blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Zimbabwe se verkiesing 2005-04-07
Die charade andersins bekend as Zimbabwe se parlementêre verkiesing is verby en die verloorders is demokrasie, die gemeenskappe van Zimbabwe en ons vasteland Afrika.

    Wat deur die SADC-lande aangegryp kon wees as ‘n geleentheid om hul eie beginsels betreffende vrye en regverdige verkiesings soos onlangs aanvaar, te demonstreer, is daarmee heen. Nogmaals is SADC met sy sertifisering van die verkiesing ontbloot vir die elite-instelling wat dit is, wat bloedweinig vir die demokrasie beteken.

    Die gemeenskappe van Zimbabwe moes vanaf die laat 1990’s sien hoe die winste van hul bevryding verspil is deur ‘n uitgeslape diktator. Ongetwyfeld het taal ook hierin sy rol gespeel, aangesien die meeste Zimbabwiërs nie in hul moedertaal regeer word nie, en gevolglik ook nie die president van die land en sy trawante al jare gelede tot verantwoording kon roep nie. Dat Robert Mugabe dit nou oorweeg om  aan tradisionele leiers groter inspraak in die parlement te gee, is niks anders nie as ‘n brutale manipulasie van landelike kiesers in ‘n voormoderne wêreld.

    Nogmaals moes demokratiese Afrikane toekyk hoe ‘n uitgeslape diktator ons vasteland se naam in die oë van die wêreld vertrap, met die groot leier van die Afrika-renaissance net suid wat ook nie juis met groter aansien uit die stryd tree nie. Hoe lank gaan demokratiese Afrikane nog toelaat dat ons via koloniale staatsbestelle in ons tweede of derde taal deur vryheidsvegterelites uitgebuit word?

    Enkele dae voor die charade het Zimbabwe se Biskop Ncube gevra vir ‘n vreedsame massaopstand in Zimbabwe. Dit is duidelik dat die enigste werklike bron van verandering in Zimbabwe die burgerlike samelewing is, en Die Vrye Afrikaan voeg graag sy stem by dié van Biskop Ncube. In ‘n diktatuur soos Zimbabwe is normale demokratiese meganismes soos verkiesings en parlemente niks anders nie as middele waarmee die burgery se politieke energie afgelei en verspil word. Mag ons broers en susters noord van die Limpopo hulle nou tot vreedsame regstreekse optrede wend, en mag hulle verseker wees dat demokratiese Afrikaners en Afrikane suid van die Limpopo hulle in hart en niere steun. Des te meer omdat die droom van demokrasie anderkant die mitologie van die vryheidstryd nou so naby in Zimbabwe is.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=182
Artikel nagegaan:
    -