blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Vandeesweek se kommentaar: 'n Verklaring vir die grusame moorde? 2004-09-03
“Ek het nodig om kwaad te doen sodat ek minstens een keer in my lewe voel dat ek bestaan.” So skryf Richard Durn in sy dagboek nadat hy 'n bietjie meer as twee jaar gelede op 'n dag agt lede van die stadsraad van Nanterre doodgeskiet het.
Drie grusame moorde het Suid-Afrika onlangs geskok. Op Maandagoggend 23 Augustus is die swaksiende, 79-jarige boervrou, mev. Kosie van Niekerk op die plaas Dankbaarheid naby Bethlehem keelaf gesny, en ook een van haar 42-jarige plaaswerkers, mnr. Elias Mokoena, wreedaardig vermoor.
Op Donderdagaand 26 Augustus is die 43-jarige mev. Melinda Ludik by die voordeur van haar huis in Vierlanden, Durbanville met 'n byl vermoor, en het haar 12-jarige dogter, Dané, ternouernood ontsnap.
Behalwe vir die grusaamheid van die moorde, was daar nog twee belangrike ooreenkomste.
In die eerste plek het die slagoffers na alle waarskynlikheid hul moordenaars geken. In die geval van mev. Van Niekerk en mnr. Mokoena, is vyf mans kort na die voorval met vuurwapens en 'n mes in hul besit aangekeer. Een van die beskuldigdes is 'n 17-jarige man wat vir drie maande by die Van Niekerks op die plaas gewerk het. In die geval van mev. Ludick is twee mans kort na die voorval in die omgewing aangekeer. Een van hulle is 'n 34-jarige verwer wat vir drie maande los werkies vir die Ludicks gedoen het.
Die tweede ooreenkoms tussen die moorde is dat beide slagoffers volgens alle aanduidings lieftallige mense was wat hulle oor hul medemens ontferm het. Mev. van Niekerk se seun het die 17-jarige beskuldigde in diens geneem omdat hy sy pa, wat op 'n buurplaas werk, ken. Mev. Ludick het die 34-jarige verwer werkies gegee omdat sy hom jammer gekry het.
Die reg moet sy gang gaan, en die naasbestaandes van die slagoffers se leed moet met erbarming bejeën word, maar nogtans kan 'n mens nie anders nie as om 'n verklaring te wil soek, al is dit net om die skok as meelewende burger te verwerk.
'n Verklaring is moontlik te vind in die Franse massamoordenaar se erkenning dat hy vir een keer in sy lewe wou “voel dat hy bestaan”. In die geval van Frankryk, maar ook die breër Europa en Noord-Amerika, is sulke wrede massamoorde die afgelope jare aan die toeneem. In Suid-Afrika sou 'n mens wou glo dat grusame moorde na 1994 tot die verlede behoort.
Feit van die saak is egter dat sowel Europa en Noord-Amerika as Afrika gebuk gaan onder dieselfde probleem, naamlik die gebrekkige erkenning van gemeenskappe. In die geval van Europa en Noord-Amerika word gemeenskappe – en gevolglik individue – toenemend misken danksy die proses waarvolgens die almagtige mark mense al hoe meer eenvormig maak en behandel as blote kopers van produkte. Om alles te kroon probeer partypolitici die kiesers wat hulle versaak omdat eersgenoemde niks aan die saak kan of wil doen nie, terug te wen deur hulself soos produkte te verkoop. G’n wonder dat populistiese, verregse partye, wat ten minste 'n standpunt het, al is dit hoe onaanneemlik, veld onder kiesers in veral Europa wen nie.
In die geval van Afrika gaan ons nou al meer as 'n eeu gebuk onder 'n koloniale staat wat telkens slegs 'n elite binne een taalgemeenskap erken, en die res van die gemeenskappe in 'n samelewing misken. In Suid-Afrika moes ons meemaak hoe die Engelse elite vervang is met die Afrikaner-elite, en nou met 'n swart elite.
Terwyl ons in Suid-Afrika tereg dankbaar is daaroor dat ons 'n regstaat met stemreg vir al ons burgers is, kyk ons egter nog deurgaans die feit mis dat die staat en sy korporatiewe vennote beide steeds funksioneer volgens die koloniale logika wat gemeenskappe misken en hulself verryk. Om dit nog te vererger, bedien ons ons van die gevaarlike illusie dat die erkenning van individuele regte genoeg is, terwyl juis die individu vandag in 'n toenemend uitsiglose posisie beland teen die agtergrond van die elitistiese gierigheid waaronder ons land gebuk gaan.
Dit is binne so 'n konteks wat mev. Van Niekerk en mev. Ludick se moordenaars opgetree het, want juis in die erkenning wat hierdie vroue aan hul slagoffers gegee het deur hulle in diens te neem, het 'n diaboliese logika gewerk, waarvolgens hul slagoffers waarskynlik veilig gevoel het om uiting te gee aan die afgelope tien jaar se gefrustreerde verwagtings van 'n beter lewe vir almal. Te midde van die kruipende armoede waaronder die meeste swart en bruin Suid-Afrikaners toenemend onder ons nomineel demokratiese, maar steeds koloniale staatsbestel gebuk gaan, gaan hierdie miskenning iewers moet uitkom. Dat hulle juis hul miskenning so woedend uitgehaal het op die vroue wat hulle oor hul ontferm het, is amper soos wanneer 'n mens jou woede uithaal op 'n geliefde of 'n vriend by wie jy veilig voel. Hoe groter die woede en miskenning, hoe gewelddadiger die uitbarsting.
Intussen leef daardie Afrikaners wat dit kan bekostig, hul eie gevoelens van miskenning al hoe meer uit by wyse van 'n omarming van individualistiese materialisme: blink motors, groot huise, kooplus, en dies meer.
As Suid-Afrika se gemeenskappe nie binne die volgende tien jaar daarin gaan slaag om ons koloniale staatsbestel werklik tot diens van die mense te stel nie, as arm swart en bruin mense se woede bly oplaai, en as middelklas Afrikaners hul behoeftes aan erkenning deur besittings probeer uitleef, is die tafel gedek vir 'n populistiese opstand met rasse-ondertone teen ons brose demokratiese bestel – nes Europeërs vandag vir verregse populiste stem.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=1
Artikel nagegaan:
    -