| ||||
Moeletsi Mbeki Deur Moeletsi Mbeki, politieke ekonoom en Adjunk-voorsitter van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede Waarom is die meeste Afrikane in Afrika suid van die Sahara arm en word hulle armer, terwyl die meeste mense in die res van die wêreld al hoe beter af word? Die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds, wat onderskeidelik Afrika suid van die Sahara se towerpeetma en –peetpa geword het, bring elke jaar statistiek voort wat dieselfde verhaal vertel: Afrikane is arm en het in vele gevalle so ver geval dat dit moeilik is om te dink dat hulle nog armer kan word. Saam met armoede en groeiende verarming kom konflikte oor skaars en krimpende hulpbronne – vandaar Afrika suid van die Sahara se skynbaar nimmereindigende siklus van gewelddadige konflikte. In sy seminale studie, Can Africa Claim the 21st Century?, het die Wêreldbank die volgende waarnemings gemaak: “Ten spyte van vooruitgang in die tweede helfte van die 1990’s, betree Afrika suid van die Sahara die 21ste eeu met talle van die wêreld se armste lande. Gemiddelde per capita-inkomste is laer as aan die einde van die 1960’s. Inkomste, bates en toegang tot noodsaaklike dienste is oneweredig versprei. En die streek bevat 'n groeiende gedeelte van die wêreld se absolute armes wat min mag het om die toedeling van hulpbronne te beïnvloed.” Hierdie waarnemings word deur ander navorsers bevestig. Die gesiene Amerikaanse Nasionale Buro van Ekonomiese Navorsing het die lewensomstandighede van Afrikane soos volg opgesom: “36% van die streek se bevolking leef in ekonomieë wat in 1995 nog nie die per capita-inkomstevlakke wat die eerste keer voor 1960 bereik is, herwin het nie. Nog 6% is onder vlakke wat die eerste keer in 1970 bereik is, 41% onder 1980-vlakke en 11% onder 1990-vlakke. Slegs 35 miljoen mense woon in nasies wat in 1995 hoër inkomstes gehad het as wat hulle ooit voorheen bereik het.” Alle moderne politieke denkskole, vanaf Karl Marx en Vladimir Lenin aan die linkerkant tot Friedrich Hayek en Milton Friedman aan die regterkant, stem oor minstens een saak saam: die private sektor is die motor van moderne ekonomiese ontwikkeling. In die strewe na groter sekuriteit en gemak, so loop die teorie, word private individue en hul huishoudings gedryf om meer en meer rykdom na te jaag. Op sy beurt dwing hierdie proses dié private individue om meer en meer te produseer, en om dit wat hulle produseer, te ruil met ander individue wat ook groter sekuriteit en en gemak najaag. Die somtotaal van hierdie handelinge van produksie, ruiling en verbruik vorm die moderne kapitalistiese ekonomie. Die kapitalistiese ekonomie is dus inherent gedryf om meer en meer te produseer sodat sy deelnemers groter en groter sekuriteit en gemak kan verwerf. Om meer en beter te produseer, moet private individue besparing genereer wat hulle dan terugploeg in die produksieproses in die vorm van nuwe, verbeterde tegnieke, prosesse en produkte. Dít is die onverbiddelike logika van kapitaalakkumulasie. Hoe meer jy produseer, hoe meer moet jy produseer, hoe goedkoper moet jy produseer, en hoe beter die produkte wat jy moet produseer, want as jy dit nie doen nie, sal ander wat groter sekuriteit en gemak najaag jou in die markplek vervang en sal jy gevolglik verminderde sekuriteit en gemak hê. Soos ander mense wil Afrikane verskil natuurlik sekuriteit en gemak hê. Wat egter gebeur, is dat die oorgrote meerderheid Afrikane vandag die teenoorgestelde beleef – minder sekuriteit en gemak. In talle gevalle staar hulle daagliks honger, dakloosheid, geweld en gebrek in die gesig. Maar – en dit is debatteerbaar – Afrika het vandag een van die grootste private sektore ter wêreld. Die meeste Afrikane leef en werk op die platteland in private huishoudings. Teoreties behoort Afrika 'n byenes van ekonomiese aktiwiteite en groei te wees, aangedryf deur die logika van hierdie private individue en huishoudings wat hul sekuriteit en gemak probeer maksimaliseer. Wat het dan verkeerd geloop? In die model hierbo beskryf, is die onderliggende aanname dat private individue vry is om hul strewe na sekuriteit en gemak na te jaag, en dat hulle dus die middele ter verwesenliking van hierdie doelwitte besit en beheer. Dit word aanvaar dat hulle vry is om wat hulle produseer sonder beletsel of hindernis te ruil, en dat waar hulle in staat is om geld te spaar, hulle vry is om daardie besparing te behou en terug te ploeg in verbeterde tegnieke of in ander beleggingsopsies as hulle sou wou. Dit is nie die geval in Afrika suid van die Sahara nie. Afrika se private sektor word oorwegend gevorm deur kleinboere en, tweedens, deur filiale van multinasionale korporasies in buitelandse besit. Nie een van hierdie twee groepe het volkome vryheid om in die markplek te handel nie, omdat hulle polities deur andere oorheers word – nie-produsente wat die staat beheer. Hierin lê die swakheid van die private sektor in Afrika wat sy onvermoë om die enjin van ekonomiese ontwikkeling te word, verklaar. Afrika se private sektor kort politieke mag en is dus nie vry om te handel om sy doelwitte te maksimaliseer nie. Hy is bowenal nie vry om te besluit wat met sy besparing gebeur nie. Laat ons begin met die situasie van Afrika se kleinboere. Volgens Marx is kleinboere nie in staat om 'n onafhanklike politieke klas wat hulle belange kan verteenwoordig te vorm nie, en gevolglik is hulle oop vir uitbuiting deur ander maatskaplike groepe wat hulle polities oorheers. Wie verteenwoordig vandag die belange van kleinboere in Afrika? Die antwoord is niemand. Die een Afrika-politikus wat daarop aanspraak maak dat hy in belang van die kleinboere optree, Zimbabwe se president Robert Mugabe, het die eens trotse en feitlik selfstandige Zimbabwiese kleinboere verskraal tot armlastiges wat deur die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram gevoed moet word. Afrika se kleinboere is dus uitgelewer aan die kragte wat in staat is om polities te organiseer en die staat te beheer. Ten diepste gebruik die politieke elite sy beheer van die staat om die surplus of besparing te ekstraheer wat die kleinboere, as hulle vry was om dit te behou, sou belê het in die verbetering van hul produksietegnieke om te diversifiseer na ander ekonomiese aktiwiteite. Deur bemarkingsrade, belastingstelsels en dies meer, verlê die politieke elite hierdie besparings om sy eie verbruik te finansier en die onderdrukkende instrumente van die staat te versterk. 'n Groot deel van wat Afrika se politieke elites en die Afrika-staat verbruik, word egter nie plaaslik geproduseer nie, maar ingevoer. Elite- en staatsverbruik skep dus nie 'n beduidende mark vir Afrika-produsente nie, maar funksioneer daarenteen as 'n groot afleidingskanaal van nasionale besparing. Dít is die geheim van Afrika se groeiende verarming. Hoe meer Afrika se politieke elite sy mag konsolideer, hoe meer versterk hulle hul greep op die staat, hoe waarskynliker is dit dat die kleinboere sal verarm, en hoe waarskynliker is dit dat Afrika se ekonomieë sal agteruitgaan of, ten beste, die pas markeer. Een van die treffendste illustrasies van hierdie verskynsel is Nigerië. Volgens 'n studie van Nigerië deur die Sentrum vir die Bestudering van Afrika-ekonomieë aan Oxford-universiteit het die bruto binnelandse produk per persoon van 1980 tot 2000 (in die pariteitsterme van 1996 se koopkrag) geval van $1215 (nagenoeg R8043 teen die huidige wisselkoers) na $706 (nagenoeg R4673). Volgens 'n ander bron het die aantal Nigeriërs wat onder die broodlyn leef, gestyg vanaf 19 miljoen in 1970 tot 90 miljoen in 2000. Dit het gepaardgegaan met 'n reuse toename in ongelykheid. In 1970 het die boonste 2% van die bevolking dieselfde inkomste verdien as die onderste 17%, maar teen 2000 was die inkomste van die boonste 2% gelykstaande aan dié van die onderste 55%. Die mees grafiese illustrasie van hierdie ysere wet van Afrika se onderontwikkeling is die rol wat die oliebedryf in Afrika speel. Olie-inkomste maak dit moontlik vir die politieke elite om letterlik losgemaak te word van die plaaslike bevolking en ekonomie, en gevolglik in 'n oase te woon. Wanneer dít gebeur, is daar dus geen noodsaak vir die politieke elite en die staat wat dit beheer om te belê in massa-onderwys, -gesondheid, -behuising en –vervoerinfrastruktuur nie. Alles beland dan in 'n toestand van verval, behalwe natuurlik die welstand van die politieke elite en die onderdrukkende masjinerie van die staat. The Economist het die impak van olieproduksie op Ekwatoriaal-Guinee en Gaboen soos volg beskryf: “Ekwatoriaal-Guinee pomp nou meer olie per persoon as Saoedi-Arabië. Sy ekonomie wat eens weglaatbaar klein was, het sedert 1996, toe die oliehoogty begin het, teen 'n ongelooflike 40% per jaar gegroei. 'n Paar jaar gelede was die strate van die hoofstad, Malabo, net so stil as wat dié van Sao Tome vandag is. Nou wemel Malabo se fraai Spaanse koloniale argitektuur van satellietskottels en is die strate, wat snags gebaai is in 'n oranje gloed van 'n nabygeleë metanolaanleg, blink van sportmotors, tropiese paleise en prostitute wat infladder vanaf nabygeleë lande soos Kameroen. En die klein landjie se landbou is verwoes: kakao- en slakboere het hulle na die stad gehaas om 'n deel van die oliebonanza te gryp. “Ekwatoriaal-Guinee was nooit goed geregeer nie: die president, Obiang Nguema, het die mag oorgeneem deur sy oom in 1979 tereg te stel. Maar olie het sy regering toenemend paranoïes gemaak. Talle lede van die regerende familie word daarvan verdink dat hulle 'n groter teug van die olievat wil slurp. Mnr. Obiang sien oral komplotte en het periodieke onderdrukkings gereël. Talle opposisieleiers is verlede jaar tronk toe gestuur ná 'n massaverhoor waar heelwat van die verweerders met gebreekte arms en bene opgedaag het. Mnr. Obiang smaal oor Westerse opvattings van deursigtigheid en dring daarop aan dat hoeveel geld sy regering uit olie verdien niemand aangaan nie… “In die naburige Gaboen is Omar Bongo sedert 1967 aan bewind. Hy is subtieler as mnr. Obiang. Hy martel nie sy vyande nie, maar koop hulle om. Dekades van olieverdienste het die Gaboenese samelewing gekorrumpeer en sy werksetiek weggekalwe. Landsburgers aspireer na baantjies vir boeties in die staatsdiens en trek hulle neuse op vir geringe werk soos 'n taxibestuurder of 'n winkelier, wat hulle oorlaat aan immigrante van armer lande soos Togo en Mali. Soos in Ekwatoriaal-Guinee is landbou in Gaboen op sterwe na dood.” Europese aandelemaatskappye was sedert die begin van die kapitalistiese era bedrywig in Afrika. Hulle het die skepe wat die slawe na die Nuwe Wêreld vervoer het gefinansier, verseker en bedryf. Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie het die kolonisasie van Suid-Afrika in die middel van die 17e eeu begin. Met die opkoms van kolonialisme as sodanig na die Berlynkonferensie van 1884, het hierdie maatskappye gevolg kort op die hakke van die verowerende weermagte en landbouplantasies, myne, spoorweë, hawens en nuwe stede opgerig. Later het hulle gediversifiseer na die vervaardiging van verbruiksartikels vir die ontluikende Afrika-mark. Toe die koloniste vanaf die 1950’s onttrek het, het hierdie koloniale filiale hulle sleutelbeskermer, die koloniale staat, verloor. Kort voor lank het hulle, soos die kleinboere, die nukke en aptyte van die nuwe politieke elites van Afrika, wat die nuwe onafhanklike state beheer het, ten prooi geval. Die gelukkiges is genasionaliseer en hul eienaars vergoed; die minder gelukkiges is “geprivatiseer”. Talle het so goed moontlik oorleef deur die nuwe elite te korrupteer of maniere te vind om hulself by die nuwe meesters in guns te bring. Die opvallendste van die politieke elites van Afrika suid van die Sahara was hul teësinnigheid om by die nywerheid betrokke te raak, hetsy vervaardiging of mynwese. In hierdie sektore word die private sektor dus nog steeds oorheers deur buitelandsbeheerde maatskappye met semi-staatsondernemings wat toenemend 'n mindere rol speel. 'n Onlangse studie deur die Wêreldbank toon aan dat die produktiefste maatskappye in, byvoorbeeld, Nigerië dié is wat besit word deur multinasionale maatskappye of deur nyweraars wat nie van Afrika-afkoms is nie – Indiërs, Chinese, Libanese en so meer. Hierdie eienaars is almal maklike teikens aangesien hulle nie in die politieke elites verteenwoordig is nie. Saam met die kleinboere is hulle dus onderworpe aan allerlei amptelike en nie-amptelike belastings wat strek vanaf omkoopgeld vir fabrieksinspekteurs en doeanebeamptes tot kunsmatig hoë elektrisiteitstariewe, arbitrêre munisipale tariewe en dergelike. Dit is nog 'n manier waarop Afrika se politieke elite bydra tot die bevordering van Afrika se onderontwikkeling. Deur die operasies van die nywerheid te dwarsboom en 'n groot deel van sy wins na eliteverbruik te verlê, is vervaardiging nie in staat om te groei nie. Hoewel geografies deel van Afrika suid van die Sahara, word Suid-Afrika deur twee kenmerke van die res van die streek onderskei. Eerstens het Suid-Afrika nie 'n kleinboerklas nie. Tweedens word sy private sektor hoofsaaklik deur Suid-Afrikaanse burgers besit – een van die onbedoelde gevolge van sanksies en disinvestering in die 1970’s en 1980’s. Hierdie twee kenmerke het enorme gevolge vir regering in Suid-Afrika. Terwyl Suid-Afrika geregeer word deur 'n politieke elite wat baie dieselfde wortels en kenmerke as die meeste van die politieke elites in Afrika suid van die Sahara vertoon, word sy speelruimte geweldig aan bande gelê deur die feit dat hy nie 'n kleinboerklas het om uit te buit nie. Daarenteen word hy omring deur 'n dinamiese private sektor in die besit van Suid-Afrikaanse burgers wie se regte grondwetlik verskans is, en afdwingbaar deur die besittersklas self deur die stembus, die regbank en die onafhanklike massamedia wat homself as waghond oor die regte van landsburgers beskou. Tweedens was die Suid-Afrikaanse politieke elite tydens die stryd teen apartheid gedwing om alliansies met die stedelike werkersklas te sluit. Suid-Afrika se stedelike werkersklas is eksistensieel die teenoorgestelde van kleinboerplotbesitters in soverre hy georganiseerd is in onafhanklike maatskaplike bewegings – veral vakbonde – wat sy belange artikuleer en verteenwoordig. Sentraal tot die belange van die swart werkersklas en private sektoreienaars is werkskepping vir eersgenoemde en winsoptimalisering vir laasgenoemde. Beide hierdie groot maatskaplike en politieke kragte het dus gemene belang by die bevordering van ekonomiese groei en die gevolglike minimalisering van die private verbruik van die politieke elite. Dít is wat Suid-Afrika onderskei van die res van die streek en verklaar waarom hy in staat is om sy ekonomie te laat groei terwyl die ekonomieë van Afrika suid van die Sahara gestuit word deur die dooie gewig van politieke elite-verbruik. Dit alles beteken nie dat die politieke elite in Suid-Afrika nie sal probeer om homself ten koste van private sektorprodusente te verryk nie. Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) in Suid-Afrika is in werklikheid die keerkant van die poging om besparing oor te tap vanaf private sektoroperateurs in 'n omgewing waar daar geen kleinboere is nie en waar die grootste gedeelte van die private sektor in plaaslike besit is. Die feit dat SEB in Suid-Afrika 'n baie meer opdraande stryd vir die politieke elite geblyk te wees het, is danksy die vermoë van die private sektor om onteiening te weerstaan. Maar hierdie is nog vroeë dae. Die tyd sal leer wie die beste sal afkom van die titaniese stryd deur die politieke elite om die private rykdom van Suid-Afrika se huidige private sektoreienaars te “privatiseer”. Dit is interessant dat die politieke elite in Suid-Afrika in hierdie onderneming – SEB – aangemoedig word deur elemente van die superrykes, wat politieke gunste soek van die staat ten einde hul bates te eksternaliseer en die eerste hap van staatskontrakte en privatiseringstransaksies te kry. Kan die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling (NEPAD) die dodelike vergelyking wat Afrika suid van die Sahara teister, verander? Terwyl NEPAD sommige van die ergste vergrype van die politieke elites deur die Afrika-genootsoorsigmeganisme (African Peer Review Mechanism) aanspreek, spreek dit nie die grondliggende malaise aan nie – die enorme magswanbalans tussen die politieke elite en sleutelprodusente van die private sektor. As die strukturele magteloosheid van produsente en hul onvermoë om hul besparing te behou en te beheer die dryfkrag agter Afrika suid van die Sahara se onderontwikkeling is, behoort dit vanselfsprekend te wees dat alvorens hierdie vergelyking nie omgekeer word nie, daar geen ontwikkeling sal wees nie. Maar hoe en deur wie moet dit omgekeer word? As Afrika suid van die Sahara moet ontwikkel, benodig dit 'n nuwe soort demokrasie. In die eerste plek is dit noodsaaklik dat die kleinboere die ware eienaars moet word van hul primêre bate, naamlik grond. Dit is die enigste manier waarop daar grondverbeterings in Afrika suid van die Sahara kan wees, in plaas van wat tans gebeur, dit wil sê toenemende ontbossing en versnellende verwoestyning. Dit beteken vrye erfpag moet ingestel word en die sogenaamde kommunale grondbesit – wat in werklikheid staatsgrondbesit is – moet afgeskaf word. Tweedens moet kleinboerprodusente regstreekse toegang tot wêreldmarkte verkry sonder dat die politieke elite as tussenganger optree. Dit beteken dat kontantgewasse deur die produsente self opgeveil moet word, in plaas daarvan om eers verkoop te word aan staatsbeheerde bemarkingsrade. Nog 'n belangrike innovasie wat nodig is, is nuwe finansiële instellings onafhanklik van die politieke elite, wat nie net die finansiële behoeftes van kleinboere sal aanspreek nie, maar ook dié van ander klein tot middelslag produsente. Dit kan insluit koöperatiewe verenigings, kredietunies, spaarbanke en dergelike. Afgesien van finansiële dienste bied hierdie instellings heelwat ander dienste aan wat daartoe sal bydra om landbou produktiewer te maak. Dit is hier waar buitelandse donateurs 'n konstruktiewer rol kan speel as wat die geval is deur hul huidige pogings om die politieke elites en Afrika-state in stand te hou met begrotingsteun en dergelike. Watter sosio-ekonomiese stelsel sal hierdie veranderinge teweeg bring? Beslis nie sosialisme nie! Hierdie veranderinge sal vir die eerste maal 'n kapitalistiese markekonomie in Afrika wat in die behoeftes van Afrika-produsente voorsien, tot stand bring. 'n Belangrike voorbeeld waarby Afrika suid van die Sahara kan leer, is die landbouhervormings wat gedurende die laaste 25 jaar of wat in China plaasgevind het. Dit was in die eerste plek hierdie veranderings in die landbousektor wat dit vir China moontlik gemaak het om sy huidige blitsvinnige industrialiseringsproses aan te pak. Hierdie opstel is 'n geredigeerde weergawe van 'n lesing wat mnr. Mbeki gedurende Junie gelewer het voor die Afrika-klub van die Londense Sakeskool. Die Vrye Afrikaan bedank mnr. Mbeki en ThisDay vir hulle vriendelike vergunning om hierdie geredigeerde weergawe in Afrikaans te publiseer. Die oorspronklike, volledige Engelse weergawe is te siene by >http://allafrica.com/stories/200408021338.html. |