|
||||
As die religie agterhaal is in ‘n wêreld van verbruik bo alles, waarom is die dood van Pous Johannes Paulus II een van die grootste gebeure van die nuwe millennium? As Pous Johannes Paulus II ‘n verstarde moralis was, waarom treur miljoene mense wêreldwyd oor sy dood? As die Katolieke Kerk ‘n argaïese instelling is, waarom het miljoene pelgrims én toeriste vandeesweek Rome waar die pous voor sy begrafnis in staatsie gelê het, besoek? Die antwoorde op hierdie vrae is oor die algemeen nie in die mediareaksie op die pous se dood te vinde nie. In die ryk Noorde word die Katolisisme dikwels verbind met ‘n verleentheidswekkende konserwatisme, magspele, seksuele onderdrukking en wat nog. Europa, die VSA en Kanada – in teenstelling met Latyns-Amerika – is vandag bastions van die verbruikersamelewing, wat oor die algemeen nie veel verdraagsaamheid teenoor die religie vertoon nie, bes moontlik omdat die verbruikerisme vandag self na religieuse status aspireer – ‘n aspirasie wat noodwendig moet misluk, omdat die verbruikerisme hom nie net op geen transendente kan beroep nie, maar ook omdat dit by grasie van ‘n fiksasie op die nuwe – in teenstelling met die oue, by religie – bestaan. Dit is so dat vele kommentators die pous wel gehuldig het vir sy dapper standpunte teen kommunistiese regimes en teen die vergrype van markgedrewe globalisering (in plaas van gemeenskapsgerigte globalisering). Eweneens is hy egter deur talle van dieselfde kommentators nogmaals verwyt vir sy omstrede standpunte teen voorbehoedmiddels en vir die heiligheid van die gesin. Tekenend van hierdie reaksies is dat hulle part en deel van die liberale vooroordele van ons tyd vorm, vooroordele wat alte dikwels nie veel help om deur te dring tot wat werklik op die spel is nie. Een van die die pous se grootste bydraes, en wat ook van besondere belang vir die Afrikaanse wêreld is, is die opspraakwekkende werk wat hy as jong teoloog oor die Christendom gedoen het, en waarvolgens die Christendom verstaan moet word as ‘n universele ryk deur partikuliere gemeenskappe. Vir hom was die Christendom niks minder nie as ‘n oervorm waarin die universele en die besondere, die religieuse en die kulturele, by mekaar kan aansluit. Dit is geen wonder nie dat hierdie denke bygedra het tot die heldestatus wat hy in sy land van herkoms, Pole, geniet het. Oor die broosheid van hierdie en ander Middel-Europese lande het Milan Kundera aangrypend geskryf in werke soos Testaments Betrayed en Slowness. Van ewe groot belang is die statuur wat die pous op die wêreldverhoog geniet het danksy sy posisie in wat Bernard Stiegler beskryf as die globale simboliese oorlog. Volgens Stiegler woed daar vandag wêreldwyd ‘n stryd tussen die globale mark in gestandaardiseerde bewussynsinhoude – rolprente, CD’s, TV-uitsendings, ens. – en gemeenskapstradisies. Hierdie globale bewussynsmark funksioneer onder meer volgens die beginsel dat dit alles van waarde brutaal kommersialiseer en uit sy oorspronklike konteks neem, tot dit uiteindelik alle waarde verloor… Dit is teen hierdie prosesse van betekenisstroping wat Pous Johannes Paulus II saam met mense soos die Dalai Lama, Mohandas Gandhi en Nelson Mandela as helde na vore getree het, mense wat vanuit die ou tradisies nuwe wapens in die globale simboliese oorlog gesmee het. Die grondbetekenisse van die woord religie is onderskeidelik om byeen te bring en om te versamel. Die religie is onder meer ‘n kragtige tradisie van praktyke, liturgieë en waarheid wat oor tyd heen mense byeenbring rondom iets hoërs en groters. Vandeesweek kan die wêreld die grootse skouspel beleef van hoe die oudste instelling ter wêreld met grootste rituele rou, ‘n oefening in liturgie en praktyk, waarsonder geen gemeenskap kan bestaan nie. In sy lewe, maar ook in sy dood het Pous Johannes Paulus II hierdie dinge versinnebeeld, en Die Vrye Afrikaan salueer hom as kryger van iets meers en groters. |