blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Mbeki teen die Afrikaners? 2005-03-31
Op 18 Maart 2005, op die vooraand van Menseregtedag, het president Thabo Mbeki in ANC Today ‘n nou reeds wydgepubliseerde, felle aanslag op drie prominente Afrikaanse meningsvormers, naamlik Rapport se redakteur, Tim du Plessis, Die Burger se adjunkredakteur, Leopold Scholtz, en oud-president F.W. de Klerk geloods. In dieselfde uitgawe van ANC Today is ook ‘n ietwat bisarre aanval geloods op meningsvormers so uiteenlopend soos Hermann Giliomee, Max du Preez, Helen Suzman en Beeld geloods, waarvolgens al voorgenoemde saamgehark is as deel van die “regses” wat vandag in Suid-Afrika poog om “die elite” (lees witmense en ‘dislojale’ swart kritici van die regering) se houvas op mag te behou.

    Beeld en Die Burger het beide in buitengewone lang hoofartikels uitvoerig op Mbeki en die anonieme skrywer/s van ANC Today geantwoord, en’n debat is wyd oor die saak gevoer. Die twee Afrikaanse dagblaaie was veral gevoelig oor hul uitbeelding as “regs”, asook die feit dat Mbeki geen blyke gee van die tallose kere wat hulle al kommentaar oor die legitieme aspirasies van die swart meerderheid gelewer het.

    Die etiket van regsheid is natuurlik nie nuut in die Suid-Afrikaanse politiek nie, en is reeds in die vorige bedeling deur die Afrikaner-establishment gegee aan die flank van die Nasionale Party wat in die 1960’s met rasseobsessies en al die eerste was om te sien dat die NP-leierskap sy kiesers in die duister begin hou het. Ironies genoeg het die Sestigers vanaf links soortgelyke kommer uitgespreek, waarvoor hulle weer die etiket van links en kommunisties om die nek gehang is. Beide groeperinge is mettertyd oor die magsmisbruik van die NP reg bewys, en vandag is die gebrek aan politieke leierskap onder Afrikaners, sowel as die politieke onbetrokkenheid onder hulle, een van die gevolge van die misleiding wat hulle polities beleef het. In ‘n sekere sin is die politiek vir baie Afrikaners nog ‘n wond.

    Dieselfde koloniale staat waarmee die NP die land geregeer het, is vandag die hoofinstrument waarmee die ANC sy droom van ‘n beter lewe vir almal najaag, maar wat al hoe meer kritiek uit verskillende oorde verduur. Reeds ‘n tyd gelede moes regeringskritici vanuit die SAKP en Cosatu verneem dat hulle deel is van ‘n “ultralinkervleuel”, sondat dat hulle kritiek bevredigend hanteer is, nes Mbeki en veral die skrywer/s van ANC Today nou met verskeie Afrikaanse meningsvormers gemaak het. Klaarblyklik is dit makliker om jou politieke opponente in Suid-Afrika vanuit ‘n magsposisie ‘n etiket om die nek te hang as om hulle argumente te hanteer. Dat veral regsheid as ‘n soort skandvlek voorgehou word, is tekenend van hoe arm die politieke debat in die land is, want in ‘n gevestigde demokrasie is links en regs legitieme invalshoeke op die nasionale debat, wat as sodanig hanteer word.

    Maar daar is ‘n veel belangriker kwessie as kitsetikette in Mbeki se opstel ter sprake, naamlik hoe duidelik dit blyke gee van hoe ver die Afro-nasionaliste en Afrikaanse meningsvormers rondom kwessies betreffende Afrikaners in die besonder en die Afrikaanse wêreld in die algemeen verby mekaar praat. Mbeki reageer op legitieme vrae wat Du Plessis, Scholtz en De Klerk betreffende magsmisbruik deur die ANC, die beperkinge van die Afro-nasionalistiese projek, en die miskenning van kwessies wat vir baie Afrikaners belangrik is deur hom te beroep op allerlei mooi ideale en artikels van die Grondwet.

    Dít is ‘n strategie wat die regering dikwels gebruik, naamlik die beroep op ideale sonder om die praktyk se verloëning van dié ideale te hanteer. (Hiervan het Afrikaners reeds genoeg in die vorige bedeling beleef om nie geflous te word nie.) Een voorbeeld is Mbeki se verwysing na die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Religieuse en Taalgemeenskappe wat kragtens Artikel 185 van die Grondwet tot stand gekom is. Volgens Mbeki is dié ‘n bewys daarvan dat minderhede se regte inderdaad ernstig deur die regering opgeneem word. Feit van die saak is egter dat van al die kommissies wat die Grondwet in die vooruitsig stel, hierdie een die langste geneem het om tot stand te kom, en dat dit tot dusver geskitter het in sy onvermoë om kwessies wat vir baie Afrikaners belangrik is, te hanteer. Sprekend hiervan is dat een van die Afrikaners wat op die kommissie dien op rekord is dat hy nie daar is “om die belange van Afrikaners te dien nie!”

    Gedagtig aan die hoë premie wat president Mbeki plaas op ‘n beredeneerde omgang met landsake, sal dit te maklik wees om dié strategie van die beroep op ideale wat deur die praktyk weerspreek word, as ‘n siniese magstrategie af te maak. Want die sleutel vir ‘n verstaan van Mbeki se vertrekpunte word gegee wanneer hy twee punte naby die einde van sy opstel maak.

    Die eerste hiervan is die Afrikaanse meningsvormers te vra waar hulle besorgdheid oor die uiters geringe aantal swart ingenieurs in vergelyking met wit ingenieurs in die land is, en dié voor te hou as voorbeeld van hoe ver Suid-Afrika nog van ‘n regverdige maatskaplike orde is. (Die keuse om na ingenieurs te verwys is veelseggend, want vir die politieke modernis en maatskaplike ingenieur – en Thabo Mbeki is een by uitstek – is geen ander beroep so belangrik as dié van die ingenieur nie. Per stuk van sake is die ingenieur se bydrae tot die daarstel van ‘n materiële werklikheid onontbeerlik vir die maatskaplike ingenieur wat ‘n simboliese werklikheid wil verwesenlik! En wat van die regering se versaking van moedertaalonderrig vir almal, wat dié sleutel is om meer swart ingenieurs op te lei?)

    Die tweede hiervan is om prof. Fanie Cloete van die Universiteit Stellenbosch waarderend aan te haal wanneer dié in ‘n artikel in Die Burger van 15 Maart skryf: “Daar is soveel meer blink nuwe motors en groter huise in die tradisioneel wit areas dat ‘n mens eenvoudig moet vra of daar enige meriete in die argumente van wit skeptici (oor die toekoms van ons land) is. Wat Afrikaners in die besonder betref, waarom kan hulle nie hul vrese oor die toekoms probeer besweer nie deur hulle spesifieke verantwoordelikhede oor die toekoms te aanvaar om meer te doen om die wanbalanse geskep deur apartheid reg te stel nie?”

    Mbeki stuur basies daarop af om te sê dat hy Afrikaners wat simbolies misken voel nie ernstig opneem nie wanneer die meeste Suid-Afrikaners materieel swaarkry nie. Dít teen die agtergrond van die standpunt wat hy dikwels herhaal dat maatskaplike welvaart nou op op politieke sukses vir swartmense moet volg.

    Dit is presies op hierdie punt wat Afrikaners en Afrikane mekaar moet vind. Dit ly geen twyfel nie dat daar vandag Afrikaners is wat hulle aan krasse materialisme oorgee nie, (maar dit is ook waar dat die toename in armoede onder blankes die grootste sedert 1995 is. ) Mbeki is natuurlik ook korrek wanneer die maatskaplike welvaart van die meerderheid in die land nagejaag word. Maar wat hy uit die oog verloor, is dat materialisme en politieke onttrekking onder Afrikaners onder meer is weens die politieke miskenning en gebrek aan leierskap wat hulle beleef. In kru terme: politieke onsekerheid dryf hulle in die arms van Mammon. Terwyl Afrikaanse skole al minder word, bly die regering hom hardnekkig op “access” beroep, in plaas daarvan om die valse spanning tussen “access” en moedertaalonderrig bevredigend te hanteer. Terwyl regstellende aksie jong Afrikaners uit die ekonomie hou, word hulle buiteland toe gedwing. Terwyl die kompromis oor Tshwane-Pretoria nou deur die ANC-meerderheid in Pretoria deurgedwing word, swyg die regering.

    Mbeki (en Cloete) maak hulle skuldig aan ‘n vulgêre mensbeeld as hulle mense verskraal tot bloot die materiële – die politieke en die maatskaplike is onlosmaaklik verbind, en dié twee kan slegs hanteer word, as dit sáám gedoen word. Mbeki mag vind dat as hy in gesprek tree met legitieme verteenwoordigers van Afrikaners en hul legitieme probleme bevredigend hanteer, hy ook in hulle bondgenote sal vind om die maatskaplike krisis in die land te takel. Hy kan ook gerus kennis neem van die reuse werk wat Afrikaanse kerke reeds in dié verband verrig. En laastens moet hy nie die fout met Afrikaners maak om soos die vorige bedeling met Afrikane hulle as stereotipes te behandel het, in plaas van om hulle te erken.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=180
Artikel nagegaan:
    -