blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Tussen die tye: nuwe politiek, nuwe aktivismes 2005-03-29
Johann Rossouw


Lesing gehou op 1 April 2005 tydens die KKNK-Oopgesprek
Deur Johann Rossouw

Die tema van vanoggend se gesprek – Tussen die tye: nuwe politiek, nuwe aktivismes – sluit op ‘n baie netjiese manier aan by die oorkoepelende tema van vandeesweek se KKNK-Oopgesprekke, naamlik Mense en grense. Die aansluiting is te vinde in die feit dat ‘n sentrale kwessie van die hedendaagse geopolitiek, naamlik die grens, bepalend is vir die nuwe vorm wat die politiek vandag wêreldwyd aanneem. Om sinvol oor die politiek na te dink, is dit nodig om die kwessie van die grens soos wat dit globaal sowel as lokaal ter sprake is, in oënskou te neem. ‘n Ou siekte van die Suid-Afrikaanse politieke gesprek is die neiging om die lokale los te maak van die globale, en dit is iets wat in ‘n toenemend geïntegreerde wêreld net tot groot probleme kan lei. Om die waarheid te sê, is die neiging om die lokale los te dink van die globale dikwels ‘n voorwaarde en ‘n teelaarde vir maatskaplike ingenieurswese en magsmisbruik in Suid-Afrika. Onder die dekmantel van Suid-Afrika se oorskatte uitsonderlikheid het hierdie land oor die jare heen die teater geword van ‘n aantal mislukte eksperimente waar programme wat nêrens ter wêreld gewerk het nie, hier onverbiddelik gedryf is tot op die punt waar die stem van die werklikheid nie langer geïgnoreer kon word nie, en gewoonlik tot die volgende onmoontlike program oorgegaan word. Waar tydens apartheid gepoog is om die grens te verabsoluteer, word grensloosheid vandag verabsoluteer, presies soos die markgedrewe vorm van globalisering alle grense wil misken: soos altyd lê die waarheid anderkant beide hierdie uiterstes.

    Michel Serres, die filosoof wat in Frankryk die eerste was om die oorgang vanaf ‘n nywerheidsekonomie na ‘n kommunikasie-ekonomie te voorspel, het Hermes, boodskapper van die gode, dekades gelede tot die god van ons era verklaar. In my eie poging om Suid-Afrika via die tegniese stelsels van die land te verstaan, het ek algaande besef dat hoewel ek ook droom oor ‘n land geregeer deur Hermes, ons ons helaas bevind in ‘n land waarvan Cassandra die beskermvrou is. In plaas daarvan dat die tegniek in Suid-Afrika funksioneer ten gunste van beter wedersydse begrip, is Suid-Afrika tegniesgesproke chronies verdoem tot stemlose insig: in plaas daarvan dat ons mekaar se boodskappe hoor, word net die boodskap van die hoofman van die dag gehoor, terwyl diegene wat met insig geseën word, net soos Cassandra ook deur niemand gehoor word nie. U wat dus vanoggend hier byeengekom het rondom die ambisieuse tema van nuwe politiek en nuwe aktivismes sal ek aanraai om ‘n houding van vrolike skepsis te koester, want hoewel daar veel nuut in ons tyd is, is daar ook veel wat meedoënloos eentonig en oeroud is.

    Een van die kenmerke van die politiek van ons era, is hoe sentraal kommunikasie staan, maar dan ook heel dikwels kommunikasie nie as voorspel tot ‘n nuwe politiek nie, maar kommunikasie as verdoeseling van ou politiek. Kommunikasie as verdoeseling van ou politiek is onder meer herkenbaar in die verskynsel van semantiese diefstal, oftewel wanneer ‘n belowende woord ingespan word om magspolitiek goed te laat klink en die woord gevolglik van sy betekenis te beroof. Kort voor lank kom mense egter die speletjie agter, en dan word ‘n nuwe woord weer opgediep. Dink maar aan woorde soos desentralisasie, magsdeling, eie sake, of, meer onlangs, regstellende aksie, transformasie en ontwikkeling. Nog so ‘n woord is ‘padkaart’. Klaarblyklik loop elke Jan Rap en sy maat vandag in die politiek met ‘n padkaart in sy mou, en hoekom sal ek my nou vandag intellektueel heilig eenkant hou? Ek sal nie so ver gaan as om my lesing ‘n padkaart vir vrede te noem, of selfs om dit uit te rol nie – die vergesigte van meters en meters draad wat afgerol word, is net te duidelik voor my geestesoog – maar ek sal wel aan u die padkaart van vanoggend se lesing kortliks voorhou in die gees van vrolike skepsis, omdat die allerlaaste wat ek vir u toewens is dat u nog meer verdwaal moet voel as wat reeds die geval mag wees. In hierdie lesing, dus, sal ons die volgende plekke aandoen: eerstens die oogmerk van die politiek; tweedens die globale tegniese omgewing; derdens die sentrale brandpunt van die globale politiek; en vierdens die implikasies daarvan vir Suid-Afrika.


1. Die oogmerk van die politiek

Danksy die bemarkingsbedryf bestaan die neiging vandag om die nuwe bo die oue te verheerlik. Die politiek gaan egter onder meer oor die vraag na hoe die oue en die nuwe in balans kan kom, en daarom is dit raadsaam om die fiksasie op die nuwe volwasse opsy te skuif en kennis te neem dat die nuutste oogmerk van die politiek tegelyk ook die oudste is, naamlik die bestendiging en die verdieping van die demokrasie. Jacques Derrida, wat hom soos min ander met die oudste en die nuutste besig gehou het, het dan ook gepraat daarvan dat die demokrasie altyd nog moet kom. Met hierdie uitspraak vereenselwig ek my graag volkome, want dit is ook ‘n oproep tot aktivisme: as die demokrasie altyd nog moet kom, bestaan daar nie so iets soos ‘n eindpunt in die politiek waar ons kan sê dat ons nou aangekom het nie. Die droom van die einde van die geskiedenis is fundamenteel ondemokraties. Dit is die droom van absolute mag, naamlik om die tyd self te regeer, en dit is ‘n droom wat keer op keer terugkeer in die Suid-Afrikaanse politiek. Enigeen wat dus beweer dat 1994 die einde van die geskiedenis (of die begin daarvan) is, is nie met demokrasie besig nie, maar met totalitarisme.

    Maar ek dwaal af: ek het gesê die oogmerk van die politiek is die bestendiging en verdieping van die demokrasie. Natuurlik is almal vandag tot die demokrasie verbind, en daarom, ten einde my nie medepligtig aan semantiese diefstal te maak nie, kwalifiseer ek dit verder deur te sê dat die demokrasie vandag beteken dat gemeenskappe in staat moet wees om hulle eie geskiedenis te skryf. Vanaf 1789 tot 1989 is wêreldwyd geglo dat die strukturele voorwaarde om jou eie geskiedenis te skryf jou eie staat is, maar vandag is dit al hoe duideliker dat die beheer oor ‘n eie staat dikwels juis nie beteken dat jy jou eie geskiedenis skryf nie. Enersyds is die moderne nasiestaat nie meer op die gemeenskap gerig nie, maar op die mark, en andersyds verander die staat soms gemeenskappe in sy agente, eerder as dat die staat in diens van die gemeenskap staan: dit was byvoorbeeld die geval met die Afrikaners na 1948, en ek sal hieronder hierna terugkeer.

    As ek sê dat gemeenskappe in staat moet wees om hulle eie geskiedenis te skryf, wil ek graag drie verdere kwalifikasies inbou oor onderskeidelik die gemeenskap, wie daarvan deel is en die outonomie daarvan.

    Eerstens wat die gemeenskap betref, vra mense my dikwels wat ek onder die term verstaan. Algemeengesproke verkies ek dat mense self die term gemeenskap toeëien soos dit vir hulle bruikbaar mag wees, en kan dit verwys na dinge soos geografiese, religieuse of taalgemeenskappe. In die besonder eien ek die term vir myself toe deur te praat van etnolinguistiese gemeenskappe, omdat ek dink dat hierdie gemeenskappe duursame en betekenisvolle omgewings aan mense bied in ‘n wêreld waar die markgedrewe vorm van globalisering juis dit wat duursaam en betekenisvol is, teiken.

    Hieruit vloei dan onmiddellik my tweede kwalifikasie, naamlik dat wanneer ‘n mens verwys na etnolinguistiese gemeenskappe jy dit veral in ‘n land soos Suid-Afrika dadelik moet omskryf deur te sê dat jou lidmaatskap van so ‘n gemeenskap daarvan afhang of jy daarvan deel wil wees of nie. Afrikaners het byvoorbeeld in die tweede helfte van die 20ste eeu beleef hoe mense voorskriftelik eerder as uit vrye assosiasie as Afrikaners gedefinieer is. Die woord Afrikaner het ‘n geskiedenis van bykans driehonderd jaar, en wat dit beteken is iets wat ek weet sonder dat ek dit kan sê. As u my vra wat ‘n Afrikaner is, dan antwoord ek enigiemand wat een wil wees. In praktyk beteken dit dikwels iemand wat wit en Afrikaans is, maar dit hoef nie so te wees nie.

    Die derde kwalifikasie oor gemeenskappe wat hulle eie geskiedenis skryf, hou verband met hul outonomie, en hier wil ek verwys na die beginsel van subsidiariteit. Die beginsel van subsidiariteit beteken dat ‘n gemeenskap sover as moontlik besluit oor die sake wat haar raak, behalwe daardie sake wat haar vermoëns oorskry, en sodanige sake word dan in samewerking met ander gemeenskappe of groter instansies soos die staat hanteer. Dit bring my by die tweede deel van hierdie lesing, naamlik die globale tegniese omgewing.


2. Die globale tegniese omgewing

    Ek verwys om drie redes na die globale tegniese omgewing. Hierdie drie redes is, eerstens, die verband tussen die tegniek en die politiek; tweedens, die aard van die globale tegniese omgewing; en derdens die reikwydte daarvan. Hiervoor is ek veral skatpligtig aan twee Franse filosowe van die tegniek, naamlik Bernard Stiegler en Régis Debray.

    Wat die verband tussen die tegniek en die politiek betref, verwys Stiegler, Debray en heelwat ander filosowe van die tegniek na hoe sentraal die tegniek tot menswees is. Van alle lewende wesens is die mens die een wat van nature die mees hulpelose is, en om hierdie hulpeloosheid te bowe te kom, maak hy staat op die tegniek. Die tegniek is dit wat die mens gebruik om van sy omgewing ‘n wêreld te maak. Van skoene tot klere, van huise tot kantore, van motors tot vliegtuie, van telefone tot satelliete word alles gebruik om ons alledaagse leefwêreld te skep. Wie hierdie tegniese middele beheer en waarvoor hulle aangewend word, is sentrale vrae in die politiek. Hierdie sienings word duideliker as ons vir ‘n oomblik stilstaan by die aard van die globale tegniese omgewing.

    Denkers soos Stiegler, Debray en Michel Serres stem saam daaroor dat elke tegniese skepping ‘n veruiterliking en optimalisering van ‘n aspek van menswees is. So byvoorbeeld veruiterlik en optimaliseer die skoen die voet, of die rekenaar sekere dele van die brein. Stiegler wys daarop dat ‘n nuwe hoofstuk in die geskiedenis van die tegniek vanaf die Nywerheidsomwenteling meer as 150 jaar gelede ingelui is, naamlik dat ons die era van bewussynstegnologieë betree. Die telegraaf, die telefoon, die kamera, die rolprent, die televisie, die CD, die rekenaar en die internet onder vele meer het almal dit gemeen dat hulle ervarings wat op die vlak van die bewussyn beleef word, opneem en versprei. Die opskrif van hierdie lesing is Tussen tye: Nuwe politiek, nuwe aktivismes, en aan die hand van Stiegler se uiteensetting is dit baie duidelik dat die tyd waarin ons vandag leef een is waarin die inhoud van die bewussyn absoluut sentraal tot die politiek en die ekonomie staan. Die opkoms en verval van Afrikanernasionalisme en apartheid, sowel as die opkoms en uiteindelike verval van Afro-nasionalisme en transformasie is nie die belangrikste merkers van nuwe tye in die Suid-Afrikaanse politiek nie, maar neweprodukte van die globale tegniese era van bewussynstegnologieë. Nuwe tye in die Suid-Afrikaanse politiek hang ten nouste saam met fases waarin aspekte van die globale tegniese bestel lokaal toegeëien word. Ek sal hieronder na hierdie sake terugkeer.

    Die derde rede waarom die globale tegniese omgewing belangrik is, is die reikwydte daarvan. In sy monumentale en onontbeerlike gids tot die hedendaagse wêreld Guns, Germs and Steel wys Jared Diamond daarop dat kolonisasie nie iets is wat eers vanaf die 16e eeu deur Wes-Europeërs op die res van die wêreld toegepas is nie, maar iets wat vanaf die vroegste tye sentraal tot menswees is: die geskiedenis van die mensdom is een van opeenvolgende patrone van verowering en nedersetting, oftewel kolonisasie. Tot sover Diamond.

    Wat die Wes-Europese kolonisasie van die res van die wêreld vanaf die 16e eeu onderskei van die voorafgaande vorme van kolonisasie, is myns insiens veral twee sake. In die eerste plek geskied dit na die koms van Gütenberg se boekdrukkuns, wat daartoe lei dat ons vandag beskik oor ‘n historiese rekord van hierdie kolonialisme. Hierdie historiese rekord veroorsaak oënskynlik nimmereindigende nagevolge in die wêreldpolitiek wat nie sonder ironie is nie, aangesien dit juis die vooruitgang in Wes-Europese tegniek betreffende seilskepe en wapentuig was wat die kolonisering van die res van die wêreld bemoontlik het, maar wat tegelykertyd die herinnering aan die vergrype daarvan lewend hou. In die tweede plek bereik die vlakke van die verlies aan lewe, kennis en kultuur onder die gekoloniseerdes waarskynlik hoogtes wat nie voorheen beleef is nie. Hierdie vlakke van verlies is ‘n regstreekse funksie van die magsvoorsprong bo en gebrek aan insig in die gekoloniseerde wat die koloniseerder geniet.

    Dit ly geen twyfel nie dat Wes-Europa se kolonisasie van die res van die wêreld traumaties was en bly vir die gekoloniseerdes, veral in Afrika. As die gekoloniseerdes hierdie trauma wil verwerk en agterlaat, is daar egter ‘n sentrale en onomkeerbare gevolg van Wes-Europa se kolonisasie van die res van die wêreld wat verreken moet word, naamlik dat dit die voorwaardes neergelê het vir die opkoms van ‘n gestandaardiseerde globale tegniese bestel waarbuite niemand op die lange duur kan bly nie. Gemeenskappe se vlakke van ontwikkeling hou regstreeks verband met die mate waartoe hulle hierdie globale tegniese bestel suksesvol kan toeëien.

    Hiermee wil ek vir geen oomblik die globale tegniese bestel voorhou as ‘n model van intelligensie en skoonheid nie. Al wat ek sê, is dat gemeenskappe se heil onlosmaaklik van hul toeëiening daarvan is. Elders het ek al probeer aantoon dat waar die opkoms van die globale tegniese bestel in Europa en Noord-Amerika tot die vernietiging van gemeenskappe gelei het, terwyl Afrika, danksy haar grootskaalse uitsluiting uit dié bestel nog die geleentheid het om dit op so ‘n wyse toe te eien dat haar gemeenskappe daardeur groter inspraak in die skryf van hul eie geskiedenis kan kry. Wat hiervoor egter onontbeerlik is, is die ontwikkeling van Afrika se vyftien groot taalfamilies, omdat die toeëiening van die globale tegniese bestel die beste in jou moedertaal geskied. Die geweldige politieke en ekonomiese vooruitgang wat Afrikaners gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu danksy moedertaalontwikkeling gemaak het, bewys hierdie stelling.

    Dit is ook belangrik om die reikwydte van die globale tegniese bestel in ons nadenke oor die politiek, veral ook in Suid-Afrika, te erken. Die paleoantropoloog, André Leroi-Gourhan, het uitgewys dat mense se tegniek en hul wêreldbeskouing onlosmaaklik verbind is. Dink byvoorbeeld aan ‘n stofsuier: sal u die nut van ‘n stofsuier verstaan as u nie leef in ‘n alledaagse omgewing waar stof vir u ‘n probleem eerder as ‘n gegewe is nie? Die tyd laat my ongelukkig nie toe om verder op hierdie sleutelkwessie in te gaan nie, maar ek wil net op een implikasie van die verband tussen wêreldbeskouing en tegniek in die Suid-Afrikaanse politiek verwys: presies daardie tegniese bestel wat inheemse gemeenskappe van hul wêreld gestroop het, word vandag deur talle Suid-Afrikaanse intellektuele en leiers gebruik om hul verlore wêreld mee te probeer herwin. Anders gestel, die politieke en toenemend ekonomiese mag wat die Afro-nasionalistiese elite vandag geniet, vloei regstreeks voort uit die feit dat hulle opgeneem is in die lokale vertakking van die globale tegniese bestel, maar presies dit vervreem hulle net nog verder van die wêrelde wat voor Europese kolonisasie bestaan het. Inheemse gemeenskappe wat streef na die herwinning van hul waardigheid in die moderne wêreld sal dit nooit kan doen indien dié stryd op die herwinning van ‘n wêreld wat vir altyd verlore is, fokus nie.

    Tot hiertoe het ek probeer aantoon dat die oogmerk van die nuwe politiek behoort te wees om die demokrasie te bestendig en te verdiep deur gemeenskappe in staat te stel om hul eie geskiedenis te skryf, en dat hierdie oogmerk nagejaag word in ‘n baie spesifieke globale tegniese omgewing. Met verwysing na Bernard Stiegler het ek gesê dat die globale tegniese omgewing een is waarin die inhoud van die bewussyn sentraal is, en ek wil nou graag in die derde deel van hierdie lesing die implikasies hiervan verder uitwerk.  


3. Die sentrale brandpunt van die globale politiek

    Een van die invloedrykste politieke leiers van die 20ste eeu het in sy politieke filosofie verwys na hoe belangrik die bewussyn vir ‘n goeie politiek is. Om die wêreld te verander, moet jy dit eers verstaan. Sy naam was Mohandas Gandhi. Soos u weet was hy ook een van die min 20ste eeuse politieke leiers wat nie bloed op sy hande gehad het nie, en dit is omdat hy anders as die meeste 20ste eeuse politieke leiers nie verandering nie, maar verstaan eerste gestel het.

    Oud-president Nelson Mandela het verlede jaar in sy Steve Biko-gedenklesing op soortgelyke wyse verwys na Gandhi om klem te lê op die bewussyn waarmee in die politiek gehandel word. Soos u weet, was Steve Biko ook iemand wat die aard van bewussyn sentraal tot sy hele stryd om die herwinning van inheemse waardigheid gestel het, soos Mandela dan ook in sy lesing aangetoon het. Gandhi, Biko, Mandela en Bernard Stiegler deel almal die erkenning wat hulle aan die bewussyn vir die politiek gee. Aan die begin van hierdie lesing het ek gesê dat die nuwe politiek tegelyk ook die oudste politiek is, en die erkenning wat aan die bewussyn sedert die Boeddha 25 eeue gelede gegee word, herinner ons ook in hierdie opsig aan hoe die nuwe die oue is. Dit ly geen twyfel nie dat ‘n gesonde, ontvanklike en erbarmlike bewussyn sentraal tot ‘n gesonde politiek is. In sy jongste boek, Rameaux (Parys: Le Pommier, 2004), lê Michel Serres opnuut klem op die feit dat sowel die wetenskap as die religie die potensiaal het om aan ons insig in die werklikheid te gee: die wetenskap met betrekking tot die materiële, die religie met betrekking tot die geestelike. Die voorwaarde hiervan is natuurlik dat sowel die religie as die wetenskap voortdurend teen ‘n dogmatisme waak, want beide se donkerste oomblikke het in hul dogmatiese sluimerings voorgekom. Daar is ook geen waarheid daarin dat die religie of die wetenskap meer of minder dogmaties funksioneer nie: die gees waarmee dit beoefen word, is die bepalende faktor. Gesonde wetenskaplike en religieuse praktyke is egter net die een kant van die munt: die ander kant word uitstekend verduidelik deur Bernard Stiegler.

    Hierbo het ek gesê dat ek sal terugkeer na die implikasies van Stiegler se beskrywing van ons tyd as een waarin die inhoud van die bewussyn absoluut sentraal tot die politiek en die ekonomie staan. In ‘n opstel getiteld Versmoorde begeerte, of hoe die kultuurindustrie die individu vernietig: Bydrae tot 'n teorie van massaverbruik (wat pas verskyn het in uitgawe  12/13van Fragmente: Tydskrif vir Filosofie en Kultuurkritiek) verduidelik Stiegler dat elke gemeenskap tot stand kom rondom wat hy noem ‘n pre-individuele fonds, oftewel ‘n tradisie. Hierdie pre-individuele fonds is die somtotaal van ervarings, kennis en kultuur wat deur ‘n gemeenskap in tyd opgegaar en aan ‘n volgende geslag oorgedra word. Die pre-individuele fonds lê ten grondslag van sowel die groep as die individu – telkens waneer die pre-individuele fonds van een geslag na ‘n volgende oorgedra word, word die groep opnuut gevorm. Die individu kom op sy beurt as unieke wese tot stand aan die hand van dit wat hy toeëien of laat uit die aanbod van die pre-individuele fonds. Rugby is byvoorbeeld deel van Afrikaners se pre-individuele fonds, maar hoe elke Afrikaner met rugby omgaan, bepaal op sy beurt iets van haar individualiteit.

    Stiegler verduidelik dat alle gemeenskappe wêreldwyd hulself vandag in ‘n krisis bevind. Weens die prominensie wat bewussynstegnologieë in die hedendaagse globale tegniese omgewing geniet, bestaan daar vandag wat Steigler noem ‘n mark in tydelike objekte, soos sportuitsendings, rolprente, musiek, ens. Hierdie mark word gedryf deur die hedendaagse samewerking tussen nasiestate en multinasionale korporasies, en dit is so kragtig dat dit reeds begin het om alle gemeenskappe se pre-individuele fondse te vervang met ‘n gestandaardiseerde, globale pre-individuele fonds. Wat dus hier gebeur, is dat alle mense wêreldwyd geleidelik dieselfde musiek, rolprente, sport en vermaaklikheidsgebeure verbruik, en dat daar ‘n soort globale standaardisering van ons bewussynsinhoude plaasvind. So gebeur dit dat ons dieselfde voel, glo en dink.

    Die enigste alternatief hiervoor is dat alle gemeenskappe wêreldwyd ‘n stryd aanknoop om hul pre-individuele fondse te beskerm en te versterk. Maar dit beteken ook dat elke gemeenskap bereid moet wees om ons te sê. Om ons te kan sê, is egter nie slegs ‘n politieke daad nie, maar ook ‘n estetiese daad: daar is nie so iets soos ‘n gemeenskap sonder simbole nie, en hierdie simbole vereis estetiese skeppings. In sy voorlaaste boek, De la misère symbolique: 1. L’époque hyperindustrielle (Oor simboliese ellende: Die hiperindustriële era) (Parys: Galilée, 2004) skryf hy op bl.94: “… die belangrikste en miskien die enigste politieke vraag… is dié van ‘n estetika van ons…”

    Stiegler verwys na hierdie toedrag van sake as ‘n globale simboliese oorlog waar gemeenskappe wêreldwyd meeding met die globale bewussynsmark om die belangrikste van alle kommoditeite, naamlik aandag. Dit is wanneer jy mense se aandag het, wat jy hulle bewussynsinhoude kan beheer, en dit is presies hier waar die sentrale brandpunt van die globale politiek vandag is.

    Dit mag miskien vir u baie vreemd wees om te hoor dat die stryd tussen gemeenskappe en die staatskorporatiewe bestel rondom bewussynsinhoude die sentrale brandpunt van die globale politiek is. Per stuk van sake woed die debat in Suid-Afrika vandag rondom kwessies soos transformasie, Afrikanisering, regstellende aksie, armoede, Vigs en wat nog. Feit is egter dat elkeen van hierdie kwessies regstreeks en onlosmaaklik verband hou met die stryd rondom bewussynsinhoude: transformasie is onder meer ‘n poging om Westerse bewussynsinhoude met bewussynsinhoude uit Afrika te vervang; regstellende aksie en armoedeverligting is ‘n poging om alle Suid-Afrikaners toegang tot die globale tegniese bestel te gee, waarvoor opleiding en vaardighede, oftewel bewussynsinhoude sentraal is; die stryd teen Vigs is allereers  een van bewusmaking; en so kan ek voortgaan.

    Meer nog: as ons van Suid-Afrika ‘n politieke en ekonomiese sukses wil maak, is dit essensieel om die pre-individuele fondse van ons gemeenskappe as basis te gebruik. Hierdie pre-individuele fondse is die basis van inheemse kennis, lokale ekonomie en inheemse selfrespek. Anders gestel: die eintlike uitdaging vir die Suid-Afrikaanse politiek is hoe om ons pre-individuele fondse te versterk en aan te vul. Negatiefgesproke sal dit beteken dat ons moet sorg dat ons pre-individuele fondse nie vernietig en vervang word deur die gestandaardiseerde, globale pre-individuele fonds van die bewussynsmark nie. Positiefgesproke sal dit beteken dat ons na praktyke moet soek waar die pre-individuele fondse van ons gemeenskappe mekaar kan verryk en versterk. Dit is ongetwyfeld ‘n ideaal wat deur die huidige politieke leierskap van die land nagestreef word, maar wat in praktyk al hoe minder verwesenlik word vanweë óf ‘n toeëiening van die globale bewussynsmark, óf ‘n hernude miskenning van al ons pre-individuele fondse weens die obsessie met die staat. Hiermee kan die laaste afdeling van hierdie lesing, naamlik die implikasies van die globale politiek vir Suid-Afrika, nou aan die orde kom. As u nog u oog op die padkaart hou, sal u sien dat die einde in sig is.


4. Die implikasies van die globale simboliese oorlog vir Suid-Afrika

    Suid-Afrika is ongetwyfeld een van die belangrikste gevegsterreine van die globale simboliese oorlog. Die redes hiervoor is onder meer dat Suid-Afrika weens sy koloniale geskiedenis al vir meer as 350 jaar ‘n tussenland is: tussen die Weste en Afrika, tussen die Eerste en die Derde Wêreld, tussen tale en kulture, tussen verskillende tegniese en kennisstelsels. Waarskynlik die vernaamste rede vir Suid-Afrika se tussenstatus, is die feit dat dit danksy ‘n kolonisasieproses wat 200 jaar voor die res van Afrika begin het, tegnies heelwat verder as die res van Afrika is. Dit is vanaf hierdie magtige tegniese platform wat Suid-Afrika se huidige politieke leierskap wêreldwyd opereer, en die land se tussenstatus tot maksimumvoordeel aanwend. Voorbeelde hiervan is die bemiddelingsrol wat Suid-Afrika nie net in talle konfliksituasies speel nie, maar ook die wyse waarop die land dikwels lidmaatskap van of toegang tot belangrike globale ekonomiese en politieke instellings aan weerskante van die internasionale verdelingslyne geniet, waaronder SADC, die Beweging van Onverbonde Lande, die Afrika-Unie, maar ook die Internasionale Monetêre Fonds, die G8, en die Europese Unie.

    Die globale simboliese oorlog speel hom egter al oor meer as 350 jaar in Suid-Afrika af, vanweë die baie spesifieke verhouding tussen die staat en die gemeenskappe van Suid-Afrika. Hierdie staat is van buite die land, dit wil sê vanuit ‘n uitheemse pre-individuele fonds deur die Nederlanders opgerig en eintlik deur die Britte nasionaal uitgebrei. Die koloniale rasionaal van hierdie staat is baie eenvoudig, naamlik om een etniese gemeenskap se belange ten koste van al die ander gemeenskappe in die land te bevorder, oftewel om een pre-individuele fonds via die mag van die tegniese en staatsbestel op die ander pre-individuele fondse in die land af te dwing. Die anti-koloniale verset van onder meer die Zoeloes, die Xhosas en die Afrikaners in die tweede helfte van die 19e eeu was almal pogings om inheemse gemeenskappe se pre-individuele fondse op staatkundige vlak te beveilig. Die twee Boererepublieke was die suksesvolste van hierdie versetbewegings, en wel omdat hulle toe nog daarin kon slaag om na die eerste industrialisering van Suid-Afrika ná die ontdekking van goud en diamante hul eie tegniese bestelle op te rig – veral die ZAR is hiervan ‘n voorbeeld. Na die Anglo-Boereoorlog kon Brittanje egter daarin slaag om die verskillende tegniese bestelle in die land in een geheel te integreer en Suid-Afrika staatkundig te verenig met Uniewording, hoewel die land natuurlik nog polities intens verdeel was.

    Dit was weer eens die Afrikaners wat gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu van die inheemse gemeenskappe die suksesvolste verset teen die koloniale tegniese en staatsbestel gevoer het, soos versinnebeeld deur die Nasionale Party se oorwinning in 1948. Maar op daardie tydstip van die Suid-Afrikaanse geskiedenis het ‘n kritiek belangrike faktor gegeld wat nog nie in die tyd van die Boererepublieke gegeld het nie, naamlik dat dit nie meer moontlik was om ‘n aparte tegniese bestel op ‘n aparte geografiese gebied op te rig nie. Suid-Afrika was ‘n geïntegreerde tegniese geheel, en daarom het die Afrikaners na 1948 daarop gekonsentreer om eerder via die tegniese en staatsbestel hul belange te bevorder.

    Ek het vroeër gesê dat die opkoms en verval van Afrikanernasionalisme en apartheid, soos ook die opkoms en uiteindelike verval van Afro-nasionalisme en transformasie neweprodukte was en is van die globale era van bewussynstegnologieë. In die geval van die Afrikanernasionaliste, het dit geskied via die massiewe skaal waarop Afrikaners vanaf die GRA in 1875 die gedrukte woord vir Afrikaans toegeëien het, en die staat na 1948 met hul eie pre-individuele fonds probeer vul het. Gegewe die koloniale aard van die Suid-Afrikaanse staat, was die Afrikaners egter gedoem om die ander pre-individuele fondse in die land opnuut te misken, en die naam hiervan was apartheid.

    Wat die gedrukte woord vir die Afrikanernasionaliste was, was dit aanvanklik ook vir die Afro-nasionaliste, wat vanaf die 1950’s danksy verstedeliking en geletterdheid van ander inheemse gemeenskappe ‘n impak op die nasionale politieke toneel begin maak het. Die volgende groot stap van die Afro-nasionaliste was om in ballingskap die visuele bewussynstegnologieë suksesvol toe te eien, en daarom kon hulle die Nasionale Party vanaf die tweede helfte van die 1980’s via hul verstaan van die elektroniese media, en veral televisie, ‘n vernietigende hou toedien. Was daar ‘n groter globale Afro-nasionalistiese gebeurtenis as Nelson Mandela wat in 1990 glimlaggend en fotogenies uit die tronk gestap het? En was Tokyo Sexwale nie ons eerste TV-politikus wat gou die nie-visuele Thabo Mbeki begin bedreig het en uitgeskuif is, hoewel hy later vanjaar terugkeer as aanbieder van die plaaslike weergawe van The Apprentice? En wat is tans belangriker as die beheer oor nasionale TV vir die huidige regering se magsgreep?

    Met hierdie voorbeelde het ek hopelik bewys dat die globale simboliese oorlog ook in Suid-Afrika met al hoe groter intensiteit woed, en dat wat telkens as datums van ‘n nuwe politiek aangeteken word – 1948, 1994 – telkens net weer ‘n nuwe fase inlei waar een pre-individuele fonds ten koste van die ander in die land verstaatlik word, en Suid-Afrika sodoende vasvang in ‘n siklus van opeenvolgende selfkolonisasies. Dit is ‘n siklus van die ergste historiese ironie, want terwyl die stryd om ‘n nuwe politiek telkens aangeknoop word in die naam van inheemse bevryding, is die bevryding altyd net gedeeltelik. Hoe kan Suid-Afrika uit hierdie siklus ontsnap? Oftewel, wat is die buitelyne van ‘n nuwe politiek?

    Ten eerste kan daar geen nuwe politiek wees as die ou pre-individuele fondse van al ons gemeenskappe nie bevry word en in interaksie met mekaar geplaas word nie. Die heel eerste voorwaarde hiervan, is die ontwikkeling van al ons tale. Tale is die banke van gemeenskappe se pre-individuele fondse, en dit is ook die belangrikste instrumente waarmee gemeenskappe nie net hul fondse oordra nie, maar ook verbreed. Dit is ook die instrument waarmee die globale tegniese bestel toegeëien kan word, en wel op so ‘n wyse dat Engels, wat ons brug tot die res van die wêreld is, in ‘n gesonde verhouding met ons inheemse tale kan funksioneer.

    Ten tweede kan daar geen nuwe politiek wees as die staat en die korporasie al die mag in Suid-Afrika behou nie. Post-koloniale Afrika is in ‘n koloniale toestand gehou omdat klein elites via die staat die kapitaal en die besluitnemingsbevoegdheid van die samelewing gesentraliseer het. In ekonomiese terme beteken dit nie dat ons mense van die tweede ekonomie deel van die eerste ekonomie moet maak nie, maar dat ons die eerste en tweede ekonomie as gelykwaardige dele van Suid-Afrika moet erken, en moet streef na praktyke wat gemeenskappe in staat stel om as gemeenskappe selfstandig te wees, eerder as om as individue verryk te word.

    Ten derde kan daar geen nuwe politiek wees as die gemeenskappe in Suid-Afrika mekaar nie as gelyke vennote kan ontmoet nie. Hierdie ontmoeting kan egter nie in die eerste plek via die staat, die korporasie of die partypolitiek plaasvind nie, omdat al hierdie instellings steeds volgens die koloniale rasionaal funksioneer. Die enigste manier om hierdie koloniale rasionaal met wortel en tak uit te roei, is om ‘n wesenlik alternatiewe magsblok te skep, en die terrein waarop dit moet gebeur, is die burgerlike samelewing. Die opkoms van tegnologieë wat mense in staat stel om inligting vinniger as ooit te sirkuleer en nuwe netwerke te bou, maak dit inderdaad moontlik om sowel die staat as die korporasie uit die sentrum van mag te haal, en as vennote in plaas van ondergeskiktes te ontmoet.

    Ten vierde kan daar geen nuwe politiek wees as die instellings van ons samelewings nie radikaal verander word nie. Dit is so dat die huidige leierskap van Suid-Afrika die noodsaak hiervan verstaan, en met die woord transformasie benoem. Wat egter in feite gebeur, is dat die instellings van die samelewing in die naam van transformasie nog beter spieëlbeelde van die staat word, in plaas daarvan dat hulle in diens van die gemeenskap tree. As ‘n mens vandag jou oog gooi oor die regbank, die universiteitswese, die skole, die gesondheidsektor, en feitlik elke ander belangrike instelling, sien jy dat hulle almal in die eerste plek as staatsbates beskou word, in plaas van as gemeenskapsbates. So word transformasie en bemagtiging die instrumente waarmee die staat se mag uitgebrei word. In die geval van die Afrikaners na 1948 was hulle ‘n klein genoeg groep dat die meeste van hulle in die staatskorporatiewe bestel opgeneem kan word, maar die krisis waarmee die huidige maghebbers sit, is dat daar eenvoudig te veel voorheen benadeelde mense is om almal in die staatskorporatiewe bestel op te neem. Die gevolg hiervan is dat die beleide van swart ekonomiese bemagtiging, transformasie en regstellende aksie onvermydelik tot die vorming van ‘n nuwe elite lei, terwyl meer as 50% van ons samelewing struktureel tot in alle ewigheid uitgesluit sal wees. Die huidige leierskap klou ook verbete vas aan die magiese syfer van ‘n 6% ekonomiese groeikoers, omdat hulle daarmee hoop om die staatskorporatiewe bestel sodoende uit te brei om genoeg mense uiteindelik daarvan deel te maak. Die ekologiese koste van so iets, sowel as die verdere skade wat dit aan Suid-Afrikaners se pre-individuele fondse gaan aanrig, is eenvoudig onbekostigbaar, en daarom moet die politiek en die ekonomie in Suid-Afrika verskuif na die gemeenskappe van die land. Ongelukkig verhoed die herinnering aan apartheid se misbruik van gemeenskappe nog tans dat daar daadwerklik tot so ‘n stap oorgegaan kan word.

    Ter afsluiting, dames en here, ‘n laaste woord oor die een aspek van die titel van hierdie lesing waarna ek tot dusver nog net by implikasie verwys het, naamlik nuwe aktivismes. As ‘n mens terugkyk oor die tegniese geskiedenis sedert die boekdrukkuns, is een van die bemoedigende patrone dat die toegang wat gemeenskappe tot wêreldveranderende tegniese middele het al hoe groter word. Hierdie groter toegang lei nie net potensieel tot groter bewustheid van wat vandag in die spel is nie, maar ook potensieel tot groter aksie. Danksy die huidige era van bewussynstegnologieë is die gaping tussen bewussyn en handeling, tussen teorie en praktyk, kleiner as ooit. Anders gestel, die potensiaal vir ‘n aktiewe politiek is groter as ooit. Aktivisme beteken nie noodwendig net meer betogings of optogte nie, maar ook dat praktyke en instellings waarmee gemeenskappe beheer oor hul eie lot kan neem, makliker as ooit geskep kan word. Hiervoor is dit egter nodig om ‘n bewustheid te ontwikkel dat ons heil nie van die staat sal kom nie, maar van die gemeenskap, en die mate waartoe gemeenskappe daarin kan slaag om die kanale van inligting te vul met hul pre-individuele fondse, eerder as met die massiewe uitskot van die globale bewussynsmark.

    Kortom, die nuwe politiek begin by die terugkeer na dit wat oud is: daarin lê die voorwaardes vir nuwe aktivismes opgesluit.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=177
Artikel nagegaan:
    -