blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Is daar ‘n dreigende krisis in Suid-Afrikaanse landbou? 2005-03-29
Johann Kirsten

 
Deur Johann Kirsten, Hoof: Departement Landbou-ekonomie, Voorligting en Landelike Ontwikkeling, Universiteit van Pretoria


    Van Moorreesburg tot Heidelberg in die Wes-Kaap, van Middelburg tot Delmas in Mpumalanga, van Tzaneen tot Baltimore in Limpopo; van Lichtenburg tot Tosca in Noordwes en van Bothaville tot Bethlehem in die Vrystaat vertel boere dieselfde storie: “Hier is ‘n groot krisis aan die kom. Daar is nie meer ‘n toekoms vir Suid-Afrikaanse landbou nie”.  Hoe verklaar ‘n mens hierdie pessimisme so kort na die afloop van die optimisme wat die 2002/2003-seisoen gekenmerk het? Wat is die oorsake van hierdie toedrag van sake?

    In hierdie artikel gee ek ‘n kort oorsig van my indrukke na afloop van ‘n reeks gesprekke wat ek met groepe boere dwarsdeur die land gevoer het. Hierdie gesprekke met my is deur verskeie boerderygroepe aangevra om sekere belangrike feite en werklikhede op voetsoolvlak aan my oor te dra. Waar ek twee jaar gelede aan die kabinet moes verduidelik wat die oorsake van skerp voedselstygings was, so wil boere nou weet wat die oorsake van hul groot verliese is. Ek verduidelik daarom aan die hand van my besoeke en ervarings my vertolking van die vernaamste oorsake vir die ‘sluimerende’ krisis en bespreek dan die moontlike oplossings vir die huidige problematiek.

    Dit blyk dat hierdie saak nie net vir die oorlewing van kommersiële boere kritiek is nie, maar sonder dat die regering dit besef ‘n selfs groter turksvy is vir swart boere wat graag ‘n kommersiële sukses van hul boerdery wil maak nadat hulle grond via die grondhervormingsprogram ontvang het. Hulle sit met ‘n heelwat groter skuldlas as hul blanke eweknieë, en boonop het hulle nie dieselfde geslagtelange ervaring van kommersiële boerdery nie. Hoe gaan hierdie lae pryse en gepaardgaande lae winsgewendheid hul voortbestaan en sukses beïnvloed?


Simptome van die krisis

    Die standaardproblematiek van kommoditeitsproduksie in die landbou is dat jy altyd ‘n prysnemer is. Daar is weinig moontlikhede om jou insetpryse (pryse van kunsmis, saad, implemente) te onderhandel en te bestuur, en aan die uitsetkant moet jy maar tevrede wees met die prys wat die ‘mark’ optower. Terwyl insetkoste gedurig styg, is pryse vir jou produkte bitter wisselvallig, en gebeur dit gereeld dat die prys wat jy vanjaar ontvang in nominale terme gelykstaande is aan pryse wat jy vyf jaar vantevore ontvang het – en dit terwyl jou insetkoste gedurig styg. Per definsie het boere dus nie die luukse wat ‘n vervaardiger van voedselprodukte het, om naamlik ‘n standaardmarge in sy produksieproses in te bou nie. In die 2002/2003-seisoen het die wisselkoersdepresiasie ‘n groot meevaller vir baie boere gebring. Vir vrugte- en wynboere was dit ‘n bonanzajaar, soos ook vir graanboere, omrede Suid-Afrikaanse pryse aan die wêreldprys (in dollar) gekoppel is en boere dus rekordpryse vir hul graan ontvang het. In daardie jare het dit egter broekskeur gegaan met die melk-, hoender-, eier- en varkboere. Vanjaar is die situasie net mooi omgekeer en is dit die veeboere se beurt om te glimlag.
    
    Baie boere het reeds pogings aangewend om uit hierdie onmoontlike situasie te kom deur nismarkte te betree of produkte op kontrakbasis vir verwerkers of winkelgroepe te produseer. Dit bly egter so dat die meeste boere maar kommoditeite soos mielies, koring, sonneblom, suiker, aartappels, ens. in ‘n vrye mark sal bly produseer. Dit is hier waar boere al hoe erger noustrop trek.
 
    Die simptome van die krisis is ‘n toename in landbouskuld, wat grootliks voortspruit uit produksiekoste wat gestyg het en produkpryse wat nie daarmee tred gehou het nie. Negatiewe marges (doodeenvoudig - ‘n verlies op elke ton wat jy produseer) ly tot oorlaatskuld wat oor jare opbou en later krisisafmetings aanneem. Landbouskuld het weliswaar in 2002 gedaal tot R28,2 miljard vanaf R30,8 miljard in 2001, maar teen die einde van verlede jaar het landbouskuld weer tot ‘n rekordbedrag van R33, 2 miljard geklim.

    Boere se gebrekkige vertroue in die bedryf se toekoms, tesaam met die daling in investering in die landbou is verdere aanduidings dat dinge in die landbou nie heeltemal pluis is nie. Ongegronde grondeise op landbougrond plaas ook verdere druk op sakevertroue in die bedryf en lei tot onderinvestering, wat nie bevorderlik is vir die voortuitgang, mededingendheid en volhoubaarheid van die landbousektor nie.


Wat is die oorsake van die huidige lae winsgewendheid in sekere landboubedrywe?

    Die vernaamste oorsaak van die huidge swak winsgewendheid in sekere van ons vernaamste bedrywe is doodeenvoudig: prys, prys in kombinasie met groot skuldlas plus die stygende produksiekoste wat gesamentlik bydra tot verliese. Dit is nie net insetkoste wat hoog is nie - deesdae het die boer allerhande ander ekstra kostes betreffende arbeid, vervoer (tolgelde), bemarkings- en hanteringskostes, en so meer.

    Die vraag kan dus nou met reg gevra word: wat is die oorsaak van die lae pryse? Is dit goedkoop ingevoerde produkte; die gebrek aan tariefbeskerming; die sterk rand-dollar-wisselkoers of die lae internasionale wêreldprys wat deur subsidies van die VSA en Europa veroorsaak is? Die antwoord lê waarskynlik in die kombinasie van al dié faktore.

    Die wisselkoerseffek in die vrugte- en wynbedryf is dramaties. In die mieliebedryf het die groot oordragvoorraad en die verwagte groot mielie-oes van 10.8 miljoen plus ton die wisselkoerseffekpryse vir die komende seisoen geweldig laat verswak. Koringboere is bekommerd oor die gebrekkige invoerbeskerming teen goedkoop ingevoerde koring van Argentinië en blameer hierdie praktyke van die meulenaars vir hul lae pryse. Aan die ander kant is dit egter so dat Suid-Afrika jaarliks ongeveer een miljoen ton koring moet invoer. Die winsgewendheid van koringproduksie in die Wes-Kaap is egter ook ‘n verdere knou toegedien deur twee opeenvolgende droë jare, wat dus ‘n dubbele effek van droogte plus lae pryse tot gevolg gehad het.

    Dit is belangrik om weer eens die magtige posisie van insetverskaffers te beklemtoon. Baie van hulle is deesdae multinasionale maatskappye, en hierdie globale beheer van die mark plaas in sommige gevalle die maatskappye in ‘n magsposisie waardeur hulle pryse kan voorskryf. Hierdie is een aspek wat uit ‘n beleidsoogpunt besonderse aandag in die toekoms behoort te kry.


Moontlike oplossings

    Dit wil voorkom of vanjaar se problematiek in die landbou nie net sommer ‘n normale sikliese verskynsel is nie, maar of daar meer faktore is wat oplossings dringend noodsaaklik maak.

    As ‘n mens oor moontlike oplossings vir die problematiek in die landbou begin debatteer, is die sienings en voorstelle legio. Ek het egter in ’n gesprek met van die boeregroepe die moontlike oplossings in drie groepe verdeel, naamlik daardie aspekte wat binne regeringskonteks, in markkonteks en in boederykonteks  aangepak kan word.

1. Binne regeringskonteks:

    Die opsie om alle ingevoerde produkte te verbied, is vandag nie meer uitoefenbaar nie, aangesien dit buite die reëls van die Wêreldhandelsorganisasie val. Verder sal die regering nie sommer oorweging skenk aan prysbeheer of enige ander vorm van inmenging in die vrye mark nie. Daar is dus net ‘n paar aspekte waarmee die regering kan help om die landbou by te staan in hul stryd op die ‘ongelyke speelveld’ van die internasionale landboumark. Beter tariefbeskerming is een opsie, maar hier moet die regering gedurig waak teen die impak daarvan op die armes. Die verlies aan werksgeleenthede in die landbou moet afgespeel word teen moontlike stygings in die voedselpryse vir die massa armes. Daar is nogal heelwat geluide oor beter tariefmeganismes wat die voortbestaan van die landbou en die vestiging van swart boere kan verseker. Die regering se plig om die land van voedsel te voorsien, beteteken allereers om te verhoed dat die landboubedryf deur onregverdige mededinging vernietig word en Suid-Afrika dan geheel en al van invoere afhanklik word.

Dit is egter ook so dat landbou in ’n hoë mate met ‘n landbou-onvriendelike beleidsomgewing binne Suid-Afrika te doen het, wat mededinging op die ‘ongelyke speelveld’ verder bemoeilik. Die regering kan dus dink aan die impak wat sekere elemente van arbeidswetgewing, swak infrastruktuur en allerhande vorms van plaaslike belasting op die mededingendheid van die landbou maak. ‘n Pleidooi vir ‘n sukkelvryer landbou behoort darem nie so onvanpas te wees nie. Daar is genoeg insig onder hedendaagse boere om sulke insentiewe aan te wend sonder om werkers en instellings uit te buit.  In hierdie opsig kan die staat ‘n vinnige en kostelose bydrae maak tot ‘n groeiende, optimistiese landbousektor.

2. Binne markkonteks:

Binne die markkonteks is daar baie stemme wat opgaan oor die werking van die SAFEX-termynmark vir landboukommoditeite. Ek voorsien egter dat daar nie sommer aan hierdie meganisme getorring kan word nie, aangesien die mark redelik goed werk. Boere voel egter dat hulle aan die kortste ent trek en dat die mark baie beter vir die kopers van kommoditeite werk. Die teenoorgestelde kommentaar kry ‘n mens ook van die verkopers. Dit is egter so dat die mark nog jonk is (slegs 10 jaar) en dat daar nog baie rolspelers is wat die instrumente wat op SAFEX verhandel word, nog nie goed verstaan nie.

    Die moontliheid van nismarkte bestaan wel, maar bly beperk wanneer jy in ‘n kommoditeitsmark is waarin daar nie veel moontlikhede bestaan om verdere nisse te ontwikkel nie.

    Net soos aan die insetkant moet die regering ook ‘n wakende oog begin hou oor die markstrukture in die voedselverwerkings- en kleinhandelsbedryf. Die groter konsentrasie van ondernemings in hierdie bedrywe lei tot groter monopolistiese magte van hierdie kopers om pryse aan boere en verbruikers te manipuleer. Of dit werklik gebeur, is moeilik te bewys, maar dit val binne die regering se taak om mededinging aan te moedig om sodoende meer opsies vir boer en verbruiker te verskaf.

3. Binne boerderykonteks:

Op plaasvlak is daar ook ‘n reeks oplossings – sommige waarvan die meeste boere reeds gebruik gemaak het om die sukkelende tye te oorleef. Hierdie oplossings sluit in:

o    Besnoeiing van bestuurinsetkostes (meeste boere sê hulle het reeds tot op die been gesny);
o    Diversifikasie, beter rotasiestelsels en die inbring van ‘n groter veefaktor;
o    Vermindering van  skuldlas en om SAFEX nie vir spekulasiedoeleindes te gebruik nie;
o    Poging om prysrisiko te verminder;
o    Samewerking tussen boere, banke en koöperasies om skuld te herfinansier en te verminder;
o    Vorming van koopgroepe of koöperasies om groter bedingingsmag by die aankoop van insette en bemarking van produkte te vestig.

Die landbou gaan ongetwyfeld deur moeilike tye. Vir die suksesvolle uitlewing van die regering se visie van ‘n “united and prosperous agricultural sector” is dit nodig dat die problematiek van die landbou beter verstaan word en dat daar ‘n besef kom dat die toekomstige sukses van boere – swart en wit – slegs verseker sal word deur ‘n verskeidenheid van oplossings waarby beide die regering en die boer ten nouste betrek word.  ‘n Verenigde verteenwoordigende organisasie vir alle boere sal ‘n eerste stap wees om die problematiek van die Suid-Afrikaanse landbou nader aan die oor (en hart) van die minister te lê.
 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=178
Artikel nagegaan:
    -