiding.
Die geskiedenis van Afrikaners is weer eens 'n voorbeeld. Afrikaners se republikeinse verset teen Britse oorheersing in die 20ste eeu is van stapel gestuur deur die nabootsing van een van dié instrumente van die Britse en moderne Westerse wêreld, naamlik die nasiestaat. Die republikeinse strewe is aan die hand van die nasiestaat deurgevoer. Maar daarmee is verseker dat die vryheidstrewe van Afrikaners ten diepste deur 'n dubbelsinnigheid gekenmerk is. In hul nabootsing van die nasiestaat het Afrikaners die instrument vir hulself toegeëien wat deur die Britte self gebruik is om gemeenskappe dwarsoor die wêreld (waaronder Afrikaners) aan hul wil te onderwerp.
Wat van Mbeki? Dit is natuurlik maklik om die president op die dubbelsinnighede in sy beroep op die vermyding van nabootsing te wys. Soos talle ander leiersfigure uit Afrika is ook die Mbeki-era diep in die mimetiese logika ingeskryf en word belangrike aspekte van die Westerse wêreld dikwels nageboots.
Trouens, daar is bykans nie voorbeelde van leiers uit Afrika wat in hul protes teen die ou koloniale bewinde nie tegelyk sterk op Westerse ideologieë (Marxisme, nasionalisme, ens.) geleen het om inhoud aan hul oproep tot selfstandigheid te gee nie. Daarmee is hulle willens en wetens geknoop aan dit waarteen hulle geprotesteer het. Mbeki is nie 'n uitsondering hierop nie.
Dit sou egter 'n fout wees om Mbeki se oproep tot nie-nabootsing te vinnig aan sy dubbelsinnigheid te herinner. Die feit van die saak is dat Mbeki 'n punt beet het. Afrika en sy gemeenskappe staan inderdaad voor die uitdaging om die spiraal van nabootsing te deurbreek en sy eie voete te vind.
Die kritiese vraag is egter waar en rondom watter sake Afrika selfstandigheid moet verwerf. Want totale onafhanklikheid is nie moontlik nie. Daarvoor is die wêreld ekonomies, sosiaal en kultureel te nou verweef. Daarby is die strewe na selfrespek juis afhanklik van die erkenning van andere. Dit is juis deur die erkenning van andere dat die eie tot 'n selfrespekterende gemeenskap uitgroei.
Die spilpunt waaromheen die kwessie van selfrespek in Afrika draai, is opgesluit in die verhouding tussen die nasiestate en die veelheid van gemeenskappe. Indien die gemeenskappe nie hulself ook as selfrespekterende gemeenskappe ten opsigte van die staat kan ervaar nie, sal die ou afhanklikheidsindroom voortgesit word.
Die nabootsing van die grondtrekke van die nasiestaat deur die elites van Afrika het bykans sonder uitsondering tot negatiewe gevolge vir die veelheid van Afrika se gemeenskappe gelei. In plaas daarvan dat dit, soos wat die bevryders belowe het, tot 'n bevryding van die gemeenskappe gelei het, het dit eerder tot sentralistiese beheer, eenvormigheid en 'n vervreemding van die gemeenskappe gelei.
Vandag weet ons dat die nasiestate vanaf hul vroegste oorspronge slegs op enkele uitsonderinge na min geduld met die veelheid van gemeenskappe in hul onderskeie ruimtes gehad het. Orals waar moderne nasiestate hulself gevestig het, is die veelheid van "tussen-gemeenskappe" tussen staat en individu uit die weg geruim en aan die sentrale gesag onderwerp.
Afrika is ook wat dit betref nie 'n uitsondering nie. Haar aanknoping by en nabootsing van die moderne nasiestaat het tot dieselfde sentralisering van gesag en in vele gevalle tot die miskenning van lokale gemeenskappe gelei. Kortom, Afrika se toeëiening van die nasiestaat het tot dieselfde negatiewe gevolge vir gemeenskappe as in die Weste gelei.
Waarskynlik verwoord niemand dit in Afrika soos die Keniaanse skrywer, Ngugi wa Thiong’o nie. Reeds tydens die vroeë tagtigerjare het Ngugi in sy beroemde Decolonising the Mind geskryf dat die nasiestate in Afrika die monolitiese taalbeleid van die Westerse state gebruik om eenvormigheid af te dwing. Daarmee sit die nasiestate in die naam van dekolonisering die era van kolonialisering voort.
Volgens Ngugi lei die nabootsing van onder meer die sentralistiese impuls agter die staat, iets wat hy met 'n "kulturele bom" vergelyk, tot die miskenning van die veelheid van taalgemeenskappe in Afrika. Dit is onder meer te sien in hul gebrek aan kollektiewe selfvertroue, die verwoesting van hul tradisies en ekonomiese agteruitgang. Daarom skryf hy ook:
"The effect of a cultural bomb is to annihilate a people’s belief in their names, in their languages, in their environment, in their heritage of struggle, in their unity, in their capacities and ultimately in themselves."
Dié woorde van Ngugi resoneer met die ervaring van Afrikaners vandag. Want in Suid-Afrika word die rol van 'n taal soos Afrikaans gerelativeer en met behulp van die instrumente van die nasiestaat uit die onderwys, die universiteitswese, die polisiediens, die regbank, die openbare uitsaaiwese, ens., gedwing. Daarmee word Afrikaans die slagoffer van wat Ngugi na verwys as die "kulturele bom," met al die ontwrigtende gevolge daaraan verbonde.
Die vraag waarop die Mbeki-era sal moet antwoord, is die vraag van Ngugi. Gaan die koloniale erfenis in die dekades wat kom deur staatlike sentralisering voortgesit word? Of gaan Afrika uit die spiraal van nabootsing breek en haar veelheid van gemeenskappe op betekenisvolle wyse erken?
Daarmee sê Ngugi nie dat die nasiestaat van alle betekenis gestroop is nie. Uiteraard het die staat ook en veral in die huidige Afrika 'n belangrike rol om te speel. Die kritiese vraag is egter watter verhouding tussen staat en gemeenskap vaardig moet wees.
Gaan die Afrika van die toekoms daarin slaag om 'n skeppende ewewig tussen staat en gemeenskap te handhaaf? Of is die nasiestaatlike klem op sentralistiese mag so geïnternaliseer dat 'n egte post-koloniale era bykans ondenkbaar geword het? Die Mbeki-leierskap sal hierop nog helder en duidelik moet antwoord.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=3
Artikel nagegaan:
    -